Kirk Douglas, die hartebreker met die kuiltjie in sy ken, is dood op die ouderdom van 103 jaar.

’n Hele 103 jaar! Volgens die ouderdom wat hy bereik het, is sy nou in haar gr. 1-jaar, wel, miskien haar gr. 2-jaar, van die laaste halfeeu van haar lewe.

“Ek moet saam met jou na die kerk se tee vir die oues van dae gaan?”

Sy kyk Adriaan vererg aan. Eens op ’n tyd was hy die Kirk Douglas van hul dorpie. Sy het nogal ’n lewe saam met hom oorweeg, maar nou weet sy nie meer nie.

“Ellie, jy gaan dit geniet. Die susters van die gemeente doen baie moeite om dit vir ons lekker te maak.”

“Wie is jou ‘ons’? ’n Klomp ou mense wat net wag om dood te gaan?”

“Juis nie; dit is mense wat besluit het om elke oomblik van hul lewe te geniet.”

“Nè, om hul lewe te geniet? Wel, ek drink koffie as ek wil wakker word en melk as ek wil gaan slaap, maar as ek my tyd wil geniet, dan drink ek ’n glas wyn. Ek is nou eers in die grondslagfase van die tweede helfte van my lewe en ek gaan myself nie oud maak voor my tyd nie. As dit nie was dat ek gedwing is om af te tree nie, het ek nou nog gewerk.”

Jy kan maar rebelleer soveel as wat jy wil, ons almal word oud.

“Vir my klink dit liewer asof jy in jou puberteitstadium is; jy moet nog uitvind wie jy is.”

Adriaan stoot sy stoel onnodig hard onder die tafel in. “Jy kan maar rebelleer soveel as wat jy wil, ons almal word oud.”

Laat hom loop as hy wil loop; sy het nie ’n ou man nodig nie. Ellie maak die deur hard agter hom toe. Met die omdraai vang haar oog haar beeld in die spieël teen die oorkantste muur. ’n Mens kan nie juis die grys in die rooiblonde hare – geërf van haar Noorse oupa – sien nie, maar die plooie trek kruise en strepe oor haar eens vlekkelose vel. Wel, daar is raad voor.

Vyftig is die nuwe 40” vang haar oog. Hoekom sê hulle nie 60 is die nuwe 50 nie? Is mense oor 60 onsigbaar?

Sy gaan uitvind of daar op hul dorpie iemand is wat botoksinspuitings gee. ’n Mens lyk blykbaar sommer jare jonger ná die tyd, maar dit is glo vrek duur. Sy het juis slape- lose nagte oor die regering en Cosatu haar pensioengeld in Eskom wil belê. Haar oog vang die nuutste tydskrif wat sy daardie oggend gekoop het.

Sy blaai vinnig daardeur. Die opskrif “Vyftig is die nuwe 40” vang haar oog. Hoekom sê hulle nie 60 is die nuwe 50 nie? Is mense oor 60 onsigbaar?

Sy blaai liewer na die verhaal. Sy is lus om van die hier en die nou te vergeet. Ag nee, die held het weer ’n blokkiesmaag en die heldin is blond met ’n Venusfiguur.

Volgens Statistieke Suid-Afrika is daar 4,6 miljoen mense in Suid-Afrika oor die ouderdom van 60.

Hoekom skryf niemand vir hulle nie? Dink hulle ou mense raak nie ook verlief nie? Sy is sommer lus en skryf ’n brief aan die redaksie. Of dalk moet sy hulle boikot en nie weer die tydskrif koop nie.

Nee, dit sal nie werk nie; dan kan sy nie meer die blokraaisels invul nie. Die enigste publikasies wat vir mense van haar ouderdom skryf, is dié wat deur Avbob, gehoorapparaatfirmas en prokureurs wat testamente opstel, geborg word. Dit maak haar depressief.

Verbeel sy haar dat die boekklublede haar snaaks aankyk? Ellie trek selfbewus aan die soom van haar kniebroek wat sy vandag aanhet in plaas van die gewone kuitbroek en wonder of die laer halslyn ’n goeie idee was. Nee wat, troos sy haarself, die klomp is nie verkramp nie; hulle hou van Deon Meyer, en ’n lekker liefdesverhaal met skop vind altyd byval. Dis hoekom sy tuis voel.

As dit nie vir Odette was nie, was haar hare nou ’n diep wynrooi gekleur.

“Ma, hoe donkerder die haarkleur, hoe makliker is dit om die wit kopvel onder die yler wordende hare te sien,” het haar dogter haar gewaarsku. Odette het ook geen genade nie. Yler wordende hare nogal.

Ná die boekklubsamekoms sien sy die briefie onder haar kar se ruitveër: Kry jou vanaand sesuur vir ’n lekker ete en ’n glas wyn (of twee). Belowe, geen tee nie. Liefde, Adriaan.

Sy en Adriaan gesels heerlik, net soos in die ou dae, tot hy weer met die ouderdomding begin.

Haar eerste reaksie is om hom ’n les te leer en nie te gaan nie; dis hy wat uit haar huis geloop het sonder om eers te groet, maar, sy moet erken, sy mis hom baie.

Toe sy die deur vir Adriaan oopmaak, kan sy in sy oë sien sy lyk goed. Die rok is so ’n paar sentimeter korter as gewoonlik, maar gelukkig is haar bene nie te onaardig nie.

