Vat so, jou bliksem, dink Jannie dié laatsomermiddag toe sy van buite by die wasgoeddraad langs die selonsroos Henk se krom kreet uit die badkamer hoor.

Sy vat haar tyd met die wasgoed . . . Dis in elk geval nou stil in die huis. Daar’s geen haas nie.

Eers nadat sy die wasgoedmandjie in die spaarkamer gaan neersit en die pennetjiesakkie in die waskamer opgehang het, stap sy badkamer toe, waar Henk ’n tree of wat van die toiletbak geland het.

Toue braaksel hang by sy mond uit. Oë oop. Nog nie glasig nie.

“Ja, jou werfetter, ek’t jou gesê dis die laaste keer.”

Die Swarts was arm. Nou nie brandarm nie. Daar was darem altyd kos op die tafel danksy haar ma se groentetuin, vrugtebome en die paar hoenders op die werf.

Sy hurk, kyk hom op en af. Blouerig-grys.

En dan die braaksel – sy maak ’n vloerlap nat en vee dit op en skoon. Sy sug, dan staan sy op om die ambulans te gaan bel.

Dalk eerder begin by die begin. Johannes Esther Uys (née Swart) is op ’n Strandveldse dorpie gebore. Die jongste van ses meisiekinders, het haar pa, wat altyd so graag ’n seun wou hê, haar sy naam gegee.

Die Johannes het spoedig Jannie geword in die monde van haar sibbes.

Die Swarts was arm. Nou nie brandarm nie. Daar was darem altyd kos op die tafel danksy haar ma se groentetuin, vrugtebome en die paar hoenders op die werf.

Maar hulle was arm genoeg dat die krag soms afgesit is oor die rekening nie betaal is nie en die kinders dan by kerslig moes bad in louwarm water wat oor die vuur warmgemaak is.

Jannie se pa was ’n nutsman. “Onnutsman,” het haar ma soms gesis. Hy was bra onhandig en het boonop die bewerasies gekry.

Die dorpsmense was bang om hom ’n leer te laat uitklim ingeval hy daar afdonner op hul werf en dan hul probleem word.

Jannie se ma was ’n nooi Carstens uit die Swartland. Sy was volgens oorlewering ’n mooi jong vrou toe sy en Hannes hulle as jonggetroudes hier kom vestig het nadat hy die huis by ’n groottante geërf het.

Maar teen die tyd dat Jannie gebore is, het die jare al hul ma se borste en mondhoeke afgerem en het die swaarkry in groewe op haar voorkop kom sit.

Terwyl die ander kinders saam met hul ouers wildtuin toe is of Durban toe of by familie in die Karoo of Oos-Kaap gaan kuier het, was Jannie-hulle maar weer by die huis.

Jannie was nie mooi nie, nie opmerklik slim nie, en sy’t altyd laaste in die skole-atletiek gekom. En sy was skaam. Van sub A tot st. 5 was daar kinders in haar klas wat nie kon sê dat hulle al ooit Jannie se stem gehoor het nie.

Jare later het voormalige klasmaats gesukkel om haar op ou skoolfoto’s te identifiseer, al was hulle 12 jaar lank saam op skool.

En op die groepfoto’s was Jannie se gesig altyd effens uit fokus. Maar dinge het wel vir Jannie begin verander in die wintervakansie van haar 16de jaar.

Terwyl die ander kinders saam met hul ouers wildtuin toe is of Durban toe of by familie in die Karoo of Oos-Kaap gaan kuier het, was Jannie-hulle maar weer by die huis.

Jannie se uitkoms was die dorpsbiblioteek. Daar kon sy ure lank deurbring, omring deur ander wêrelde, en in haar kop stories opmaak oor waar haar lewe heen sou gaan.

Eendag. Dié wintervakansie het sy op ’n boek oor sampioene afgekom en, gefassineer daardeur, het sy op ’n dag bos toe gegaan op soek na sampioene. Die “bos” was eintlik ’n bloekomplantasie en die kleigrond heeltemal ongeskik vir sampioene.

Maar sy’t niks beters gehad om te doen nie, en so het sy stadig deur die lane bome geloop, oë vasgenael op die grond, klippertjies knarsend onder haar skoolskoene – haar enigste skoene.

‘Middag, kind,” kom dit skielik. Jannie struikel van skrik.

“Toemaar, kind,” glimlag die ou tannie voor haar. “My naam is Gertie. Ek bly net hier anderkant die laaste ry bome.”

Jannie weet van antie Gertie, die dorp se “kruievrou”. Maar sy’t nog nooit met haar gepraat nie.

Jannie het nog nooit iemand gehad met wie sy so kon gesels nie.

“Middag, antie Gertie. Ek soek mushrooms,” sê sy omdat sy nie aan enigiets anders kan dink om te sê nie.

“Ek’t geweet jy kom; die uil het my gesê,” knipoog antie Gertie.

“Wil jy kom koeldrank drink? Ek het vanoggend gemmerkoekies gebak.”

Jannie het saam met antie Gertie gegaan en die hele middag by die ou tannie se groengeverfde kombuistafel sit en koeldrank drink en koekies eet – en gesels.

Jannie het nog nooit iemand gehad met wie sy so kon gesels nie. Toe dit skemer raak, sê antie Gertie: “Nou ja, kind, jy moet nou gaan, voor jou ma’le bekommerd raak.”

“Kan ek môre weer kom?” blaker Jannie uit.

“Natuurlik, kind. Hier, vat vir jou susters ook van die koekies saam.”

En so het antie Gertie vir Jannie alles van die kruie en plante in die omgewing begin leer, en hoe om van tandpyn en maagpyn tot woedebuie en histerie te behandel.

