Triple C – so is ons destyds op universiteit genoem. Ons was ’n onafskeidbare drietal – Christi, Chanté en Conrad. Ons was jonk en ambisieus met ’n aansteeklike entoesiasme oor die lewe.

In die jare daarna is elkeen van ons deur die lewensmeule. Elkeen het ’n onomkeerbare skaakmat- oomblik beleef, maar ons het heel anderkant uitgekom.

Gryser, wyser en versigtiger.

Eienaardig genoeg het dit ons vriendskapsband telkens net sterker gemaak. En hier sit ons nou weer agt jaar later op die strand op Oesterbaai vir ons jaarlikse reünie om te filosofeer oor die kleurlose lewe.

Die strandhuis is al wat ek oorgehou het ná die verbrokkeling van my kortstondige, kinderlose huwelik. Sonder Christi en Conrad as my getroue hartsvriende sou my aardse bestaan maar bitter saai wees.

Hulle is my geurgewende sout-en-peper in die lewe. Sien, Conrad en Christi is die swart-en-wit klawers van ons vriendskapsklavier. Mineur en majeur is meestal in filosofiese disharmonie, maar sinchroniseer vreemd genoeg tog as ons drie saam verkeer.

Twee teenstrydige pole, maar gekoppel aktiveer hulle die battery van ons vriendskap. Hulle laat my dikwels onwillekeurig dink aan domino’s, ’n nonnekleed of tarentaalvere. Anders, maar een(ders).

Conrad het destyds teen sy ouers se wense in drama gaan studeer, en sy gebrek aan werksopsies as akteur maak hom meestal supersinies en swartgallig.

Hy dra dramaties genoeg ook meestal pikswart, kompleet met bolkeil en donkerbril. As ek hom nie so goed geken het nie, sou ek kon sweer hy’s ’n lid van die Mafia of die een of ander ondergrondse sekte.

Hy steek ’n sigaret aan en sug swaar terwyl hy sy tone in die sand inwriemel.

“Vakansies by die see is so overrated. Dit draai nooit uit soos jy beplan nie. Kyk hoe pak die onweerswolke saam daar op die horison. Môre gaan beslis ’n goor dag wees.”

Onder ons drie is Conrad die pessimis. Sy glas is altyd half leeg, en hy glo die dobbelsteen val waar hy wil en elke mens is uitgelewer aan hierdie lewensspel van roulette.

Ek neem hom nie regtig kwalik nie. Die dood van albei sy ouers in ’n gru- motorongeluk terwyl hy oorsee was, het hom geruk. Hy kon nie eens betyds terug wees in Suid-Afrika vir die begrafnis nie.

Ek en Christi het maar sonder hom gegaan. Dit was ’n somber swart dag van reën en rou. Swart sambrele, swart klere en twee eenderse swart doodskiste. Depressing verby. En as swartskaap in die familie erf hy toe boonop nie ’n sent nie.

Gelukkig is daar ook ’n opperste optimis in ons midde. Christi vervul die rol van aartsengel om ons positief te hou. Sy spring dan nou ook vrolik op en ruk Conrad se bril speels af.

“Ag nee man, Con! Dit lyk net so goor deur jou bril. Die weervoorspelling sê dit gaan ’n beautiful dag wees. Jy moet net reg kyk. Sien, daar is sonstrale daaragter.”

Ek is seker maar die grys gom in die middel wat ons drie bymekaarhou. Die gemene deler.

So tipies Christi, dink ek verwonderd. Sy sien naïef genoeg weer nét die spreekwoordelike silwer rand rondom die donker wolk raak. Dis seker ook waarom sy sielkunde gaan swot het.

Haar praktyk floreer ook, ten spyte van (of dalk juis as gevolg van) haar man se affair en haar aaklige egskeiding.

Sy beskik oor ’n bykans bomenslike vermoë om altyd almal om haar se lewenslus aan te wakker. Haar troudag was ’n eksotiese spierwit geleentheid.

Haar tradisionele trourok met lang sleep en wasige winterwit sluier met die reinwit aronskelke as ruiker, het my byna weer in sprokies laat glo.

Net jammer sy moes haar tweeling ’n jaar later vaderloos doop in wit dooprokke gemaak uit haar trourok. Ná die doopseremonie het sy egter steeds vrolik bly kwetter: “Ag, Chanté, is ek nie geseën met die allerliefste twee kindertjies nie?”

Kortom, sy is seker die veerkragtigste mens wat ek ken as dit kom by opstaan en aangaan ná die lewe jou ’n paar harde klappe uitgedeel het. Ons vriendskap is ’n skaakstel.

Swart en wit. Conrad is soos die swart kraai van die dood, teenoor Christi as die sierlike wit swaan van lewe. Ek is seker maar die grys gom in die middel wat ons drie bymekaarhou. Die gemene deler.

Nadat ons drie die opspraakwekkende dog gewilde fliek Fifty Shades of Grey gaan kyk het, het ek besef my persoonlikheidskleur is ongetwyfeld grys. Ek kon net nie op die presiese skakering besluit nie. Loodgrys, duifgrys of dalk leiklipgrys.

Christi het my fronsend aangekyk toe ek dit aan haar noem. “Nou hoekom juis grys? Dis so ’n vervelige, neutrale kleur. Of liewer, so kleurloos. Beton is grys en koud en gryswater laat my gril.

’n Ou tannie se bolla is grys. Dis net sad.” Ek het geglimlag.

