Waar ek grootgeword het, kraai die werfhane soggens sodra die son opkom.

Betaamlik. Trots. Betyds. Nie soos my buurtannie se hallelujagesig wat begin kraai sodra die straatligte ná beurtkrag weer aangaan nie.

Ongeag die tyd. Luidkeels. Afgewissel met sulke kort covid-19-kuggies. Telkens draai ek op my ander sy. Vannag roggel die swerkater op ’n deskantnoot.

Iets moet gedoen word.

Oorpluisies, oorfone en bottoe vensters werk nie.

Nie weer gaan ek moeg opstaan, heeldag beneuk by die werk wees en saans saam met die normale hoenders in die bed kruip nie, my sosiale lewe in sy maai.

Ek rol uit die bed en slof badkamer toe.

Twee Panado’s. Water. As dit nou inskop, behoort ek die 30 gesiggies in my klas om halfagt te kan trotseer.

Miskien moet ek die TV-kamer beproef tot sesuur toe. ’n Entjie verder van die haan se gejubel af.

Met my nesskroppery op die rusbank val my oog op my huismaat se skootrekenaar wat skielik aangaan toe ek per ongeluk daarteen stamp.

Dit staan oop op die koffietafel. Ek kyk seker verkeerd.

Tinder? Regtig? Nee! Martie en Tinder kan nie in dieselfde sin genoem word nie.

My liewe Dooie Dorie van ’n huismaat sal nooit iets so banaal soos Tinder aandurf nie. Sy is immers die kerk se skriba.

Ek loer na haar toe kamerdeur oorkant die TV-kamer. Sy slaap dwarsdeur alles. Harde musiek, donderweer en, bo alles, selfgesentreerde, kraaiende haantjies.

Waarskynlik omdat haar gewete so skoon is. Dít gee my die waagmoed om haar skootrekenaar nader te trek. Dis oop by “Tinder Cape Town profiles” – vir volwasse Afrikaanse enkellopendes.

Ek stalk skaamteloos die foto’s van dié in wie sy belanggestel het. Daar’s ’n Henry (duidelik te Engels), ’n Ben (te oud), ’n Simon (daardie sigaar!), ’n Fransie (te gemmer) en ’n Johan du Preez – 26, argitek. Geen foto nie . . .

Die Johan op wie ek in gr. 9 my hart verloor het? Wat in my eerste jaar my hart gebreek het?

Met wie ek al vyf jaar lank geen kontak het nie? Op Tinder! No ways!

Wat dan van sy verloofde? Sou hy nie Australië toe trek agter die tert aan nie? Het hy ’n Facebook-profiel? Instagram? LinkedIn? My kop begin maal. Slaap is vir die voëls.

Twee uur later is my hoofpyn heeltemal vergete.

Johan is toe waaragtig ’n haan onder die henne, maar inderdaad single volgens sy relationship status, werk hier in die Kaap en mooier as ’n mens.

Matraskoors, maar met die coronavirus in die lug, durf ek nie kanse waag nie. Die hoof sal verstaan. Vandag het ek baie dinge om uit te sorteer.

Soos die haan. En my lewe.

Ek whatsapp die oorgretige aflosjuffrou.

En die hoof. Dan bel ek die polisie met ’n klag van rusverstoring.

Intussen kry die haan oënskynlik ’n epileptiese toeval. Of nie. Hy’t net asemgeskep vir die volgende bloedstollende solo.

Shut up, Karel!” gil ’n buurman.

Sy stem klink hees. Soos van te min slaap. So Haan het ’n naam. Dit begin voel soos om ’n hansskapie slagpale toe te ry.

Ek moet net nie nou sag raak nie.

Fokus, Jana. Tyd vir ’n aksieplan. Maar eers koffie. Ek strompel kombuis toe. Skielik onrustig. Iets is nie pluis nie.

