Dit gaan nou seker vir jou snaaks klink, Ans,” sê Miem en trek haar voorkop op ’n plooi, “maar ek wens Paul wil net vir een jaar van ons huweliksherdenking vergeet.”

“Hoe dan so?” Haar buurvrou verstik byna in haar tee.

“Soos ek dit het, werk dinge net mooi andersom. Ek weet van tonne vroue wat hul voortande sal gee as hul mans net sal onthou. En jy praat van vergeet?”

“Ag, jong. Om mee te begin kan dit die lewe ’n slag opwindend maak. As Paul sy gewone roetine verbreek, sal ek mos wonder wat aangaan. Of daar dalk iewers ’n verrassing in die vooruitsig is,” antwoord Miem.

“Of ’n ander vrou.”

“Paul? ’n Ander vrou? Nee, wat. Dis heeltemal onwaarskynlik.”

“Ja, maar as hy regtig vergeet? Dan gaan jy mos die joos in wees.”

"Ek weet van tonne vroue wat hul voortande sal gee as hul mans net sal onthou"

“Dis elke jaar dieselfde ding oor en oor. ’n Groot boks Quality Street en ’n You’re the Fire-geskenkpak."

"En weet jy, ek hou nie eens van You’re the Fire nie. Ek dink die hele besigheid is vir hom bloot ’n jaarlikse verpligting. Niks spesiaals nie. Hy lê net absoluut geen inisiatief aan die dag nie."

"Wat van ’n romantiese aandete? Of ’n bos rose vir ’n slag? En dis nie asof hy dit nie kan bekostig nie.”

“Het jy al daaraan gedink om vir hom te sê jy kort afwisseling, Miem?” probeer Ans raad gee.

“Hoe gaan hy dit anders weet? Mans is mos maar ’n eenvoudige spesie. As hulle dink iets werk, hou hulle daarby. Die flatervrye resep, as’t ware.”

“Miskien. Maar ek wonder of hy daarvan sal hou as ek vir hom elke jaar vir sy verjaardag ’n paar swart kouse gee? Hm?” “En wat is nogal daarmee verkeerd?”

Ans se gesig is doodernstig. “Dis prakties.” “Maar nie noodwendig sexy nie, nè?”

Miem bars uit van die lag, en dit is so aansteeklik dat haar buurvrou nie kan help om saam te giggel nie.

Toe Miem haar oë die volgende oggend oopmaak, sak haar hart sommer dadelik tot onder haar naeltjie. Hier is dit nou. Haar en Paul se huweliksherdenking.

“Dis prakties.” “Maar nie noodwendig sexy nie, nè?”

’n Dag van sjokolade en goedkoop parfuum. Dieselfde as elke jaar. Die ding is net dat hy nog nie ’n dooie woord daaroor gesê het nie. Geen gelukwensing nie, geen piksoen op die wang nie. Maar sy weet ook hy volg eers die hele ritueel van geskenke gee wanneer hy van die werk af kom.

Daarna is dit aandete en televisie kyk. En dan is dit oor en uit. Niks om oor opgewonde te raak nie.

Haar oog val op Paul se baadjie wat aan ’n hanger teen die kasdeur hang. Dit wil-wil vir haar lyk asof die een sak ’n bietjie meer pof staan as gewoonlik.

Wat sou dit wees? Het hy al weer nie al sy sakdoeke uitgehaal vir wasdag nie?

Sy herinner hom elke keer daaraan, maar hoor is min. Nuuskierigheid kry die oorhand, en Miem maak seker die stortkrane is eers goed oopgedraai en Paul se vals basstem basuin uit die badkamer voor sy soos blits uit die bed spring om in sy baadjiesak te gaan snuffel.

Met bewende hande vroetel sy tot sy die boksie raak vat. Sy haal dit versigtig uit en laat dit ’n oomblik op haar handpalm lê.

Dis klein en swart. Een van daardie wat oopklik en wat ’n mens gewoonlik by juweliers kry. Miem huiwer ’n oomblik en maak dit oop. Sy trek haar asem skerp in.

Met bewende hande vroetel sy tot sy die boksie raak vat

’n Paar roomkleurige pêreloorbelletjies nestel in wit fluweel, glimmend in die sonstrale wat deur die venster skyn. Hulle is pragtig, so delikaat en perfek rond, en sy kan nie help om dit nog ’n rukkie te bewonder nie.

Sy wou nog altyd so iets hê. Het Paul eindelik wakker geskrik? Sy kan dit byna nie glo nie. Wonderwerke gebeur dalk steeds.

Sy klik die boksie toe, bêre dit vinnig en besluit op die plek om meer moeite met aandete te doen.

Miskien tog maar die skaapboud maak wat sy vir Sondagmiddag saam met die kinders gebêre het. En ’n klompie gebakte aartappels daarby; hard buite en sag binne soos Paul daarvan hou. En groenboontjies en rys met sous. En dan vir daardie ekstra bietjie bederf ’n broodpoeding en vla.

As hy eens die moeite kon doen om iets spesiaals vir haar te koop, dan kan sy darem ook haar kant bring.

Die kospotte en braaiskottels was net mooi aan die praat toe sy die sleutel in die voordeur hoor knars. Dis halfvyf. Paul is tuis.

Sy knoop haastig die voorskoot om haar lyf los en skik haar hare. Vat hier en daar om seker te maak dinge is skaflik. Uit skone stuitigheid het sy sommer mooi tafel gedek ook. Net hier in die kombuis. En selfs ’n bottel wyn by Ans gaan bedel om voor te sit in die mooi glase wat hulle op hul troudag gebruik het.

