Jy’t my nie gebel nie, Mel.”

“My koffie was op. Dis net vier kilometer soontoe en terug. Buitendien was dit jou ander opdrag – oefening,” sê Melania vinnig toe Susaar haar asem intrek.

“Jy kon vir my of Evan ge-WhatsApp het om te sê jy stap winkel toe.”

Ai tog, dierbare Susaar. Toe sy en Francois twee jaar gelede hier in die buurt naby die universiteit ingetrek het, het hulle vriende gemaak met die paramedikus Susaar Bothma, die middeljarige buurvrou aan hul linkerkant. Meubels, kartondose met boeke en haar skildergerei en Francois se stapels lesings het die huis vol gestaan. Agtuur lui die voordeurklokkie.

“Ek skat julle en jul helpers kan doen met koffie en skons,” het ’n vrou aangekondig. Belaai met ’n plastiekhouer in die een hand en ’n mandjie met flesse en koffiebekers in die ander het haar lang bene gemaklik oor kartondose getrap.

Francois het die mandjie by haar gevat en Melania het ’n houtkis nader getrek om die koffiegoed op neer te sit.

“Francois en Melania van Deventer, en ons kan almal doen met koffie en skons, ja,” het Francois hulle voorgestel.

“Susaar Bothma, buurvrou in nr. 2, en as julle ooit ’n ambulans nodig het, roep net oor die muur. Buurman, regs, Evan van Rensburg, is ’n dierefluisteraar en hy locum by verskillende veeartse in die stad, maar hy werk dié week êrens op ’n plaas, anders was hy ook hier,” het Susaar hulle ingelig oor “nr. 6”.

Susaar het toe die ambulans bestuur wat Francois hospitaal toe gejaag het nadat hy onverwags op 43 aan ’n beroerte beswyk het. Melania onthou Susaar se oproep.

“Waar is jy, Melania?”

“By die Rosebank-galery.”

“Bly daar. Ek laai Evan op. Hy sal jou kar terug huis toe ry.”

Melania wou antwoord, maar Susaar het reeds doodgedruk. Inleiding tot ’n nagmerrie.

Francois het nie weer sy bewussyn herwin nie, en sy en sy pa het vir hom ’n afskeid gereël in een van die regsdepartement se lesingsale.

Toe Francois se pa moes terug, het Susaar en Evan haar lughawe toe gevat. Trane het haar verblind en sy het in die parkeerterrein gestruikel. Evan het gekeer dat sy val.

Melania het aangegaan met haar werk by die galery, oënskynlik normaal, maar almal was nie geflous nie. Wanneer tel sy weer ’n kwas op?

Haar ouers moes terugkeer Kaap toe. Hulle het met Susaar en Evan gekoukus om ’n oog oor haar te hou. “Jy mag nie alleen wees nie, suster. Ek weet hoe ek gevoel het ná Thomas se dood, asof my binnegoed uitgeval het.”

Susaar het gesorg dat Melania elke aand eet. Evan het een aand kom saam eet. Hy het rooiwyn gebring en hulle het op Susaar se verjaardag geklink.

Melania het hoflik meegedoen – nog in haar kop vasgevang. Sy was terug by die aand toe sy Francois ontmoet het, een van drie skilders wat by die universiteit uitgestal het. Voor haar skildery, Plaasopstal, het sy ’n regsdosent gegroet wat sy tevore ontmoet het. Die man langs hom was met sy rug na haar gekeer.

“Ek het nie geweet regsmense stel belang in kuns anders as net ’n belegging nie. En ek's nog nie beleggingsmateriaal nie,” het sy tergend gesê.

“Dis wat jy dink,” het die vreemdeling gesê toe hy omdraai. “Ek ken beleggingsmateriaal wanneer ek dit sien.”

Melania het gebloos.

Pierre het gelag en hulle aan mekaar voorgestel. Die lang man met die deurmekaar hare en blou oë het geglimlag en sy glas teen hare geklink.

“Ons drink op jou en jou alleenhuis tussen die verflenterde bloekoms.” Hulle het gaan koffie drink. “Toe ek jou daar sien staan soos ’n Modigliani-model het ek geweet my wag is verby.”

Hy het dit beslis gesê asof hy vir geen oomblik getwyfel het sy voel ook so nie. Hulle is twee maande later getroud, want hy wou hê sy pa, ’n afgetrede internis wat in Toronto praktiseer, moes die troue bywoon.

“Kom asseblief terug aarde toe, Mel,” onderbreek Susaar haar gedagtes. “Ons drink op jou, Susaar, en op vriendskap,” het Evan gesê en sy glas gelig. Melania het geglimlag.

“Op jou, Susaar en ja, op vriendskap.” Sy het die gladde rooi vloeistof in haar mond rondgespoel en gesluk.

En toe . . .

“Verskoon my, julle,” kon sy uitkry voor sy vinnig badkamer toe moes hardloop. Susaar het die volgende dag vir haar ’n afspraak by ’n dokter gemaak.

“Swanger?” Haar vraag aan die dokter het heeldag in haar verstand refrein. “Dis goeie nuus, of hoe, Mel?”

Melania het nie geantwoord nie. Is dit goeie nuus? Onwerklik wel. Sy het haarself beskryf.

Jy’s ’n weduwee – op pad na jou 35ste jaar – en nou verwag jy jul baba

“Jy’s ’n weduwee – op pad na jou 35ste jaar – jy rou oor jou geliefde en nou verwag jy jul baba.” Sy het haar ouers gebel. Hulle was verheug. Francois se pa was in die wolke. “Een van die dae is ek vir goed terug.”

