Mieka keer betyds ’n slukkie wyn toe sy aan die lag gaan. 

Om te verstik, haarself te versmoor en dood te gaan voor haar troudag is nie haar idee van ’n lekker aand uit nie. 

Dis mos hoe ’n vrou voor haar groot dag moet voel, dink Mieka voor sy vir haar verloofde, Noah, glimlag.

Hulle het besluit om saam te kom uiteet voor hulle vanaand op verskillende plekke gaan slaap. 

Noah sit agteroor, sy bruin oë ernstig, en trek sy bier nader, maar hy neem nie ’n sluk nie. 

“Ons trou môre.” “Ek is die vrou in die wit rok as jy onseker is, die een wat laaste instap,” spot sy. 

Grappe is haar sekuriteitswapen – as sy ongemaklik raak, maak sy grappe. Die frons tussen Noah se oë en sy skielike erns maak haar waaksaam. “En Kiara gaan nie daar wees nie.” 

Mieka voel asof Noah haar ’n vuishou in die maag gegee het. Kiara. Die naam wat die afgelope drie jaar nie tussen hulle genoem word nie.

Haar beste vriendin, haar sielsgenoot. Die mens vir wie sy die liefste in die wêreld is. Die laaste mens wat sy ooit gedink het sy sal seermaak. Tot sy Noah ontmoet het. Kiara se Noah. 

Die aand toe haar praktiese vriendin hom ontmoet het, het sy met sterre in haar oë by hul woonstel opgedaag. 

Kiara. Die naam wat die afgelope drie jaar nie tussen hulle genoem word nie.

“Trouman, sê ek jou. As jy weet, dan weet jy: Hierdie man is myne; dit is die man op wie ek gewag het.” 

Mieka het ’n pak Dorito’s uit die kas gehaal, ’n bottel rosé en twee glase gereed gekry en seker gemaak haar Facebook-, Instagram- en Twitterprofiel is oop. 

En LinkedIn; sy wou darem seker maak die man kon ’n korsie bruin brood op die tafel sit. 

Ná ure se speurwerk het die man darem aanvaarbaar gelyk. Geen seksistiese of rassistiese aanmerkings nie. 

Hy het ’n werk gehad. Die enigste probleem wat Mieka gehad het, was dat hy ’n mooi man was. Nie aantreklik nie. Mooi. Die soort mooi wat jou jou naam laat vergeet. 

Hul ma’s het hulle met vier reëls die wêreld ingestuur: 1. Jy bou nie jou geluk op ander se ongeluk nie. 2. Vertrou jou instink. As jy weet, dan weet jy. 3. Vermy ’n mooi man as jy kan. Dis almal se man. 4. Pas mekaar op. “Hy is mooi,” was haar versigtige kommentaar. 

Dit het darem nie reg gevoel om die man af te skryf net omdat hy mooi is nie. Dis nie sy skuld nie. 

“Hy is, maar hy weet dit nie. Hy is so humble, Mieks. Ek het heelaand gewag vir die ek-is-die-beste-ding-op-aarde-glips, maar niks.” 

“Trouman, sê ek jou. As jy weet, dan weet jy: Hierdie man is myne; dit is die man op wie ek gewag het.”

Kiara het hul glase vol wyn gemaak en na die foto gestaar. “Jy moet eers jou toestemming gee, maar hy voel...reg.” 

Sy wat Mieka is, het hom eers ná vyf maande ontmoet. 

Kiara het hom vir ete na hul woonstel genooi, en toe sy die deur oopmaak, het sy geweet: Hy is haar toekoms. Maar dit mag nie. Hy was Kiara se droomman. 

Sy het heelaand geglimlag tot haar lippe styf was en haarself getroos dat hy haar glad nie eens raaksien nie. 

“Jy hou van hom, nè?” het haar vriendin haar ná ete gevra. “Ja, ek hou van hom.” Maar sy was versigtig om te veel tyd saam met hom deur te bring. 

Tot Noah haar een middag met: “Jy vermy my en ek weet hoekom” in Mugg & Bean gegroet het. 

Sy het humor gebruik. “Lees jy gedagtes?” Maar sy oë het nie gewyk nie. 

Hy kon diep kyk – het haar raak gekyk. “Ek val nie daarvoor nie. Ek weet hoe jy oor my voel, want ek voel dit ook. My ouers het gesê jy weet oombliklik as jy jou sielsgenoot ontmoet. Glo jy dit?” 

Mieka het versigtig haar koffie neergesit. “Ja, toe ek vir Kiara ontmoet, het ek geweet sy is myne.” 

“Sy is dit steeds, nè?” ruk Noah se stem haar terug na die hede en die restaurant. “Kiara is jou sielsmaat?” 

Kiara het hom vir ete na hul woonstel genooi, en toe sy die deur oopmaak, het sy geweet: Hy is haar toekoms. Maar dit mag nie. Hy was Kiara se droomman.

“Ja, ek is lief vir jou. Maar sy...” Sy neem ’n groot sluk wyn. “Ek weet. Ek het haar gebel.” 

Sy kyk in sy oë. “Wanneer? Wat het sy gesê? Hoe klink sy?” Noah vat haar hand. “Woensdag, nadat julle teruggekom het van die ontwerper af. My ma het gesê daar was ’n ekstra strooimeisierok. ’n Hippie-rok. Dis vir Kiara?” 

Mieka draai haar kop weg. Hoe verduidelik sy die begeerte om vir Kiara ’n rok te hê? Al weet sy haar vriendin sal nie daar wees nie? Ietsie om aan te vat – ’n soort memento. 

