Dis 2050 n.C. en die wêreld lyk baie anders as in 2020 toe Hein sy eerste lewenslig aanskou het. Hy is van voor driejarige ouderdom deel van die kubergenerasie. Verandering is in sy gene. Min is vir hom onverstaanbaar. Tot vanoggend.

Verdwaas kyk hy na die brief. ’n Hand-skrif op papier. Wie skryf hoegenaamd nog? Liezel. Sy vrou. Hy lees die woorde en dit tref sy sintuie soos skote uit ’n M41-A-polsgeweer.

“Jou laboratorium is al waarin jy belangstel. Laat jou robotdiensmeisie my plek vol staan. Ek en Hector gaan met sy Skylon die maan en daarna Mars verken.”

Diensmeisie? Hoe durf Liezel so neerhalend na Nevijo verwys? Sy het nooit eens een keer gevra waar die naam vandaan kom nie. Ne[t] vi[r] jo[u] – elke man se droomvrou. Hein kyk verbyster na die opspoorder op sy selfoonskerm wat aandui sy vrou van die afgelope 12 aardse jare is reeds meer as twee ligjare die ruimte in.

Liezel is reg oor die afskepery. Hy bring ure in sy laboratorium deur, maar dit beteken nie hy is nie lief vir haar nie. Sê nou Liezel besluit sy vind die atmosfeer op die maan of Mars so wonderlik dat sy saam met Hector, wat net in spoed en ruimtetuie belangstel, haar intrek in een van die nedersettings daar neem?

Hy sal die situasie op Solution X3 moet invoer en kyk watter oplossings die verhoudingsberaderprogram hom bied. Maar dit moet nou eers wag. Hy moet die laaste verstellings aan Nevijo afhandel.

En aangesien hy nou vrouloos is, is dit dalk ’n goeie plan om Nevijo ’n maand of wat hier in die huis te beproef. Dit sal voorkom dat hy van eensaamheid vergaan. Daarna kan sy na die produksielyn gaan sodat replikas geskep kan word.

O genade, die kinders moet skool toe. Met menslike materieoorsending is dit deesdae soveel geriefliker. Liezel, wat nog in ’n mate hunker na vroeër jare se metodes, neem hulle gewoonlik met die nano-i-hommeltuig, maar tyd is vir Hein te kosbaar.

Hy verkies dat die tweetjies van hul onderskeie kamers per satelliet interaktief by hul rekenaargeletterde opleiers se programme inskakel. Die kinders is so verknog aan hul elektroniese wêreld dat hulle waarskynlik eers oor twee of drie dae sal besef hul ma is nie hier nie. Hulle sal bloot aanneem mamma is met androïede kunsprosesse besig nes pappa in die kuberontwikkelingslaboratorium.

Alles, ook die Liezel-kwessie, vervaag egter nou, want dit is belangriker as ooit dat Nevijo vervolmaak word. Hein voel ’n opgewondenheid in hom bruis. Hy het gewik en geweeg, maar nou twyfel hy geensins verder oor die wysheid daarvan om vir Nevijo die dimensies te programmeer wat hy eintlik vir toekomstige modelle wou terughou nie.

Met ’n halfuur elke oggend aan die rekenaar se nuus- en aktualiteitsprogramme sal Nevijo meer as enige vlees-en- bloed-mens op die hoogte van die wêreld wees. Dit kan insiggewend wees om haar interpretasies te hoor, met haar te gesels. Nie dat Liezel oningelig was nie, net belangeloos oor sy veld.

Met ’n ingeligte gespreksgenoot sal hy dalk saans ontspanne voor die elektroniese kaggel met rooiwyn kan uitstrek. Nie dat Nevijo aan laasgenoemde sal kan meedoen nie.

Goeiemôre, Nevijo,” groet hy toe hy die laboratorium binnestap en die robotmeisie van die muurprop ontkoppel.

Liezel is reg oor die afskepery. Hy bring ure in sy laboratorium deur, maar dit beteken nie hy is nie lief vir haar nie.

