Dawie Pelser stap sleepvoet deur die tuin; skop lusteloos na droë dennebolle op die vaal gras. Die tuin lyk verwaarloos, net soos die ou spoorweghuisie. Trouens, dit is nie regtig ’n tuin nie.

Plek-plek staan ’n paar kolle kweekgras; die res is kaal en vol droë winterspeeksel. Hy gaan sit met sy rug teen die skurwe stam van die denneboom en sug.Rex kom stertswaaiend aangemank, val langs Dawie neer en rus sy ou kop op die seun se bobeen.

Hy gee ’n lang sug waarop Dawie met ’n kort sug volg. “Ou Rexie, my lewe is ’n eendag. Het jy dit geweet?”

Rex maak een oog oop; antwoord die vraag met flou stuiptrekkies van sy stert en tong. Die 11-jarige seun vryf liefdevol oor die groot kop en vroetel die ver­skeurde ore.

“Ek vra vir pappa wanneer ek ’n selfoon sal kan kry. Dan sê hy net: ‘Eendag, seun.’ Watter antwoord is dit?” Hy staan op; die hond ook.

“Ek vra daai pragtige Sannie Watson of sy saam met my sal sokkie toe gaan. Weet jy wat sê sy?” Rex lek aan sy hand. “ ‘Eendag as jy nie so ’n flentergat en arm is nie, miskien, maar jy is soos my ouers sê . . . ou dronk Daan se nikswerdseun.’

Maar ek sal hulle wys. Eendag . . .”Hy bly stil toe ’n ambulans voor hul huisie stilhou en twee ambulansmanne die trappies opdraf. Vrees beklem sy hart toe hy die huis binnestorm. Oom Kosie, die buurman, keer hom voor. “Wag ’n bietjie, ou Dawie, laat die noodhulpmanne hom net eers help.”

“Oom . . . My pa?”

Hy worstel in die greep, maar staan stil toe hulle met sy pa op die draagbaar by hom vassteek. Sy pa se gesig is doodsbleek.

Hy steek sy regterhand uit, vat Dawie aan sy wang en prewel: “Ek’s so jammer, my seun. Jy sal beter daaraan toe wees sonder my. Kom weg uit die smaad van dronk Daan se kind. Ek kon nie meer nie; ek verlang so na mamma.”

Dan vat hulle hom ­ambulans toe en vertrek met ’n skellende sirene.Verskrik huil Dawie teen oom Kosie se been.

“Toemaar, my boetie, ons sal môre vir pappa gaan kuier. Kom, jy eet en slaap vanaand by ons.”

Die volgende en laaste keer dat Dawie sy pa se geliefde gesig sien, is toe die omie by Avbob die blink kis se deksel toemaak. 

Toe word sy lewe ’n mallemeule – van hierdie huis tot daardie huis; van hierdie bed tot daardie bed. Maar altyd is die woorde sag in die nag gefluister: “Ai, foeitog, sy pa het so gedrink . . . was altyd dronk. Eendag sal hy seker ook dieselfde pad stap. Arme kind!”

Eendag, sommer skielik, het die Charlotte Theron-­kinderhuis se voordeur ­agter hom toegegaan en Dawie het ’n ander wêreld ingestap. Aanvanklik het hy gesukkel.

Die kinders was vreemd, sommige tranerig; ander vyandig. Maar hy het vinnig aangepas en sy vuiste en krag het hom spoedig sy eie pad laat loop.

Op sportgebied het hy uitgeblink, veral in karate. Dit het hom ’n studiebeurs besorg, en 12 jaar later buig hy voor die dekaan van die Universiteit van die Vrystaat en ontvang sy LL.B. cum laude. 

Twee jaar daarna stap hy by die sukkelende prokureursfirma van Louw en Meyer in. Op dieselfde dag sluit hy die voordeur van die DDP-karateklub oop.

Binne twee weke is die dojo byna oorvol en praat almal van “sensei Dave”. In die hof is hy onstuitbaar, en binne ’n paar maande pryk daar in die nuwe kantoor die name Louw, Meyer en Pelser.

Op die dag en datum presies 14 jaar later hou Dave Pelser met sy byna nuwe Mercedes-Benz 500SEL voor die ou vervalle spoorweghuisie by Hoffestraat no. 7 stil.

Hy klim uit, vat die geroeste staalhekkie vas en staar na die vervalle huis. Die tuin is ’n wildernis van onkruid en vuilgoed. Die eienaar is oud en nugter maar verwese.

’n Rukkie later laai hy hom in die Benz op, hulle onderteken die koopkontrak en Dawie word die ­eienaar van die gewese spoorweghuis.

Tien dae later hou hy weer voor die huis stil, hierdie keer met sy werkmotor, ’n ou Nissan 1200-bakkie. Die kontrakteur het sy geld verdien.

Die tuin is skoon; gras is oral aangeplant, behalwe waar Dawie die rotstuin wil bou. Die dak is geverf en die mure skoon en netjies. Hy weet binne sal dit ook so wees.

Dawie Pelser omklem die nuwe staalhekkie en kyk na die huis. Die kombuis waar pa Daan altyd gekuier het, het nuwe moderne meubels; so ook die ander vertrekke.

Hy gaan sit by die kombuistafel, sit die groot Bybel neer en maak dit oop.

