Hera, nè. So sal Dawid haar nooit weer kan noem nie, want hier staan sy met die bewys van sy ontrouheid in haar hand: ’n kwitansie van die hotel op die dorp. Dis ’n astronomiese bedrag wat daarop aangedui word. Dit kan nie net vir ’n dubbelkamer wees nie; dit is seker vir die wittebroodsuite.

Hermien hoor sy swaar voetstappe die gang af kom en druk die gewraakte stukkie papier in haar sak.

“Môre,” sê die aartsverleier en soen haar in haar nek. “Môre,” sê sy stram en stroop die deursigtige rooi pitte van die granaat ál vinniger in die bakkie af.

“Lekker geslaap?” vra hy en trek ’n stoel uit. Oorvriendelik. Dit moet sy skuldige gewete wees. Hy sit sy selfoon langs hom neer. Deesdae is die ding mos vasgegroei aan hom; hy laat dit nooit uit sy sig nie.

As dit lui en sy is naby, gaan hy buite praat in so ’n suutjiese stem sodat sy nie kan hoor nie. ’n Besliste teken van onheiligheid. As sy darem net haar hande daarop kan lê . . . “Ja.”

Sy konsentreer hard om normaal op te tree. Vandag gaan sy hom nie weer soos altyd voor die tyd beskuldig en verwag hy moet sy ontrouheid bely nie, nee. Vandag gaan sy slim te werk gaan; sy gaan hom op heterdaad betrap.

Daar moet ’n einde kom aan baie jare van onsekerheid. Sy moet finaal vasstel of hy regtig lief is vir haar of nie. “O, lekker,” sê hy toe sy die bakkie gra- naatpitte met jogurt, een van sy gunstelingontbytgeregte, voor hom neersit.

“Die granate is vroeg ryp vanjaar. Seker al die reën. Daar gaan vandag weer ’n bui wees; ek ruik dit in die lug.”

Die god van donderweer en die uitspansel is in ’n goeie bui vanoggend en sy weet presies hoekom: Hy sien uit na ’n heerlike aandjie saam met sy skelmpie. “Ja, ons is geseën dié jaar.” Sy skep sy roereiers in ’n bord.

Dit vat elke stukkie wilskrag om hom nie te konfronteer nie. As sy net geweet het wie die nimf hierdie keer is. Sy beskou hom onderlangs. Selfs op 50 is en bly hy ’n aantreklike man. Haar Zeus. Net jammer hy het nie net die god se aantreklikheid nie, maar ook sy luste gekry. Haar hart trek saam. Met dié seer leef sy nou al amper ’n kwarteeu saam.

Môre, 28 September, sal dit presies 25 jaar wees dat sy hier saam met hom op sy berg Olimpus bly. “Onthou om môre vroeg huis toe te kom; as daar ’n vergadering is, maak verskoning,” sê sy styf.

Dawid is ’n boer in murg en been, ’n megaboer, en daarom is hy in al wat ’n komitee en raad is. Sy beplan al lank aan haar verrassing vir hul huweliksherdenking môreaand en sy wil nie weer teleurgestel word soos soveel kere in die verlede nie.

Dit is nou as môreaand ooit gaan plaasvind nadat sy hom vanaand eindelik as ’n egbreker ontmasker het.

“Hoekom? Kry ons kuiermense of iets?”

Hy terg en vir ’n oomblik wil sy vergeet van die kwitansie in haar sak. Hoe lief kan een mens vir ’n ander wees? “Ag, jy.” Sy dwing haarself om koketterig terug te glimlag.

“Wag, dat ek vinnig my tande gaan borsel voor ek in die pad val.”

‘Sy’t van die begin af geweet sy is nie goed genoeg vir Dawid Malan nie’

Sy lenige gestalte kom orent en verdwyn gangaf. Sy wens met haar hele hart sy is verkeerd oor vanaand; sy wens sy kon geborge wees in sy liefde, maar sy het nie veel hoop nie. Hoe verklaar ’n mens die kwitansie? Wie is die vrou? Dawid se sel pieng.

Nooit! Hy het dit sowaar hier vergeet. Sy staar gehipnotiseer na die iPhone. Sal sy of sal sy nie? Sy het ’n reg om te weet, besluit sy selfregverdigend. Sy maak die WhatsApp oop.

“Sien jou vanaand sesuur by hotel.”

Dit kom van ’n Jessie. Jessie? Haar beste vriendin? Dubbele verraad! Sy moes dit lankal sien kom het. Jessie, die mooiste nimf van almal, was gereeld in Dawid se sig.

Hoe kan enige man die Venus met haar volmaakte liggaam weerstaan? En dan is sy nog buitengewoon talentvol ook; feitlik elke Sondag weerklink haar hemelse stem deur die kerk, begelei deur die esoteriese klanke wat sy uit ’n harp tower.

Hermien staan verslae en hartseer voor die kombuisvenster. Buite skreeu die poumannetjie skril, stamp sy pote en sprei sy stertvere sodat die son die neonblou, -groen en -swart kleure weerkaats.

Daar is nie genoeg swart oë op die voël se vere om al die nimfe dop te hou wat deur die jare deur Dawid se lewe gedans het nie.

Wat het sy verwag?

