Lien gewaar die waterlikkewaan die eerste oggend van haar verblyf. Vroeg, voor die skroeiende son, toe sy die groentetuin se sproeiers gaan oopdraai. Langs die kanaal, ingedagte met haar een hand op die kruk geleun, staan sy met die mandjie eiers in die ander hand. Daar is ses eiers in die mandjie. Die res het Lien in die hoenderhok gelos, vir die likkewaan.

Haar pa het altyd gesê die voëls en die insekte, die velddiere en die mens, elkeen verdien sy deel. Wanneer hy in Desember die nette oor die lietsjiebome trek, sodra die vrugte ryp word, moet Lien weet: die een helfte is vir ons, die ander helfte is vir die voëls.

Oor die deinings van die kanaalwater weerkaats die vroegoggendson in duisende edelstene. Die kabbeling, die voëlgesang, die vryloophoenders se gesellige gekloek – haar kalm gemoed – is versteur.

Die likkewaan hou haar dop, half uitdagend. Lien sak op haar hurke af. Sy sit ongemaklik. Dit lyk asof die gedierte nie kan besluit nie – die ruigtes in, of water toe? Die likkewaan suig sy lyf vol lug, staan op sy agterpote en blaas uit sy keel, ’n eienaardige fluitgeluid wat Lien laat terugdeins. Die beweging versteur die likkewaan. Hy tas met sy gesplete tong in die lug, stoot hom hoër op die lang pote met die omkrulnaels.

Hy mik-mik skelm in haar rigting, kom met ’n kammastormloop, swenk terug, en gaan plons met ’n dreigende sweepslag van die geskubde stert in die kanaal. Die reuse akkedisagtige dier verdwyn binne sekondes in die water.

Lien se hart jaag in haar keel. Met die regop kom, gee haar knie onder haar mee. Sy swets, probeer haar val in die ruigtes stuit, maar dit is te laat. Lien tuimel agteroor in die steekgras op die kanaalwal. Die kruk val buite haar bereik, die eiers flenters.

Die gasteplaaseienaar waarsku Lien voor die tyd. “Hier is ’n waterlikkewaan. ’n Eierdief. Dis die werkers se skuld wat die hoenderhok gebou het. Kyk nou daar. Mos totaal agterstevoor. Die ingang na die kanaal se kant toe. Sal ta mos nie ’n gegewe perd in die bek kyk nie. Jy moet ligloop, hy is ’n skelm.”

Lien rem aan haar masker. Sy voel benoud. “Ek sal uitkyk vir hom. Dankie, Gerda.”

“Wees rustig. Ons ontsmet die huise voor nuwe gaste hier aankom. Hier was meer as ’n maand laas mense. Net oor Kersnaweek. Ek het ontsmetmiddels in die kombuis gelos.”

“Dankie, ek het ook saamgebring.”

Gerda bekyk die kruk onder Lien se oksel. “Gaan jy op jou eie regkom?”

Dun rooi wenkbroue in sekelmane bo haar groen kraaloë opgetrek.“Ek is nie ’n invalide nie,” brom Lien. Sy steun op haar linkerbeen, vryf haar denimlangbroek glad. “My spiere is sterk van die rehabilitasie. Jy hoef jou nie te bekommer nie.” Ligweg gesteur. “Solank ek stilte en vrede het, is ek gelukkig.”

Lien swyg oor die boekaanbod van die Kaapse uitgewer. Skryf, Lien, die lesers sal jou storie opslurp. Wie gaan so ’n selfhelpboek kan weerstaan? Pragtige donkerkop, Springbokdriekampatleet, in die see by Valsbaai, aan die oefen vir die Olimpiese Spele, toe die haai haar aan die bobeen beetkry, weefsel en spier afskeur.

Lien het verbete terugbaklei, weggeskop, gegil vir ’n ou wat naby op ’n roeiski was. Dié het met die spaan op die water geslaan en die haai het omgedraai, weggeswem. Sy sou haar doodgebloei het was dit nie vir die ou op die roeiski wat kopgehou het nie.

Die “opkomende steratleet se doodstryd” lok wêreldwyd belangstelling in die media. Joernaliste en bewonderaars stap ’n ent saam op Lien se lang herstelpad, maar verloor eindelik belangstelling toe ’n volgende, meer sensasionele storie opduik.

Nog later is daar een of twee berigte oor Lien se verhouding wat misluk het. “Atleet en geliefde se paaie skei ná tragiese ongeluk,” of iets dergeliks, ewe onoorspronklik.

Dit skeel Lien min. Die uitgewer skets die scenario vir Lien in ’n nabyskoot. ’n Storie wat begin met ’n mooi vrou se stryd teen swaarkry, boei die massa. Veral as die vrou onkonvensioneel mooi is soos jy, Lien. Nie mooi in die moderne sin van die woord nie, nie brandmaer met bultende borste, boude en lippe nie, nie die stereotipering, die selfie-verering in die sosiale media nie. Dis nie jy nie Lien, jy het nie lipstiffie nodig om mense se koppe te laat draai nie.

So geheel onbewus soos jy is van jouself: aantreklik, ekspressiewe hande, binnevrede. Dís wat mense se belangstelling met die eerste oogopslag prikkel. Dis wat ek soek. Skryf jy, en kry iemand wat vir jou treffende foto’s kan neem. Dalk van jou been en die arm? Smaakvolle kontrasfoto’s, ja. Voor en na.