Soggens, stiptelik om 10 oor ses, hoor en ruik ek die sterk choc hazelnut-koffie wat uit Martie se duur Nespresso-masjien gorrel.

Goeie koffie (en two-ply-toiletpapier) is vir haar ononderhandelbaar. Dis reeds 12 minute oor ses met geen teken van Martie nie. Ek stap na haar kamer. Klop.

“Martie?” Klop-klop. Miskien het sy verslaap. Klop harder. Net toe knars ’n sleutel. Die kombuisdeur? Martie stoot dit oop. Sy skrik toe sy my sien. Die gevoel is insgelyks.

“Jy’s vroeg op, Jana,” stamel sy.

“Jiehaa, Mart!” gil ek. “Jy hoef niks te verduidelik nie; maak net koffie, asseblief

.” “Enige tyd; ontmoet vir Fransie.”

Ek herken die “te gemmer” van Tinder. Vroeg 40’s. Stewige greep. Kyk my in die oë. Sout-van-die-aarde-tipe.

“Aangename kennis, Fransie. Vriendelike waarskuwing: As jy met Martie mors, kan jy solank inklok by die groepie never-come-backs wat Mars toe gaan. Ek lyk dalk pieperig, maar ek het ’n donker kant wat volbloedhane hoendervel gee. Hoe het julle mekaar ontmoet?” vra ek ewe onskuldig terwyl Martie die koffiemasjien aanskakel.

“Ons koster het vir my ’n profiel geskep op Tinder. Dis so ’n aanlyn . . .”

“Ek weet wat Tinder is. Martie, jou satanskind!”

Martie bloos.

“Um, ek wou net vir Martie veilig tuis kry. Ek hoop jy’t ’n mooi dag, Jana.”

Fransie tree verleë terug en Martie stap saam met hom uit.

Kruip inderwaarheid giggelend onder sy arm deur.

Die haan en die koffiemasjien roggel nou teen mekaar. Martie frons. Asof sy die haan vir die eerste keer hoor.

“Dit klink of ‘Tant Koek’ se hoenderhaan ’n asma-aanval kry – of ’n beroerte.”

“Ek vermoed sy stem is besig om te breek. Sy naam is Karel, en vandag gaan ek nie werk nie. Moenie vra nie. Dankie vir die koffie. Jy red my lewe.”

“Plesier, Jaans.”

“Is dit al wat jy te sê het? Jy kan eerste stort, maar voor dit wil ek alles hoor oor jou eerste-keer-in-’n-baie-lang-tyd- aandjie-uit.”

Toe sy werk toe ry, maak ek ’n opname van wraakwapens tot my beskikking.

Stomperige byl. Broodmes – te drasties. Ek wil nou nie noodwendig moord pleeg nie. Die vanhelsdingen het ’n naampie.

Miskien moet ek doodeenvoudig net sy vere uitpluk. Sangers moet selfvertroue hê om te kan sing. Of sal ek sexy, kloekende hengeluide op ’n app speel om die stoethaan se aandag af te lei? Al my planne klink amateuragtig.

Danny the Champion of the World flits deur my gedagtes. Gr. 5 se voorgeskrewe boek. As ek reg onthou, het Danny die fisante gemesmeraais deur hul mieliepitte in brandewyn of iets dergeliks te week.

Ek het nou nie brandewyn nie, maar ek is seker die Karel-kalant gaan nie omgee vir ’n pimpeltjie OBS nie. Briljant, duxleerder!

Oukei, dié keer was dit Roald Dahl se breinbabbel.

As Karel kan deurslaap, kan ek ook. Deur die venster sien ek hoe die polisie met ons gejaponde ou buurtantetjie praat. Onvriendelike, geplooide ou ding met woeste hare en ’n sigaret wat by haar mond uithang. Sy knik net en mompel iets toe hulle wegry.

