Drieka Brits sak moedeloos terug en sit plat in die grondpad. Sy vee die sweet van haar voorkop af en haar rooi krulle plak teen haar slape vas. Daar is niks rondom haar nie behalwe swartgebrande graspolle en ’n draadheining.

Sy het meer as twee uur gelede al haar motortjie van die N7 af weggedraai en het nou een van die motorbande oor ’n klip stukkend gery.

Die grondpad is nie vir klein motortjies gemaak nie; eerder vir die groot, sterk bakkies waarmee die boere ry. Toe sy die motortjie kry, het haar dierbare pa haar met groot sorg geleer hoe om haarself te help as sy langs die pad sou teëspoed kry.

Sy het alles probeer, selfs met haar gewig op die moersleutel gebalanseer, maar sy kry net nie die wielmoere los nie.

Sy wag al ’n halfuur lank dat ’n ridder in ’n bakkie verbykom, maar tevergeefs.

Sy laat die motortjie met die domkrag sak voor sy dit afhaal en saam met die noodwiel weer op sy plek in die kattebak bêre. Dan laai sy die koelsak terug met die vars slaaigoed wat sy vir Ansie gebring het.

Voor sy haar tas wegpak, haal sy eers haar tekkies en laphoed uit.

Sy het sowat vier kilometer terug ’n plaasafdraai gesien en sal soontoe stap om hulp te soek. Sy smeer vir oulaas sonskerm aan haar gesig, plak haar sonhoed op en begin na die afdraai terugstap.

Drieka en Ansie was universiteitsvriendinne; hulle het van dag een af gekliek en was onafskeidbaar. Ansie het haar man, Wouter Visagie, op universiteit ontmoet en hulle is ’n jaar gelede getroud.

Die egpaar boer in die Boesmanland en dis waarheen Drieka op pad is.

Sy werk by Gouws en Kie.-rekenmeesters op Malmesbury en die week lange kuier by haar vriendin sal hul eerste wees sedert Ansie se troue.

Ansie was reg – hier is werklikwaar niks.

Die plase is groot en baie ver uitmekaar en hulle het geen selfoonontvangs nie.

Volgens Ansie gaan dit nie oor waar jy is nie, maar by wie en is die Boesmanlanders unieke mense – die sout van die aarde.

Hulle dra mekaar se belange op die hart, is tot oorlopens toe gasvry en altyd gewillig om te help.

Drieka kom by die afdraai. Ootmoed is die naam van die plaas.

Sy loop onderdeur die geroeste naambord, haal haar laphoed af en vee die sweet van haar gesig met ’n snesie af.

Dis nou eers tienuur, maar dit is verskriklik warm.

Sy stap aan tot sy die plaashuis in die verte gewaar. Die groot huis staan in die son en bak. Links onder ’n paar doringbome is ’n skaapkraal met ’n klompie skape.

By ’n groot skuur is nog krale en in die skadu staan ’n wit bakkie met tralies agterop. Maar geen mens is in sig nie.

Toe sy by die hekkie kom, draf ’n groot hond nader en blaf ’n paar keer hard. ’n Kleiner hondjie spring opgewonde teen die heining.

Drieka wag; sy is nie seker wat om te doen nie. Sy steek haar hand versigtig uit, en terwyl sy die groot hond met woorde paai, vryf sy saggies sy kop.

Toe niks gebeur nie, maak sy die hekkie oop en loop na die koel voorstoep. Niemand beantwoord haar klop nie en sy kyk onseker oor die plaaswerf. Dan moet sy nou maar agter gaan klop.

Die honde loop saam met haar om die huis.

Toe Drieka die sifdeur ooptrek om te klop, staan die bo-deur oop.

“Hallo.”

Haar stem klink skor. Sy probeer weer: “Hallo, is iemand hier?”

Dit klink beter, maar niemand antwoord nie. Sy stoot die onderdeur oop en die groot hond loop saam met haar in.

Die kombuis is koel en uitnodigend. ’n Witgeskropte houttafel met stoele staan in die middel van die vloer en daar is wit kombuiskassies teen die muur.

Drieka kyk rond vir ’n telefoon. Sy loop na die gang.

Die eerste deur regs is ’n studeerkamer met ’n telefoon op die lessenaar.

Drieka gaan in en vroetel met haar selfoon om Ansie se nommer te kry. Net toe sy die gehoorstuk optel en teen haar oor druk, gryp sterk arms haar van agter.

Haar gil weergalm in haar ore voor ’n hand oor haar mond skuif en die geluid op haar lippe keer.

Roelf Lubbe kyk op toe hy sy groot Deense hond hoor blaf. Hy sien Millie, sy getroue skaaphondjie wat langs hom lê, reageer ook op die geblaf deur haar kop te lig en dan op te staan.

“Klink my ons het gaste, Kleingert,” sê hy.

“Die ou grote blaf net as daar iets is om oor te blaf. Het jy iets hoor dreun?”

Roelf en Kleingert werk in die skuur aan die motorfiets waarmee Kleingert altyd veld toe ry.

Sedert Roelf se weduweema dorp toe getrek het om in te trek by haar suster wat onlangs haar man verloor het, is Kleingert, wat nes hy op Ootmoed grootgeword het, en die honde sy geselskap.

Dit raak maar vir Roelf baie eensaam, veral saans wanneer Kleingert na sy huis gaan waar sy gesin vir hom wag en Roelf die res van die aand net sy eie geselskap het.

Party aande wanneer hy in die donker die koelte op die stoep opsoek, hoor hy die stemme van Kleingert se huismense na hom aangesweef kom op die aandluggie. Dan stoot ’n heimwee oor hom wat hy nie kan naamgee nie.

Daar was al meisies, maar nie een wat sy hart soos ’n wilde perd laat galop en sy bloeddruk opjaag nie. Om dit te vererger is sy beste vriend en buurman, Wouter, verlede jaar met sy universiteitsliefde, Ansie, getroud.

Kleingert antwoord ontkennend en Roelf kom van sy hurke af orent. Hy neem die stuk lap wat op die motorfiets se sitplek lê en probeer die meeste olie van sy hande afvee.

Hy gooi die olielap na Kleingert.

“Vee maar eers af, dan stap ons huis se kant toe vir ’n lafenis. Miskien is dit ’n slang wat ou Grote so opgewonde het,” sê Roelf.

Daar was al meisies, maar nie een wat sy hart soos ’n wilde perd laat galop en sy bloeddruk opjaag nie

Nader aan die huis maak Kleingert ’n opmerking dat die honde nie in sig is nie. Roelf frons en kyk af grond toe. ’n Mens hoor stories van allerhande onheilighede wat op plase gebeur.

Sy geoefende oog sien dadelik die enkele ry tekkiespore by die hek.

’n Nommervyf, skat hy.

Vir ’n indringer met sulke klein voetjies sien hy kans. Hy wys dit vir Kleingert en die twee sluip om die huis na die agterdeur.

Toe hy die sifdeur ooptrek, staan die houtdeur wawyd oop.

Saam sluip hulle gang toe.

In die gang sien hy ou Grote in die studeerkamer se deur staan.

Vir ’n indringer met sulke klein voetjies sien hy kans

Hy loer vinnig om die kosyn en sien ’n skraal figuur voor die lessenaar. Met enkele treë is hy op die indringer en gryp hom van agter af vas.

Dan kom die gil wat deur die vertrek weergalm tot hy sy een arm verskuif en die gillende mond met sy groot hand toedruk.

Toe eers raak hy bewus van die sagte rondings wat teen sy een arm druk en die fyn vroulike geur wat in sy neus opstoot.

Drieska  en Roelf sit aan weerskante van die witgeskropte tafel in die kombuis en gesels. Voor elkeen staan ’n groot glas koeldrank waarin ysblokkies dryf.

Roelf kan nie help om kort-kort uit te bars van die lag wanneer hy dink aan die toneeltjie wat afgespeel het nie.

Toe Drieka se laphoed van haar kop afval, het hy dadelik besef dis Ansie se vriendin.

Ansie het hom al so baie van die rooikop vertel, dit voel asof hy die meisie voor hom al jare lank ken. Drieka se gesig was eers net so rooi soos haar hare van verleentheid omdat sy in ’n vreemdeling se huis betrap is.

Daarna was sy vererg en het hom wat Roelf is, bid jou dit aan, behoorlik die kop gewas omdat hy haar skrikgemaak het. Nou sit sy oorkant hom by die tafel met ’n oliestreep teen haar wang soos hy haar besmeer het toe hy haar mond toedruk.

Hy het net ’n week om ’n indruk te maak op ’n fyn rooikopmeisie wat nie skrik vir ’n vreemde grondpad wat sy alleen-alleen in die hitte moet aandurf nie.

Elke keer wanneer hy sy kop teruggooi en kliphard lag, lag Drieka verleë saam.

Twee kuiltjies verskyn in haar wange en Roelf voel hoe sy hart galop. Kleingert moet maar eers alleen aan die motorfiets werk; hy wat Roelf is, het ’n meisie om te leer ken.

Hy het net ’n week om ’n indruk te maak op ’n fyn rooikopmeisie wat nie skrik vir ’n vreemde grondpad wat sy alleen-alleen in die hitte moet aandurf nie.

Hy is dus glad nie haastig om die band van die motortjie wat langs die pad staan om te ruil nie. Drieka kan nie help om die sterk geboude man wat oorkant haar sit onderlangs te beloer nie.

Sy verstaan nou hoekom Ansie sê dit gaan oor by wie jy is en nie waar nie. Dié Boesmanlander is soos geen man wat sy al ontmoet het nie.

Sy wonder of dit is hoe die sout van die aarde lyk.

Sy begin bloos op haar eentjie toe sy nog ’n ding wonder: Gaan sy en haar ou kamermaat dalk eendag bure word?