Gerda bring Lien terug na die hede. “Die woud kan alleen raak, jong. En hier’s nie ’n TV nie. Jy kan gaan swem by die waterval. Al die aktiwiteite is op die brosjure in die huis.”“Ek sal oukei wees, regtig.”

Lien is tevrede dat daar nie ’n TV is nie. Bly oor die stilte. Vier jaar gelede toe Estelle agter iemand anders aan is, het sy die TV saamgevat. Lien mis nie vir Estelle nie, en nog minder mis sy die grootskerm TV. 

Gerda draai om, druk haar sigaret in die asbak op die toonbank dood. “Hier kom nie juis mense nie, maar hier’s beeste en perde en kleinwild, en moenie van die likkewaan vergeet nie. Hy’s elke dag agter die eiers aan. As jy net vroeg die hoenders kan voer, ons is nogal besig met die melkboerdery en die kaasfabriek. Daar is twee of drie mense in die gastehuis, maar ek moet nou eiers by die koöperasie koop.”

Lien sleep haar tas nader. Sy is moeg gestaan, dit kos kners op die tande om regop te bly. Sy smag na ’n pynpil. Sy sal die selfsorg rietdakhuis se uitgestrekte blom- en groentetuin natlei, die eiers loop uithaal, die hoenders kos gee. Vir eers het sy genoeg geld. Die versekeringspolis het uitbetaal, vir haar nuttelose ledemaat het sy ’n taamlike bedrag ontvang. Sy sal later besluit hoe sy haar bemarkingsgraad sal gebruik.

“Kom, ek gaan wys jou. Die besproeiingstelsel ook.” Gerda steek in die loop ’n sigaret aan, beduie daarmee. Haar masker swaai komieklik aan haar linkeroor. “Hier gaan net een ander mens naby wees. Sy kom eers môre. Haar naam is Riya; sy gaan laer af met die pad in die ander kothuis bly.”

Lien kug van die rookwolk.“Skies jong, help vir die senuwees. Sy het ook vir ’n selfsorghuis gevra. Oor die hond.”

“Die hond?”

“’n Groot gedierte. Glo aangeneem. Die eienaar is oorsee, het geëmigreer, en nou’s daar nie plek vir die hond in die Londense woonstel nie. Tot ’n foto van die dier gestuur. Sy neem fabulous foto’s.”

Lien glimlag. “Ek hou gewoonlik meer van die honde as van hul eienaars.”

“Klink my sy wil eenkant wees. Skryf boeke.”

“O. Watter soort?” terwyl sy die voordeursleutel by Gerda neem.

“Seker rillers.”

Lien glimlag. “Nou goed, ons praat môre.” 

Die stilte bekruip Lien vroegaand. Sy maak vir haar ’n beker koffie voor sy by die rekenaar gaan sit. Drink die koffie eers stadig klaar voor sy die rekenaar oopslaan.“Ek is hier,” tik sy. “Die plek is soos ek my dit voorgestel het. Net nog stiller.”

Sy hoef nie lank op Chill_300 se antwoord te wag nie.“Ek is bly jy het besluit om dit te doen.”

Lien leun terug in die stoel. Haar hart is ’n wilde bok wat dreig om haar te verlaat. Haar hart wil met die pad af hardloop tot diep in die woud. Haar hart het nie remme nie. Een nag laat het Lien toegegee aan die bewing in haar binneste, die slapeloosheid, die pyn van Estelle se verlating. Die fisieke pyn, altyd kloppend in haar been. Soos vele ander in die dae van Covid-19 het sy by ’n aanlyn maatsoekwebtuiste aangesluit. Deur honderde foto’s geblaai, tientalle profiele bekyk, eindelik op Chill_300 besluit. 

Sy het twee dinge byna gelyk geweet met Chill_300. Aan die foto van die vonkeloë, die laggende mond, die eerlikheid van die trefreël – “Ek is op soek na ’n minnares, ’n vriendin, ’n metgesel, met wie ek die goeie oomblikke van die lewe kan deel” – wis Lien dat Chill_300 weet wat sy wil hê. Ná die eerste paar boodskappe weet Lien met nog groter sekerheid sy en Chill_300 herken mekaar uit ’n vorige bestaan. “Dit was ’n wyse besluit,” tik Lien glimlaggend, voor sy opstaan om die koffiebeker in die opwasbak te gaan uitspoel.

Wanneer sy gereed is om te gaan inkruip, loer Lien vir oulaas of daar ’n boodskap in haar inboks is. Chill_300 het die gewoonte om vir haar ’n nagsê boodskap te los. “Soms is dit nodig om weg te kom van die bekende en van ander se verwagtings van jou, maar jou uitgewer het die regte idee. Soveel mense gaan inspirasie put uit jou verhaal. Jy het baie verloor. ’n Blink toekoms in jou sport, droomdeelname aan die Olimpiese Spele. Jy bly my inspirasie. Sien jou vanaand in my drome.”

Lien beur orent, trek haar half op aan ’n droë graspol. Dit voel wragtig of sy haar wind uitgeval het. Hoe de hel kom sy vandag hier op sonder die kruk? En waar is die likkewaan?’n Nat gesnuffel in haar nek laat Lien instinktief terugdeins. ’n Groot goudbruin hond se swaaiende lyf blok vir ’n oomblik die son uit.Lien herken die laggende gesig wat oor haar buk.

“Dit lyk of jy hulp nodig het,” sê Chill_300.

“Jy’s vroeg, en jy’t nie gesê jy het ’n hond nie,” antwoord Lien met ’n hart wat wild galop.

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe