Lappies en Katrina Lawwerskaiing se huwelik het nie lank gehou nie. Die bewoners van Uniondale Road en Toorwater het dit deurentyd verwag, want Katrina was maar alte gekkerig om rond te kyk. 

Niemand het die huwelik ’n kans vir oorlewing gegee nie. 

Nadat die twee uitmekaar is, het Katrina weer by Kokkies, die plaaslike hotel, gaan werk, en Lappies het soos voorheen weer Kokkies se beste klant geword. 

Hulle het steeds goeie vriende gebly. 

Niemand het verwag dat Katrina lank op Uniondale Road sou bly nie, en toe sy ná minder as twee maande terug is Baai toe, was niemand verbaas nie en het ’n paar agterdogtige vroue sugte van verligting geslaak. 

Dominee Bester van De Rust, waaronder Uniondale Road en Toorwater geressorteer het, was in sy vroeë 40’s toe hy die beroep van Tzaneen na De Rust aanvaar. 

Sy vrou was baie sieklik – daar is geglo die Klein-Karoo se klimaat sou haar gesondheid tot voordeel strek. 

Dominee Bester was ’n beminde leraar, en almal het altyd uitgesien na sy sesmaandelikse huisbesoek. 

Dan het hy so drie tot vier dae by die weduwee Gesie Wiegand in die stoepkamer gebly. 

Ná Katrina en Lappies se egskeiding het Katrina die stoepkamer by Gesie gehuur. 

Dominee Bester was ’n beminde leraar, en almal het altyd uitgesien na sy sesmaandelikse huisbesoek.

Met dominee Bester se volgende huisbesoek moes Katrina in die huis gaan slaap om vir hom plek te maak. 

Die drie het gereeld saans op die stoep sit en gesels. 

So ook dié aand voor dominee Bester die volgende dag huiswaarts sou keer. Gesie het later verskoning gemaak en gaan lê. 

’n Paar dae ná Katrina se vertrek het Gesie die bom laat bars. 

Sy het daardie oggend vroeg opgestaan en na Bettie Plessie toe gestap. Daarna is sy na Anna Gouws toe en toe na Ta’ Marja. 

“Ek het nie lank daar op die stoep gesit nie. Dominee en Katrina het nog bly sit nadat ek gaan lê het,” het Gesie vir Ta’ Marja vertel. 

“Later het die dors my wakker gemaak. Ek het opgestaan om te gaan water drink. Ek het die gordyn weggetrek en na buite gekyk toe die stoepkamer se deur oopgegaan en Katrina daar uitkom.” 

Gesie het ’n oomblik stil gebly. Sy het haar kop geskud asof sy haarself nie wou glo nie. 

“Katrina het by dominee Bester se kamer uitgekom, Ta’ Marja! Ek kon duidelik sien dat hulle . . .” “Gesie!” het Ta’ Marja haar in die rede geval. 

“Ek wil niks verder hoor nie. En jy praat ook met niemand hieroor nie,” het sy beveel, maar dit was te laat, want Bettie en Anna het reeds die dorpie ingevaar, om die storie aan almal wat wou luister uit te basuin. 

Dit was toevallig daardie Sondag dominee Bester se beurt om op Uniondale Road te preek.

’n Verslaenheid het soos ’n doodstyding oor die vallei gehang. 

Dit was toevallig daardie Sondag dominee Bester se beurt om op Uniondale Road te preek. 

Chrisjan Gannavlakte en Flip Rottenlaagte het besluit om die aangeleentheid voor die tyd met hom te gaan bespreek. 

Dominee Bester het egter besluit om steeds daar te gaan preek. 

In trane het hy voor die gemeente oor sy dwaling gebieg. Byna almal was later in trane en selfs een of twee van die gehardes het ’n slag of wat gesnuif. 

Ná kerk het die mense stil uitmekaargegaan. Dit was ’n droewige dag. Daardie selfde middag nog het dominee Bester die voorsitter van die Ring op Oudtshoorn gaan spreek. 

’n Kommissie is aangestel om die saak te ondersoek en ’n aanbeveling te maak. Hoewel dominee Bester nou met die kommissie saamgewerk het, het dit nie gehelp om sy saak te versag nie. 

Hy het nie ’n verskoning gesoek vir sy optrede nie, maar nietemin vir die kommissie vertel van sy vrou se siekte, en al het hy dit nie gesê nie, het dit tog uit sy getuienis geblyk dat hy en Katrina tot mekaar aangetrokke gevoel het. 

Toe sy daardie laaste aand by die stoepkamer ingestap het, het hy sy selfbeheersing gedeeltelik verloor. 

Die kommissie het dominee Bester skuldig bevind. Dominee Buitendach van Avontuur was die voorsitter. Hy was ongenaakbaar. 

Die kommissie kon geen versagtende omstandighede vind nie en het aanbeveel dat dominee Bester in sy amp gestuit word. 

Die kerkraad het die kommissie se aanbeveling aanvaar en dominee Bester so in kennis gestel. 

Die kommissie kon geen versagtende omstandighede vind nie en het aanbeveel dat dominee Bester in sy amp gestuit word.

Aan die einde van die volgende maand moes hy die pastorie ontruim. 

Hy en ’n groot deel van die gemeente was teen die grond geslaan. Almal het verwag dat hy vir ’n tydperk geskors sou word om te besin, maar nie dat sy dienste summier beëindig sou word nie. 

Nadat dominee Bester die aangeleentheid met ’n vertroueling bespreek het, het hy besluit om hom tot sy gemeente te wend en ’n petisie op te trek wat hy aan die Ring kon voorlê om sy saak te hersien. 

