Die branders vou stormagtig oor die gepunte rotse. Vanaand is die waters van die Atlantiese Oseaan onrustig met ’n tierende wind wat dit onuithoudbaar maak.

Soos ’n woedende leeu skeur die wind deur enigiets wat in sy pad kom. Die donkerblou motortjie staan verlate op die parkeerterrein. Vanaand is Ellie Kruger die enigste toeskouer van die sonsondergang by Bloubergstrand.

Vir enige toeris of besoeker sou die uitsig ’n herinnering wees om nooit te vergeet nie. Witgesoomde branders skiet in ’n sproei die lug op onder ’n goue skemerkleur wat die aarde vir oulaas nog omvou. Sy is egter onbewus van die pragtige prentjie wat Moeder Natuur voor haar skets.

Haar gemoed is swaar en haar gedagtes hartseer. Dralend dwaal haar gedagtes terug na haar lewe in die pragtige stad waarop sy onmiddellik haar hart verloor het.

Twee jaar gelede het sy vir die eerste keer in haar lewe kennisgemaak met die ongelooflike fantasiestad waar berg en see teen mekaar kom lêplek kry het. Paul het laggend sy kop geskud, want sy het kinderlik haar hande voor haar mond geslaan en was sprakeloos.

Op hierdie spierwit strand het sy en hy dae vol lag gedeel. Haar eerste kennismaking met haar droomman was egter in Johannesburg, waar sy aan ’n advertensieveldtog gewerk het en hy op ’n sakereis was.

Sy laggende sonbruin gesig en wit kuif wat speels oor sy voorkop wip, het dadelik haar voete onder haar uitgeslaan en haar hart lam laat klop. In die daaropvolgende week het sy die aantreklike man met sy fyn humorsin en skaam persoonlikheid leer ken.

Hy het haar op die hande gedra en om elke hoek en draai verras. Nog nooit in haar lewe was sy so gelukkig nie. Die veldtog het tot ’n einde gekom en hy moes ook weer terug Kaap toe. Sy is terug Jakarandastad toe.

Hulle het kontak gehou en byna elke dag met mekaar gepraat. Voor sy haar oë kon uitvee, was die groot, skitterblink ring aan haar vinger.

Haar jongmeisiedrome is op haar troudag verwesenlik toe hulle een oggend in die koel mistigheid op ’n landgoed in die Boland in die huwelik bevestig is.

’n Traan blink en glip oor haar wang. Haar jong, spontane persoonlikheid het stadig begin taan. Paul was altyd op die een of ander sakereis en was selde langer as drie dae by die huis.

Sy het elke keer verwese agtergebly – alleen met haar drome en ideale. Terwyl sy en Paul bymekaar was, het sy elke oomblik soos ’n dors spons ingedrink. Diep binne het sy geweet daar lê weer dae en nagte van verlang voor. Sy kan nie daaraan gewoond raak om alleen op die lughawe agter te bly nie.

Die skemerte het plek gemaak vir die nag. Duisende stadsliggies knipoog tot waar Tafelberg se voet verlig word. Sy draai haar motortjie stadig om en die rooi agterligte trek strepies deur die nag voor sy by die ligslang van die stadsverkeer aansluit. Sy het besluit wat sy moet doen.

“Ons vat als wat oorbly, dan maak ons ’n nuwe begin,” sing Dewald Wasserfall oor die radio. Hoe ironies, dink sy.

Dis vroegoggend en die huis is stil. So is dit al die afgelope drie weke vandat Paul laas by die huis was. Hy is weer Durban toe vir sake. Sy skakel onmiddellik die radio aan om haar gedagtes in ’n ander koers in te dwing.

Haar stapskoene kry ’n plek in die reissak saam met ligte klere en ’n paar warm truie. Heel bo kry haar verkyker ook ’n plekkie. Sy los ’n nota vir Paul op die tafel langs die ketel.

Later kronkel haar blou motortjie saam met die pad teen die steiltes op. Hier in haar oupa se rondawel teen die hang van Grootberg sal sy antwoorde soek op haar lewensvrae.

Haar motortjie sluit sy in die plaasstoor toe en sy val in die pad met haar rugsak. As kind het sy baie hier kom kuier, en dit bly steeds ongelooflik mooi. Sy asem diep in en ruik die reuke van die veld. ’n Oomblik lank vergeet sy van alles waarmee sy die afgelope maande moes wroeg.

Sy klim teen die eeu oue kranse uit en verkyk haar aan die ongerepte natuur. Hoër op teen die kranse sien sy haar oupa se bergrondawel. ’n Week later is sy vroeg buite by die vuur waar die koffiewater kook. “Môre, kinta,” groet ’n verrimpelde gesig onder ’n breërandhoed.

“Môre, oom Pieter. Sit, dan skink ek vir Oom ook ’n koffie.” Sy het goed geslaap en die berglug het die tekens van uitputting uitgevee.

Twee dae gelede het sy oom Pieter ontmoet. Hy woon ook in ’n rondawel hier op Grootberg.

