Stefan is verlig toe hy die adres gou opspoor. Vandag is hy sweerlik laat vir rugbyoefening. Om ’n bloemiste as suster te hê is soms ’n straf.

Dis nie die eerste keer dat Liesl hom as stuurjonge inspan wanneer sy vasbrand met aflewerings nie.

En weier kan hy nie; daarvoor het sy hom al te veel kere met die einste blomme uit die verknorsing gered wanneer hy drooggemaak het – en dit kan hy nogal goed doen.

Dié dat hy op 28 nog enkellopend is. Hy kyk haastig op die kaartjie. Sonop, nommer vyf, lees hy. Versigtig lig hy die ruiker van die agtersitplek af.

Haastig of nie, selfs hy kan sien hy staan met ’n hele paar rand in sy hande.

Die ou moet die skoot hoog deur hê, dink hy. Sy klop word gou beantwoord deur ’n vrou met die rooiste hare wat hy al gesien het.

Die blomme in sy hand lyk skoon bleek teen die haardos.

“Ek bring net . . .” begin hy, maar word deur ’n sopraangilletjie onderbreek.

“Ek het geweet,” lag sy. “Ek het geweet.”

Wat sy geweet het, weet hy nie, en daar is ook nie tyd om uit te vind nie.

In haar ekstase krap sy net ietsie op die boekie wat hy na haar uithou en maak die deur in sy gesig toe.

Binne kan hy haar uitbundige lag hoor. Vreemde entjie mens, dink hy en kan nie help om te glimlag oor haar uitbundige vreugde nie.

Maar sy glimlag verstar toe hy die kardeur oopmaak en die kaartjie op die vloer opmerk.

Dit moes geval het toe hy na die nommer gekyk het. ’n Blik op sy horlosie laat hom besef daar is nie nou tyd om dit vir haar te vat nie.

Hy is op die grens van laat wees – en dis iets wat hy haat. Haastig draai hy die kar se neus in die rigting van die rugbyveld.

Ná oefening flikker sy suster se naam verskeie kere op sy selfoonskerm.

Alles ’n aanduiding van haar mislukte pogings om hom in die hande te kry. Dit moet dringend wees, dink hy terwyl hy haar nommer skakel.

“Het jy die ruiker afgelewer?” vra sy sonder om te groet.

“Dis die belangrikste aflewering van die hele dag.”

“Ek het,” antwoord hy.

“Die vrou se rooi hare laat jou blomme maar bleek lyk,” kan hy nie help om sy suster se siel ’n bietjie uit te trek nie.

“Rooi hare?” herhaal sy, en verbeel hy hom of hoor hy effense paniek in haar stem?

“Sy het nie rooi hare nie.”

“Dalk nie voorheen nie, maar sy het nou,” korrigeer hy haar.

“Of dit eg of uit ’n bottel is, sal ek nou nie kan sê nie, maar rooi is dit rooi.”

’n Onrusbarende stilte begroet hom.

“By watter nommer het jy dit afgelewer?” vra sy met ’n stem wat niks goeds voorspel nie.

“Nommer vyf, soos dit op die kaartjie staan,” antwoord hy half vies.

“Ag nee, Stefan,” kreun sy.

“Dit moes nommer agt wees; nie vyf nie.”

“Nou hoekom skryf jy so lelik?” verdedig hy terwyl hy vlugtig na die kaartjie op die sitplek loer. Sowaar, tref dit hom. Dit is ’n agt.

“Stefan, jy moet dit gaan regstel. Dis van die allergrootste belang. Daai ruiker moet vanaand nog by die regte mens uitkom,” pleit sy.

“Liesl, jy is nie ernstig nie,” kreun hy. Wanneer hy ferm probeer klink, noem hy sy suster op haar naam.

“Ek is. Jy moet dit regstel, asseblief,” smeek sy nou openlik.

“Ek het ’n belofte aan ’n dooie man gemaak. Ek moet dit nakom.”

“Jy’t wát?” vra hy verbaas. Hy is seker sy ore bedrieg hom.

“Ek sal later verduidelik. Sorg net asseblief dat die ruiker by nommer agt uitkom,” pleit sy weer met desperaatheid in haar stem.

“Goed, ek sal kyk wat ek kan doen,” gee hy toe maar in.

’n Paar minute later klop hy ’n tweede keer aan nommer vyf se deur. Dieselfde rooikop maak oop.

“Ja?” vra sy met ’n frons.

“Ek is jammer om te pla,” begin hy en voel soos ’n skoolseun wat verbrou het.

“Ek het per ongeluk die ruiker by die verkeerde nommer afgelewer. Dis eintlik vir nommer agt bedoel.”

“Sê my jy maak ’n grap,” blaf sy.

“Ongelukkig nie,” begin hy, maar word bitsig in die rede geval.

“Wel, dis jou probleem. Ek het al ’n foto op my profile gedeel en gaan myself beslis nie nou uitgee as grap van die jaar nie,” gil sy en maak ’n tweede keer die deur in sy gesig toe; dié keer net baie harder as die eerste keer.

Besluiteloos staar hy na die deur. Hy twyfel of sy sal oopmaak as hy weer klop. Daar is in elk geval nie nou tyd om te stry nie.

