Irma sit met ’n hengse penarie. Jy moes geweet het hierdie dag gaan aanbreek, praat ’n stem in haar kop. Ja, maar nie so gou nie, antwoord sy die stem.

En “so gou” breek teen hierdie naweek aan. Haar ma het nou genoeg van haar verskonings gehad, en sy het net laat weet sy kom dié naweek stad toe om haar aanstaande skoonseun te ontmoet. Sy het iets gemompel van Mohammed en ’n berg, maar Irma se gehoor het as gevolg van die histerie uit haar binneste toegeslaan.

Karien wil haar doodlag toe Irma haar bel. “My ma sou ook snuf in die neus gekry het as ek al twee jaar verloof is, maar die man is nêrens te vinde nie.”

“Jy ken nie my ma nie. My vorige kêrel het die pad gevat nadat ma sy tande bekyk het. ’n Mens wil nie swakhede in die familie hê nie, het sy vir Wilhelm vertel.”

“Ja, maar as ek reg onthou, het Wilhelm sulke klein tandjies gehad,” proes Karien. “Wat gaan ek maak? Ek het vier dae om ’n man op te tower. En nie sommer enige man nie. Die perfekte man!”

Irma se maag draai die hele Woensdag en Donderdag, en teen Vrydag wil sy opgooi.

“Oe, Irmatjie, daar bestaan nie so iemand nie. Selfs Christo het swakhede,” knipoog Karien. “Kan hy nie ’n paar van sy vriende vra of een van hulle sal uithelp en net vir die naweek aan my wil hang nie?” vra Irma hoopvol.

“Maar net hang. Niks meer nie!”

Dit is waar die moeilikheid begin het. Christo het ’n magdom vriende gehad wat graag vir die naweek aan Irma wou hang. Hy speel provinsiale rugby en al die enkellopende ouens was bereid om daarmee uit te help.

“Ons sal maar met almal moet onderhoude voer,” stel Karien voor. “Dan kan jy self besluit watter een hangwaardig is in jou ma se oë. Die ouens kuier almal Vrydagaand by die klub nadat hulle geoefen het. Jy sal daarheen moet gaan en een uit al die gewilliges kies.”

Irma se maag draai die hele Woensdag en Donderdag, en teen Vrydag wil sy opgooi. “A nee a! Jy gaan vanaand opdaag, al moet ek jou self aan jou hare klub toe sleep. En moenie dink dat ek dit nie sal doen nie,” dreig Karien.

Die horlosie teen haar sitkamermuur koggel haar met elke sekonde wat dit aftik om by sesuur uit te kom.

Ná ’n derde keer se klere verander voel Irma lus om in ’n balletjie op die sitkamerbank op te rol en net te tjank. Sy doen dit natuurlik nie, want watter man gaan aan ’n vrou met dik oë se sy gesien wil word?

Die parkeerterrein by die klub is stampvol en daar is geen ander keuse as om met haar kar op ’n sypaadjie te parkeer nie.

Hopelik is skelms nie op die uitkyk na ’n windgat Ford Fiesta nie, dink sy toe sy na die gebou toe stap. Sy het die kar gekoop net omdat Wilhelm so kapsie gemaak het daarteen.

Volgens hom moet vroumense stemmige familiekarre ry, nie goed wat kan jaag nie. Gmf! Wolwefluite begelei Irma so ver soos wat sy loop, en teen die tyd dat sy Karien se waaiende arm raaksien, is haar wange bloedrooi.

“Ek gaan dit nooit deur die aand maak nie,” sis sy en sak laag in ’n stoel langs haar vriendin neer. Christo daag op met sy en Karien se drankies.

“Wat kan ek vir jou kry om te drink?”

“Verkieslik net iets op ys,” mor Irma. “ ’n Dubbele enigiets wat skop inhet.”

Christo lag.

“Ek sal vir jou ’n skemerkelkie bring. Jy sal daarvan hou.”

“Wat is dit met mans? Ons moet stadige karre ry, flou drankies drink, by die huis bly en kinders grootmaak, en . . . ”

Irma se tong word vol lood toe sy in pikdonker oë aan die ander kant van die vertrek vaskyk. Die man is besig om met iemand oor sy selfoon te gesels, maar sy oë hou hare gevange. Dan sluit nog mense by sy tafel aan en hy word gedwing om die kontak te verbreek.

Karel eet sy naels stomp. Haar ma het ’n ding oor netjiese hande wat na Irma oorgespoel het.

Karien draai haar kop om te sien na wie Irma so staar.

“Og, ja, is hy nie opeetbaar nie?” fluister sy. “Dit is Panayotis Koulis, oftewel Pieter in Afrikaans. Sy broer speel rugby saam met Christo. Hy loer so een maal per maand in om te kom kyk of sy jonger broer homself nog behoorlik gedra.”

“Laat gerus weet wat jy hiervan dink,” glimlag Christo toe hy ’n glas met geel inhoud vir haar gee en gaan sit.

“Wanneer wil jy begin onderhoude voer?”

“Ek dink ek gaan net môre vir my ma sê die verlowing is af. Ek sien nie kans vir die hele ‘wat is jou gunstelingkleur?’-ding nie.”

“Ag, nee, komaan! Die meeste van die kandidate het ekstra lank onder die stort gestaan en sing, en te oordeel na die reuke in die aantrekkamer is daar liters en liters deodorant uitgespuit,” lag Christo. “Net vir jou.”

