Diederich Wolmarans betaal die paar goedjies wat hy inderhaas in sy etensuur vir Irma moes kom koop.

Die assistent by die geldlaai pak alles vir hom in twee sakkies en sit dit in sy inkopietrollie terug.

Hy mik om vinnig uit die winkel te stap toe ’n prentjie van ’n pragtige teetrollie op die winkel se advertensiebord sy aandag trek.

Hy lees vlugtig die onderskrif. Die tweedehandse trollie word te koop aangebied teen wat hy voel baie billik is.

Baie opgewonde vertel hy dié aand vir Irma van die teetrollie.

“Skat, ons het mekaar mos belowe ons sal vanjaar iets vir ons troudagherdenking koop waarvan ons albei nut gaan hê. Hoe klink ’n regte egte teetrollie vir jou?”

Hy vertel Irma van die advertensie op die supermark se advertensiebord en die billike prys.

Irma is onmiddellik geïnteresseer. Sy begeer eintlik lankal so iets.

Hulle het die plek daarvoor en sy sal daarvan hou om dit sommer in die algemeen te gebruik – nie noodwendig om tee voor te sit nie, maar om soms hul ete, wat hulle graag op die stoep of voor die televisie geniet, rond te stoot.

Die volgende dag ry Diederich weer in sy etensuur na die supermark, gewapen met papier en pen om die naam en telefoonnommer in die advertensie af te skryf.

Hy bel so gou hy kan en ’n vrouestem beantwoord die foon. Hy krabbel die adres neer en maak ’n afspraak om ná werk na die trollie te gaan kyk.

Baie opgewonde gaan pik hy Irma ná werk by die huis op.

Toe hulle by die adres stilhou, kom ’n netjies geklede vrou na die hekkie aangestap. Sy maak die hekkie vir hulle oop en Diederich stel hom en Irma aan haar voor. Ná die groetery stap sy vooruit na die huis en nooi hulle binne.

Dadelik val Diederick se oog op die mooiste teetrollie wat hy nog gesien het. Dit lyk baie duursaam, gemaak van egte imbuiahout en beslis in ’n puik toestand.

Irma kyk ook met verwondering na die trollie en streel met haar hand oor die blad. Hulle is albei dol daaroor.

Willanie Nel bied tee aan en bring dit op ’n skinkbord uit die kombuis en plaas dit op die etenstafel neer. Sy nooi hulle om sommer aan die tafel te kom sit terwyl sy die tee voorsit.

“Ai, julle wonder seker hoekom ek nie die trollie gebruik nie. Ek het dit van my ma geërf en dit het tot onlangs in die garage gestaan en stof opgaar. My ma het dikwels vertel hoedat sy ook die trollie by haar ouers geërf het, en sover ek kan onthou, het sy dit eintlik al die jare gebruik as ’n staander vir die televisiestel en nooit as ’n teetrollie nie.”

Sy gee elkeen se koppie tee aan en skuif die melkbeker en suikerpotjie binne bereik.

Dadelik val Diederick se oog op die mooiste teetrollie wat hy nog gesien het. Dit lyk baie duursaam, gemaak van egte imbuiahout en beslis in ’n puik toestand.

“My hart is baie seer daaroor om ontslae te raak van die trollie, al het ek dit nie self gebruik nie. Soos julle kan sien, is hier nie juis plek daarvoor nie. Ons het dit maar ná my ma se oorlye goed met plastiek bedek en onder ’n ou kombers in die garage gebêre.

“My man het ’n paar maande gelede sy werk verloor. Die skok was vir hom seker baie groot, want hy het 35 jaar by die plek gewerk. Hy is nou in die hospitaal. Ek was maar al die jare ’n huisvrou, maar nou begin ons geldelik ’n bietjie swaar trek. My man se pensioen is nou nog nie uitbetaal nie, en met hom in die hospitaal het hy nie die kans gehad om weer navraag daaroor te doen nie.

“Ag, toe besluit ek wat is die nut van ’n waardevolle meubelstuk wat net om sentimentele redes ongebruik rondstaan? Die geld wat ek daarvoor kan kry, behoort ons tot tyd en wyl aan die gang te hou. Ek is bly as julle tevrede is daarmee. Ek het al begin kleinkoppie trek, want die advertensie is al seker drie weke op. Een van my vriendinne het my gehelp om ’n foto te prakseer en ek het regtig nie kon droom dat dit so ’n verskil kon maak nie. Ek het die foto gisteroggend eers op die bord gaan vasheg by my besonderhede wat reeds daar was.”

“Ons is albei dol oor die trollie,” vertel Irma dadelik. “Ons het vanjaar saam besluit dat ons nie vir mekaar gaan geskenke gee om ons huweliksherdenking te vier nie. Ons wou iets koop waarvan ons albei nut kon hê.”

Sy kyk laggend na Diederich: “Ons het selfs al aan ’n goeie geweer gedink. Die trollie het net betyds oor ons pad gekom, want ons herdenking is oor twee weke!”

Diederich begin nou kriewelrig raak en staan op van die tafel. Hy brand om die trollie sy regmatige plek in hul huis te gee. Hulle het reeds aan die ideale plek daarvoor beplan. Net so hier en daar aan die bestaande meubels skuif, en dan is daar ’n ereplekkie vir die trollie.

