Anneke bestudeer die laggende gesigte om die tafel. Sy kan steeds kwalik glo dat een van hierdie vroue haar op die ergste denkbare manier verraai; maar vandag gaan sy uitvind wie dit is. 

Sy probeer met ’n objektiewe blik na haar vriendinne kyk: Almal aantreklik en goed versorg. Wel, amper almal. Vir Magda is voorkoms onbelangrik. Altyd besig met ’n veldtog vir die een of ander saak. Hoe haar man dit uithou, weet nugter. Tog lyk Albertus meestal heel tevrede met sy lot. Tipiese verstrooide professor; ’n dekade ouer as sy vrou. 

Sy bestudeer Magda nou meer aandagtig. Die kroesige bos hare is argeloos bo haar kop vasgesteek. Geen poging aangewend om die grys, of die plooie en sonvlekke, te verdoesel nie. Dit kan tog nie sy wees nie? Cobus is so gesteld op voorkoms. Die ure wat hy in die gimnasium deurbring is vir haar nog altyd beter as ’n  man wat heeldag voor die rekenaar sit en wag vir ’n hartaanval. 

Dié gedagte laat haar blik verskuif na Tessa, wat daardie pad moes loop: Laat 30’s en skielik alleen met twee kinders nog op laerskool. Die vriendinne het hulle oor haar ontferm; etes berei en naweke uitgenooi.

Tessa was aanvanklik totaal verwese, maar toe die routydperk skynbaar verby is, het dinge verander. Sy het by ’n gimnasium aangesluit, ligstrepe in haar hare laat sit en haar klerekas het ál meer begin adverteer dat sy weer in die mark is. 

Net Magda het Tessa en die kinders nog naweke na hul huis in Simonstad genooi. Anneke weet nie of dit haar algehele gebrek aan ydelheid, of die feit dat haar man se neus meestal in ’n boek is wat haar immuun gemaak het teen die subtiele bedreiging nie. Die ander was tevrede om, soos vandag, sonder hul mans saam met Tessa te kuier. Tot vier maande gelede. Toe kry Magda dit in haar kop dat almal saam vir ’n naweek moet Gretyon toe om Albertus se 60ste te vier.

Sy raak bewus van Sandra se oë op haar. Natuurlik sal haar hartsvriendin die een wees wat agterkom as iets met haar skort. Sy dwing ’n glimlag na haar lippe en vra uit oor die komende skoolvakansie. Sandra, sportorganiseerder by ’n hoërskool in die noordelike voorstede, se koperbruin arms en bene getuig van ure langs die hokkie- en netbalbane. Haar blonde hare, gewoonlik in ’n  poniestert, hang vandag reguit en blink om haar gesig. Sy is ’n mooi vrou, lank en atleties gebou.

Verbeel sy haar, of blink Sandra se groen oë vandag nie soos gewoonlik terwyl sy oor die beplande winter sporttoer praat nie? Haar geesdrif is gewoonlik aansteeklik. Vandat hulle as eerstejaars op Stellenbosch ’n koshuiskamer gedeel het, is hulle al vir 30 jaar dáár vir mekaar. Dit kan nie Sandra wees nie. Sy is die een wat Sandra vertroos en bemoedig het ná elke miskraam.

Toe Erik sy voet neersit oor nog behandelings, en hy en Sandra amper uitmekaar is daaroor, was Anneke die een wat haar oortuig het om te bly. En toe die wonderwerk eindelik gebeur en sy swanger raak, was Anneke natuurlik die peetma.

Self het sy en Cobus nooit kinders gehad nie. Hy het altyd gesê sy is vir hom genoeg; sodat sy nie die vrymoedigheid gehad het om die behoefte aan ’n kind uit te spreek nie. Hul lewe saam was tog vol en vervullend? 

Sy word bewus van die geskater rondom haar en besef Lizette is in die middel van ’n storie. Waar Lizette is, word daar gewoonlik gelag. Behalwe in haar eie huis. Daar word meestal net leë bottels opgeruim en probeer om ’n half-bewustelose man in die slaapkamer te kry voor die kinders wakker word. Hoe sy daardie man elke Sondag op die preekstoel kry sonder dat iemand agterkom hy is ’n volslae alkoholis, bly vir Anneke ’n raaisel.

Jare gelede, nadat Lizette haar hart uitgestort het oor die emosionele mishandeling, het Anneke vir haar gesê: “Los die man! Jy verdien beter!” Maar Lizette wou wag tot die kinders groter is. Met die jongste nou halfpad deur matriek en amper uit die huis; het sy Anneke se raad gevolg en iemand beter gekry? 

Lizette is nie beeldskoon op die tradisionele manier nie; maar sy’s ’n aantreklike vrou. Sexy. Iets te doen met die vol mond en die manier waarop sy haarself dra. Het Cobus dit ook raakgesien? Sy loer ongemerk na haar horlosie en haar maag draai. Nie meer lank nie.

Die kelner skink vars tee in haar koppie, maar sy vertrou haarself nie om dit na haar mond te bring nie, hou eerder haar hande ineengestrengel op haar skoot. Sy het die Greyton-naweek al oor en oor in haar kop herleef. Elke interaksie tussen Cobus en die ander vroue herroep en ontleed, gefrustreer deur die gebrek aan leidrade.