“Ek het haar werk gebel. Sy klink goed, steeds kwaad. Die gesprek was korter as ’n minuut.” Hy haal diep asem. “Ek dink nie sy gaan kom nie, Mieks.” 

“Ek weet, en ek weet die strooirok is geldmors, maar...” “Dis jou hoop,” wys Noah hoe goed hy haar verstaan. 

“Ek is baie lief vir jou en wil graag môre met jou trou. Maar as jy môre met my trou, gee jy dalk permanent jou vriendskap met Kiara prys. Ek moet weet..sal ek genoeg wees vir die volgende 30 jaar?” 

“Ek sal myself nooit vergewe dat ek Kiara seergemaak het nie. Maar ek is lief vir jou. Jy is een deel van my hart en Kiara is die ander. Ek weet nie of ’n halwe hart genoeg sal wees nie, maar ek is bereid om die kans te waag. Is jy?” 

Noah leun oor en druk ’n soen teen haar voorkop. “Ek is.”

Kiara. Die groen ikoon tart Mieka toe sy later op haar bed sit, haar slimfoon in haar hand.

“Oukei, druk die knoppie. Sy kan net die foon dooddruk,” wurg sy murg in haar pype. 

Mieka kyk na die twee rokke wat teen die hangkas hang, knyp haar oë toe en vee oor die groen selfoon. 

Hy kon diep kyk – het haar raak gekyk.

Eers dink sy dis haar verbeelding, maar ’n selfoon lui in die woonstel. In Kiara se kamer. 

Mieka stap na die deur. Sy maak die deur oop en skrik haar amper uit haar geloof. “Hel!” “Dis nou een manier om te groet. Hallo, Mieka.” 

Mieka, nie Mieks nie, dink sy. Maar sy kan nie glo haar beste vriendin staan voor haar nie. 

“Hallo? Hoe het jy ingekom? Wat maak jy hier?” Kiara hou ’n bottel wyn, twee glase en ’n pak Dorito’s in die lug. “Ek het in jou koskas gekrap. Kan ek inkom?” 

Woordeloos hou sy die deur oop. Kiara gaan sit op die punt van haar bed. Sy sit alles langs haar op die mat neer en begin van die wyn skink. 

“Van wanneer af drink jy rooiwyn?”

“Dis al wat Tops gehad het en ek was te lui om iewers anders te soek. Dankie.” 

Mika vat die glas en neem ’n groot sluk. Dié moet seker haar laaste glas vir die aand wees. ’n Babbelas op haar troudag sal haar dalk ’n titseltjie té rooi maak. 

“Wat maak jy hier?” Kiara neem ’n sluk. “Ek het my sleutel gebruik om in te kom. Drie jaar en jy het steeds nie die slotte verander nie?” 

“Dis ons woonstel; ek wou...” Mieka bly stil en draai haar kop weg.

Hoe pateties sal dit nie klink om te sê sy wag al drie jaar dat haar vriendin by die voordeur instap nie? 

Mieka, nie Mieks nie, dink sy. Maar sy kan nie glo haar beste vriendin staan voor haar nie.

“Noah het my verlede week gebel. Jy het vir my ’n strooimeisierok laat maak.” “Ja.” Sy wys na die hangkasdeur. “Dis mooi.” 

Kiara staan op en stap daarheen. Sy vee oor die vleeskleurige rok met 3D-lelieblomme daarop. 

Môre sal ’n bykomende blommekrans van mirre en laventel saam met haar eie opdaag. 

Mieka neem ’n sluk wyn. Nou of nooit. 

“Ek weet jy het my nie vergewe nie; sal my waarskynlik nooit vergewe nie. My lysie van aanklagte is lank: die verraad, leuens. Maar ek trou môre en ek wil jou bitter graag daar hê.” 

Kiara staan ’n rukkie stil. “Drie jaar gelede het ek gedink ek sal jou nooit vergewe nie. Ná ’n paar maande het ek gedink vergifnis sal natuurlik kom. Ek sal eendag opstaan en nie meer seer of teleurgesteld wees nie, maar toe Noah bel, het ek besef vergifnis kom nie vir almal outomaties nie. Jy moet daaraan werk.” 

Haar hart klop vinnig. “Wil jy daaraan werk?” Kiara draai om. 

“Drie jaar. Dis hoeveel jaar ek nie dinge...my lewe...met jou kon deel nie. Wanneer ek by die werk presteer het, wou ek jou WhatsApp. Wanneer ek ’n slegte dag beleef het, het tjips en wyn nie so lekker gesmaak nie. Ek het gedink hierdie verraad is ons breekpunt, maar ek was armer sonder jou. Jy is my suster, en al neem dit ’n rukkie, wil ek jou kan vergewe.” 

“Jy was die eerste een wat ek wou bel toe Noah my vra om te trou. En ek kon nie.” 

Kiara staan nader. “Van nou af kan jy, want ek wil hê jy moet deel wees van my lewe. As ek eendag verloof raak, wil ek jou kan bel, sonder huiwering.” 

Hoe pateties sal dit nie klink om te sê sy wag al drie jaar dat haar vriendin by die voordeur instap nie?

’n Glimlag speel om haar vriendin se mond. “Maar aangesien ek soveel grasie aan die dag lê, voel ek dis net reg as ek ons rusies die volgende 10 jaar wen. Een van jul kinders moet na my genoem word, eerste naam. En jy skuld my ’n baie, baie duur handsak. Deal?” 

Sy hoef nie eens daaroor te dink nie. “Deal.” 

Mieka tree versigtig nader en maak haar arms oop. 

Kiara huiwer ’n oomblik voor sy haar vasdruk. Die ander helfte van haar hart is tuis.