“Gaan jy môreoggend saam met my die Parkrun hardloop?” val haar sussie met die deur in die huis. Haar kop is nog by die stomende liefdestoneel wat sy so pas op die televisie gesien het, en meteens is sy spyt dat sy die foon geantwoord het.

Sy wonder wat nou weer fout kan wees. As Suzanne se naam op die skerm flits, is daar gewoonlik drama. “Nou waar is Pieterjan? Hardloop julle twee en die brakke nie klokslag elke Saterdagoggend die Parkrun nie?”

Sy hoor hoe haar sussie aan die anderkant diep en lank sug. Die verskuilde boodskap met daardie sug is: ‘Ag kry my asseblief tog jammer.’ Dit weet sy uit jare se ondervinding.

“Pieterjan is al die hele week in die Kaap vir werk. Hy het gedink hy vlieg vandag terug, maar toe besluit sy baas om hom môre te laat gholf speel in die een of ander liefdadigheidstoernooi.”

Haar sussie se pleitende stem val op dowe ore. Suzanne en Pieterjan het gewoonlik vrede met die res van die wêreld wanneer hulle bymekaar is. Sy kan gelukkig wees om af en toe ’n ete-uitnodiging te kry. Ook maar meer af as toe!

“Nou wil jy skielik hê ek moet saam met jou gaan hardloop. Die laaste keer dat ek saam met julle sou gaan, hoeka na ’n Parkrun toe, het Pieterjan kastig vergeet om my op te pik.”

“Ag, sies vir jou, Katryn. Hy het regtig vergeet. En dit het by my ook uitgewaai.”

“Mmm.” Katryn weet om stil te bly is veel beter as om verder daaroor te stry. Daardie oggend het sy weer besef dat haar sussie en haar jappieman eintlik albei selfsugtige wesens is wat net vir mekaar omgee. O ja, en vir die twee brakke.

“Katryn, ek wens jy wil ophou om na ons diere as brakke te verwys. Hulle is my en Pieterjan se kinders. Jy weet hoe voel hy oor daardie skelnaam,” sê haar sussie, so asof sy haar gedagtes kan lees.

Meteens kan sy nie help om te lag nie. Skelnaam nogal. Sy weet hoe Suzanne en Pieterjan oor hul honde voel. Eintlik hou sy wat Katryn is ook baie van die twee mooi Duitse herdershonde wat soms ook maar goed besig is.

“Ag nee wat, Sussa, jy behoort teen dié tyd te weet dat ek mal is oor Frida en Kahlo. Hulle . . .”

Haar suster gee haar nie tyd om haar sin te voltooi nie.“Ek kom laai jou môreoggend seweuur op.”

Sy wil nog iets sê, maar haar sussie is nie meer aan die anderkant van die selfoonverbinding nie. Nou ja, dan moet sy in die kooi kom, want Suzanne se motor sal reeds voor sewe hier voor haar woonstel stilhou.

Die volgende oggend staan sy en wag toe Suzanne in Pieterjan se bakkie opdaag. Moenie glo die honde is agterin gelaai nie. Die twee sit kiertsregop op die agtersitplek van die dubbelkajuit.

“Môre Suzanne, môre Frida en Kahlo,” groet sy toe sy inklim. Ten minste is die twee honde opgewonde om haar te sien, dink sy toe Suzanne na die oorfoon in haar oor beduie. Sy luister verveeld na die eensydige telefoongesprek en lei dadelik af dat dit Pieterjan is met wie haar sus gesels. Sy voel byna soos ’n voyeur toe sy na haar sussie se gekoer luister en probeer hard om op iets anders te fokus.

Net voor hulle by Delta Park kom, is haar suster eindelik klaar gepraat. “Môre Katryn. Ek is jammer, maar Pieterjan was besig met instruksies oor Kahlo.”

“Watse instruksies?”

“Ag jong, met die vorige Parkrun was daar ’n drawwer met ’n pitbull wat net nie vir Kahlo wou uitlos nie. Jy weet tog hoe goed gemanierd my honde is. Hulle sal nooit in ’n bakleiery betrokke raak nie, maar die bleddie pitbull het die hele tyd vir Kahlo geknor. So byna-byna was daar moeilikheid, maar Pieterjan het betyds weggeloop en op ’n ander plek gaan staan en die situasie is ontlont.”

“En Frida? Het hy haar ook gedreig?”

Haar sussie lag kliphard. “Moenie laf wees nie. Frida is die skaam enetjie en as enige ander hond nader staan, skram sy weg. Dis net Kahlo wat nie van ’n uitdaging hou nie.”

Vir ’n oomblik wonder sy watter een van die twee vanoggend haar verantwoordelikheid gaan wees. Hopelik is dit Frida en nie Kahlo nie. Sy kan sommer sien hy is vanoggend reg vir ’n geveg.

Die ander drawwers is ywerig besig om na die beginpunt te stap. Dis nogal ’n vrolike gedoente hierdie Parkrun, dink sy. Daar is vanoggend ook heelwat ander honde.