Hulle bedank Willanie vir die tee, en Diederich tel die geld af sodat sy dit saam met hom kan tel.

Irma help om die teekoppies terug in die skinkbord te sit. Sy voel nogal jammer vir Willanie en haar man en is bly dat hulle op so ’n manier darem finansieel kan help.

‘My hart is seer daaroor om ontslae te raak van die trollie, al het ek dit nie gebruik nie’

Diederich en Willanie vat aan weerskante van die trollie en dra dit uit na die motor.

Dit word versigtig op die agterste sitplek ingepas. Irma kan nie help om vir Willanie, al ken sy haar nie so lank nie, met ’n stywe drukkie te groet nie.

Tuis word die trollie weer versigtig uit die motor gelaai en die huis binnegedra. Saam-saam skuif hulle die ander meubels soos hulle vooruit bespreek het om die trollie ’n regmatige plek te gee. “Dink jy ek moet ’n mooi lappie oorgooi?” vra Irma terwyl sy liefkosend oor die blad vryf.

“Dit sal mooi lyk, lief. Kyk, ek het nie opgelet nie, maar hier aan weerskante is nog twee laaie ook. Dalk kan jy servette of koekvurkies en sulke goed hier bêre, of hoe?” vra Diederich terwyl hy die daad by die woord voeg en een van die laaie ooptrek.

Sy oë rek skielik groot en hy trek sy asem diep en ongelowig in.

“Irma! Irma!” roep hy. “Waar is jy? Kom kyk hier!”

“Ek kom, Dieds, ek het net gou die tafeldoek gaan haal. Wat sien jy? Moenie sê die trollie is stukkend nie!”

Sy gaan staan langs Diederich, en met haar oë op die laaitjie wat oopgetrek is, trek sy ook haar asem diep in: “Op dees aarde . . .”

“Dit sal mooi lyk, lief. Kyk, ek het nie opgelet nie, maar hier aan weerskante is nog twee laaie ook. Dalk kan jy servette of koekvurkies en sulke goed hier bêre, of hoe?” vra Diederich terwyl hy die daad by die woord voeg en een van die laaie ooptrek.

Die helfte van die laai is vol opgemaakte banknote. Albei is so oorweldig deur wat hulle sien dat hulle ’n hele ruk doodstil staan en met wydgerekte oë in ongeloof na die inhoud van die laai staar.

“Irma,” kom Diederich tot verhaal. “Ek gaan dadelik vir Willanie haal. Sy moet kom verduidelik wat hier aangaan.”

Hy gryp die motorsleutels en gaan vinnig by die deur uit. Irma sit asof versteen. Voor Willanie se huis kan Diederich nie gou genoeg aan die deur klop nie.

Heel verbaas oor Diederich se koms maak Willanie die deur oop. Reeds op pad het Diederich aan sy optrede gedink.

Hy sê: “Ons is so opgewonde en tevrede met die trollie, ek het jou kom haal dat jy dalk ook aanvaarding kan kry oor jou erfstuk.”

“My aarde, Meneer, dis nou regtig gaaf van julle. Ai, nadat julle weg is, het ek maar weer gewonder of ek die regte ding gedoen het. Ek het gewonder wat my ma sou gesê het as sy geweet het dat ek haar trollie verkoop het. Gee my kans; ek sluit net gou, dan kom ek.”

Tuis kry hulle Irma asof versteen op die plek waar sy neergesak het nadat hulle die geld in die laai ontdek het. Die tafeldoekie steeds in haar hande.

Willlanie groet en stap na die trollie. Toe haar oë op die oop laai val, trek sy haar asem diep in.

“Wat is dit?” vra sy hygend na asem en draai verbaas na Diederich wat neffens haar kom staan het.

“Geld . . . geld,” herhaal hy.

Nadat hulle almal tot verhaal gekom en oor die geld bespiegel het, vertel Willanie dat haar ma soms baie kontant hanteer het. Sy het gebak uit haar huis verkoop en is uit die aard van die saak in kontant betaal.

“Sy moes die geld daar gebêre het,” sê Willanie oorbluf.

“Haar dood was so skielik, sy het seker nooit die tyd of gedagte gehad om my daarvan te sê nie. As ek maar vooraf geweet het, was dit nie nodig om hierdie ruk so te wroeg nie. Ag, Ma, nou is dit te laat!” sê sy nadenkend, half aan haarself.

“Nee, dis nie te laat nie; dis jou geld,” sê Diederich. “Irma, lief, bring vir ons ’n inkopiesak, asseblief.”

Irma bring ’n inkopiesak en Diederich pak al die geld daarin. “Willanie, hier is jou geld. Kom ek vat jou huis toe.”

Terug by die huis hervat die verbaasde paartjie die skuif van die meubels.

“Hoeveel geld dink jy was dit, Diederich?” wil Irma weet. Diederich trek die laai aan die ander kant van die trollie oop.

“Nee, my lief, ek weet nie, maar ons kan hierdie laai s’n tel; dis amper net soveel.”