Ek kan sweer ek hoor hoe Karel die polisiemanne vloek. Die res van my dag verloop traag. Die grootste uitdaging was om nie in skoolouers vas te loop tydens my mieliepit-aankope nie. Vanaand, terwyl Martie by haar king of hearts flikflooi, het ek, queen of leisure, ’n afspraak met Karel – koning van sy eie mishoop.

Ek vermoed egter hy’t homself doodgeroggel, of hy’t eindelik aan die slaap geraak van pure uitputting. Sedert drieuur vanmiddag is dit grafstil anderkant die heining.

Teen skemer is ek slaggereed in my gitswart hoodie-sweetpak.

Met my selfoon, Spray & Cook (vir die hekkie wat skwiek) en oorgenoeg deurweekte mielies. As Karel nie aan die slaap gaan raak hiervan nie, gaan sy maag ten minste bars van vergryping; of hy kan verstik; of hy gaan met ’n moewiese hoenderkop wakker word en moontlik ’n alkoholis wees met ’n lewerdefek en onttrekkingsimptome vir die res van sy hoenderlewe.

’n Haan met cold turkey ! Maar kraai gaan hy my nie weer wakker kraai nie. Ek wag tot “Tant Koek” se kamerlig afgaan en sluip dan vol bravade soos ’n professionele hoenderdief al teen die heining langs.

Die Spray & Cook werk soos ’n bom. Geluidloos leopard crawl ek deur ’n paar struike net vir as sy staan en loer. Eindelik sien ek hom. Hy slaap. Nie veel van ’n waghond nie.

Rus natuurlik uit vir ’n besige nag wat voorlê. Uit die ogiesdraadhok ontsnap so ’n ou hoendermistalmwalm wat aan jou klere kleef. Ek strooi die mielies woes in die hok rond en wikkel myself dan net ’n hanetreetjie van hom af in ’n struik in.

En wag vir aksie. Maar Karel slaap. Meteens skyn ’n helder flitslig op hom. Ek sak laer.

Karel vermoed die son is uit, en begin kraai – of eerder . . . kwaak. Ek kruip dieper onder my hoodie weg. My hart klop in my keel. ’n Geritsel kom ál nader aan my. Ek trek my bene op en laat sak my kop laag. Maar my nuuskierigheid kry die oorhand.

Ek loer bewend na die gejoefel. ’n Groot, donker figuur! En ’n geweer! Net sy oë blink effens onder die straatlig. Wat as hy . . . Dan draai hy die geweer se loop reguit na Karel toe. Ek trek my asem in . . .

“Moenie!” fluisterskree ek. “Wie’s daar?” vra die halfbekende stem sag. Dis dieselfde hees stem van vanoggend. Nou minder hees; meer strelend. Ek kruip versigtig uit my nes uit. Hande omhoog.

“Moet asseblief nie vir Karel skiet nie!” Ek wil byvoeg, ‘en ook nie vir my nie’, maar bedink myself.

“Of wag net dat ek kan sien of my eksperiment . . .”

“Jana Cronjé?” fluister die meer bekende stem. “Johan?” Ek lig my selfoonflits direk in sy gesig. Hy draai ’n serp stadig van sy kop af. My hart mis ’n slag. Nog aantrekliker as op Facebook.

“Ek het hier oorkant ingetrek. Die haan moet gaan. Ek mis slaap te veel.”

Hy wys verleë na sy wraakwapen.

“Windbuks.” Ons albei kraai van die lag.

“Kan ons ooreenkom dat hierna geen haan hieroor sal kraai nie? Ek kan doen met nog ’n paar slapelose nagte. Veral saam met die vrou na wie ek nou al so lank soek.”

“Jo-haan, moenie jou kom haantjie hou by my nie. Ek is goed die hoenders in vir jou! Jy sal eers weer my vertroue moet wen voor ek weer om jou kloek . . . Koffie of OBS?”

“Koffie met OBS,” glimlag hy. En Karel beaam dit uit volle bors.