Hy is moeg. Ben Steyn trek sy spreekkamer se deur agter hom toe en haal die bos sleutels uit sy sak. Die maan skyn reeds helder; dit is veel later as seweuur, die amptelike toemaaktyd van die praktyk.

Hy wou eers net seker maak die ou groot boerboel wat vanoggend onder ’n kar beland het, is bestendig.

Wie die rekening gaan betaal, weet hy nie.

Niemand het nog kom navraag doen oor die hond nie, en daar is tekens dat die ou grote ’n ruk lank aan die natuur en sy elemente oorgelewer was.

“Dokter . . . ” Hy skrik, kyk dan om en sien ’n blonde vrou wat uit die donker skaduwees nader gestap kom. “Jammer, ek sien ek het jou laat skrik.”

In haar arms hou sy iets vas. Dan maak die dingetjie ’n geluid, en hy besef dis ’n babakatjie.

“Goeienaand. Skuus, man, ek was ingedagte. Darem nie te groot geskrik nie.” Hy sien hoe daar vlugtig ’n glimlag oor haar gesig sprei, net om ewe vinnig weer te verdwyn.

“Ek weet dis lank reeds verby jou spreekure, maar ek is te bang om die dingetjie tot môreoggend aan haar eie genade oor te laat. Miskien kan jy sommer hier in die lig van my motor kyk of jy kan sien wat fout is.”

Hy sug. “Jy moet my verskoon. Bring die katjie môreoggend hierheen. Ek is gedaan en gaan nou huis toe.” Hy sien die ongeloof in haar oë en voel dadelik skuldig. Hy besluit om hom daarvoor blind te hou en begin na sy motor aanstap.

“Asseblief . . . ” Hy hoor die desperaatheid in haar stem.

“Ek was reeds by dr. Venter se spreekkamer, en hy het my ook so kous oor die kop huis toe gestuur.”

Hy wil haar vra hoekom sy eerstens na die opposisie toe gegaan het, maar sluk dan sy woorde.

Almal op die dorp ken die joviale dr. Venter wat ook maar net joviaal is wanneer dinge hom pas. Dan draai hy terug na die deur van die spreekkamer en haal weer geduldig die bos sleutels uit.

“Kom binne; laat ons maar liewer daar gaan kyk.”

Toe sy voor hom in die spreekkamer instap, herinner haar parfuum hom aan iemand wat hy lank gelede geken het.

Iemand wat iewers tussen die lyne van sy lewe verdwyn het. Iemand aan wie hy liefs nie herinner wil word nie.

Beautiful,” sê hy hardop. Die blondine kyk verras om en hy voel meteens verleë.

“Ek praat van jou parfuum. Is ek reg?” Hierdie keer is haar glimlag breër, maar die oomblik gaan verlore toe hy die helder fluoressentligte van die spreekkamer aanskakel.

“Kom sit die kat hier neer en dan vertel jy my sommer waar jy aan hom kom,” sê hy dan om sy ongemak te verberg.

“Hom? Is dit ’n mannetjie?”

Hy lag.

“Nee, ek weet nog nie; dis sommer net by wyse van spreke.”

Hy sien dadelik die infeksie wat geel in die katjie se linkeroog koek. Die ogie is heeltemal toe en dit lyk asof die katjie blind kan wees. Al wat verder fout is, is die vlooie wat op die klein lyfie wemel.

“My suster se hondjies kuier by my.

“Hulle wou vroeër vanaand net nie ophou met blaf nie. My huis is langs ’n oop stuk veld, en waar die betonmuur in die grond ingaan, moes ek vroeër met ’n stuk gaasdraad toemaak toe die een worshondjie vir haar ’n ontsnaproete daardeur gegrawe het. Ek het my flits uitgehaal en daar, styf teen die draad, het die gesiggie gesit.

“Ek kon haar nie daar los nie. Van ’n ma-kat was daar geen teken nie, en boonop was die klein katjie glad nie verskrik soos ’n mens van ’n wilde kat verwag nie.

“Ek het ’n idee dit was iemand se babakatjie, want sy is regtig mak, en toe gebeur daar iets met haar ogie. Haar huismense het seker besluit dit sal goedkoper wees om haar net daar in die oop veld te dump!”

Hy kyk op en sien vir die eerste keer haar mooi blou oë raak.

“Jy is reg. Mense is vreeslike goed. Ek kry elke dag hiermee te doen hier in my praktyk, maar gelukkig is daar ander mense soos jy wat weer met ’n ander hart na diere kyk.” Hy is dankbaar toe hy sien die katjie se ogie is nie uit nie. Dis bloot ’n infeksie wat met die nodige medikasie vinnig behoort op te klaar.

Van die vlooie sal hy ook gou ontslae raak met ’n bietjie vlooipoeier; die kat is veels te klein om dit op ’n ander manier te probeer dokter. Ná vyf minute is hy klaar. Hy tel die katjie weer op en sit dit in haar arms. Hy voel vlugtig hoe die klein kat tevrede spin.

