In 1946 was Hofmeyr ’n baie klein dorpie met ’n groot, stowwerige dorpsplein. Aan die kant van die plein was ’n enkele boorgat met ’n windpomp, ’n krip en drie peperbome. Die enkele windpomp en krip was die alleenvoorsiener van die dorp vir drink- en badwater.

Ons kinders moes elke dag met emmers gaan water skep uit die krip. By die huis gekom, is die water deur ’n doek gegooi om die paddavissies te verwyder. Badwater is op ’n Aga-stoof gemaak en ons moes in ’n sinkbad bad.

My pa was die totale polisiemag op die dorp. Hy was ook die sipier van die tronk. Die groot ou huis waarin ons gebly het, was polisiekantoor en tronk. Die agterdeur van die huis het oopgemaak in die tronkvierkant. Daar was nogal heelwat selle waarin skuldiges aangehou is, meestal vir dronkenskap en veediefstal.

My ma het gereeld vir die gevangenes smiddae in ’n groot, swart pot ngush gemaak. Dit is ’n mengsel van gebreekte mielies en boontjies wat baie gewild was. Tot vandag toe maak ek gereeld vir ons van die “tronkkos!” Ons is versot daarop. Soggens was dit mieliepap sonder suiker vir die gevangenes. 

Ons het in 1948 vanaf Hofmeyr na Graaff-Reinet verhuis. Dié dorp lê omring deur berge; die bekendste een wat oor die dorp troon, is Spandaukop. Die dorp is in 1786 gestig – die vierde oudste dorp in die land, genoem na goewerneur van de Graaff en sy vrou, Reinette. Die Sondagsrivier loop in ’n hoefystervorm al om die dorp. Ek het my hele jongmenslewe daar deurgebring. 

Ons het later ’n huis van ons eie laat bou. Die huis het ’n allemintige drieduisend vyfhonderd pond (R7 000) gekos.My ma het die buitegebou, wat ’n garage en buitekamer ingesluit het, betaal met haar naaldwerk en nagte omgesit voor die naaimasjien om die skuld af te betaal, en sy moes ’n duur prys betaal, want haar sig het baie verswak. Sy het as’ ware haar oë vir ons opgeoffer.

Dit was die ervaring van ’n leeftyd. Ons eie, eie huis! Omdat ons maar arm was, moes ons drie seuns in een kamer slaap en my suster in die ander kamer. Ons was so 60 meter vanaf die klein hekkie van die Hoër Volkskool.

Smiddae wanneer die laaste klok lui, het my swart kat, Topsie, my kom haal by die klein hekkie van die skool en kordaat, stert in die lug, saam met my huis toe gestap, tot groot vermaak en gespot van die ander skoolkinders. Sy het dan teen my been geskuur om my te laat verstaan sy gee vir my om.

Saam met my in die matriekklas was Amelia, ’n pragtige, langbeen met natuurlike dik, ligte hare wat altyd in twee lang vlegsels gebind was en teen haar rug afgehang het. Sy het pragtige lang bene gehad en gebry soos net Bolanders kan. 

So het dit gekom dat ons een Saterdag teen ’n span van Conroy-unie moes speel. Dit was ’n gekombineerde span van drie kleiner dorpies. As ek reg onthou, was dit Richmond, Murraysburg en Hanover.

Toe daardie rugbyspan op die veld draf, het die ouers op die pawiljoen mismoedig gesug. Daar was verskriklike groot, lang seuns in die span. Ons was teen die einde ’n paar punte agter, want die seuns was baie sterk.

Ek het teen die einde van die wedstryd staan en koud word op vleuel, ’n entjie van die kantlyn af. Toe die bal skielik aan die kant van die skrum uitkom, tussen die voete van die slot en flank deur, het ek die bal vinnig opgepik en teen die kantlyn af laat waai soos ’n vlakhaas. Daar was ’n oorverdowende gejuig van die ondersteuners. Ek het middelveld toe geswenk. Die skare het histeries gegil.

Ek kon duidelik hoor hoe ’n swaar ou op my inhaal: die gedoef-doef van sy stewels het duideliker geword. Ek het vaagweg gehoor hoe iemand skree: “Duik Dawie, duik!”

Ek het vasgetrap en hoog deur die lug getrek, soos ’n arend gesweef, arms uitgestrek, bal in die een hand en onder die pale geland vir die wendrie. My hart wou bars van trots. Daar was ’n oorverdowende gejuig. Die vervyfskop het sierlik deur die pale getrek. Dit het die skaal in ons guns geswaai. Ek was die held van die wedstryd.

Almal was dolgelukkig; die koshuiskinders het die blye nuus gekry dat hulle kon gaan fliek. Ek het op die plek besluit om Amelia te vra of ek saam met haar kon gaan fliek. Ek was egter beswete en vuil. En een van my goeie maats, Johan, het dadelik ongevraag aangebied om haar te gaan vra, want ek moes eers gaan stort. 