Sy het van die begin af geweet sy is nie goed genoeg vir Dawid Malan nie. Sy was in st. 6 en hy in matriek toe sy hom die eerste keer raakgesien het.

Nie dat hy, hoofseun en die aantreklike erfgenaam van die rykste boer in die distrik, haar raakgesien het nie. Mense soos hy en sy familie meng nie met onderdorpers nie. Ná matriek het hy verder gaan studeer.

Vir haar was daar nie geld om universiteit toe te gaan nie; sy het maar gaan till slaan by die koöperasie, en dit is hier waar hy haar die eerste keer raakgesien het nadat hy die boerdery by sy pa oorgeneem het.

Die eerste paar kere het sy sy uitnodigings van die hand gewys, bang dat hy net ligte vermaak soek, en buitendien het sy niks geskiks gehad om aan te trek om in sy kringe te sosialiseer nie.

Hy het egter volhard tot sy eindelik ingestem het om saam met hom te gaan fliek. Hy het nooit ooit gewys dat hy skaam was vir haar nie; inteendeel, hy het haar trots aan al sy vriende en familie voorgestel. Dit is hoekom sy sonder huiwering ingestem het om met hom te trou.

Sý berou het egter kort ná hul troue deurgeskemer. Die nimfe het begin dans. Sy het gou geleer om die verleidelike wesens te identifiseer.

As sy elke nimf wat sy moes beveg in ’n koei kon verander soos daardie jaloerse Griekse godin, het hulle nou die grootste melkplaas in die hele Suid-Afrika gehad.

Aan die begin het sy Dawid subtiel teen hulle probeer waarsku. Hy het net gelag en haar tot voor die naaste spieël gestoot. “Kyk na jouself. Die mooiste vrou suid van die Sahara. Hoekom sal ek na iemand anders kyk?”

Sy wou hom graag glo, maar het gesien hoe oorvriendelik hy op die nimfe reageer. Sy het hom direk begin waarsku oor hul ontrouheid aan hul lewensmaats. “Belaglik,” het hy haar vermanings afgemaak.

“Is jy nou Hera, godin van huwelike?”

As mev. Malan het sy wel invloed in die gemeenskap. Deur die jare het sy gesorg dat hierdie losbandige skepsels uit die gemeenskap verstoot word. Daar was nie meer plek vir hulle in die skool se ouervereniging of in die bestuur van enige welsynorganisasie nie. Sy en Dawid het gedurig hieroor rusie gemaak.

“Jy is jaloers en wraaksugtig,” het hy haar beskuldig.

“Jy vergeet nooit enige ‘onreg’ wat teenoor jou gepleeg is nie. Jy doen onskuldige mense skade aan. Dit is tyd dat jy besef en erken dat jy aan ’n minderwaardigheidskompleks ly.”

Ja, 25 jaar lank moes sy met sy ontrouheid en beskuldigings saamleef, maar nie meer nie. Vanaand word die sater finaal ontmasker. Sy tel haar sel op en bel Johan, Jessie se man.

“Kry my vanaand sesuur by die hotel. Daar is iets wat ek jou moet gaan wys,” sê sy nadat hulle oor mekaar se welstand verneem het.

Uit die sitkamer kondig die koekoekhorlosie in staccato parmantig ’n nuwe uur aan, so asof dit haar wil waarsku dat haar tyd op berg Olimpus nou min raak.

Die weerIE weerlig kraak en blits in die hemelruim en elke dan en wan slaan dit met ’n oorverdowende slag op die kliprantjies om die dorp toe sy voor die hotel stilhou. Dawid was reg. ’n Donderstorm gaan nou enige oomblik uitbars.

Johan wag reeds daar.

Voor hy enigiets kan vra, sê sy: “Jy sal nou verstaan.” Net toe skiet nog ’n blits deur die lug en hulle hardloop vinnig die hotel se voorportaal in. Een van die ontvangsdames wat haar ken, wys vir haar met die kop na die raadsaal.

Watse onheiligheid kan Dawid en Jessie dáár aanvang? Sy bars by die deur in. Die tyd vir die waarheid en afrekening het aangebreek, maar dan gaan sy stom staan.

Dawid is besig om heliumballonne op te blaas en Jessie is besig met tafelrangskikkings. Teen die een muur in groot letters pryk: “Dankie vir 25 gelukkige jare.”

Dawid en Jessie kyk verskrik op en Hermien sien eers die onbegrip en dan die afgryse op haar man se gesig. Hy weet hoekom sy hier is. Sy wens een van die weerligstrale daar buite slaan haar op die plek raak sodat daar net ’n hopie as oorbly. Dawid kom nader geloop met donderweer op sy gesig.

“My naam ís Hera,” fluister sy toe hy naby genoeg is. Hy steek vas en kyk haar met ’n onpeilbare uitdrukking op sy gesig aan. Dan steek hy skielik sy hand na Johan uit.

“Mag, maar ek is bly om julle te sien. Ek het vir Hermien gesê om jou saam te bring. Ek en Jessie het hulp nodig. Ons gaan nooit alles voor môreaand klaar- kry nie.”

Hermien besef ál nimf wat van nou af op hul berg Olimpus gaan dans, is sy. Die ander magiese kreature het nog altyd net in haar kop hul verleidingsliedere gesing.