Markus storm met ’n vaart die trap op. Juis op dié Maandagoggend moes beurtkrag presies om 07:50 inskop. Geen hysbak vanoggend nie. 

Hy sal moet wikkel, want mnr. Bruwer duld geen laatkommers by die weeklikse personeelvergadering nie. 

Voor die toe deur van die konferensievertrek gaan staan hy ’n oomblik om asem te skep, sy das reg te trek en kuif plat te vee. 

Die ander ding wat mnr. Bruwer nie duld nie, is slordigheid. Sy vriende wil hulle altyd doodlag omdat hy ge-collar en ge-tie by die werk moet aankom. 

Maandag tot Vrydag. Geen uitsondering op die reël nie. Nie eens op Loslitdag nie. 

Om die groot konferensietafel sit almal stigtelik en wag. Dankie tog; mnr. Bruwer is nog nie daar nie! 

Hy gaan sit vinnig, mompel ’n “Goeiemôre”, maar weet dat dit ook teen die reëls is om te veel te sosialiseer. 

Dit maak nie saak of dit in die teekamer, kantoor of in die gange is nie. 

Wanneer die persoon te veel oor koeitjies en kalfies gesels, lei dit net tot allerlei probleme, aldus Arnoldus Bruwer.

Dan gaan die deur oop en sy baas stap in. Dikraambril, duur snyerspak en die bleskop netjies toegekam met ’n sliert hare wat van sy linkeroor af oor die kaal kop platgeverf is. 

Hy sal moet wikkel, want mnr. Bruwer duld geen laatkommers by die weeklikse personeelvergadering nie.

Brylcreem, het iemand eenmaal gesê. Hy sien hoe die res van die personeel almal hul oë op die notule voor hulle hou. 

Meteens word hy yskoud. Agter Arnoldus Bruwer stap ’n mooi vrou aan. Mooi is dalk ’n bietjie ligweg gestel, dink hy. Sy is beeldskoon. 

Tog is dit nie die rede vir die koue rillings langs sy ruggraat af nie. Hoe sal hy hierdie skoonheid met haar vurige bos rooi hare ooit kan vergeet?

“Goeiemôre, dames en here,” onderbreek Bruwer sy gedagtes meteens. 

“Vanoggend verwelkom ons Lineke van der Riet hier by ons. Sy neem in mev. Joubert se pos waar. Lineke het pas teruggekeer ná ’n lang verblyf in Europa waar sy haar as arbeidsprokureur bekwaam het.

“Lineke is my suster se dogter, maar julle weet hoe ek oor nepotisme voel. Haar aanstelling is suiwer gedoen vanweë haar uitstekende kwalifikasies en verwysings. Lineke, wag dat ek jou aan my bekwame personeel voorstel.”

Mnr. Bruwer begin op die punt van die tafel by sy kantoorregterhand. 

Mev. Engelbrecht moet voorwaar Job se geduld hê om altyd na haar baas se pype te dans. 

Skielik is hy nie lus om verder na Bruwer se valse lofsange te luister nie. 

Almal in die kamer weet tog dis bloot vertoon. Die oomblik dat hulle hier verdaag, is hy weer die goor baas wat almal met ’n ystervuis regeer.

Sy gedagtes dwaal na die keer toe hy die skoonheid die eerste keer gesien het, seker 15 jaar gelede. 

Mev. Engelbrecht moet voorwaar Job se geduld hê om altyd na haar baas se pype te dans.

Hy en sy beste vriend, Kobus, was pas klaar met skool en het met ’n werkvakansie Londen toe gegaan. 

Elke oggend vroeg het hulle met die moltrein van die een kant van Londen na die ander gery tot by die kroegie waar hulle gewerk het. 

Op die heel laaste oggend, elkeen met sy rugsak en aardse besittings by hom, het hulle haar raakgesien. 

Sy het reg oorkant hulle kom sit, haar aandag verdiep in ’n boek op haar skoot.

Kobus was immers die voor-op-die-wa een wat altyd regstaan met ’n ysbreker om ’n mooi meisie aan die gesels te kry. 