Haar hart maak bokspronge toe sy Paul se voetstappe op die houtvloer hoor kraak. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd voel sy weer soos die jong bruid wat destyds aan sy sy voor die kansel gestaan het. “Naand, Miem.” “Naand, Paul. Lekker dag gehad?” “Ja, dankie. Jy?” “Ja, wat.”

Die kospotte en braaiskottels was net mooi aan die praat toe sy die sleutel in die voordeur hoor knars

’n Stilte kom tussen hulle hang, en Miem is skoon uitasem toe sy sien dat Paul sy hande agter sy rug versteek hou.

“Iets ruik lekker,” stel hy die oomblik nog ’n rukkie uit. “Ag, ek het sommer gedink ek maak vanaand skaapboud.”

Wanneer gaan hy tot die punt kom? Miem is nou skoon oorstuur.

“Baie geluk, my skat. Op 30 goue jare.”

Sy skrik toe sy die getal hoor. Dertig jaar. Dis ’n ewigheid. Sy het vergeet hulle is al so lank getroud. Dit is wat gewoonte aan ’n huwelik doen.

Maar vanaand is dinge tog anders. Vanaand is besonders.

Met groot omhaal bring Paul sy hande van agter sy rug te voorskyn en sit haar geskenk op die kombuistafel neer. ’n Boks Quality Street en die gebruiklike You’re the Fire-geskenkpak.

Miem weet nie wat om met haar gesig te doen nie. Moet sy lag of moet sy huil? Albei emosies wil tot uitbarsting kom en sy het moeite om haarself in toom te hou.

Dit is asof haar hele wêreld binne sekondes in duie gestort het. Dertig jaar van gewoonte en ’n jaarlikse verpligting om dit te herdenk het in die allerverskriklikste nagmerrie ontaard. En dit net omdat sy uit nuuskierigheid ’n boksie gaan staan en oopmaak het. Nou weet sy presies hoe Pandora van ouds moes gevoel het.

Hoe konfronteer sy vir Paul hieroor sonder om haarself weg te gee? Waar is daardie verdomde pêreloorbelle? En belangriker nog, aan wie se ore pryk hulle op hierdie presiese oomblik?

Ans was reg. Miskien ís daar ’n ander vrou. Het sy slapende honde wakker gemaak met haar ondankbaarheid?

Miem is naar. Sommer siek tot in haar tone.

Nou weet sy presies hoe Pandora van ouds moes gevoel het

Sy is oorbewus van hoe die bloed uit haar gesig vloei en iewers in haar ingewande gaan lê. En van die kolletjies wat wild voor haar oë dans.

Hoe lank gaan hierdie affair van Paul al aan? Tien jaar? Twintig jaar?

G’n wonder hy het die geskenke keer op keer herhaal nie.

Quality Street en You’re the Fire. Ga! Troosprysies, dit is wat dit was. Gewetesussers.

Hou die vroutjie by die huis gelukkig, maar jouself gelukkig op ’n ander plek.

Happy wife, happy life, soos die Engelsman sê.

Sy storm by Paul verby. In die verbygaan ruik sy die skaapboud brand, maar sy gee nie ’n hel om nie. Hy kan die oond afsit as dit hom pla.

Wat soek hy in elk geval hier? Hoekom is hy nie liewer by háár, by die draer van sy duur gawes nie? Die voordeur klap met ’n slag agter Miem toe en sy loop sommer die eerste beste rigting die tuin in.

Ans is besig om haar pronkertjies nat te gooi toe Miem by die palissade soos ’n draak staan en blaas. “En nou?” vra sy verbaas. Miem wil nog antwoord, maar haar oë steek vas by die twee pêreloorbelletjies in Ans se ore.

“Nuwe oorbelle?” vra sy hees en probeer met alle mag om die angel uit haar stem te hou.

“Nee,” glimlag Ans. “Dit was my ma s’n. Ek het dit lank laas gedra, want die een se pennetjie agter het afgebreek. Paul het dit juis gister vir my by die juwelier gaan haal, want ek kon nie daarby uitkom nie. Hou jy daarvan?”

Miem wil nog antwoord, maar haar oë steek vas by die twee pêreloorbelletjies in Ans se ore

Miem voel hoe die blos oor haar wange sprei.

“Ja, hulle is pragtig,” antwoord sy en stap terug huis toe sonder om verder iets te sê.

‘Miem, ek weet nie wat ek verkeerd gedoen het nie, maar moet asseblief nie vir my kwaad wees nie. Nie vandag nie,” pleit Paul toe sy voor hom kom staan.

Hy begin naarstig in sy broeksak vroetel. “Ek wou hierdie vir later hou, maar jy kan dit maar nou kry.”

Sy neem woordeloos die swart boksie wat hy na haar toe uithou en klik dit oop. Binne-in, op die wit fluweel, wink ’n paar pêreloorbelle vir haar. Twee maal so groot as Ans s’n.

“Jy wou mos nog altyd so iets hê. Ek het dit gister gekoop toe ek Ans se oorbelle by die juwelier gaan oplaai het.”

“O, Paul,” is al wat sy uitkry, want skaamte oorweldig haar.

“Ek het gedink dié jaar doen ek ietsie meer,” verduidelik hy amper verskonend. “Dit is immers ’n hengse mylpaal vir ons twee.”

Nou wens Miem sy het tog eers die oond afgeskakel. Maar ’n titseltjie van daardie You’re the Fire behoort darem ook die ding te doen.