“So ja, Mevrou . . .” “Noem my sommer Lida,” keer sy gou. “Wat skuld ek Dokter?”

“Noem my sommer Ben,” betaal hy haar in eie munt terug.

“Wel, Lida, dit was darem nie te veel moeite nie; maak dit maar my goeie daad vir die dag. Bring hom – ja, dit is ’n seuntjie – oor ’n week of twee vir die nodige inspuitings.”

Die tweede goeie daad, dink hy dan toe hy die skaduwee van die ou boerboel agter in een van die hokke raaksien. Net so vinnig soos sy daar aangekom het, is sy weer daar weg.

Toe sy by die spreekkamerdeur uit is, het sy so ewe een van die visitekaartjies geneem wat op die toonbank lê. Dit lyk darem of sy hom in die toekoms weer sal ondersteun.

Die gedagte om haar weer te sien maak hom gelukkig. ’n Oomblik lank bly hy in die maanlig langs sy motor staan. Wat sal hy op hierdie Vrydagaand met homself aanvang?

Vanaand wil hy net agteroor sit met ’n goeie boek in een hand, ’n glas rooiwyn in die ander, en dan kan hy miskien weer probeer om die reuk van die blonde vrou se parfuum te onthou. Aan die vrou wat hom aan daardie parfuum voorgestel het, wil hy nie vanaand dink nie. Dan klim hy in die kar en ry huis toe.

Haar parfuum herinner hom aan iemand wat tussen die lyne van sy lewe verdwyn het

Hy is pas met die derde hoofstuk van Chris Karsten se boeiende nuwe roman klaar toe die selfoon op die tafel langs hom lui. Nie sy persoonlike foon nie, maar die praktyk se noodnommer. Vrek, vanaand is hy te moeg om vir ’n noodgeval terug te gaan. Dan begin sy gewete hom pla. Dit is tog sy werk: om diere uit hul nood te red. Hy tel op.

“Dokter . . . Ben . . .” sê ’n sagte stem in sy oor. Hy herken dit dadelik, ook die angstigheid daarin. Dis . . . wat is haar naam nou weer?

Gelukkig red sy hom uit sy verleentheid.

“Lida de Villiers hier. Ek is vreeslik jammer om jou ’n tweede keer te pla. Moses reageer skielik verskriklik snaaks. Hy het sopas opgegooi en hy loop al in die rondte. Hy tree beslis nie normaal op nie. Wat kan fout wees?”

Bedaar, hart, raas hy met homself voor hy kalm antwoord. “Lida, het die kat iets geëet? Ek neem aan Moses is die babakat na wie ek vroeër vanaand gekyk het?”

“Dit is hy, Dokter, ag, ek bedoel Ben. Hy is vreeslik naar, maar hy het niks geëet nadat ek daar by jou weg is nie.” Dan begin sy huil. “Lida, wees rustig. Bring hom gou terug na die praktyk toe. Ek ry dadelik.”

Hy is skaars binne die gebou toe hy haar Volksie aan die buitekant hoor stilhou. Haar oë is dik van die huil en die klein katjie lyk glad nie goed nie. Hy is slap in haar arms, duidelik ontwater. “Het hy enigiets vreemds geëet? Het jy vir hom iets gegee om te eet?”

Dan sien hy dit, die geel blerts op haar bloes. “Is daar lelies in jou huis?” Sy kyk hom verbaas aan. “Ja, daar is. Maar hoe weet jy dit?”

Hy wys na waar die stuifmeel haar wit bloes gevlek het. Dan vra hy weer. “Was Moses naby die lelies?”

Sy snuit weer haar neus in haar sakdoek. Gedemp sê sy dat sy op pad huis toe gou by ’n winkel gestop het. Die bos lelies het haar oog getref en sy het dit op die sitplek langs die katjie neergesit. Die katjie het ewe parmantig na die stuifmeel gekap en aan die blare gekou, en sy het nogal met hom geraas dat hy nie haar duur blomme moet verniel nie.

Ben het intussen ’n drup opgestel en die klein katjie daaraan gekoppel. “My liewe Lida,” sy hart vermurwe toe hy kyk in haar dikgehuilde oë wat nou ’n veel ligter skakering van blou is.

“Die meeste mense weet dit nie, maar lelies is giftig vir katte. Ek hoop ons sal klein Moses kan deurtrek. Ek dink darem jy het hom betyds gebring.” Sy kyk hoe hy die klein katjie in een van die hokkies agter in die spreekkamer gaan toemaak. Die ou boerboel in die ander hoek lig sy kop dankbaar op toe hy stemme hoor.

“Dit lyk my Chris Karsten se boek sal maar vir ’n ander aand moet wag. Ek gaan liewers hier by die twee pasiënte bly. Jy is welkom om my geselskap te hou, want die nag kan lank raak.” Sy kom staan teen hom.

“Ek gaan nêrens nie,” is al wat sy dan sê. Hy lees iets soos vreugde in haar blou oë.

Beautiful,” is al wat hy sê. En hierdie keer praat hy nie net van haar parfuum nie.