So ja, done and dusted.” Mila skakel haar rekenaar af en vryf met albei hande oor haar stram nekspiere. Haar weeklikse artikel is geskryf. Ook net betyds. 

Sy stoot haar stoel agteruit en strek haar arms behaaglik bo haar kop uit. Deksels! Kyk waar trek die tyd al. Seker reeds goed laagwater. 

Tyd vir stap en skulpe optel. Gou bind sy ’n kleurvolle sarong om haar slanke heupe en maak haar golwende, kastaiingbruin hare in ’n hoë poniestert vas. 

Sy stap uit op die houtdek en asem die vars seelug in. Dís mos die lewe. Eindelik is die somervakansie verby en al die rumoerige vakansiegangers is terug stad toe. 

Die strand is nou weer hare. Wel, hare en die enkele ander permanente inwoners s’n.

Sy trek die verweerde voordeur van die bloudak-asbeshuisie agter haar toe en draf kaalvoet af met die trappies tot op die strand. 

Skulpiesbaai is ’n juweel buite seisoen. ’n Ongerepte kusdorpie met vissers­huisies sy aan sy ingeryg soos bonkige krale langs die uitgestrekte, spierwit strand. Hier kan Mila weer asemhaal. Hier leef sy haar eie monoloog. Alleen maar nooit eensaam nie.

Van kleins af was sy maar ’n natuurkind. Ouma het altyd liefdevol na haar verwys as “my strandlopertjie”. 

Gedurig besig om visse in rotspoele te vang, seeanemone te terg, skulpe te versamel en die duine te verken. 

Die see hou nog altyd ’n sonderlinge bekoring vir haar in. Dis dan ook see toe waarheen sy moes vlug ná daardie nag van verskrikking drie jaar gelede. 

Van kleins af was sy maar ’n natuurkind. Ouma het altyd liefdevol na haar verwys as “my strandlopertjie”.

Weg van die beskawing. Weg van die hartseer. Weg van die verlede. Die traumaberader het vergeefs probeer troos. 

“Tyd genees alles. Jy sal nog sien. Die menslike liggaam het ’n inherente neiging tot heling.” 

Maar, het Mila gewonder, hoe word ’n halwe mens dan ooit weer volkome heel?

Mila se groen oë versomber ’n oomblik toe haar brein terugflits na daardie aand se vurige woordewisseling tussen haar en Peet. 

Hulle was op pad na ’n familiebyeenkoms in George oor die Paas­naweek en moes die Outeniquapas in gietende reën aandurf. Sy was briesend. 

“Ek is siek en sat daarvoor dat jy alewig laat is! Almal moet altyd vir ‘koning’ Peet wag om op te daag.” 

Die volgende oomblik het hy om ’n draai beheer verloor oor die motor en die reis het noodlottig geëindig. 

Sy sal nooit weer vir hom hoef te wag nie. Ook nie op die koms van hul ongebore babadogtertjie nie. Sy het alleen agtergebly. 

Die gewetenswroeging en selfverwyt was ’n lewensgroot, onver­sadigbare ruspe wat aan haar menswees gevreet het. 

Dit het haar gedryf tot diep in die woestynland van selfbejammering. Depressie het gedreig om haar siel te verteer. Mila was verpletter. 

“Tyd genees alles. Jy sal nog sien. Die menslike liggaam het ’n inherente neiging tot heling.”

Daarna was daar ’n tyd van onbeantwoorde vrae. En nog later, woede. Sy was totaal ontredder en sonder heenkome nadat hul skuld eindelik afbetaal was. 

Boonop is sy afgedank omdat sy weke lank in ’n neurokliniek moes deurbring.

Hier voel sy geborge. Sy kyk uit op die see tot ver anderkant die horison. Die wind speel deur haar hare terwyl sy oor die rotsbank stap en seepampoentjies in die vlak water optel. 

