"Iets is fout,” dink Sanet. “Emma moes teen hierdie tyd lankal uit die bagasie-area gekom het.”

Sy begin angstig rondkyk op soek na ’n inligtingstoonbank maar net toe sien sy vir Emma uit die hoek van haar oog die aankomsaal binnekom. Te oordeel aan die driftige manier waarop Emma haar trollie met bagasie stoot, weet Sanet sommer iets is nie pluis nie. 

“Emma, hier is ek!” roep sy.

“Ekskuus ek is so laat,” sê Emma sonder om haar woonstelmaat behoorlik te groet. “Maar ek was ondervra deur ’n doeanebeampte. ’n Simpel snuffelhond het ’n stuk kaas in my handsak geruik. Ek het in my hele lewe nog nie so ’n gek gevoel nie.”

“Maar hoe het die kaas in jou handsak gekom?” vra Sanet terwyl hulle parkeerterrein toe stap.

“Dit was my eie skuld. Die kaas en beskuitjies ná gisteraand se ete was so lekker dat ek die lugwaardin gevra het vir nog ’n porsie. Maar toe besluit ek om dit eerder in my handsak te sit om dit later by die woonstel te eet, min wetende dat die simpel hond die kaas sal uitsnuffel in die bagasie-area.”

“Maar dis tog nie so erg nie,” sê Sanet en hoop die halfskemerte in die parkade verberg haar glimlag. “Baie mense doen dit. Toe ek en Calvyn verlede jaar met vakansie in Switserland was, het ons die eerste dag amper net van kaas en beskuitjies en konfyt uit die vliegtuig uit geleef.”

“Ek weet. Maar dit was anders; julle was studente en moes op die goedkoopste manier reis. En buitendien, julle hoef nie julle kajuitbagasie ten aanskoue van die hele lughawe uitgepak het nie, en . . .”

“En wat? Wat het jy nóg aangevang?”

“Nee, nee. Ek het niks aangevang nie. Dis net, daar was hierdie droom van ’n man wat langs my by die vervoerband gestaan het terwyl ons vir ons bagasie gewag het. Hy het die hele petalje aanskou – tot wat ek in my handsak en in my kajuitbagasie het!”

“Nou klink dinge interessant. Ek hoop jy het jou flikkers vir hom gegooi.”

“Hoe kón ek? Ek staan daar, so vaal soos ’n muis, sonder grimering, my klere gekreukel van die nag se slaap in die beknopte ekonomieseklassitplek, my hare skeef geslaap. Jy kan moes sien hoe ek lyk. Sou jy vir enige man flikkers gegooi het as jy so lyk, en dan nog terwyl ’n vervlakste hond aan jou been snuffel en ’n sekuriteitswag deur jou vuil wasgoed krap?”

“Nee, ek dink nie ek sou nie,” sê Sanet gemaak ernstig, en verwissel van baan in die rigting van die noordelike voorstede. “Maar vertel, hoe lyk jou droomman toe?”

“Asof hy sopas uit ’n raadsaal van direkteure kom.” 

“Hy het seker eersteklas gevlieg, sê Sanet.

“Wat anders? Ek het hom goed beloer terwyl ons vir ons bagasie gewag het – dit was nog vóór die kaasepisode: Hy is effens langer as ek, mooi, sterk hande, grys pak klere wat perfek pas – met nogal ’n effekleurige oranje das, egte leer aktetas, en . . . ag, wat help dit alles. My vakansie is verby en môre is ek weer terug agter die troeteldierwinkel se toonbank om katkos en hamsterhokke te verkoop. Laat ek jou liewer vertel van my vakansie in Barcelona.”

‘Moeilike dag gehad?” vra Sanet toe Emma die volgende middag net ná vyfuur die voordeur van hulle woonstel agter haar toeklap.

“Die vermetelheid van die man gaan my verstand te bowe!”

“Wie? ’n Kliënt by die werk?”

“Nee. Dis daardie man . . . Die ou op die lughawe waarvan ek jou vertel het.”

“Hy bel my vroeër vandag so ewe op my selfoon om te vra of ek nie saam met hom wil gaan koffie drink nie. Hy wou my glo gister by die lughawe vra maar sê die omstandighede was nie reg nie.”

“En het jy ja gesê?”

“Natuurlik nie!” 

“Maar hoekom nie? Ék sou as ek jy was.”

“Ek wou weet waar hy my selfoonnommer kry, en toe sê hy hy het die nommer en my adres wat op my handbagasie se etiket was gememoriseer terwyl ek my handsak vir die sekuriteitswag moes uitpak.”

“Maar dan is die man mos regtig ernstig om jou beter te leer ken! Bel hom terug en sê jy aanvaar sy uitnodiging. Sy selfoonnommer is mos nou op jou foon,” por Sanet haar vriendin aan.

“Ek kan nie. Ek het klaar vir hom gesê ek hou nie van mense wat my beloer nie.”

“Maar jy’t hom dan gister beloer terwyl jy vir jou bagasie gewag het”

“Ek weet. Maar dit was anders.”

“Hoe klink sy stem?” probeer Sanet ’n ander taktiek volg.

“Soos donkersjokolade. En vriendelik.”

