Net nog ’n klomp tienerseuns wat met hul skaatsplanke op die skaatsbaan toertjies doen, besef die joernalis Jenna de Wet terwyl sy na die video kyk.

“Ek het nie vier jaar van my 27-jarige bestaan aan studies gewy net vir dít nie,” sê sy vererg, krap haar blonde hare deurmekaar van frustrasie en sit die video af. “Ek soek regte nuus, iets belangriks, iets wat my die erkenning sal gee wat ek verdien.”

Sy staan op, gryp haar handsak en die kamera en verlaat die gebou. In haar motor sit sy ’n paar minute en dink, maar niks waaraan sy dink, is die moeite werd vir die koerant waar sy werk nie.

“Asseblief, gee my ’n storie,” begin sy bid.“’n Storie wat op die voorblad van die koerant sal pryk met my naam onderaan.”

Op pad huis toe stop sy by die supermark, en terwyl sy tussen die rakke deurstap, hoor sy toevallig iets. ’n Goeie joernalis se ore is altyd teen die vloer, net ingeval iets belangriks verbykom, dink sy terwyl sy aandagtig luister.

Jenna hoor die hele gesprek oor ’n jong meisie wat helder oordag voor haar vriende ontvoer is. My magtig, dis mos die soort storie wat ek soek, dink sy en stap na die twee meisies toe.

Volgens hul storie was die ontvoerde meisie saam met haar vriendinne by die skaatsbaan. Natuurlik om die seuns dop te hou, dink Jenna . . .

Nadat sy vir haar inkopies betaal het, ry sy stadig huis toe en dink weer aan die gesprek met die twee meisies in die supermark. Ná aandete voel Jenna gefrustreerd en besluit om weer na die video te kyk.

Wel, die storie oor die tienerseuns met hul skaatsplanke is seker beter as niks, besef sy. Dit sal nou nie die hoofopskrif haal nie, maar nou ja. Sy druk die stop- en terugspeelknoppie, en toe sien sy dit.

“Hoe kon ek dit misgekyk het? Maar baie goeie kamerawerk, Ben Alberts,” komplimenteer sy haar kameraman hardop in sy afwesigheid toe sy besef die hele ontvoerdrama is voor haar in die video. Tussen die skok van wat sy aanskou deur slaak sy ook ’n sug van verligting.

Sy kan nie help om opgewonde te voel nie. Die volgende dag gaan sy terug na die skaatsbaan en gesels met die klomp kinders om vas te stel of hulle iets gesien het ten tyde van die ontvoering.

Volgens die ontvoerde meisie se vriendinne het haar pa daar gestop om met haar te praat en haar toe in sy motor ingedwing.

Terug by die kantoor gaan sy reguit na die redakteur se kantoor en vertel hom die hele storie.

“Dis ook ’n saak vir die polisie,” antwoord hy en waarsku haar oor dwarsboming van die gereg as sy waardevolle inligting wat hulle met die ondersoek kan help van die polisie weerhou.

“Moenie bekommerd wees nie. Dit is jou storie,” stel hy haar gerus en oorreed haar om ’n kopie van die video te maak. “Dis net vir ingeval.”

By die polisiekantoor gesels sy met die ondersoekbeampte wat die saak hanteer en oorhandig die video aan hom. Tydens haar middagete dink sy terug aan hul gesprek vroeër.

Maritz, onthou sy die ondersoekbeampte se van. Hy was beslis nie die vriendelikste man nie en het my sowaar gedreig met dwarsboming van die gereg, dink sy diep ingedagte.

Hoe meer ek aan hom probeer verduidelik het ek het die video vir hom gebring die oomblik toe ek van die ontvoering uitgevind het, hoe meer het hy my met die gereg gedreig.

Jenna stoot haar bord eenkant nadat sy klaar geëet het. Hy kry beslis nie die top-cop-prys van my nie, dink sy terwyl sy haar koeldrank drink. Haar foon lui langs haar op die tafel en sy sien dis ’n privaat nommer. “Hallo.”

Sy antwoord maar, want sy weet nooit wanneer dit belangrik is nie. “As jy die video vir iemand wys, sal jy jammer wees,” hoor sy die dreigende stem van ’n man oor die foon. “Ek weet waar jy bly.”

Geskok druk sy die foon dood en skakel dadelik die ondersoekbeampte se nommer. Jenna vertel hom van die oproep en hulle spreek af om mekaar te sien.

“Vertel my weer wat die persoon gesê het,” beveel hy toe hy oorkant haar gaan sit. Jenna herhaal elke woord van die telefoongesprek. “Is jy altyd so kortaf of is dit net met my?” kan sy nie help om te vra nie.

“Ek is seker jou vrou is sielsongelukkig met ’n man soos jy.” Hy ignoreer die aanmerking. “Jy moet versigtig wees en seker maak niemand agtervolg jou nie,” is sy woorde aan haar voor hy opstaan en loop.