Sy versamel seejuwele, soos venusoortjies, kauriskulpe en gedroogde seesterre. Dis meer haar soort terapie. Bo in die lug draai ’n seemeeu verlate. 

Hier op Skulpiesbaai staan die tyd stil. Hier volg sy net die ritme van die see en die getye. Dagin en daguit. 

Hier put sy kreatiewe inspirasie uit die natuur­ritmes. Haar huisie langs die see is ’n tydlose kokon waar sy al meer as twee jaar in haar papiefase kan rou. Sy is nie meer so kwaad of hartseer nie. 

Die ligtoring aan die punt van die baai is saans ’n baken van hoop. Dit bring ’n sweempie lig en tevredenheid in haar eens donker wêreld.

Tant Lenie en haar vyf strandkatte woon in ’n vervalle huisie langs die lig­toring. Sy is ook ’n eenkantmens, maar hulle verstaan mekaar. 

Dit voel soos gister toe sy en tant Lenie mekaar ontmoet het. “Ja, Mila-kind, dié lighuis wat lewens red, het eens my liewe pa se lewe gekos.” 

Haar pa was destyds die vuur­toring­wagter. Een stormagtige nag het ’n skip gestrand en hy het sewe mense gered voor hy self verdrink het. 

Dit voel soos gister toe sy en tant Lenie mekaar ontmoet het. “Ja, Mila-kind, dié lighuis wat lewens red, het eens my liewe pa se lewe gekos.”

Agter die lig­toring is ’n klipkruis vir hom opgerig as gedenkteken. Tant Lenie is nooit getroud nie, maar is tog nie verbitter nie. 

Soms kry sy wel ’n veraf kyk vol heimwee, wat Mila self so goed kan begryp. “Die wêreld is ons woning nie, my kind. Dis net ’n fase van ons lewensreis.” 

Meteens staan hy soos ’n skim voor haar. Mila skrik. Die vreemdeling dwaal nou al ’n paar weke hier rond. Wie en wat hy is, weet sy nie. 

Sy hou sy bewegings al ’n geruime tyd dop. Hy stap kilometers ver elke dag, neem talle natuurfoto’s en swem twee keer per dag. 

Hulle knik net telkens vir mekaar as hul paaie per toeval op die strand kruis. 

Sy het al gewonder oor die hartseer in sy grysblou oë en die treurige trek om sy mondhoeke. Maar vandag groet hy haar vir die heel eerste keer. 

“Middag. Ek’s Jacques. Jacques Mouton.” Mila lek senuagtig oor haar lippe. “Haai, ek’s Mila.” 

Druppels seewater glinster op sy gespierde bolyf. Hy lyk half ongemaklik terwyl hy sy nat kuif van sy voorkop wegvee.

“Ek sien jy tel elke dag skulpe op. Jy het seker al emmers vol. Ek’s jammer om jou te pla. Net gedink jy sal hiervan hou. Hulle is mos maar skaars.” 

Hy steek sy bruingebrande hand na haar toe uit. Op sy handpalm lê ’n delikate gesiggieskulp. Heel. 

Soms kry sy wel ’n veraf kyk vol heimwee, wat Mila self so goed kan begryp. “Die wêreld is ons woning nie, my kind. Dis net ’n fase van ons lewensreis.”

Met die blompatroon perfek deur die natuur in die middel gegraveer. Mila se groen oë glinster. 

“Dankie. Baie. My ouma het hulle altyd ‘seekoekies’ genoem. Hulle is besonders.”

Die volgende dag stap sy weer oudergewoonte strandlangs. Dis ’n luilekker laatsomermiddag. 

Die branders dreunsing rustig na en van die strand. Sy klouter oor die rotse en stap in die rigting van die getypoel. 

’n Krasgeluid trek haar aandag. Mila buk en in die rotsskeur sien sy ’n malgas in ’n stuk vissersnet vasgevang. 

Hy worstel om los te kom. Mila fluister gerusstellend. “Toemaar. Stil nou. Ek wil jou net help.”