“Goeiemôre, Hein. Het jy lekker geslaap?” vra sy in die gemoduleerde stem wat hom ’n maand geneem het om te vervolmaak. Sag op die oor. Tipies van die wetenskaplike wat Hein is, het hy tot dusver sy emosies beteuel.

Vanoggend veroorloof hy hom egter ’n ligte streling oor Nevijo se blonde hare. Haar vel is vlekkeloos en spesiaal ontwerp deur sy goeie vriend herr Friedrich von Ausbergen, ’n bio-elektroniese ingenieur wat met verskeie pryse deur die wêreld se vooraanstaande kunsmatige-intelligensie-agentskappe vereer is.

Aus het ’n klompie jare gelede met Anja, sy asemrowende robotvrou, uit Duitsland gevlug toe wetenskaplikes vervolg is oor die superintelligente robotte wat hulle geskep het.

“My oggend het nie goed begin nie,” erken Hein.

“Ag nee, wat het gebeur?” vra Nevijo. Het Liezel al ooit soveel belangstelling in hom getoon?

“Ek wil jou nie met my probleme opsaal nie, maar sy het die pad gevat.”

“Hein!” reageer sy vinnig.

“ ‘Opsaal’ en ‘pad gevat’ is nie in my tesourus nie.”

“Jammer. Dit beteken ek wil jou nie ‘pla’ nie en Liezel is ‘weg’, ” glimlag hy.

“Maar ek wil sulke woorde ook ken, Hein. 20 000 is te min.”

“Ek wou jou nie te veel gee om mee te begin nie, Nevijo. Jy het tans 232 gigagrepe, wat genoeg is vir al jou bewegings, aktiwiteite, take en praatvermoë.”

“Vergroot my hardeskyf na een teragreep. KV en TA beveel dit aan.”

“Kommunikasievermoë en taakaanpassing vra dit?”

Hein staar haar verstom aan. “Is jy seker?”

Liezel is weg. Hy is alleen . . . Nevijo is beeldskoon met haar blonde hare en blou oë.

“Ja, dit is wat hulle na my sentrale beheerstelsel deurpols. Ek stem saam. Ek wil beter met jou en jou soort praat en wat julle doen en sê, kan berg, verwerk en gebruik,” knik Nevijo.

Wat binne haar aangaan, die talente wat sy het, ken Hein soos hy homself ken. Hy het haar immers geskep en aanmekaargesit. Haar instellings het hy omsigtig gedoen om spontane interaksie tussen die programme moontlik te maak.

Hoewel hy op dié ontwikkelingsproses gehoop het, het hy nie gereken dit sou so gou tot die robotbrein deurdring hoeveel meer moontlikhede bestaan nie.

“Kan jy dit doen, Hein?”

“Ek kan. Natuurlik kan ek,” antwoord hy terwyl sy mensbrein rigtings inslaan wat dit nie behoort te doen nie.

Hoeveel emosie kan hy byvoorbeeld inbou sonder om die streng reëls van Robotic Internasionaal oor vermensliking te oortree?

Liezel is weg. Hy is alleen . . . Nevijo is beeldskoon met haar blonde hare en blou oë. Haar epidermis is roomwit en sagter as dié van gewone aardse wesens. Boonop het Von Ausbergen homself oortref met nie net dié bepaalde aspekte van die voorkoms van die wonderskepping nie.

Haar fynbesnede neus en sensuele lippe, haar perfekte bates . . . Nee wag, onderdruk Hein sy onbehoorlike gedagtes.

“Doen dit dan, Hein.”

“Ek moet eers versoeke rig aan die estetiese span en die navorsingsinstituut en sal ’n klomp ander belanghebbendes en skenkers se toestemming moet kry, Nevijo.”

“Nee!”

Hein kyk geskok op oor haar stemtoon. Hoor hy reg? Hoe ver kan sy reeds dink?