Jannie was in matriek toe haar pa eendag so erg aan die bewe gaan dat toe dit eindelik ophou Hannes skoon die asem uit homself gebibber het.

Hulle’t hom in die begraafplaas teen die bult onder die sipresse begrawe. Haar ma, Esther, het in die maande daarna begin kens raak.

Sy het sommer in haar onderklere straataf gestap sodat ant Sannie van die koöperasie haar moes huis toe bring.

Omtrent ’n jaar ná Hannes se dood het die vroue van die ACVV Kens Esther kom haal en ouetehuis toe gevat.

Sy’t nog twee jaar geleef, ’n skaduwee, voor haar liggaam eindelik haar gees gevolg het en daar weer begrafnis gehou is onder die sipresse.

Teen die tyd dat haar ma dood is, was Jannie al een wat nog in die huis gewoon het. Haar ouer susters het almal getrou.

Behalwe een, Wilhelmina, wat oorsee gegaan het en van wie hulle nooit weer gehoor het nie.

Sy het sommer in haar onderklere straataf gestap sodat ant Sannie van die koöperasie haar moes huis toe bring.

Jannie het die huis geërf en mettertyd kon sy ’n lewe maak met haar kruie-geneeskunde.

Dit was vir die Uyse ’n vreeslike slag toe Jannie en Henk die dag begin ogies maak vir mekaar. Die Uyse was vooraanstaande boere, een van die distrik se stamfamilies.

En Jannie was maar ’n bra onaardige meisiekind wat matriek agter haar naam kon skryf en niks anders nie.

Maar Henk was stadig. Hy was mooi, maar die boeke was nie vir hom nie.

Op 16 het sy pa hom maar uit die skool gehaal om te gaan boer, want dit het duidelik geword die arme kind se enjin het nie op al die pistons gehardloop nie.

Met boerdery was hy egter ook nie te waffers nie, het dit gou geblyk, en hy’t agteruit pleks van vorentoe geboer. Toe loop Jannie en Henk mekaar raak by die kerkbasaar.

Jannie het ’n stalletjie met kruierate beman en Henk het iets gesoek vir hardlywigheid toe die twee aan die gesels raak.

Albei was toe al vroeg in hul 30’s en albei se vooruitsigte was skraal. Dus voor die jaar uit was, het die kerkklokke van die groot wit kerk een Saterdagmiddag die twee se verbintenis in die eg oor die dorp uitbasuin.

Omdat hy in elk geval nie baie goed geboer het nie en twee ouer broers gehad het wat die plase kon oorneem, het Henk dorp toe getrek, in Jannie se huis in. En begin drink.

Sy ma-hulle het anderpad gekyk, en sy pa het maar net af en toe nog ’n tjek uitgeskryf. As dit net die drinkery was, sou Jannie dit nog kon uithou.

Sy’t haar eie lewe gehad met haar kruie en haar pasiënte en Dinsdagaande Bybelstudie en Donderdagaande breikring.

Dat sy – of hy – skynbaar nie kon voortplant nie, was mettertyd ál meer van ’n verligting gegewe Henk se permanente drankwaas.

Maar toe begin hy haar slaan. Aanvanklik nie erg nie – ’n plathandklap af en toe. Maar dit het ál erger geword.

Later het die kleinste dingetjie hom tot uitbarsting gebring en gemaak dat hy haar aan haar hare gryp of oor die kombuistafel slinger soos ’n mal ding.

Toe kry hy sy hartaanval, een vroeg- Sondagoggend voor kerk. Jannie was besig om die koffiekoppies en beskuitbordjies te was toe hy na haar roep uit die kamer. Toe sy by hom kom, was sy oë vol paniek. Sy’t hom amper jammer gekry.

“Moenie vir my f***** staan en kyk nie! Bel die donnerse ambulans!” het hy haar simpatie laat verdamp.

’n Dubbele hartomleiding in die distrikshospitaal, en ’n week later was hy weer by die huis.

Maar in die week wat hy weg was, kon sy weer diep slaap, sonder vrees vir ’n drankasem en ’n jakobregop in haar rug in die nánag.

Sonder om onrustig op te sien na die growwe hande oor haar lyf en die buffelagtige belustigheid wat in haar gedring word.

“Moenie vir my f***** staan en kyk nie! Bel die donnerse ambulans!” het hy haar simpatie laat verdamp.

En Jannie het gehou van rustig slaap. Die vooruitsigte van dae en nagte in stille vreedsaamheid het ál aanlokliker geraak.

Toe besluit sy. Met haar kennis van plante was dit glad nie moeilik nie. Stadig, stelselmatig het sy sy reeds gewonde hart nog ’n knou gegee. En nog een. En nog een.

’n Klop aan die voordeur kondig die ambulans se koms aan.

Sy sirenes was stil die hele pad tot hier; daar’s geen haas nie. Sy maak die deur oop, groet die twee ambulansmanne – een was saam met haar op skool, maar hy onthou haar nie – en lei hulle in die gang af na waar Henk steeds op die badkamervloer lê, sy lyf nou aan die styftrek.

Die begrafnis ’n week later was mooi, die groot wit kerk vol wit lelies gepak.

Die Uyse – en Jannie – in die voorste gestoeltes terwyl die dominee praat van ’n boom wat in die fleur van sy lewe afgekap is . . .

Die aand ná die begrafnis het Jannie in die bad ’n roering, soos ’n fladderende veertjie, in haar onderbuik gevoel.

Wragtig, jou ou moer, het sy gedink, jy was toe tog nie heeltemal useless nie.