Die koekmeel plof met ’n dowwe geluid tussen Emma se grys pantoffels neer. “Tannie Emma, is jy nog daar?”

Johan se stem klink ver terwyl hy met haar praat. Emma draai om en staar geskok na die selfoon wat op die kombuiskas lê. Dit is makliker om die luidspreker aan te sit wanneer mense bel terwyl sy vir haarself kos berei.

Sy trap rukkerige meelspore tot by die foon en druk die rooi knoppie. Dan sit sy die foon heeltemal af en staan lank nes Lot se vrou langs die dooie instrument. . . . Sy sê sy is jou kind . . . geboortedatum 20 September. Hét jy ’n baba weggegee in 1966? Johan se woorde eggo deur haar bevrore brein en stamp stormram-hard teen haar hart.

Daardie betrokke gebeurtenis was vir donkiejare met ’n reusesleutel toegesluit, maar nou rasper sy woorde ou wonde van vooraf rou. Emma trek ’n houtstoel uit en gaan sit by die handgemaakte tafel in die kombuis.

Haar vereelte vingers streel sagkens oor die rooshoutblad van die tafel wat haar pa in 1942 gemaak het. Dit was haar geboortejaar. Elk van haar ses broers en susters het ’n handgemaakte meubelstuk by hul pa as geskenk op hul 16de verjaardag gekry.

Leef Maarten dan nog? Maarten, die man met die soel blou oë en “moeder”-tatoeëermerk op sy bo-arm, het haar no. 6-voete onder haar uitgeslaan toe sy hom die eerste keer ontmoet het. Natuurlik was hy nie goed genoeg vir ’n Reilly-nasaat nie. Hy was ’n masjinis en deel van ’n groep motorfietsryers.

Hoe sou hy vir haar kon sorg op sy klein salaris met so ’n spandabele leefstyl? Haar ouers se beskuldigende woorde, natuurlik. Haar pa het sy no. 11-voet neergesit en Maarten die ou mynhuis belet, maar niemand behalwe sy en die blouoog motorfietsryer het geweet dat daar al vir drie maande ’n baba onder haar bors aan’t groei was nie.

“My werk het my verplaas. Ek moet reeds eerskomende Maandag by my nuwe kantoor aanmeld,” was haar leuen op ’n vroeë herfsdag aan haar valkoog ouers. As jy vir die spoorweë gewerk het, was dit ’n gebruiklike gebeurtenis, en niemand in haar ouerhuis was juis agterdogtig oor haar aankondiging nie.

Dis net tydelik, het sy verder vir hulle gejok. Sy moes iemand oplei en dan sou sy weer terugkeer. Maarten se familie by hul nuwe tydelike tuiste was onder die indruk dat hulle twee getroud was, en hulle het as man en vrou onder sy peetouers se dak saamgeleef.

Die dag van hul baba se geboorte was almal in rep en roer en die vroedvrou is laat haal toe Emma se kontraksies sterker begin word het. Die baba het brug gelê, en Emma is na die naaste hospitaal gejaag.

Die gebeure daarna is ietwat vaag, maar die dokter se woorde sou vir jare by haar spook. “Ons moes jou baarmoeder verwyder. Dit was geskeur. Ons is jammer.”

Toe Emma vra om haar baba te sien, het sy gehoor dat sy reeds drie dae gelede saam met haar pa huis toe is. Sy was onder verdowing gehou om haar liggaam kans te gee om oor die ergste skok te kom. En ná daardie drie dae se niks weet, was haar lewe nooit weer dieselfde nie.

Die ou mense was heel verstom toe sy per huurmotor by die huis opdaag, want Maarten het twee dae gelede sak en pak met die baba verkas.

“Jy lyk anders.” Haar ma se neutrale woorde toe sy weer by haar ouerhuis opdaag. “Daardie werk is nie goed vir jou nie. Hoekom kyk jy nie maar vir iets anders nie?”

Emma die Vrolike met die sagte hart en lippe word sedert daardie maand Emma die Spook. Haar liggaam was aanwesig in die hede, maar haar siel het bly soek na die baba wat by haar gesteel is. Van haar kind en Maarten was daar geen spoor nie. Sy het oral navraag gedoen, maar die heelal het hulle heel ingesluk.

Gedagtes het haar getart, gemartel en stadig die lig in haar groen oë verdoof. Die soeke na haar kind het haar ook stadig van haar sinne beroof en die jaar daarna in ’n inrigting laat beland.

Sy kon vir geen van haar onmiddellike familie van die baba vertel nie. Haar pa, ’n stoere Ier met Katolieke waardes, sou haar summier uit die huis gesmyt het. En haar ma sou by hom gestaan het ter wille van vrede in die huis. Dit het hulle reeds van kindsbeen af geleer.

Mettertyd het die intense verlange en smagtinge verdof, maar haar hart ruk steeds as sy ’n vrou sien wat na haar of Maarten lyk. En nou bel Johan haar en vertel dit vir haar! Sy vryf oor die foon en wonder of sy hom moet terugbel. Sê nou dit is haar kind? Sy tel die foon op. Sê nou dit is nie? Die foon beland weer op die tafel. Johan sou sekerlik behoorlik ondersoek ingestel het voor hy haar gebel het, sou hy nie? Hy is immers ’n prokureur.