“Hou dit net daar,” sê Sanet toe sy opstaan om te gaan kyk wie die voordeurklokkie gelui het.“Ek sal sommer teken. Baie dankie. Tot siens,” hoor Emma vir Sanet sê, voor die voordeur weer toegaan. “Ek kan raai van wie dít is,” sê Sanet terwyl sy ’n groot bos pers Stargazer-lelies in Emma se arms sit.

Met bewende vingers trek Emma die kaartjie uit die grys koevertjie. Links bo is ’n kunstige, handgetekende skets van die allerfraaiste muis wat aan ’n groot geel kaas snuffel. Onderaan, in ’n regop, sterk handskrif staan: Ek wil jou baie graag weer sien. Willem du Plessis.

“As hy die skets self geteken het, is hy nogal kunstig, én het ’n sin vir humor. Om nie van romanties te praat nie. Dis mos alles eienskappe in ’n man waarvan jy hou, nie waar nie?”

“Ja, maar . . .” is Emma se halfhartige verweer.

“Ek gaan solank vir ons aandete maak,” sê Sanet terwyl sy opstaan. Sy weet die regte ding is nou om vir Emma alleen te laat saam met Willem se blomme en kaartjie. Toe Emma ’n rukkie later sonder om iets te sê die kombuis binnestap om die lelies in ’n vaas te sit, weet Sanet klaar wat om te verwag. Sy ken haar woonstelmaat soms beter as wat sy haarself ken.

“En?” vra sy nogtans.

“Ek het hom gebel om dankie te sê vir die blomme. En ons ontmoet mekaar môremiddag ná werk by die koffietoonbank in die groot boekwinkel in Sandton. Dis gerieflik naby vir ons al twee.”

“Hoe weet jy dis vir hom ook gerieflik?” vra Sanet.

“Hy sê sy argiteksfirma se kantore is in dieselfde gebou.”

“’n Argitek, nogal. G’n wonder hy kan so mooi teken nie,” sê Sanet.

“Ek weet darem nie so mooi nie,” stuur Emma die gesprek in ’n ander koers. “Hy moet nie nou die indruk kry ek val te maklik in sy skoot nie – net omdat hy vir my ’n mooi prentjie en ’n bos blomme gestuur het nie.”

“Emma, jy moet nou nie kat en muis met die man probeer speel nie. Jy het self gesê hy is ’n droomman,” sê Sanet en kyk haar vriendin stip in die oë.

Al antwoord wat Sanet kry is ’n misterieuse glimlaggie, en sy weet sy sal maar geduldig moet wag om te hoor wat daardie vaalkop nou weer beplan.

Toe Willem du Plessis die volgende middag by die koffietoonbank in die boekwinkel vir die hoeveelste keer op sy ontwerperspolshorlosie kyk, vra ’n stem langs hom:“Meneer du Plessis?”

“Ja?”

“Ek is een van die boekwinkel se verkoopspersoneel. Ek het ’n boodskap van Mejuffrou Lazenby. Sy sê sy sal ongelukkig ’n bietjie laat wees. Maar sy het gevra dat ek intussen vir u hierdie boek moet gee om te lees.”

Toe Willem die geskenkpapier van die dun boekie afhaal herken hy dadelik Spencer Johnson se internasionale trefferboek met die titel Who Moved my Cheese? “Ek hou van ’n meisie met ’n humorsin,” sê hy vir die verkoopsman. “En dan is sy nog deksels mooi daarby.”

Willem blaai lusteloos deur die boekie en kyk kort-kort op sy oorlosie. Ná sowat 20 minute staan hy op en betaal sy rekening by die toonbank. Sonder om om te kyk verlaat hy die winkel. “As sy kat en muis met my wil speel, maak sy ’n groot fout,” mompel Willem vererg.

Toe Sanet skuins voor aandete hulle woonstel se voordeur oopsluit, lê Emma met rooigehuilde oë op die rusbank opgekrul. Sy skuif die houer met sneesdoekies eenkant en gaan sit woordeloos langs Emma. Sy vermoed dit het iets met vanmiddag se koffieafspraak te doen.

“My moed het by op die laaste oomblik begewe,” sê Emma ná ’n ruk, en die trane begin van voor af oor haar wange loop. “Toe ek hom daar van agter die boekwinkel se boekrakke beloer het, kon ek nie dink wat so ’n mooi, welvarende, professionele man in ’n muisvaal winkelassistent soos ek sien wat boonop aan die einde van ’n werksdag na hondekos en katpiepie ruik. En toe draai en om en kom terug woonstel toe.”

Sanet sit haar arm om Emma se skouers. “Dalk sou ek dieselfde gedoen het as ek sy was,” dink sy. Sy weet dat sedert die onderneming waar Emma as veearts gewerk het, bankrot gespeel het en sy net ’n werk as assistent by ’n troeteldierwinkel kon kry, haar selfbeeld ’n groot knou gekry het, veral as dit by mans kom.

’n Rukkie later lui Emma se selfoon. Sy kyk belangeloos na die nommer wat sy nie herken nie. Sy snuif ’n slag en sê met ’n flou stemmetjie: “Emma wat praat.” 

“Moenie aflui nie!” hoor sy ’n stem wat soos donkersjokolade klink. “Ek het vir ons kaartjies vir die musiekblyspel Cats gekry. In Londen,” voeg Willem by.

“Hoekom huil jy alweer? vra Sanet nadat Emma haar selfoon neergesit het.

“Omdat ek so baie, baie gelukkig is,” snik Emma.

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.