Dit was die inperking se skuld. Of dalk was dit eerder George Calombaris en sy trawante se invloed. Hoe dit ook al sy, al wat Alma geweet het is dat Pieter byna drie maande lank vasgevang was voor die slim-TV en die Amazon Prime-intekening wat Klein-Pieter vir hulle aangeskaf het “om Pa uit te kwaad te hou” terwyl die kantoor gesluit was tydens die inperking.

MasterChef Australia. Sy het ook so ’n bietjie gekyk . . . al was daar níks wat jy haar oor kosmaak kon leer nie. Pieter en die kinders het al 25 jaar lank elke aand hulle borde skoon geëet. Bygesê: Dit was nou niks te fênsie nie. Rys, vleis en aartappels. ’n Boud op ’n Sondag met bykosse. Nou en dan ’n jêmrol vir poeding.

Met Piet se verjaarsdag het sy natuurlik uitgehaal met sy gunsteling: saggekookte afval met karamelpatat volgens sy ouma se resep. Maar sy het nog nooit ’n klagte gekry nie. Beslis nie van Pieter af nie. Dié kon nie eens ’n eier kook nie. As sy die dag siek was, het hulle van toebroodjies en kaas geleef. “Ek is doodtevrede met ’n broodjie,” het hy gemor. “Te veel ryk kosse is sleg vir jou gestel.”

Dié MasterChef-ding is ook maar net tierlantyntjies met min vleis op die bord. G’n mens sal versadig voel van net blaartjies en souse nie. Een week maak hulle skilferkors met vla (galaktoboureko, sê Pieter) en die volgende week ’n éclair-toring en dan moet hulle sommer ’n hele swaardvis afslag.

“Ek hoop nie hulle gooi alles weg wat hulle so kook nie,” het sy gemor. “Die hele Australië sal nie daai eclair-stapels deurwerk nie.”

Pieter was dalk so effens depressief as gevolg van die inperking, het sy gedink. Ná die eerste paar episodes was sy reg om te gaan slaap, maar Pieter wou nog so ’n rukkie langer kyk. Die volgende oggend het sy hom op die bank gekry waar hy aan die slaap geraak het en daar het hy gebly, tot die finale. Die meisiekind het gewen met ’n peperige pawlowa met beetroomys. Béét! 

“Wat is nou lekker daaraan?” het sy gesnou, maar Pieter was bewoë. Sy kon sweer daar was ’n traan in sy oog toe die konfetti uit die dak val. “Ag, dalk is dit lekker. Ons moet dit probeer,” het hy gesê. “Die resepte is alles op Google.”

Dit moes toe nou die einde van die saak gewees het, maar toe stel Pieter voor hulle kyk nog so een of twee reekse . . . net vir konteks. 

“Hoeveel reekse is daar dan nou?”

“Twaalf.”

Genade. 

So 'n week of wat (en reeks ses) later begin die deurklokkie lui. ’n Yuppiechef-aflewering. “Wat op dees aarde is dit?”

“O, elke huis moet ’n pizzaklip hê,” het hy aangedring. ’n Pizzaklip. En toe canale-doppies. En ’n roomysmaker. ’n Shirogami-mes. Die bokse het bly inrol.

“As die strande oop is moet ons tog ’n slag duinkos invorder,” het hy haar ingelig. “Dis nou vreeslik gewild.”

Soggens het hy vroeg die tuin ingevaar en die beet- en spinasieblaartjies afgeknip net soos dit begin opkom. “Microgreens,” het hy verduidelik. Maar die laaste strooi was toe hy saans soos ’n brommer om haar kospotte begin draai het. “My engel, as jy die vleis eers so ’n bietjie marineer in ’n rooiwyntjie dan is dit baie meer smaakvol.” Of: “Liefling, jy moet tog nie die hoender met ’n skerp vurk omdraai nie! Al die sappe loop uit!” 

Op vlak 3 kon hulle darem ’n slag weer ’n take-away kry maar hy wou niks weet nie. “KFC? Nooit! ’n Mens moet die hoender ontbeen en dan in karringmelk week,” het hy haar ingelig. “Baie lekkerder.”