“Oulike enetjie wat hier oorkant ons sit. Hoekom sien ons haar nou eers op ons laaste oggend hier op die trein?” het Kobus kliphard gesê. 

Hy het die meisie dopgehou, steeds in haar boek verdiep. 

“Markus, kyk of jy haar nie aan die gesels kry nie,” het Kobus gesê en hom in die ribbes gepomp. Hy onthou hoe vies hy daardie tyd vir Kobus was. 

“Moenie aan my karring nie,” het hy gesê en onderlangs na die meisie geloer wat totaal onbewus van hulle twee was. 

Kobus het voortgegaan. “Jy weet, Markus, ek sal graag hierdie Engelse meisie met haar bloedrooi hare wil wys hoe lekker ’n boerseun kan vry. Dis so jammer ons moet vandag huis toe gaan.” 

Kobus was immers die voor-op-die-wa een wat altyd regstaan met ’n ysbreker om ’n mooi meisie aan die gesels te kry.

Sy ore het begin gloei. Net die gedagte aan vry was toe genoeg om hom baie verleë te maak. 

Hy het heimlik gewens dat Kobus wil stilbly, maar dié het seker nog vyf minute lank oor die mooi meisie geswymel. 

Sy het nie eens eenmaal in hul rigting gekyk nie. 

Om sy verleentheid te verberg, het hy die engeltjie uit sy sak gehaal wat hy die vorige dag op ’n markie raakgeloop het. 

Dit was duidelik nie ’n Made in China-item nie en was die ideale geskenk vir sy ma.

’n Oomblik lank het hy die rooikop se oë op hom gevoel terwyl hy so na die silwer-en-kristal-engeltjie in sy hand sit en staar, maar toe hy opkyk, was sy weer verdiep in haar boek. 

Eindelik moes hulle by Piccadilly Circus afklim om ’n ander trein Heathrow toe te haal. Sy het steeds sit en lees.

“Donner, ou Markus, hier moet ons afklim. Ek het so gehoop sy gaan eerste afklim sodat ons darem kon sien of haar boudjies so mooi is soos die res van haar.” 

Hy het Kobus een vuil kyk gegee, opgestaan en na die deur van die trein gestap. 

Die trein het tot stilstand gekom, die deure het oopgeskuif en hy kon nie anders as om om te kyk nie. Die meisie het na hulle gekyk. 

’n Oomblik lank het hy die rooikop se oë op hom gevoel terwyl hy so na die silwer-en-kristal-engeltjie in sy hand sit en staar, maar toe hy opkyk, was sy weer verdiep in haar boek.

“Stuur groete in Suid-Afrika!” het sy uitgeroep en breed geglimlag.

Saam met die stroom passasiers is hulle buitentoe, en binne sekondes was die trein weg. 

Vir die eerste keer vandat hy Kobus ontmoet het, was dié sonder woorde. 

Hy kan selfs sweer dat Kobus se wange bloedrooi was. Kobus het immers die rooikop in detail bespreek sonder om te weet dat sy elke woord verstaan. 

Van haar bos vlammende hare tot haar kuiltjies in elke wang. 

Hy onthou Kobus het selfs iets te sê gehad oor haar mooi tone wat pikant by haar sandale uitgeloer het.

“Sjoe,” het Kobus die on­gemaklike stilte verbreek. “Wie sou nou kon dink die mooi nooi praat Afrikaans!” 

Die hele pad tot by Heathrow was die rooikop in sy gedagtes. Hoekom het hulle haar nie al ’n maand gelede, toe hulle pas daar aangekom het, gesien nie? 

Hy sou haar baie graag beter wou leer ken het. Met die verloop van tyd het sy bloot deel van al die heer­like Londen-herinnerings geword.

“Mnr. Malan...” Hy is meteens terug in die werklikheid. Arnoldus Bruwer en die rooikop staan hier reg langs sy stoel.

Die hele pad tot by Heathrow was die rooikop in sy gedagtes. Hoekom het hulle haar nie al ’n maand gelede, toe hulle pas daar aangekom het, gesien nie?

