Die see span skitterblou toe sy teen namiddag oor die laaste bult afsak. Dit is die eerste keer dat Liela hier kom. Sy het sommer ’n plek gekies nadat Danette haar met vriendskapsonteiening gedreig het. ’n Onbekende bestemming vir ’n on­bepaalde tyd.

Danette het ’n wenkbrou gelig toe sy wou stry. “Hemel, Liela, dis amper twee jaar. Begin net weer leef. Jy ry Maandag. Alleen en ver. Ek maak padkos.” Die afgewitte huisie staan met sy tone in die sand. Pragtige strand – mooier as wat die advertensie belowe het.

Teen die bottelgroen deur kry sy die nota. Sleutel by bakkery in hoofstraat. Slordig gekrabbel. Terug deur die fynbospaadjie. Daar is seker nie baie bakkerye op dié plekkie nie. Die outydse gaasdeur sis toe sy dit oopmaak.

Daar is niemand agter die toonbank nie, maar ’n bruin stuk karton wat teen ’n glasbottel vol gemmer­koekies staangemaak is, trek haar aandag. Mev. Theron. Strandloper. Die sleutel lê oop en bloot op die glastoon­bank.

Sy kyk rond. Sal sy dit vat en loop? Sy hoor geluide in die kombuis. Iets wat val. Iemand swets. Dan maar net loop. Die eerste aand slaap Liela soos ’n klip.

Die seelug doen sy werk. Dag twee verloop nie veel anders nie en sy slof in haar nagklere tussen die kombuis en slaapkamer. Dis ’n pragtige dag, maar sy sien nie kans vir die wêreld se prag nie.

Sy pak haar kombuis­voorraad uit. In ’n geskenksak kry sy ’n peperduur rooiwyn met ’n briefie om die nek. Gaan skud vir Dewald af. Hy is jou oudste, geroeste bakplaat nie werd nie.

Gaan gooi sommer jou trouring in die see, al is hy net drie jaar oud. Hou miskien net daai helse diamant; ons kan met die geld oorsee gaan. – D.Ja, Danette, glimlag sy. Sy draai om en gaan klim in die bed.

Ná drie dae maak sy die voordeur vir die eerste keer oop en stap uit op die strand. Die eienaar, ene tannie Frikkie, het tele­fonies ingestem dat sy ’n onbepaalde tyd kan bly. Dis buite seisoen en stil genoeg. Liela gaan stap ’n ver ent. Gedagteloos.

Maar Dewald is by. Hy volg haar soos ’n skaduwee en sy sleep hom stom saam. Sy kan nie los nie. Al het hy. Amper twee jaar gelede al. Sy pak haar koekpanne uit. Sy doen dit as sy nie weet wat om met haar gedagtes te maak nie.

Danette kry die piep as sy weet haar bakgoed is hier. Sy het die laaste aand ’n toespraak afgesteek. “Mari het alles by die koffie­kroeg onder beheer. Rus en vergeet resepte en in muffindeeg wegkruip. ”Werktuiglik begin sy. Voorskoot styf ombind, platstryk. Resepteboek oop. Bladsy 45.

Luukse rooifluweel­sjokolade-koek. Dewald se gunsteling. Oond op 180 °. Haar hande beweeg meganies. Maar die see se gedruis gooi haar ritme uit en sy moet kort-kort na die resep kyk. Gesteur besef sy daar is nie bak­poeier nie. Voorskoot af, oond af. Dorp toe.

Later stap sy met haar pakkies verby die bakkery. Skuldig omdat sy nog nie aangemeld het nie. Die deur sis oop. Weer niemand agter die toonbank nie.

En dié keer smeek die bruin karton vir ’n bakker. Slordig gekrap. Bakker dringend benodig. Meld aan by toonbank.Onbemande toonbank, dink Liela en draai om. “Kan jy bak?” stop ’n stem haar by die deur.

Die kombuisdeurtjies swaai agter die man. Sy gesig smekend.“Ek is net met vakansie hier.”“Mev. Theron?” “Ja, Liela. Aangename kennis en dankie vir die sleutel.”

Sy maak aan­staltes om te loop.“Jaco.” Hy steek ’n meelhand uit na haar. “En jy kan nie dalk bak nie?” Sy glimlag en stap dan nader, skud sy hand. “Nee, jammer.”“Ek dink jy kan wel kluitjies bak.”

Liela frons. Hy wys na ’n meelstreep op haar wang en sy vee dit vinnig af. “Asseblief. My ma moes dringend na haar broer in die Kaap. Tannie Bettina van die ouetehuis is oorlede en die kerk is op my case oor hul bestelling. Tannie Bettina moet mooi weggesien word.”

“Waarna soek jy? Ek is besig met ’n fluweelsjokoladekoek.”“Perfek! cDankie. Maak jou prys.” En oor sy skouer slinger hy ’n uitbundige: “Riekie, ons het ’n koek!”

’n Gilletjie klink op uit die kombuis.“Een gratis dag vir jou in die Strand­loper, mev. Liela Theron. En een van my ma se gemmerkoekies.”

Hy grawe in die glasbottel en prop ’n koekie in haar hand. “Hoe laat kan ek dit oplaai?”

Sy kyk oorbluf na die gemmerkoekie. Perfekte bruin met krakies bo-op. “Vyfuur. Wanneer is die begrafnis?”