Irma kreun. “Ek was simpel om te dink dit gaan maklik wees. Ek sal in elk geval nie weet wat om te sê nie.”

“Ek sê jou wat: Los die vraagvraery vir my en Christo. Jy kan net kyk of hulle sag op die oog is en of hulle jou ma nie gillend sal laat terugjaag plaas toe nie. Wat het jy om te verloor?”

“Net ’n plaas,” mompel Irma. “Een wat al ’n paar geslagte in my ma se familie is.”

“Des te meer rede om die onderhoude te doen.”

“Oukei,” sug Irma.

Die hallo-daar-slaaiblaar-ou is sag op die oog, maar sy irriterende swak grappe is een te veel vir Irma. In so ’n mate dat sy nie eens sy naam onthou nie.

Karel eet sy naels stomp. Haar ma het ’n ding oor netjiese hande wat na Irma oorgespoel het.

Skolla is te lank.

Alec lyk tot dusver na die beste uit die eerste lot ouens. Hy is beleefd en probeer nie te hard om haar te beïndruk nie.

Irma is deurentyd daarvan bewus dat Pieter die musikale-stoel-situasie by haar tafel met ’n valkoog dophou.

Koekies – sy van is seker Koekemoer – is te luidrugtig. En hy sal haar middeldeur druk met daai boarms waarmee hy rondloop.

Jaco vra sommer dadelik of hy môre kan oorslaap wanneer haar ma huis toe is, want “niks vir niks en ’n bietjie vir ’n tiekie” is sy motto in die lewe.

Karien gee Christo ’n vuil kyk oor die laaste kandidaat.

Ná nog twee falende kansvatters is al die enkel ouens op die lysie afgemerk.

“En?” wil Karien weet.

“Alec lyk na die ideale persoon om my uit my penarie te help. Die res is ’n bietjie te waaghalsig na my sin,” som Irma hulle veilig op.

“Christo sal alles reël. Hoe laat moet hy by jou huis wees?”

“My ma behoort so teen tienuur daar aan te kom, so as hy dalk teen agtuur kan kom, asseblief. Dan kan ons gou ’n paar dingetjies bespreek. My ma is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.”

Irma slaap sleg daardie aand. Sy het so ’n nare voorgevoel die volgende dag gaan ’n fiasko wees. Sy was nie verkeerd nie.

Halfagt bel Karien. “Alec kan dit nie maak nie, maar hy stuur iemand in sy plek.”

Om kwart voor agt daag Irma se ma daar op.

“Ma! Dis nou ’n verrassing!” lieg Irma met ’n valse blydskap in haar stem. Haar knieë wil-wil ingee en sy kan voel hoe sweet op haar voorkop uitslaan.

“Kom in! Ek het ma eers later verwag.”

Die ketel vat ekstra lank om te kook. Altans, dit is hoe dit vir Irma voel. Haar ma bestudeer elke plekkie in die kombuis, en toe Irma ’n beker koffie voor haar neersit, kom die onvermydelike vraag.

“Waar is Jacques?”

“Uhm, hy . . .”

Skok nommer drie vir die oggend kom in die kombuis ingeloop.

“Goeiemôre, skattebol,” soengroet hy vir Irma. Dan steek hy sy hand uit na haar ma.

Die ou vrou druk haar hand in syne en haar oë glinster toe Pieter vooroor buig en die agterkant van haar hand soen.

“Ons het mevrou eers heelwat later verwag,” glimlag hy en gaan staan styf teen Irma. “Kan ek ook ’n koppie bedel?”

Irma maak nog ’n beker koffie en luister hoe die Griek en haar ma oor ditjies en datjies gesels. Blikskottel! Iemand kon haar ten minste gewaarsku het dat hy Alec se plek sou inneem.

Die ou vrou druk haar hand in syne en haar oë glinster toe Pieter vooroor buig en die agterkant van haar hand soen.

En net omdat hy so lekker met haar ma gesels, gooi sy geen suiker of melk in sy koffie nie. Net ’n titsel koue water. Kom ons kyk of jy die koffie so sjarmant kan inkry as wat jy my ma aan jou lippe laat hang, dink sy vies.

Sy gaan sit oorkant hom, maar vermy sy oë.

Pieter gee al die regte antwoorde, en haar ma is in haar noppies met haar dogter se keuse.

“Ek kan nie glo sy steek jou al twee jaar lank vir my weg nie,” lag sy. “Wanneer is julle van plan om kansel toe te loop?”

“Sodra my huis in Griekeland gereed is. Die bouery behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees, dan – sodra Irma die binneversierings goedgekeur het – sal die uitnodigings uitgestuur word.”

“Gaaf.”

Ellen Putter staan op.

“Julle sal my nou moet verskoon. Ek hou nie van die stad nie en gaan nou terug plaas toe nadat ek gesien het wat ek wou.”

Pieter en Irma keer terug kombuis toe nadat Ellen vertrek het.

“Hoe het jy geweet hoe ek van my koffie hou?” vra hy met duiwels in sy donker oë.

“Waar is Alec?” blaker Irma uit.

“Waar hy hoort. Op die rugbyveld. En net sodat jy weet: Hierdie hele instaanding is deur hom beplan. Hy probeer al jare lank om my aan vroue af te smeer. Ek moet sê, hierdie keer het ek heel gewillig ingestem om iemand anders te wees. Ek hoop nie jy gee om nie?”

“N-nee. Glad nie,” bloos Irma.

“Nog koffie?”