“So ja, waarvoor wag jy,” sê Suzanne hier langs haar venster en dan besef sy dat sy haar so aan die aantreklike man met sy beeldskone weimaraner vergaap het, sy sit steeds in die bakkie terwyl Suzanne, Frida en Kahlo reeds buite staan en wag. 

Toe hy in haar rigting kyk en glimlag, voel sy hoe haar wange brand. Hy het sowaar gesien hoe sy hom behoorlik van kop tot tone beskou het. Die man het ’n paar kuite wat Jesse Kriel sal jaloers maak.

Die volgende oomblik prop Suzanne Kahlo se leiband in haar hand. Ag nee, net waarvoor sy bang was. Maar die hond stap gehoorsaam hier aan haar linkerkant, presies soos sy baas hom geleer het. “Mamma se Kahlo moet soet saam met tannie Katryn draf, hoor. Wys haar jou heel beste maniere,” kom dit soetjies van haar sussie.

Genade, Suzanne is erg, dink sy. Maar voor sy iets kan sê, vra die afsitter almal om nader te staan. Dis byna agtuur en die pretloop gaan begin. Sy wonder hoeveel mense staan agter hulle, en met die omdraaislag, merk sy vir Kuite en sy weimaraner so ’n entjie agtertoe.

Weer die stout glimlag en sy voel hoe haar wange nog warmer brand as netnou in die bakkie. Plaas het die man nou ’n ent voor haar gestaan, dink sy, want dan kon sy sy kuite ongemerk bewonder het.

Eindelik klap die skoot en die massa kom aan die beweeg. Haar sussie is blitsig uit die blokke en sy besef dadelik dat sy nooit daardie pas gaan volhou nie. Dan moet Suzanne maar aanfoeter, dink sy. Sy en Kahlo sal die ding stadig maar seker klaarmaak. Dis tog veronderstel om ’n pretloop te wees.

Die volgende oomblik voel sy hoe Kahlo ook sy pas versnel. Sowaar, daar, ’n entjie voor haar, in ’n ontwerpers-T-hemp, draf ’n jongerige man met ’n pitbull aan ’n leiband. Dis duidelik dat van die ander deelnemers die reputasie van die pitbull besef, want dis byna soos die Rooisee wat oopgaan toe hy vorentoe beweeg.

Maar Kahlo het ander planne. Hy wil gaan wraak neem, besef sy en sy klou vir ’n vale aan die leiriem.

“Nee, Kahlo, nee!” roep sy benoud uit. Die pitbull se eienaar moes haar gehoor het, want toe hy omkyk en Kahlo op ’n spoed sien nader kom, pluk hy die pitbull effens hardhandig eenkant toe en beveel hom om te sit. Die hond wat gaan sit, neem meteens die wind uit Kahlo se seile en hy staan doodstil.

“Verdomp vroumens, kyk wat jy aanvang,” hoor sy hoe ’n man van agter af in haar vashardloop. Asof dit nie genoeg is nie, bots ’n klomp ander drawwers weer teen hom en soos die spreekwoordelike domino-effek, slaat die een na die ander drawwer hier om haar neer. In ’n ommesientjie lê sy ook plat op die aarde met drawwers wat probeer om haar mis te trap.

Toe sy opkyk, tot haar misnoeë, merk sy Kahlo sit doodonskuldig langs haar. Sy lang tong steek ver uit sy bek uit, maar enige wraakplanne met die pitbull as teiken is vir eers iets van die baan.

Sy is steeds plat op die grond en kyk hoe die mense net kop skud en verby haar draf. Agter haar lê ’n hele paar stappers of drawwers min beïndruk met die plaas wat hulle gekoop het. Vir ’n derde keer vanoggend wens sy die aarde kan haar insluk.

“Kan ek jou ’n hand gee?” sê iemand meteens hier agter haar. Dis Kuite en sy weimaraner. Hy het reeds sy hand na haar uitgesteek en sy aanvaar dit dankbaar. Waaroor sy nie dankbaar is nie, is die breë glimlag op sy bakkies.

“Genade maar dit was iets om te sien,” laat weet hy proesend. “Ek het moeilikheid sien kom, veral toe jou hond so skielik stop. Niemand het dit verwag nie.”

Sy is meteens heeltemal sonder woorde. Voel steeds hoe haar wange bly gloei. Van haar sussie, die pitbull en sy baas is daar ook nou geen teken nie. Meteens is sy hand op haar wang. “Vergewe my, maar daar lê ’n lekker bruin modderstreep tot by die punt van jou neus.”

Sy kyk hom in die oë, sien hoe die lag in al die plooitjies rondom sy oë gaan lê. “Dankie,” sê sy verleë.

“Wel, bloot ’n dankie gaan nie veel help nie. Jy skuld my jou naam en jou telefoonnommer. Maar wag, ons sal hierdie Parkrun eers moet klaarmaak. Dit gaan immers een wees wat ek nie gou gaan vergeet nie.”

Dis waar, dink sy toe sy langs hom inskuif. Gelukkig stap Kahlo flink saam. Wie sou nou ooit kon dink haar sussie se brak sal haar met so ’n oulike man laat kennis maak? Dit was beslis die moeite werd om vroeg op te staan.

Sy sal selfs vir Kahlo vir haar twee flenterknieë kan vergewe.

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.