“Moes iets gewees het wat ek gesê het,” sê sy saggies en lag. Haar gedagtes gaan terug na die vreemde oproep. “Hoe weet die man ek het ’n video van die voorval?” wonder Jenna.

Die volgende oggend op pad werk toe sien sy ’n motor wat haar volg. Dis dieselfde motor as in die video, besef sy skielik en weet wie haar agtervolger is. Met haar een hand op die stuurwiel, gebruik sy haar ander hand om Maritz te bel.

“Bly tog net kalm,” antwoord hy ietwat kortaf terwyl hy by haar vasstel waar sy is. “Klink ek vir jou na iemand wat nie kalm is nie?” vra sy die foon nadat hy dit doodgedruk het.

“Dis mos nie asof iemand my gedreig het of my nou agtervolg nie, is dit?” Jenna hou haar spoed en sien haar agtervolger bly agter haar. Af en toe verdwyn sy voertuig agter ’n ander een, maar verskyn dan net so skielik weer agter haar.

“So jy dink jy gaan my intimideer!” praat sy hardop met die motor. Toe Jenna weer in haar truspieëltjie kyk, is daar geen teken van die agtervolger nie. Sy stop langs die pad toe die foon lui en sy Maritz se naam op die skerm sien.

“Jy het te lank gevat, Maritz,” raas sy met hom nog voor hy iets kan sê. “Die een oomblik was hy nog agter my en die volgende oomblik was hy net weg.”

“Ja, ek weet, en dit is hoekom ek jou bel, vroumens. Hy word dopgehou en sal niks doen waarvan ons nie weet nie,” sê hy vinnig voor sy nog iets kan sê. “Dankie!” is al wat sy uitkry voor hy weer die foon dooddruk. Simpel mansmens.

By die huis bespied Jenna haar omgewing goed voor sy uit haar motor klim en vinnig in haar huis ingaan. Sy trek die blindings op ’n skrefie en hou elke voertuig wat verbyry met agterdog dop.

As Maritz my nou moet sien, dink sy skielik. Dan vererg sy haar vir haarself en dink: Hoekom dink ek aan hom? Hy sal hom wat verbeel!

Diep in die nag maak die gelui van haar foon haar wakker. “Wat de hel?” vra sy deurmekaar. Maritz se naam verskyn op die skerm.

“Hallo?” antwoord sy deur die slaap. “Wat is fout? Hoekom bel jy my dié tyd van die aand?” “Ek wou jou net waarsku dat jou agtervolger buite jou huis rondsluip,” antwoord hy, maar is onmiddellik spyt hy het haar gesê.

“Wat?” vra sy, en sy is sommer dadelik helder wakker. “Wat bedoel jy hy is buite my huis? Weet julle nie hoe om die man te vang nie?”

‘Wat bedoel jy hy is buite my huis? Weet julle nie hoe om die man te vang nie?’

Die volgende oomblik hoor Jenna iets by die agterdeur. “Maritz, kom help! Hy is by my agterdeur!” skree sy en sit die foon neer.

Sy gryp die ding naaste aan haar, wat toevallig ’n swaar antieke blompot is, en staan by die agterdeur en wag. Ná ’n paar minute besef Jenna dit kan dalk ’n vals alarm wees, want daar is geen beweging by die agterdeur nie.

“Het jou!” sê ’n stem skielik agter haar, en met goeie ingebore reflekse draai sy in die rigting van die stem en gooi die antieke blompot sonder om vrae te vra.

Die volgende oomblik bars die agterdeur oop met Maritz aan die stuur en hy staar Jenna aan met groot oë. Hy stap na die beseerde man en boei sy hande agter sy rug.

Nadat Maritz die man agterin die vangwa gelaai het, keer hy terug na Jenna. “Ek het geskrik toe iemand skielik agter my praat en toe gooi ek net die blompot in sy rigting,” sê sy geskok.

“Dis alles reg,” troos Maritz en sit sy arms om haar.

“Sien, ek moes toe maar julle werk vir julle doen, want hy kon my doodgemaak het en julle sou te laat gewees het om my te red,” sê sy nadat sy oor die skok is.

“Danksy jou video is die meisie weer veilig terug by haar ma,” sê Maritz toe hy langs Jenna gaan sit. “Luister, ek wil nie probleme hê met jou vrou nie, Maritz,” sê sy en staan op om afstand tussen hulle te kry.

“Jy is oukei, maar ek is niemand se tweede viool nie.”

“Waar kry jy die idee dat ek getroud is?” wil hy weet en beweeg nader om haar te omhels. “Maar ons twee kan dalk eendag die paadjie kansel toe stap?” sê hy met ’n skalkse glimlag.

“Jy is nou lekker laf,” antwoord sy laggend met ’n warm gevoel wat hom in haar hart kom tuismaak.