“Hoe voel jý, Melania?” Evan se grysbont oë is vraend. Hy het haar vullishouer kom haal en uitgestoot – ’n taak wat hy homself opgelê het.

“Jou oprit is te steil. Jy kan gly en val.”

“Ek weet nie.”

En toe. “Dis ’n simpel antwoord.”

“Nee, eerlik.”

Sy en Francois het nie oor kinders gepraat nie. Dalk vreemd, maar hulle was nog besig met ’n ontdekkingstog van mekaar.

Francois was intensief betrokke by sy werk in arbeids- en familiereg en Melania het opgewonde agtergekom dat sy ná die troue met haar skilderwerk vryer as voorheen kon eksperimenteer. Vroegaand het sy en Francois saam kos gemaak en snags mekaar hewig liefgehad. Toe. Die dood. Ononderhandelbaar. Finaal.

“Hoe het jy ’n dierefluisteraar geword?”

Melania se teenvraag was onbepland. “Per ongeluk. ’n Studentevriend van my het ’n plaas in Limpopo. Ek was toevallig in die omgewing en toe hy my bel, kon ek dadelik gaan help.”

“ ’n Stoetkoei van hom het gesukkel om te kalf. Sy het ál angstiger geraak. My vriend en sy werkers was raadop – met rieme probeer om die kalfie uit te trek, maar sy wou of kon nie ontspan nie. Ek het langs haar gaan sit en haar ore en kop gestreel terwyl ek praat. ‘Martjie, ontspan, en help jou kalfie die buitelug in. Dit gaan die mooiste kalfie op aarde wees – ’n kampioendier, die mooiste fries wat hierdie wêreld nog ooit gesien het.’ ”

Evan het ophou praat. “En,” Melania se stem was dringend. “

Het dit gehelp? Was die kalfie gesond?”

“Ja, alles het goed gegaan; ’n bulkalfie. Dis hoe ek ’n dierefluisteraar geword het.” Hy lag.

“Ek wonder nog altyd waarom mense praat van ’n fluisteraar, want ek fluister nie. Ek praat in ’n normale stem.” “Dis ’n mooi storie, Evan. Jy het Martjie se aandag afgelei.”

“Ja, ek skat dis waarop dit neerkom.”

Die inperking was net nog ’n onbeplande gebeurtenis. Evan het die aand tevore by Melania kom eet, op Susaar se uitdruklike bevel. “Ons benodig ’n plan van aksie,” het Susaar beslis gesê.

“Koswinkels en apteke bly oop. Dinge sal normaal funksioneer,” het Melania opgemerk.

“Jy verwag. Dalk nou enige dag, en ek of Evan moet elke oomblik van die dag beskikbaar wees vir jou.”

“Uitgemaakte saak,” sê Evan. “Ek stap van nou af saam winkel toe.”

“Maar . . .”

“G’n ‘maar’ nie. Ons sit ons maskers op en maak of ons mekaar nie ken nie. Terug huis toe dra ek die sakke en sit die goed op jou stoep neer – op ’n veilige afstand van die ‘gevaarlike vrou’.”

Hulle moes lag. Twee weke later is dit sulke tyd. Melania het vyfuur uit die bed gebons, gestort en aangetrek. Haar energie was eindeloos. Die huis gaan vandag van voor tot agter skoongeskrop word.

Negeuur het sy Susaar gebel. “Alles nog reg aan die Westerfront, Susaar.” Halftwaalf het ’n skerp pyn haar eensklaps wou kromtrek, maar haar maag was in die pad.

“Wat nou?” Toe besef sy. Sy het Susaar gebel, maar die boodskap het gelui: “Onbeskikbaar bel weer later.”

Evan het dadelik geantwoord. “Ek kom, Melania.”

In die kar het die pyn haar na haar asem laat snak. By die ongevalleafdeling het hy amper reg voor die ingang stilgehou: “Wag hier.” Hy het uitgespring en gehardloop.

Melania was nog besig om haar asem terug te kry ná ’n volgende sametrekking toe was hy terug met ’n rolstoel. Melania het oor haar skouer na sy hand gegryp.

“Ek is bang.”

“Ek is by jou.”

“Jy moet saamkom. Soos met Martjie.”

By die toonbank het hy onbepland gesê: “My vrou is in kraam.”

Buite die kraamsaal het hy ’n woord gewissel met die ginekoloog. Die dokter het sy kop geknik en opdrag gegee vir ’n jas, ’n masker, handskoene en skoenbedekkings vir Evan.

Melania se oë was groot van spanning. Evan het langs haar kom staan en haar hand gevat.

“Ek het medies studeer en toe ’n ruk vir Dokters Sonder Grense gewerk, maar iets het gebeur. Ek het onwetend een van die Afrikalande se wette oor aborsie oortree. Ek het oorgeskakel na veeartseny en . . .”

Met elke sametrekking het Melania sy hand vasgegryp. Hy het bewus geraak van ’n ongekende teerheid teenoor die vrou – al was sy nie sy vrou nie en al was sy onbewus van sy gevoelens.

Toe die ewigheidswonderwerk. ’n Volmaakte seuntjie. Die ginekoloog het geglimlag en gevra.

“Wat is die bulkalfie se naam, julle twee?” Hy het om die beurt na Melania en Evan gekyk.

Melania het geantwoord. “Francois Evan.”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.