“Môre, elfuur, stiptelik. Tannie Bettina was nóóit laat nie!” sê hy ernstig, glimlag breed en glip om na die kom-buis. Sy sien nou eers die klein voor-skoot wat potsierlik skeef om sy groot lyf hang. Die koekie smelt in haar mond op pad huis toe. Wanneer laas het sy ’n gemmerkoekie geëet?

HALFVYF sien sy hom aankom. Sy sit op die stoep met ’n beker tee.Hy fluit toe hy die koek sien. “Ja-nee, tannie Bettina sou tevrede ge­wees het. Dankie.”“Dis ’n plesier. Dit was nie moeite nie. Bak is vir my terapeuties.”

“Jy is alleen hier?”Sy knik weg oor die see.“Wat van nog ’n koek? Dit lyk of jy terapie nodig het.”

Sy wil haar vervies, maar hou haar oë op die branders.“Wat laat jou so dink? Wie is dood?”

“As jy dié tyd”, en hy loer na die son, “en op so ’n mooi dag nie met ’n glas yskoue witwyn sit nie, is jy depressief, en nee, dis vir die bakkery. Almal is nog springlewendig, maar die mense begin agterkom Riekie bak bokskoek.

My ma, Frikkie, is die bakker. Ek staan net in. My talente is tot skaapwerk beperk.”Sy kyk op na hom. ’n Boer dus. “Wor-telkoek?”“Fantasties,” sê hy. Met die fluweel­koek in sy groot hande stap hy met die sandpaadjie dorp se kant toe.

Agtuur die volgende dag lewer Liela die koek af. “Jislaaik, dis ’n kunswerk! Ek is Riekie. Jaco is gou plaas toe; hy het ’n boodskap vir jou.” Riekie soek met oë na die dak gedraai na die woorde.

“Jaco sê hy sal die lemon meringue vyfuur by die Strandloper gaan oplaai. Dankie vir dié,” rammel sy af en verdwyn deur die swaaideur.

Liela staan verstom. Sy het niks van nog ’n koek of ’n tert gesê nie. Namiddag gaan sit sy op die strand met haar tee. Sy skrik vir sy stem wat skielik agter haar praat.“Jou terapie gaan langer vat as wat ek gedink het.

Nog ’n sjokoladekoek vir die winkel, asseblief. En sit net so.” Liela se mond gaan oop. Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Dis vermetel!Sy bly kyk na die see wat met skuim-arms oor die strand vee. Wat karring die man so? Sy is nie lus vir geselskap nie. 

“Hier.” Hy hou ’n glas na haar uit en haal ’n bottel witwyn uit sy rugsak.“Dankie vir die tert. Ek sal myself moet inhou om nie ’n proesel op pad terug te steel nie.” 

Hy gooi haar glas vol en staan terug. “Dís beter. Jy is nog alleen? Mnr. Theron wil nie dalk ook 'n bietjie hê nie?”Liela kyk voor haar uit.

“Daar is nie ’n mnr. Theron nie. Ek is alleen en ek is nie hier om te bak nie!” Dit kom driftiger uit as wat sy bedoel.Toe sy opkyk, wuif hy, tert onder die arm, en stap weg. Die bottel staan skuins agter haar in die sand ingeskroef.

Op haar kombuistafel kry sy ’n pakkie gemmerkoekies en ’n koevert met meer geld in as wat die tert werd is. Aan die bakker. Dankie.

Vroegoggend sit sy haar selfoon die eerste keer sedert haar koms aan. ’n String boodskappe piep in. Sy glip met die ry af. Dewald. Haar hart ruk.Ons moet praat.

Die wind waai toe sy strandlangs ploeg. Haar gedagtes is soos vislyn op­ge­kraaines.  

Later gaan laai sy die vars sjokoladekoek by die winkel af. Jaco vat die koek woordeloos uit haar hande. Sy grys oë terg. Daar is min van die lemon meringue in die vertoonkas oor, sien sy met die uitstap.

By die huis begin sy byna koorsagtig bak. Dewald se gunstelinge. Gebakte kaaskoek, appeltert met roomstroop, lemoenkoek met heuning.Weer piep haar foon.Bok, wanneer kan ons praat? Ek mis jou. Niemand bak fluweelkoek soos jy nie, weet jy?

Dis winderig bewolk en onverwags koel, maar die laatmiddaglig toor baldadig met die see. Sy dra elke koek en tert uit na die strand. Kom laaste met die appeltert en Danette se rooiwyn uit. Seemeeue draai reeds nuuskierig rond.

Sy kurk die bottel oop en stap met haar voete tot in die yskoue water. Die wyn is sag en weelderig op haar tong. Sy vat nog ’n sluk uit die bottel. 

Dan trek sy haar trouring af en slinger dit voor haar uit. Dit verdwyn sonder ’n rimpeling in die grou water.

Die wind pluk nou aan haar hare en sy draai haar gesig na sy koue asem. Toe sy omkyk, hou die meeue raserig fees en sy stuur die boodskap wat sy vroeër aan Dewald getik het.Jy is te laat. En ek hou deesdae meer van gemmerkoekies.

Voor haar huis staan die skinker met sy mooi glimlag, hande in die sye. Liela stap tussen die krysende meeue deur na die huisie met die groen deur.