“Nee, man. Volgens modetydskrifte en moderne haarstiliste is grys mos juis die moet-hê-kleur van vandag. Grys is veelsydig. En dolfyne is ’n sonderlinge silwergrys. En platinum is waardevol.”

Wat ek nie gesê het nie, was dat die lewe sy simfonie van kleur verloor het nadat ek moes uitvind ek sou nooit ’n kind van my eie kon hê nie.

Dit was asof my vrouwees soos ’n ragfyn seepbel stukkend geprik is. Dit was die begin van ’n senutergende vasbyt-tyd van winter in my lewe.

Daarom is grys vir my die simboliese kleur van oorlewing. En wat ons drie se vriendskap betref, die kleur van konformasie – om altyd die vrede te moet bewaar.

Dit laat my dikwels net kopskuddend dink aan The Good, the Bad and the Ugly. Eienaardig genoeg jel ons drie juis saam danksy ons uiteenlopende lewensuitkyke. Conrad sug weer mismoedig.

“Nou ja, hier sit ons drie maar weer. ’n Jaar later, maar nog net so deksels arm soos altyd. Dit sal seker nooit verander nie.” Christi lag borrelend.

“Kyk wie praat met die witbrood onder die arm. Jy’t al die wêreld vol getoer. Jy’t ’n woonstel, motorfiets, met tye selfs werk én ook vir ons twee. Jy behoort jou te skaam. Jy’s eintlik ’n baie ryk man!”

Ek kyk op my horlosie. Ou Lena het gesê ons moenie te laat inkom vir ete nie. Sy het ’n smaaklike lamsbredie gemaak. Sy weet ons drie gesels altyd eers boekdele op die strand wanneer ons mekaar weer sien.

Sy weet ook dis vanaand wat ek hulle wil vertel dat my grys winterlandskap onlangs ontvou het in ’n bonte mengelmoes van lentekleure. My hart klop meteens in my keel en my lyf slaan uit in hoendervel van pure opwinding.

Ek kyk die laaste tyd anders na grys. Ek weet nou grys is die kleur van afwagting. Grys tronktralies kom voor bevryding. ’n Hewige donderstorm en grys reënvlae word gevolg deur ’n reënboog vol belofte.

En grys mis verdwyn voor die stralende son. Skielik kan ek dit nie langer inhou nie. Ek spring op en daar is ’n dringendheid in my stem. “Ek . . . ek wil julle graag aan iemand voorstel.”

Conrad rol sy oë hemelwaarts.

“Girl, ek wou sê jy’s nogals jittery. Moet net om hemelsnaam nie vir my sê jy’t weer ’n ou nie. Het jy nie nou al geleer jy’s vervloek wat verhoudings betref nie? Ek sien rêrig nie eens kans om hom te ontmoet nie. Dis totally useless.”

Gelukkig red Christi die situasie. “Con! Moenie vir jou simpel hou nie. Kom ons gaan in.” Ons stryk aan oor die klam sand en skielik dreun die branders ekstra hard in my ore. Hulle is my enigste familie en hul opinie is vir my so ontsettend belangrik.

Hulle ken my al soveel jare; dit kan nie nou skeefloop nie. Ons stap die trappe op en toe die voordeur oopswaai, loer twee bokkiebruin oë onder die bos wilde bruin krulle uit.

“Mamma?”

Ou Lena sit hom neer en glimlag dat jy net spierwit tande sien. Sy knipoog vir my. “Hy’t klaar gebad, onse meneertjie. Sien Mevrou weer môre.” Dan stap sy al skommelend die trappe af en verdwyn om die hoek.

Daar daal ’n doodse stilte neer. Dan snak Christi na haar asem. “Oh, my word, Chanté! Hy’s absoluut gorgeous. Jy’t nooit gesê jy gaan voort met die aanneming nie. Dit het jou seker maande gevat. Dié tipe van ding duur mos ’n ewigheid.”

“Jare,” korrigeer ek.

Plotseling moet ek sluk teen die dreigende trane. “Drie jaar om presies te wees. Maar hier is hy nou. My seuntjie. Ontmoet vir Carlo.”

Die volgende oomblik kniel Conrad en tel die outjie versigtig in sy arms op. “Aangename kennis, Carlo. Ek moet eerlik sê ek is besonder bevoorreg om jou te kan ontmoet.”

Toe Conrad na my toe draai en sy groen oë myne vind, is daar ’n warm vreugdegloed in hulle. Hy straal behoorlik. “Well done! Ek’s bly dis ’n laaitie. En ek deps om sy peetpa te wees. Jy weet mos. Die lewe is donners hard en elke laaitie het ’n pa-figuur nodig om hom te help survive.”

Christi streel oor Carlo se wang en haar oë glinster. “En ek sal sy peetma wees. Iemand moet hom leer dat die lewe ook vol pret en plesier kan wees, of wat sê jy, Chanté?” Ek knik net.

My beker van geluk loop oor. ’n Nuutgevonde lewenslus bruis deur my are as ek net dink wat ons kleurryke toekoms nou inhou.

In die lente gaan daar giggelgeel affodille en pers viooltjies in potte op die vensterbank staan. Bloedrooi aarbeie in die somer.

En in die herfs gaan ons oranjebruin herfsblare ophark en bokbaaivygies saai om die grysheid uit die winter te dryf. Triple C het sopas verander in C-kwadraat.