Hy het besluit om op Uniondale Road, daar waar die dwaling plaasgevind het, te begin. 

Op Uniondale Road aangekom, het dominee Bester reguit na Ta’ Marja gery. Hy het na haar opgesien. 

Sy het hom vriendelik ingenooi en hulle het in die voorhuis gaan sit. “Is dit oor die petisie, dominee?” het sy gevra. 

“Ja, Ta’ Marja. Dit is oor die petisie dat ek hier is. Sal Ta’ Marja my help, asseblief?” 

Hy het half pleitend na haar gekyk, maar die glans in haar oë het hom laat wegkyk. “Ek was skuldig, Ta’ Marja. Ek het al my knieë deur gebid, en ek weet ek het vergifnis ontvang.” 

Hy het swaar gesluk. “Ek weet ek moes nie voor die versoeking geswig het nie, Ta’ Marja, maar Ta’ Marja weet van Grieta se siekte en . . .” 

“Dominee, jy is nie aan my ’n verduideliking of ’n verskoning verskuldig nie. Die Liewe Vader het nie aan my die mag gegee om te oordeel en te veroordeel nie. Daardie mag kom net Hom toe. Maar Hy moet my vergewe wanneer ek woedend word vir mense wat hulleself daardie reg toeëien. Die witgepleisterde grafte waarvan die Woord praat. Dan sondig ek, want ek veroordeel. Ek sal jou help, dominee. Ek sal die petisie onderteken.” 

“Ek was skuldig, Ta’ Marja. Ek het al my knieë deur gebid, en ek weet ek het vergifnis ontvang.”

Nadat sy dit geteken het, het sy opgestaan. “Ek gaan gou koffie maak, en dan wil ek vir jou ’n verhaal vertel, dominee.” 

Nadat elkeen ’n mondjie vol koffie geproe het, het Ta’ Marja vertel. 

“ ’n Klompie jare gelede was daar ’n jong predikant op Duivelskloof in die verre Noord-Transvaal. Dit was sy eerste gemeente. Hy was baie gewild onder die jonger mense, maar ’n paar van die ouer lede van sy gemeente was nie te vinde vir sommige van sy byderwetse gewoontes nie. Hy het byvoorbeeld sonder ’n das in die dorp in die openbaar verskyn. Partykeer selfs met ’n kortbroek aan. Hulle het geglo dat dit die status wat aan sy beroep gekoppel was, aantas.” 

Ta’ Marja het eers ’n slukkie van haar koffie geneem. 

“Toe het hy ’n beroep na die Kaap aanvaar. Net nadat hy weg is, het ’n jong meisie uit sy ou gemeente bekendgemaak dat sy ’n baba verwag en die jong predikant aangewys as die vader van haar ongebore kind. Die meisie het ’n vaste verhouding met ’n jong reisiger van onstabiele geaardheid gehad. ’n Kommissie is aangestel om die bewerings te ondersoek. Die ondersoek was onnodig, want die persone wat die spreekwoordelike hond wou slaan, het reeds ’n stok in die hande gekry. Sy ou gemeente het hom teruggeroep en hy is voor die kommissie gedaag. Hy het sy volle samewerking gegee. Sy verskyning voor die kommissie was egter ’n klug, want hy was reeds skuldig bevind. Hy het erken dat hy wel een aand saam met die meisie deurgebring het, maar dat hul samesyn nie van so ’n aard was dat ’n kind verwek kon word nie. Die kommissie het egter onwrikbaar in die meisie se beëdigde verklaring geglo. Hulle kon haar “onbesproke” karakter en haar goeie ouerhuis nie genoeg beklemtoon nie. Die jong predikant se pleidooi vir bloedtoete het egter op dowe ore geval.” 

’n Traan het stadig oor Ta’ Marja se wang gebiggel. Dominee Bester was onnatuurlik bleek. 

Sy het die traan met die agterkant van haar hand afgevee en opgekyk. Die glans in haar oë was onnatuurlik, en dominee Bester het weer weggekyk. 

“ ’n Predikant van Tzaneen, buurdorp van Duivelskloof, was die voorsitter van die kommissie wat die aangeleentheid ondersoek het, en hy was ongenaakbaar. Die jong predikant het weer daarop aangedring dat bloedtoetse gedoen word, maar daar was geen genade vir hom nie.” 

“Hy is soos ’n moordenaar aan die kruishout geslaan. Die voorsitter het vol genoegdoening die kommissie se aanbeveling aan die kerkraad oorgedra.” 

“Daardie meisie is toe met haar reisiger getroud. Die baba het op ’n haar na soos sy reisigerpa gelyk. Die jong predikant het iewers in Afrika gaan sendingwerk doen waar hy ’n jaar later aan die koors dood is. Niemand het die moeite gedoen om uit te vind wat van daardie jong predikant geword het nie. Nie een lid van die kommissie het hul fout erken nie.” 

“Daardie jong predikant wat so valslik veroordeel was, dominee, was my seun.”

Ta’ Marja se trane het vrylik geloop. Sy het nie moeite gedoen om dit af te vee nie. 

“Daardie jong predikant wat so valslik veroordeel was, dominee, was my seun.” 

Dit was asof ’n onsigbare hand dominee Bester se kop opgelig het en hy moes teen wil en dank vir Ta’ Marja in die oë kyk. 

“Jy behoort die voorval mos goed te onthou, dominee? Jy was mos die voorsitter van daardie kommissie? Was jy nie, dominee?”