Hy het die koskas ingevaar en ontevrede begin rammel. “Is dit dan ál speserye wat ons het?” Hy het skoon verbaas gelyk. “Waar is die sumakbessies? Gerookte paprika? Saffraan?” Ook dadelik vort met die masker op en ’n lysie “noodsaaklike items” en kom terug met twee sakke klangelende bottels.

“Ons sal eers ’n speseryrak moet kry, Engel. Gordon Ramsay sê ’n mens kan nie kook met ’n deurmekaar werkruimte nie.” 

Hy het dadelik begin timmer en werskaf om die speseryrak aanmekaar te slaan. Die ou staalpotte is ook nie goed genoeg nie. “Gietyster, my liefie.” Gelukkig het hy met leë hande van die Le Creuset-winkel afgekom. “R3 000 vir ’n pot? Nee, wat.” 

Sy het gehoop dit was toe die laaste kap van die byl, maar toe gooi hy wragtag al hul houtlepels uit. “Silikoon-spatels, liefste!” het hy aangedring en ’n klomp reënboogkleurige spatels uit die laai geruk. “Houtlepels is uit die oude doos.” 

Gewone groente kom ook klaarblyklik uit dieselfde oude doos, want Pieter koop allerlei vreeumde knolle en vrugte. Reënboogwortels en suiglekkerstreepbeet, draakvrugte, oliebolperskes en swartperstamaties. “Kumaties,” het hy haar ingelig. “Heerlik.”

Sy het dit maar opgesny vir slaai en saam met skaaptjops voorgesit. Pieter het natuurlik ’n hele skouspel gemaak van die etery met oordrewe kreune en tweede en derde porsies. Die skaaptjops het hy net so effens met sy vurk rondgestoot. “Jy weet, skat,” het hy versigtig begin. “As ’n mens jou skaaptjoppie met so ’n paar fyngemaakte okkerneute en basiliekruid bedek, is dit heerlik. Aromat is vol allerhande byvoegsels en namaaksels en dit net vir ’n umami-smakie.”

Kry ’n mens ooit okkerneute in Suid-Afrika? het sy gewonder.

“As jy dit so wil hê, moet jy dit maar self kook,” het sy haar vervies. “Ek hou van Aromat op my vleis. En ek weet nie wat umami is nie, maar ons twee kon al amper 50 jaar lank daarsonder klaarkom.” 

“Dis maar ’n nuwe smaakprofiel, skat,” het Pieter protesteer. 

“Jy wat nie eens soesji saam met my wil beproef nie.” 

“Omdat vis my sooibrand gee.” 

Alma is darem nie een wat kwaad bly nie. Sy het toe met die grootste liefde die week van sy verjaardag met die slaghuis reëlings getref vir afval en skaapkop en al die bestanddele gekoop om ’n reuse-malvapoeding aanmekaar te sit. Dit was hul tradisie, al van hul wittebroodsdae af. Soos die noodlot dit wil hê, stap Pieter byna terselfdertyd as sy by die deur in – met ’n pakkasie. “Vries dit maar eerder, skat. Vanjaar kook ék vir ons!”

“O so?”

“Kammossels met blomkoolpurée. Bloukaas-soufflé vir die voorgereg. En ’n beef wellington as die hoofgereg. Vir die poeding, panna cotta met tuisgemaakte roomys. Jy kan vanaand maar lekker agteroorsit met ’n glasie rooiwyn en ontspan. Ek sorg vir alles.”

“Is jy seker?” Alma het die storie so ’n bietjie bekyk. “Dis nogal baie om so op ’n slag te takel.”

“Ek weet wat ek doen, Alma.” 

“Kammossels is duur om te mors.”

“Ek het gekyk hoe Gordon Ramsey se mense dit in Hell’s Kitchen doen. Dis nou al muscle memory, skat.”