“Jy het my gemaak. Ek is joune. Maak my beter of deprogrammeer my,” gebied Nevijo ferm.

Hein voel hoe sy nekare prik toe Nevijo tot agter hom beweeg en ’n slanke hand deur sy hare streel. Het hy werklik oomblikke gelede gewonder of hy vir haar emosies kan skep?

Haar programme het daardie proses ooglopend reeds aan die gang gesit. Waarheen is ons op pad? wonder Hein hoogs opgewonde.

Von Ausbergen het boonop reeds aan bioniese organe begin werk.

“Wa . . . wat doen jy, Nevijo?” vra Hein skor en tree ’n entjie weg. “Ek raak aan jou. Jy raak altyd aan my.”

“Nevijo, ek raak aan jou omdat ek met jou werk. Aanraking dien vir jou geen doel nie. Jy het geen sensoriese vermoëns . . . jy het nie gevoel in jou vel of vingerpunte nie.”

“Bou dit vir my in.” Hein voel of iemand hom ’n hou op die maag toedien.

“Wat dan, Nevijo?”

“Jy weet wat dan, Hein,” sê sy sag.

Maar wat van Liezel? Hy het haar lief.

“Von Ausbergen,” sê hy toe sy kollega en vriend se beeld op die rekenaarskerm verskyn, “ek is gereed vir sellulêre impressum.”

“Is jy seker?” vra Von Ausbergen hoorbaar opgewonde.

Sonder huiwering pyl Nevijo op hom af. Hy neem haar in sy arms. Toe haar lippe op syne neerkom, klop sy hart wild.

“Absoluut.”

“Ein Traum wird wahr!”

“Vir jou as wetenskaplike, Aus, maar het jy enige idee hoe ’n enorme droom word vir my bewaarheid?” lag Hein.

“Ja, wohl. Heinz het reeds jou voorkoms. Nou kry hy jou persoonlikheid. Kan jy dit hanteer?”

“Absoluut. Liezel is weg. Sou sy terugkeer, sal ons die situasie goed moet bestuur, mein Freund.”

“Organe?” vra Von Ausbergen huiwerend.

“Sonder enige twyfel.” Van agter die eenrigtingglas kyk Hein toe Nevijo twee dae later Von Ausbergen se laboratorium binnestap en vassteek om ondersoekend na Heinz te staar.

“Hier is Heinz. Jou volmaakte man,” hoor Hein sy kollega sê. “Nee!” skud Nevijo haar blondekop terwyl sy Hein se dubbelganger betrag. “Wat het jy met Hein gedoen? Waar is hy?”

Hein is verbyster deur die ontsteltenis in Nevijo se stemtoon. ’n Ongekende en uiters opwindende warmte spoel deur hom.

’n Suiwer wetenskaplike warmte, probeer hy hom wysmaak, want hier voor sy oë gebeur dit wat almal in robotwetenskap gereken het onmoontlik is.

Hy hoor Blankenberg, direkteur van die Wêreldrobotorganisasie, se verhewe uitspraak tydens hul vorige globale konferensie weerklink nog duidelik in sy ore.

“Dit maak nie saak of ’n KI, oftewel kunsmatige-intelligensiestelsel, denkvermoë, emosies of empatie het nie. Al wat van belang is, is dat robotte tot voordeel van die mens moet kan optree.”

Dit wat Nevijo nou hier demonstreer, lewer ’n onweerlegbare bewys van die vermoë van ’n KI-stelsel om onafhanklik te dink en voel. Wat ’n deurbraak!

Hy sien Aus se glimlag. Soos ’n outomaat maak Hein die deur oop.

Sonder huiwering pyl Nevijo op hom af. Hy neem haar in sy arms. Toe haar lippe op syne neerkom, klop sy hart wild.

Hy besef dit gaan oor meer as wetenskaplike moontlikhede. Hopelik sal Liezel, indien sy terugkom, in Heinz die pasmaat vind wat hy sonder twyfel weet Nevijo vir hom is.