Dan maar werk aan ’n plan B, besluit hy. Met die omdraai sien hy die rose in die kerktuin oorkant die pad. Rose is nou wel nie ’n ruiker rooi anthuriums nie, maar beslis beter as niks.

Versigtig stoot hy die tuinhekkie oop. Hy voel hoe die sweetkliere begin werk; sy kindertydherinnering vars in sy geheue.

As kind het hulle dikwels die bure se vrugte van eienaar laat verwissel, maar dit was nie in die daglig nie.

En dit is as kattekwaad gereken. Laasgenoemde geld seker nie meer vir ’n volwasse man nie? Met die derde roos in sy hand begin hy ontspan.

Sy nek is al seer van al die omkyk en dit breek sy spoed. Die skemerte kruip nader en die kans dat iemand hom nou sal raaksien, raak ál minder.

Skaars twee rose verder laat ’n diep grom die bloed in sy are stol.

Die swart gevaarte wat op hom afpyl, laat sy bene self in beweging kom. Hy en honde kon mekaar nog nooit goed verstaan nie.

Hou net die blomme, flits dit deur sy gedagtes toe hy oor die hekkie duik-val. Waar die stem wat bokant die geblaf na hom roep vandaan kom, weet hy nie en hy stel ook nie belang om uit te vind nie.

Hy gaan homself beslis nie oorgee nie. Die vernedering sal net te groot wees. Hy sal maar vanaand vergifnis bedel. Dit is darem vir ’n goeie doel.

Uitasem en hoogs geïrriteerd klop hy aan nommer agt se deur, gewapen met die rose en die kaartjie.

Die vrou wat die deur oopmaak, laat hom aan ’n porseleinpop dink. Fyn en breekbaar.

Maar dis die weemoed in haar groen oë wat sy blik gevange hou.

“Dis vir jou,” kom hy tot verhaal en hou die blomme na haar toe uit.

“Ken ons mekaar?” vra sy verward

. “Stefan,” antwoord hy en besef dan dat sy dink hy is die gewer.

“Die blomme is vir jou, maar nie van my af nie. Ek lewer dit net af,” babbel hy soos ’n skoolseun in die hoof se kantoor.

“Eintlik is dit nie die regte blomme nie. Dié het ek per ongeluk by nommer vyf afgelewer en sy wil dit nie teruggee nie, maar ek het darem die kaartjie,” eindig hy uitasem.

Geamuseerd neem sy die kaartjie. Dan word sy doodsbleek.

‘Ek het ’n belofte aan ’n dooie man gemaak. Ek moet dit nakom’

“Dankie,” prewel sy en maak die deur toe. Genade, wat is dit met die vroue en deure, wonder hy terwyl hy effens bekaf na sy kar terugstap.

Jy skuld my,” groet hy Liesl toe hy later by haar aanklop.

“Wat het jou oorgekom?” vra sy geamuseerd en wys na die nerfaf plek op sy knie.

“Alles jou skuld,” beskuldig hy en vertel haar kortliks van die middag se gebeure. Sy hou darem haar lag tot hy sy storie klaar vertel het.

“Ja, lag maar,” sê hy verontwaardig.

“Waaroor die dringendheid?”

“Haar man het kanker gehad,” sê Liesl terwyl sy ’n koue bier na hom uithou.

“Hulle was nie lank getroud nie. Hy het geweet sy tyd is min. ’n Paar weke voor sy dood het hy my gevra om vandag, hul troudag, vir haar anthuriums af te lewer. Dit is die enigste blomme wat hy ooit vir haar gegee het. Rooi vir liefde, en die blom is ’n hartvorm.”

“En toe foeter ek dit op,” kreun Stefan.

“Ek wil regmaak, Sus. Maak asseblief môre weer ’n ruiker. Ek sal dit ná werk gou kom kry.”

Die tweede keer binne 24 uur staan Stefan voor Sonop nommer agt. Sy lyk verbaas om hom te sien.

“Ek wil net my fout probeer regmaak,” begin hy en hou die blomme na haar uit.

“Kom binne,” nooi sy terwyl sy die ruiker by hom neem. Hy volg haar huiwerig. Sy sit die blomme op die koffietafel langs die rose neer.

Sy beduie vir hom om te sit.

“Ek is vreeslik jammer oor gister se fout. Ek was haastig en het nie mooi na die nommer op die kaartjie gekyk nie,” verduidelik hy.

“Jy is vergewe,” glimlag sy en hou die kaartjie na hom uit. “Ek kan mos nie . . .” sê hy. “Asseblief,” sê sy.

Eerbiedig vou hy dit oop.

My liefste Mienkie Hierdie sal my laaste blomme aan jou wees. Dankie vir jou liefde. Dit het my in goeie en slegte tye gedra.

My wens vir jou is om weer iemand te vind; ’n nuwe man met nuwe blomme. Iemand wat jou gelukkig kan maak. Jy verdien dit. Al my liefde.

Stadig kyk Stefan op. “Hou jy van rose?” vra hy.

“Ek doen,” antwoord sy en glimlag.

“Dan is dit goed,” fluister hy hees.

“Veral as dit uit die kerk se tuin kom,” voeg sy by.

“Jy weet?” vra hy verbaas. Sy knik haar kop.

“Deur die venster gesien,” antwoord sy. Natuurlik; dis net oorkant die straat, tref dit hom. Hulle bars saam uit van die lag.