Die aand begin Pieter werskaf. Eers word die spul kammossels op ys gesit om makliker oop te maak terwyl die melk en die gelatien week, die roomysmaker draai en die oond voorverhit. Dis eers toe hy by die skilferkors kom dat sy ’n geswetsery uit die kombuis hoor. Alma het self haar deeg in ’n klaargemaakte rol by die supermark gekoop, maar Pieter wou natuurlik niks hoor van klaargemaakte deeg nie. “Dis sommer luiheid.”

Die hitte van die dag (en die voorverhittende oond, wat hemelhoog gestel was) het natuurlik die botter gesmelt en die deeg het aan alles gekleef, insluitend die wynbottel waarmee Pieter (soos Jamie Oliver) dit probeer platrol het. Meel en stukkies botter het reg oor die toonbank gesaai gelê. “Gee daar nog so ’n velletjie of twee gelatien aan, Almie,” het hy vieserig gevra. “Dié hitte gaan my poeding kelder.” 

“Gooi sommer ’n bietjie jellie by die poeding. Dit sal dit gou-gou stol.”

“Winkeljellie? Ga.”

Vyf minute later kerm hy: “Hoekom wil die roomys nie styf word nie?”

“Wat het jy ingegooi?”

“Net so ’n knertsie.”

Die bottel wyn is intussen oopgemaak en daar is al meer as ’n knertsie weg en seker ook nie net in die roomys gegooi nie, het sy gedink.

“Het ons dalk nog iewers gelatien, skat?” Pieter het vervaard in die kas gekrap. “Die panna cotta doen nie wat hy moet nie!” 

Na so ’n uur kon sy hoor hoe die wynbottel die onderkant van die asblik tref.“Kos is op die tafel,” het Pieter gemor. Hy het heeltemal verlep gelyk. Die tafel het darem mooi gelyk – Pieter het hul troubordjies en wynglase gedek, want “ ’n mens eet met jou oë”, volgens hom – maar die kombuis was ’n ramp. ’n Vuil menger, klitser en ’n stapel mengbakke in die wasbak, ’n taa i vloer en eierdoppe wat bo-oor die toonbanke kwyl. 

Dis nou jammer ’n mens maak nie ook skoon met jou oë nie, het sy vieserig gedink. Die rubberige kammossels het binne-in ’n blomkoolpappery gedobber en die soufflé het amper dadelik platgeval. “Dit smaak darem nie sleg nie,” het sy probeer troos, want sy kon sien Pieter het maar gedemp geëet.

“Amper soos ’n bloukaas-muffin.” Maar die kors rondom die beef wellington het soos ’n nat lap van die vleis afgeval. Die deeg was rou en die vleis oorgaar. “Ons kan dit in die mikrogolf probeer sit,” het sy aangebied. “Dalk ’n sousie bo-oor.” 

“Oor ’n filet? Nooit.” 

Die roomys, helaas, was souserig genoeg en moes (knertsie en al!) by die wasbak weggespoel word. “Maar die panna cotta het gestol,” het hy triomfantelik aangekondig. “Hier is hy nou!”

Dit het Alma glad nie verbaas nie. Daar was genoeg gelatien om die Oranjerivier te stol. Selfs Pieter kon dit nie afsluk nie. Hy was tjoepstil toe hulle die skottelgoed takel, hoewel hy die skoon potte baie harder as nodig in die afspoelbak neergegooi het. Hulle het eers laatnag in die bed gekom en daar was nie eens sprake van ’n episode  MasterChef nie.

“Wat kook jy vir ons môreaand?” het sy so liefies gevra. 

“Skat,” het hy soetjies geantwoord. “Dit sal darem vreeslik jammer wees as ons plaaslike restaurante hul deure moet sluit as gevolg van die inperking. Hulle trek swaar.” 

“Beslis.”

“En ek is hoeka lus vir ’n stukkie KFC.” 

  • Innibos Storieskryfkompetisie Is jy ’n aspirerende of gevestigde skrywer? Wen prysgeld van R5 000 vir jou kortverhaal. Die wenverhale sal oorweeg word vir publikasie in Huisgenoot. Inligting en die inskrywingsvorm is op www.innibos.co.za beskikbaar of stuur ’n e-pos aan skryf@innibos.co.za.
Innibos
Innibos
  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.