Sy het ingewillig. Ek was verstom. Ek het nie in my wildste drome gedink dat sy saam met my sou gaan fliek nie. Ek was deksels skaam en verskriklik bang vir die ander geslag. Die ou wat die fantastiese drie gedruk het, was vrekbang om saam met Amelia te gaan fliek!

Dit het saggies begin reën en die koshuiskinders is met die skoolbus fliek toe vervoer. Ek het die bus verpas, maar my pa het my gaan aflaai. Amelia het vir my plek langs haar gehou.

Ek het verbouereerd langs haar gaan sit en dadelik verskoning gevra dat ek laat was, maar soos ’n riet gebewe van die opgewondenheid en natgereënde klere. Ons het mekaar simpel vrae gevra. Sy het baie aansteeklik gelag en my meer op my gemak laat voel.

Ná die pouse het ek moed bymekaar geskraap en na haar hand gereik. Dit het my verder verstom toe sy haar ander hand op myne plaas. My mond was kurkdroog en ek het onbedaarlik gebewe. So het ons hand aan hand gesit tot die einde van die fliek. In die sewende hemel! 

Ek het saam met die bus gery, en langs Amelia gesit, want ons huis was net om die draai van die koshuis af. Ek en Amelia het styf langs mekaar gesit, want die welkome reën het dit ewe skielik baie koud gemaak. 

Ek het daarna om die een of ander rede van haar vervreemd geraak. Seker omdat die eindeksamen op hande was. Ek het af en toe gedurende pouse by haar gaan sit en gesels. Ek het matriek klaar gemaak en so het ons paaie geskei.

Ek was jare later gelukkig getroud, maar my vrou is toe weens kanker oorlede. Ek het baie alleen geraak en my kort-kort betrap dat ek wonder wat van Amelia geword het. Dit was immers baie lank gelede en my eerste “afspraak” fliek toe. Dit was meer as 55 jaar gelede.

Ek was nou 73 en vier jaar lank bitter alleen. Ek het na Amelia begin soek. Ek het vaagweg onthou dat sy in Bellville grootgeword het. Ek het ’n klasmaat van my in Welgemoed gebel en gevra om te help soek.

Al wat ons wys geword het, is dat sy getroud is en ’n dogter gehad het, maar verhuis het en dat haar man oorlede is.

Toe uit die bloute uit lui die telefoon eendag. Dis weer my vriend wat nuus het: Amelia woon in Durbanville! Met behulp van Telkom se telefoongids spoor ek haar adres op. Ek besluit om haar te gaan opsoek. Met behulp van ’n GPS-toestel ry ek redelik maklik tot by die adres.

Ek was ongelooflik op my senuwees. My hart het woes in my borskas geklop.Ek dink aan die mooie Amelia met haar lang, digte hare en vlegsels wat tot op haar boude gehang het. Sy was lank, trots en regop.

My keel is droog toe ek naderstap. Dis ’n mooi netjiese huisie. Ek kom agter dat ek liggies begin bewe het. Wat verwag ek nou eintlik? Ek meen, my lewe is verby. Ek is oud en het ’n goeie lewe gehad.

Ek druk die deurklokkie huiwerig. Nog ’n keer. Dan hoor ek die voetstappe wat naderkom. Dis stadige, slepende voetstappe. Die deur gaan stadig oop. Waterige oë kyk my hartseer aan. Dis leë oë wat my aanstaar.

Sy het grys geword, en vol plooie. Sy is nog lank, maar die krom hande is vol blou are. Sy herken my glad nie.

Oor haar regterskouer sien ek ’n foto van ons matriekklas van 1961 in die gang. In die agterste ry is ’n sirkel met ’n viltpen om iemand se kop getrek. Dis my gesig! Hoekom is daar ’n sirkel om my gesig?

Ek is op die punt om te sê wie ek is. Ek bibber van opgewondenheid, want hier voor my staan my klasmaat van meer as 50 jaar gelede.

Daar loer skielik die vriendelike gesig van ’n jong vrou oor Amelia se skouer. Sy is netjies aangetrek. Sy het dik, blonde hare wat in vlegsels agter haar rug verdwyn. Ek raak yskoud: Die ewebeeld van die jonge Amelia! Sy lyk net soos haar ma destyds gelyk het.

“Môre, ek is Amelia. Kan ek help?” vra sy vriendelik. “My ma het ongelukkig alzheimersiekte.”

Sy het haar ma se naam!

“Nee, jammer.” sê ek. Verkeerde huis.” 

Ek byt op my onderlip, want die wreedheid van die situasie trek soos ’n elektriese skok deur my liggaam en siel. Ek strompel terug kar toe. Ek hoor die deur agter my toegaan en hoe die slot toeknip.

Ek kan nog steeds hul stemme hoor. “Kom, Mamma. Kom, ons gaan sit binne in die sitkamer; die oom is by die verkeerde huis.” 

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.