Sy gil verskrik toe hy haar ’n geniepsige byt op die arm gee. Ná meer as ’n halfuur se gespook en gespartel kry sy hom uit die net losgewikkel. 

Sy vlerk is af, die arme ding. Sy gaan hom probeer red. Mila kyk op. Die wolke is besig om lig­roos te verkleur in die ondergaande son en ’n mistigheid begin oor die see inrol. 

Sy sal maar ligtoring se kant toe stap. Dalk het tant Lenie raad. Op die voorstoep lê drie van tant Lenie se katte lui uitgestrek. Hulle steur hulle nie eens aan haar of aan die malgas in haar arms nie. 

Sy het lank laas kom inloer. Hulle twee leef albei privaat. Mila versteen toe sy meteens ’n baba hoor huil. Wat op dees aarde?

Tant Lenie verskyn by die voordeur en haar oumensgesiggie verkreukel in ’n glimlag toe sy Mila se verskrikte uitdrukking sien. 

“Jy lyk of jy ’n spook gesien het, kind! Dis net ’n baba. Ek moet erken, ek het self lank laas die geluid gehoor.” 

Mila se wenkbroue vorm ’n vraagteken. “Maar Tannie? Waar kom die baba vandaan?”

’n Oomblik lank wonder sy verward of daar dalk weer ’n skip was wat gestrand het en of die ou tante dalk die kluts skoon kwyt is. 

“Jy lyk of jy ’n spook gesien het, kind! Dis net ’n baba. Ek moet erken, ek het self lank laas die geluid gehoor.”

Dalk het sy ná al die jare se alleenwees besluit om ’n kind aan te neem.

“Dis familie, hartjie. My susterskind se babadogtertjie. Sy’s ses maande oud. Sy vrou is oorlede met die geboorte van hulle kleinding. 

’n Aneurisme in die brein. Die arme man. Nou is hy alleen. En boonop ’n pa. Dis alles oorweldigend. 

Hy het so te sê ‘gevlug’ hier na Skulpiesbaai om net weer tot verhaal te kom. Hy is ’n vryskutfotograaf en joernalis. 

Ek dink hy kruip hier weg. Net om weer heel te word, jy weet?” Mila knik. Sy weet.

Haar oë rek toe ’n mansfiguur op die stoep verskyn met ’n bondeltjie op die arm. Die meisie lyk nes ’n engel. 

’n Bos blonde krulle, hemelsblou oë, kuiltjies en ronde, vet armpies. “Jacques?” 

Jacques glimlag skaam en lyk nes ’n stoute skoolseun wat betrap is dat hy skelm rook agter die paviljoen. 

Die rooi blos in sy nek verraai sy verleentheid. Dan stel hy hulle aan mekaar voor. 

“Dis Zetske, my dogtertjie. Zetske, dis tannie Mila. Sy’s ’n strandloper. Nog van die ou soort.” Dan kyk hy af na die malgas in haar arms. “Ons sal dié ou se vlerk moet spalk. Hy’t lelik seergekry.” 

Hy neem die seevoël by haar en gee Zetske ongeërg vir haar aan om vas te hou. 

Mila voel ’n fladdering in haar binne­ste. Sy druk haar wang teen die blonde krulle. Dit ruik na baba. 

In daardie oomblik weet sy die siklus is voltooi. Haar genesingsmetamorfose is volbring. Sy gaan weer vlieg. 

Vlieg nes die malgas wanneer sy vlerk gesond is. Want twee halwes maak ’n hele. Tyd genees. Dit glo sy nou.

Die aandster steek sy kop uit net toe die ligtoring sy eerste flits van hoop in die donker nag uitstuur. 

Tant Lenie maak keel skoon en lagduiweltjies dans in haar oë. “Nou ja, dan gaan maak ek maar vir ons drie koffie en pannekoek.Ons het baie stories om te gesels vanaand.” 

Kom neem deel aan die gesprek.
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.