Wat . . . Klop-klop-klop!Emma sug en staan op. Dit is dalk Maria, die vrou wat een keer per week opdaag om haar hare ’n bietjie te kom versorg. Op amper 80 is haar arms nie meer lus om vir lang rukke in die lug te hang om die takie te verrig nie.

Johan trek sy das van sy keel af weg en tree oor die drumpel toe ’n bleek Emma opsy staan. “Kom sommer kombuis toe,” mompel sy en loop vooruit. “Moenie vra nie,” mompel sy weer toe hy met opgetrekte wenkbroue na die koekmeelontploffing op die teëls kyk.

“Ek gaan nie doekies omdraai nie. Die vrou sê haar pa se naam was Maarten en haar ma Louisa. Sy het onlangs uitgevind dat Louisa nie haar biologiese ma is nie omdat sy ’n nier vir die vrou wou skenk en die DNS-uitslae het bewys dat die vrou nie aan haar geboorte kon gee nie. Louisa moes toe met die waarheid vorendag kom.”

“E-en Maarten?”

“Hy is dood. Laas jaar. Aan ’n covidverwante siekte.”

Emma voel vreemd genoeg niks toe sy dit hoor nie. Haar jarelange woede is eindelik geblus. Daar, by die kombuistafel, vertel sy vir Johan presies wat daardie dag gebeur het. Sy mond hang oop toe sy klaar is.

“So ’n . . .”

“Juis,” glimlag Emma toe Johan ’n paar lelike woorde uitspoeg.

“Hoe het tante al die jare met so ’n geheim oorleef?”

“Sommige dae vra ek vir myself daardie selfde vraag, Johan. Maar hier is ek steeds,” sê sy met ’n moedige glimlag. “En ek kan nog glimlag.”

“Wat wil tante doen?”

“Haar sien, natuurlik! Sal jy dit reël?”

“Hier?”

“Asseblief. As ek van skok aan ’n hartaanval beswyk, wil ek in ’n bekende omgewing dood opstaan.”

“Niemand gaan doodgaan nie. Jou hart gaan jou nog 100 jaar oud laat word,” raas hy.

“Ek reël alles,” sê hy en soengroet haar.

Drie dae later staan haar dogter voor haar. Réze is beeldskoon. Dit is die eerste gedagte wat deur Emma se kop gaan. Albei vroue huil op die ou huis se ruim voorstoep en hou mekaar vir ’n lang ruk styf vas.

“Jy lyk net soos ek toe ek jou ouderdom was,” fluister Emma en haak haar arm deur haar kind s’n. “Kom binne!”

“Ek kom later terug,” kug Johan en maak homself skaars.

“My ander ma het hierdie vir my gegee toe sy hoor wat ek beplan.” Réze stoot ’n dagboek oor die tafel. “Ek het dit gisteraand gelees, en ek dink dat ma dit moet lees. Maar ek moet ma waarsku: Dit is skokkend! Ek het die belangrikste inskrywings gemerk met plaknotas, so lees van daar af terwyl ek vir ons koffie maak as dit oukei is.”

“Natuurlik,” glimlag Emma.

Sy kan nie ophou om vir haar kind te kyk nie. Die inskrywings vertel hoe Maarten in die drie dae wat sy onder verdowing was met hul baba by haar ouerhuis opgedaag het om hulle so te probeer oorreed dat hulle twee kan trou.

Haar pa het geweier en hom beveel om die buite-egtelike telg van sy eiendom te verwyder. En hom boonop gedreig as hy dit sou waag om met sy dogter te trou, sal hy sy kind en Emma nooit weer sien nie. Haar ma het soos gewoonlik bankvas agter haar man gestaan.

“Hoe kon hulle weet van my kind maar my niks daarvan sê nadat ek teruggegaan het huis toe nie?”

Réze druk haar ma se hand en sit twee bekers koffie op die tafel neer terwyl Emma verder lees. Die gemerkte inskrywings strek oor ses jaar. Daarin skryf Maarten hoe hy eindelik besluit het om ’n nuwe lewe en gesin met sy dogter en ’n ander vrou te skep; weg van die vyandigheid van Emma se ouers wat ook geweier het om vir hom te sê waar sy was. 

Dan is dit hoekom haar ma daarop aangedring het dat sy werk in ’n ander provinsie soek. Ná die laaste inskrywing sit Emma die dagboek neer. “My hele lewe was een groot leuen.”

“Myne ook,” glimlag Réze hartseer. “Maar die dae van wonderwerke is nog nie verby nie.”

“Was jy darem gelukkig as kind?”

“Ek was, maar vreemd genoeg het dit altyd vir my gevoel asof ek iemand mis. En nou maak dit sin. O, voor ek vergeet . . .” Réze haal ’n pakkie uit haar handsak. “Gelukkige Moedersdag!”

Emma se hart voel of dit vir die eerste keer in haar lewe sedert haar kind se geboorte vrylik klop. My eerste Moedersdaggeskenk. “Is hierdie my kleinkinders?” vra sy bewerig terwyl sy na ’n geraamde foto staar.

“Hulle is. En sodra Ma oor die ergste skok is, sal ek hulle bring om vir hul ouma te kom kuier.”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier vir meer inligting.