“Pappa, ek’s weer hier – hier waar ek, jy en mamma so baie gelag het voor Liewe Jesus haar kom haal het. Hier het hulle jou geknakte liggaam uitgedra, maar jy, julle is steeds hier. Mamma, pappa, ek is tuis.”

Dawie huil soos ’n klein kindjie en sy trane drup op Prediker 3.

Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd . . . 

Dawie stap die groot restaurant binne, onbewus van die waarderende, soms bewonderende blikke van mans en vroue.

Daar is ’n aanvoelbare stilte toe hy by die hooflanddros, Gawie Basson, dr. Nic Nel, die veearts Mark Wessels en die magnaat Douw Watson gaan sit. “Naand, julle,” groet hy en vra die kelner ’n koue Lion Lager.

“Dave, ek hoor jy’t ’n ou huis gekoop en restoureer dit nou.”

Douw Watson kug en loer na die ander twee manne. “Dis nie juis die beste plek vir ’n gesiene man om te bly nie. Ek’s seker jy kan ’n paleis in enige spogwoonbuurt bou.”

Dawie glimlag, kyk verby Watson, en die glimlag verdwyn. Hy kyk in die groen oë van die mooiste vrou wat hy nog gesien het.

Sy sit by ’n paar junior prokureurs en eiendoms­agente, het rooibruin hare en is on­gelooflik aantreklik. Sy bloos vuurrooi toe hy haar steeds aankyk en vroetel met die servet voor haar. Watson frons en draai sy kop om te sien wie sy eregas se aandag steel.

“Susan! Kom sit hier by ons?”

Die manne staan op toe die vrou aansit. Hierdie keer skei slegs ’n tafelbreedte die groen en bruin oë. “Jy ken die ander manne, en dié is ons nuwe advokaat en prokureur, Dave Pelser, en my dogter, Susan Watson.”Die ander manne groet haar op die naam en Dawie glimlag skeefweg.

“Adv. Pelser, so aangenaam om die beroemde regsgeleerde persoonlik te ontmoet. Jy weet natuurlik dat jy die hubaarste vangs op die dorp is?”

Dawie kyk haar stil aan; wag tot sy blosend wegkyk. Dan spreek hy Douw Watson aan. “Jy weet, mnr. Watson . . .” Die man maak ’n handgebaar asof hy die titel wil ontduik, maar Dawie vervolg.

“Lang, baie eensame, vernederende jare gelede het ’n meisiekind vir my vertel ek’s ’n arm flentergat. Dit het my vasbeslote gemaak.”

Hy sien die fronsie op Susan se gesig verskyn. “Vasbeslote om bo uit te kom, en ek reken ek het.” Hy staan op.

“Julle moet my verskoon, maar ek moet liewer gaan. Ek’s ’n arm flentergat en die seun van ou dronk Daan Pelser.” Hy draai om, loop ’n ent weg, draai dan weer om en kyk na die geskokte gesigte.

“Jy moet my tog laat weet, Sannie, wanneer dit . . . eendag is.”Die volgende dag is dit in die koerant en oor die streeknuus dat hy, Dave Pelser, aangestel is as die regsverteenwoordiger en direkteur van een van die grootste maatskappye in Afrika. Dis net ná elfuur die Saterdagoggend toe die silwer Audi TT Coupe voor Hoffestraat no. 7 stilhou en Susan Watson uitklim. Sy klop huiwerig aan die voordeur en Dawie maak oop.

“Ek is jammer ek pla. Ek wil net ver­skoning vra.” Sy kan hom nie in die oë kyk nie. “Kom in, Susan.”

Hy staan opsy sodat sy kan binnestap. “Gaan jy omgee om in die kombuis te sit? Ek is besig om ’n stukkie ribbetjie te marineer. Ek wil vanaand ’n vuurtjie maak.”

Sy gaan sit, lyk verwese en kyk skaam-skaam na hom. “Kan jy my dit ooit vergewe? Daardie woorde was wat ek gehoor het, Dawie. Ek sou dit nooit uit my eie gesê het nie, maar die klomp maats het my aangepor om dit te doen. Asseblief?”

Hy stap na die yskas. “Sal jy ’n biertjie saam met my drink? Dis ongelukkig al wat ek drink en hier het.”

“Dit sal lekker wees, dankie.” Sy weier om hom in die oë te kyk toe sy die glas by hom vat.

“As jy niks om te doen het nie, wil jy nie vanaand hier kom braai nie?”

“Natuurlik sal ek.” Sy kyk op. “Beteken dit jy het my vergewe?”

“Daar is niks om te vergewe nie. Prost!” Hy druk sy glas teen hare.

VIER maande later sit hulle op die stoepie; dit is reeds sterk skemer. “Ek hoor jy het ou Botha se paleis gekoop. Gaan jy daar bly?”

Dawie trek haar op. Sy smelt teen hom vas en hulle soen. “Sal jy met my trou, Sannie?”“Natuurlik, my flentergat. Sommer dadelik ook.”“Ons kan later ouers gaan vra.”

“Is nie nodig nie. Hulle weet dat ek jou lankal wou trou.”

Sy aarsel; fluister teen sy lippe. “Dan maak ons ons kinders hier groot, asseblief.”

“Hier?” vra hy verbaas.

“Ja, en dan gaan ons eendag iewers anders bly.”

Deur haar trane is die diamantring enorm groot. Hy glimlag en soen haar en dink: “Pappa en mamma, vandag is dit eendag.”