Die eerste vae fluistering in haar binneste het eers sowat ’n maand later gekom. Toe dit begin voel of Cobus haar op ’n afstand hou. Daar was skielik meer laat aande op kantoor; Anneke vas aan die slaap wanneer hy bed toe kom. Oor naweke is hy douvoordag gimnasium toe, sodat sy dan ook in ’n leë bed wakker word.

Toe sy met ’n skok besef dat hy drie maande laas aan haar geraak het, was die fluistering dringender. Toe word sy een nag in die vroeë oggendure alleen wakker. Agter die toe deur van die studeerkamer was sy stem sag hoorbaar. Met wie sou hy dié tyd van die nag praat? Met haar oor liggies teen die deur gedruk, maak sy die skokontdekking dat haar man die ure aftel tot hy weer saam met hierdie persoon kan wees. En dat Greyton die plek is waar hy die eerste keer die “magic” van haar lyf ontdek het.

Sy weet nie hoekom sy hom nie dadelik wou konfronteer nie. Dit was verbasend maklik om in die daaropvolgende dae voor te gee asof sy van niks weet nie. Sy het in elk geval so min van hom gesien. Haar groot stryd was om nie die foon op te tel en op een van haar beste vriendinne se skouer te huil nie. Maar, hoe kon sy? Een van hulle was deel van die verraad. Sy het sterk vermoed dis Tessa, maar sy moes doodseker maak.

Toe val die geleentheid in haar skoot: Cobus se sekretaresse wat leêrs by die huis kom aflaai op ’n Saterdagoggend terwyl hy by die gimnasium is. Die arme vrou se konsternasie toe sy oor ’n koppie tee iets laat glip van ’n romantiese verrasssing vir haar wat Anneke is. 

Nadat Anneke hand en mond belowe het om nie te laat blyk die aap is uit die mou nie, het sy die besonderhede uit haar gekry: Die datum, tyd en die naam van die luukse boetiekhotel en -spa in Groenpunt waar die bespreking gemaak is. ’n Dag waarop Cobus vir Anneke gesê het hy Johannesburg toe sou vertrek.

’n Plan het vorm aangeneem: Sy het haar vriendinne uitgenooi na ’n middagtee, kwansuis ’n vroeë verjaardagviering. Ná ’n biejie navorsing het sy op hierdie plekkie besluit –bekend om hul heerlike high teas en nie so naby die hotel dat dit agterdog sou wek nie, maar naby genoeg dat sy vinnig haar pad daarheen kon vind.

En nou het die oomblik van waarheid aangebreek. Wie dit ook al is, sal haarself enige oomblik moet verskoon as sy haar afspraak met Anneke se man wil nakom. Sy kyk stip na Tessa, maar dis ’n ander stoel wat agteruit geskuif word. “Jammer julle, ek moet haastig skool toe. Iemand het die bussie se sleutel verloor en die spaar is by my!” 

Anneke hoor skaars die ander se protes. Sandra is langs haar stoel en gee haar skrams ’n drukkie; dan is sy weg. Vir ’n paar oomblikke is Anneke te geskok om te reageer; maar dan maak sy ook haar verskoning, druk ’n hand vol note in die kelner se hand en laat die ander verdwaas agter. 

Sandra se kar is naby die hotel se ingang geparkeer. Anneke bly sit met haar hande om die stuurwiel geklem. Nie seker of sy kans sien om die plan deur te voer en die twee te konfronteer nie. Cobus se verraad het sy tot ’n mate begin verwerk. Maar Sandra? Vir wie sy lief is soos ’n suster? Die een mens in die wêreld op wie sy gedink het sy altyd sou kon staatmaak?

Sy voel siek, die wrang ironie dat sy op hierdie oomblik ’n groter verlies ervaar oor haar beste vriendin as oor haar man. Dan kom Sandra by die dubbeldeure uit en loop vinnig na haar motor. Sy lyk .  . . ontsteld? Binne ’n paar lang hale is Anneke by haar. Sandra kyk om, haar betraande oë is vol onbegrip. “Het jy geweet?” vra sy.

Sonder om vir ’n antwoord te wag, val sy Anneke om die nek en begin hartverskeurend huil. Verdwaas staan Anneke terwyl haar vriendin se lyf teen hare ruk. Eindelik bedaar Sandra effens en kyk haar in die oë. “Het jy geweet  . . . van Erik en Cobus?”

Voor Anneke tot verhaal kan kom, oorval die snikke Sandra weer. Terwyl sy daar op die sypaadjie met haar vriendin teen haar vasgedruk staan, daal begrip stadig op Anneke neer.

Deur die snikke kom dit hortend. “Ek het geweet daar is iets aan die gang, die laaste paar maande. Daar was boodskappe op sy foon, ene ‘C’. Ek het gesien hulle ontmoet mekaar vandag hier. Ek moes net kom kyk wat aangaan.”

Anneke hou haar stywer vas terwyl die trane nou ook vryelik oor háár wange loop. “Ek ook, vriendin,” sê sy. “Ek ook.”  

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.