“Lineke, dit is Markus Malan, een van ons topargitekte. Bruwer en Vennote is bevoorreg om iemand met sy eienskappe in die span te hê.”

Hy voel sy gesig ál warmer word. Hy dink hy het laas so gebloos die oggend toe die rooikop op die moltrein vir hulle tot siens gewuif het. Vir wat moet Bruwer nou vanoggend sy lof so besing?

“Lineke, aangename kennis.” In haar oë dans duiweltjies. Olyfgroen oë. Hy sit en wag dat sy iets moet sê wat sal bevestig dat sy hom onthou. 

Hoekom lyk dit asof sy wil uitbars van die lag? Maar al wat van haar af kom, is: “Bly te kenne, Markus.” 

Die volgende paar dae vermy hy die personeelbestuurder se kantoor soos die pes. 

Vir Kobus is dit natuurlik vrek snaaks dat die meisie van Londen nou saam met hom op kantoor werk. 

“Vra haar reguit of sy die oggend onthou toe ons so lekker oor haar gesels het,” is Kobus se raad. Tipies die raad van iemand wat oorloop van selfvertroue.

Al het hyself daardie dag in die trein niks voorbarigs kwytgeraak nie, voel hy nou nog skaam oor Kobus se voortvarendheid. 

Hy sukkel om die rooikop in die oë te kyk die kere wanneer hy haar in die kombuis of gang raakloop.

Die volgende paar weke karring Kobus die hele tyd aan hom om die vrou te vra of sy hulle plotselinge ontmoeting onthou, maar sy moed begewe hom. 

“Vra haar reguit of sy die oggend onthou toe ons so lekker oor haar gesels het,” is Kobus se raad. Tipies die raad van iemand wat oorloop van selfvertroue.

Miskien is dit veel beter om nie slapende honde wakker te maak nie.

’n Maand ná daardie Maandag toe Lineke van der Riet die eerste keer haar opwagting by Bruwer en Vennote gemaak het, staan hy weer voor die toe deur van die konferensievertrek. 

Vanoggend is hy behoorlik laat. Dit was hierdie keer nie eens beurtkrag se skuld nie. 

Hy was heelnag terug op die trein in Londen, en die wekker op sy selfoon kon hom vanoggend nie betyds wakker kry nie.

Toe hy die deur traag oopmaak, kyk Arnoldus Bruwer gesteurd op. “Ons vergadering het pas verdaag, mnr. Malan. Kom spreek my asseblief in my kantoor.”

Meteens onderbreek Lineke hom. “Mnr. Bruwer, ek dink dit is ’n saak wat ek moet hanteer. Laat dit aan my oor.”

Hy sien hoe die baas sy stywe nek nog stywer maak en uitstap.

Terwyl hy in sy kantoor sit en wonder of hy na haar toe moet loop en of sy hom sal laat roep vir die dissiplinering, loer sy meteens om die hoek. 

“Mnr. Malan, ek moet iemand gaan sien. Op my lessenaar is iets wat ek vir jou moet gee. Gaan haal dit, asseblief. Ek sien jou later; dan gesels ons.”

Hy stap stadig in die gang af. Vanoggend was presies die derde keer dat hy laat ingekom het. Dit kan niks anders as ’n summiere rooi kaart wees nie.

Miskien is dit veel beter om nie slapende honde wakker te maak nie.

Op haar lessenaar lê ’n groot bruin koevert met sy naam in haar mooi handskrif geskryf. Markus Malan.

Maar ’n waarskuwingsbrief is dit nie. Hy haal die silwerengeltjie versigtig uit. 

Die een wat hy daardie oggend in die moltrein vergeet het en tot sy groot spyt nooit vir sy ma kon gee nie. 

By die engeltjie is ’n briefie: Jare lank soek ek al na die eienaar van die engeltjie. 

Sê dankie vir haar dat sy my hierheen gebring het. Ons ontmoeting 15 jaar gelede was beslis nie toevallig nie.

Hy staan verstom. In sy hande bewe die blink engeltjie liggies. Sy ma gaan steeds nie die engeltjie kry nie.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.