By die restaurant wil sy nie op hul gewone plek ver van die kroeg sit nie; sy wil nader aan die aksie sit. Sy en Adriaan gesels heerlik, net soos in die ou dae, tot hy weer met die ouderdomding begin.

“Ellie, ds. Ras het ’n toer na die Drakensberge vir senior burgers gereël. Is jy lus om saam te gaan?”

“Nee, ek sal saamgaan as hulle ’n toer vir lidmate reël.” “Jy is nou baie onregverdig. Daar is baie mense wat in rolstoele is of die een of ander siekte het. Hulle kan nie by die jonger lidmate byhou nie.” “Presies. Ek is nog nie daar nie. Ek wil my lewe geniet.”

Sy glimlag koketterig vir ou Piet Malan met sy groot boepens – te veel bier – by die kroegtoonbank en hoop Adriaan sien dit.

Ten minste maak die ou nie asof hy nog net agteroor in die graf moet val nie. Ellie ken Adriaan goed genoeg om te weet die wit om sy kakebeen is ’n teken dat hy hom vir haar vererg het.

Deur geklemde kake sê hy: “Kom ek vertel jou ’n storie wat selfs jou voorouers geglo het. Jy weet Thor was ’n Noorse god?” Sy knik en wonder waar op aarde hy nou heen gaan.

“Wel, eendag het Thor vir die reus Utgarda-Loki gaan kuier. Om sy krag te toets, het die reus Thor tot ’n stoeigeveg met sy verpleegster, Ellie – dis reg, jou naamgenoot – uitgedaag. Thor het dit aanvaar aangesien hy gedink het hy het reeds die oorwinning in sy sak.

“Hy het lank en dapper geveg, maar eindelik het Ellie hom tot op sy knieë gedwing. Utgarda-Loki het die geveg beëindig. Thor was verneder. Eers daarna het Utgarda-Loki hom vertel dat Ellie ’n Noorse godin en die simbool van ouderdom is. Niemand kan haar oorwin nie.”

“Vir wat vertel jy my die storie? Is ek nou ’n simbool van ouderdom?”

“Omdat jy my Noorse godin is en omdat ek saam met jou die laaste gedeelte van ons lewe . . .”

Dit is wat ek doen. Ek gaan elke oggend gim toe, ek eet gesond en ek dink myself nie oud voor my tyd nie.

Adriaan sien die kyk wat sy hom gee.

“Oukei, omdat ek saam met jou van die grondslagfase tot by die senior fase die tweede helfte van ons lewe wil stap. Ellie, ons omstandighede is besig om te verander. Ons moet net aanpas om die lewe regtig te geniet.”

Sy lig haar ken uitdagend. “Dit is wat ek doen. Ek gaan elke oggend gim toe, ek eet gesond en ek dink myself nie oud voor my tyd nie.”

Sy glimlag teen haar beterwete in vir ou Piet toe hy sy bierglas in die lug stoot en vir haar knipoog. Adriaan sien wat sy doen en sy weet sy is die oorsaak dat hy nou sy laaste sê oor die onderwerp gaan sê.

“Wel, Ellie, of jy dit nou wil weet of nie, ons het ’n beperkte rakleeftyd en dit is juis dié feit wat ons bestaan kosbaar maak. Jy kan daarteen skop en baklei, of jy kan dit aanvaar. Jou keuse.”

Adriaan wys vir die kelner om die rekening te bring. Op pad uit maak Ellie asof sy nie die soene sien wat dronk Piet Malan in haar rigting blaas nie.

As dit nie vir ds. Ras was nie, was sy nie vandag hier nie, dink Ellie onvergenoeg en bekyk die klomp gryskoppe in die saal. Gmf, musiek uit toeka se dae!

Die weemoed en trekkerigheid van goed soos “Grandma’s Hands” en “A Woman Half My Age” wil haar sommer in trane laat uitbars. Hoekom dink hulle mense oor 60 wil noodwendig aan die “wintertyd” van hul lewe herinner word?

Die saalvloer begin opeens tril toe Jerry Lee Lewis losbars met “Whole Lotta Shakin’ Goin’ On”. Ellie sien hoe voete om haar begin ritme hou en dan hoor sy Adriaan se bariton en Rina se suiwer stem wat saam-saam inval en begin sing. Toe Bill Haley met “Rock around the Clock” wegval, skreeu Rina vir Adriaan: “Kom ons dans!”

Van die ander ou mense maak sowaar ook so.

Dit is ’n kerksaal en ds. Ras staan net en toekyk! Adriaan en Rina jive asof hulle 16 is. Ellie sien hoe Rina se blou oë, wat deur haar silwergrys hare beklemtoon word, vir Adriaan lag. ’n Mooi vrou, maar sy tree totaal en al onbehoorlik op vir ’n vrou van haar ouderdom. Ellie vertel Adriaan dit ook toe hy haar gryp op die maat van Carl Perkins se “That’s Right”.

“Ek dag jy glo ’n mens is so oud soos jy voel?”

“Ja, maar daar is ’n tyd en ’n plek vir alles,” verdedig sy. “Jy, Ellie Halverson, is jaloers,” lag Adriaan vir haar.

“Dit laat my hart goed voel. Ek het gedink ek het jou verloor.”

“Ag, Adriaan, ek moes so ’n bietjie teen tyd rebelleer,” sê sy met ’n knipoog voor sy ’n swierige draai oor die dansvloer maak in sy arms. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.