“Ek is bly om te sien jy het nie gister weer gebrand nie. Ek gaan nie weer praat nie,” sê hy met ’n besorgdheid in sy stem. “Hier dra ’n mens ’n hoed. Die son-se-kind is ’n anderste kalant. Jy moet versigtig wees wanneer jy so in die veld rondloop.

“Jy kan maklik ’n enkel swik of ’n been breek, dan sit jy op jou eentjie in die een of ander kloof en ek weet van geen sout of water nie. Ek sal saam met jou stap as dit moet.”

Ellie sien al vir oom Pieter hierdie koppe saam met haar uitklim en kan nie help om vir die prentjie te glimlag nie. “Ek stap om my kop skoon te kry. Dis my dinktyd.”

“Wat jaag jou, kinta? Wie sit agter die hartseer in jou oë?”

Dis die eerste keer dat oom Pieter so reguit uitvra oor haar persoonlike lewe. “Die lewe het ’n manier om jou op die kruin van geluk te sit en die volgende oomblik te laat val tot in die dal van smart,” antwoord sy ontwykend en sinies.

“Dis nie altyd so nie, my kind. Elke mens se pad is vol gate en die Liewe Vader het sy redes hoekom dinge nie altyd vol lag is nie.

“Hy het sy plan,” sê oom Pieter en sy kan die liefde in sy stem hoor. “Ek het self al die moeilike kant van die lewe beleef, maar het sterker opgestaan. Somtyds moet ’n mens net die bul by die horings pak. Al wat my deesdae nog onderkry, is die tegnologie met al sy syferkodes. Dit maak die lewe Grieks vir my,” lag hy goedig.

Op ’n stil, innemende manier leer oom Pieter haar elke dag iets van die lewe. Oom Pieter vind in haar die dogter wat hy nooit gehad het nie, en hy laat dink haar elke dag meer en meer aan haar oupa.

Dit voel glad nie vreemd toe sy hom in haar vertroue neem en haar probleme met hom bespreek nie. Dit voel of daar ’n berg van haar skouers afrol.

Soggens vroeg stap sy teen die koppe van Grootberg uit en daarna is dit koffietyd saam met oom Pieter. In die stiltes onthul Moeder Natuur haar diepste geheime, en een oggend is sy so bevoorreg om die geboorte van ’n wildsbokkie te beleef.

Die ongelooflike wonderwerk laat haar nietig voel. Sy verlang skielik na Paul.

“Vanaand is ek ek die kok. Elke aand smul ek aan wat jy berei het, en basta daarmee. Dis vanaand my beurt om jou te bederf,” kondig oom Pieter aan. Hy kan sien sy is al heeldag stil en wonder wat op haar hart is.

Ek is al vier weke hier en dis tyd om terug te gaan huis toe, dink sy terwyl sy in die vlamme in staar. Sy dink aan Paul en wonder wat hy maak. Oom Pieter het haar vertel die liefde vergaan nie. Sy is nog net so lief vir Paul soos twee jaar gelede toe sy trou beloof het aan hom. Sy huil sonder dat sy dit besef.

Dis tyd om terug te gaan huis toe, dink sy terwyl sy in die vlamme in staar

“Kinta, die kos is amper klaar.” Die skemerte is besig om die kloof toe te vou, en sy ruik die heerlike geure wat saam met die stoom uit die swartpot se deksel ontsnap. “Kan ek proe? Dit ruik so lekker.”

“Nuuskierige agies verbrand hul magies. Kom, ek skep op,” en met dié gaan haal hy die borde. “Oom Pieter, ek gaan môre huis toe. Ek gaan vir Paul vra ons moet weer probeer.”

“So praat my kind.” Oom Pieter hou haar onderlangs dop.

“Jy is baie lief vir daardie Paul van jou, nè?”

“Baie lief, oom Pieter.”

“Wanneer laas het jy dit vir hom gesê? Sulke goed moet ’n mens vir mekaar sê.”

“Ek wens ek kon dit vir hom sê. Ek mis hom so baie.”

“Moenie dit vir my sê nie, kinta. Sê dit vir hom.”

Oom Pieter se blik verskuif na die rondawel. Ellie draai verdwaas om en sien Paul in die deuropening van die rondawel staan. Hy lyk oud en moeg. “Ek het jou gemis, my kleintjie.”

Sy stem klink hol in die aandlug.

“Ek verstaan nie,” sy kyk verdwaas na Paul en dan na oom Pieter.

“Dit was nie so moeilik om hom op te spoor nie. Hy het jou net so baie verlang,” sê oom Pieter.

Sy kan steeds nie glo hy is hier nie. Hy vou sy arms om haar en druk haar teen sy bors vas. Sy lig haar ken en kyk stip in sy donkerblou oë.

“Ek is so lief vir jou.”

Oom Pieter verdwyn uit die ligkring van die vuur. Vir twee mense het die tyd stil gaan staan. Hul liefdesvuur brand sterk en hoog op die soel somersaand.