DAG 1

Ek voel soos 10 uur in ’n kar, en ek mis ’n stort op die oomblik meer as wat ek die huis se Sondagmiddagwafels met stroop mis, maar as ’n mens net omtrent drie dae op Stellenbosch is, moet jy die tyd ten volle benut.

En om Kraaifontein toe te ry vir skoon klere is blykbaar overrated – blykbaar.

Ek is taamlik keelvol, en nou moet ek my tande borsel in iemand se tannie se huis se gastekamer.

“Is julle reg?”

Ons beskou dit as ’n retoriese vraag, want die antwoord kan enige kant toe gaan, en dit is eers later die aand toe ek en Lena soos losers alleen by ’n tafel vol vreemde mense sit dat ek besef die antwoord moes eintlik nee gewees het.

Ek was op die punt om vertroue in die samelewing te verloor toe iemand ons bestaan eindelik erken, en in daardie oomblik was die wyn wat ek gedrink het skielik nie meer so sleg nie.

Met ’n classic handdruk en ’n skewe glimlag sê hy oor al die bottels op die tafel: “Jacques, aangenaam,” en ek kom nie eens agter hoe koud sy hand is nie.

Hy vra ons name en so ’n paar ander dinge, en toe moet ek vir hom verduidelik wie ek is.

Dit voel asof ek probeer aansluit by iets soos supersingle.com en ek moet my bes doen om nie te bloos nie, want ek dink aan hoe ek sy vraag beantwoord met: “Haai, Heideli, aangenaam, en so by the way, ek het nie ’n kêrel nie.”

Dis obviously nie wat ek gesê het nie, want die man maak my op my senuwees, en die gesprek stop toe vir so ’n rukkie nadat ek myself net as doodgewone “Heideli” voorgestel het – nie net sonder kêrel nie, maar ook sonder hoop vir my toekoms omdat ek soos ’n skilpad in my dop gaan staan en kruip wanneer die sosiale druk net te veel raak.

Ons is op pad na die volgende plek – net oorkant die pad. Stellies se nagwindjie waai dwarsdeur my trui, en vir ’n oomblik onthou ek hoe koud sy hand was. ’n Perfekte nagedagte.

“Kry jy koud?”

“Flippen koud, maar dis oukei; ons gaan nou weer binne sit.”

Dit was weer die naaste ding aan ’n gesprek vandat ek myself voorgestel het. My ongemak het al ’n bietjie ontdooi soos ’n tjoppie voor ’n Saterdagaandbraai, en ek en Lena is al regtig honger.

Ons frustrasie begin weer kop wys toe niemand verstaan dat ons ongeveer vyf uur tevore by Beaufort-Wes se One Stop-Wimpy die kleinste burger op die spyskaart geëet het nie.

Volgens Jacques is die burgers van die plek waarheen ons nou op pad is ’n wenner, maar ek is eintlik net lus vir iets wat soos my ma se kos kan smaak.

Ek troos myself deur te dink dat hy eintlik net ’n bietjie meer tyd saam met ons wil deurbring, en ek settle maar vir so ’n halfgebraaide patty wat eintlik nog in die veld kon rondhardloop.

“Ek gaan net so een steel,” en voor ek weer sien, vat daardie selfde koue hand ’n tjippie uit my bord.

“Dis reg; eet maar. Ek dink anyway nie ek gaan alles self opeet nie.”

Hy mompel deur sy skewe glimlag en my halfgekoude tjippie dat hy eintlik ’n meisie moet kry. Dit kom alles net daarop neer dat hy iemand soek wat haar kos met hom sal deel.

Ek is amper doodseker hy het my nou net uitgevra. Ek bedoel, watter ou deel sy dop met ’n soort van vreemdeling?

Daardie selfde dop waarvoor hy ’n halfuur in ’n tou moes staan en wag waar ’n mens omtrent die ou langs jou se parfuum kan ruik wat hy twee dae gelede aangespuit het.

Ek voel soos iemand in gr. 2 wat my hand wil opsteek, en ek moet net keer voor ek kliphard sê: “Hallooo, haai, ek is Heideli, en ek deel graag my tjips.”

Nou is dit al tyd om aan te beweeg Nu’Bar toe, want blykbaar was jy nie uit as jy nie jou aand daar afgesluit het nie. Eintlik wil ek net bly sit daar waar ek is.

Ek het nou net begin warm word, en ek dink hy sien hoe ek en Lena moed bymekaarskraap om daardie selfde Stellenboschwind van nou-nou te trotseer.

“Kom nou, man, dis nie so erg nie, en as julle regtig koud kry – ek het twee baadjies aan, so julle is sorted.”

En ek troos myself weer daaraan dat hy dalk net ’n bietjie meer tyd saam met ons wil deurbring.

“Ek is oukei, dankie. Die kar is darem nie te ver nie.”

Ek kan myself amper skop, want toe ons buite kom, bliksem die koue my op my bors, en ek moet my mos altyd cool hou. Vrek simpel, dink ek terwyl ek met my arms gevou stap so asof my lewe daarvan afhang.

Hy lag en sê met so ’n ek-het-jou-mos-gesê-houding: “As jy koud kry, ek het toevallig ’n baadjie in my hand.” Ek draai net om sonder om ’n woord te sê, vat die baadjie en trek hom aan.

Toevallig, dink ek.

Toe-val-lig.

Watter soort ou deel sy dop met ’n soort van vreemdeling?

DAG 2

Ek sien hom eers weer die volgende aand ná die kaas-en-wynfees – die eintlike rede hoekom ons op Stellenbosch is.

Ons bestel die pizza waarvoor ons nog heeltyd lus is, saam met lemoensap en ’n Creme Soda, en ek voel weer soos ’n gr. 2-kind, maar ek wil nie dié keer my hand opsteek nie; ek wil van die spyskaart se kinderafdeling af bestel.

Met my eerste slukkie stap Jacques by die deur in, en op daardie oomblik is die feit dat ek hom nie vandag gesien het nie al lank vergete.

Natuurlik weet Lena dat my hart op die oomblik netsowel ’n springkasteel kan wees, en ek kry so ’n ligte skoppie teen my been onder die tafel. Kinderlik opgewonde.

“Ag nee. Wat drink julle?”

“Creme Soda,” antwoord ek, “Lemoensap,” sê Lena agterna.

Voor hy sy teleurstelling te duidelik maak, sê ek met ’n krap in my keel: “Met ’n bietjie wodka.”

Ek lag dadelik omdat ek weet hy weet ons praat nie heeltemal die waarheid nie.

Hy is die soort ou vir wie ek bereid sal wees om te leer bier drink. Hy eet weer ons oorskiet. Ek is daarvan oortuig dis sy manier van flirt, maar in dieselfde asem probeer ek myself oortuig hy is dalk net regtig honger.

Toe ek weer bykom, trek ons gesprek skielik by mans en hoe hulle almal eintlik maar dieselfde as pizza is – hulle het almal dieselfde basis, net met verskillende toppings.

Jacques stel toe voor ons verander eerder die onderwerp. Hy begin praat oor sy ou Datsun, 1400 dink ek, so asof dit die eerste speelgoedkarretjie is wat sy ouma vir hom gekoop het toe hy drie was; en hoe jy op daardie ouderdom net lief is vir jou ma en jou pa en daardie selfde speelgoedkarretjie.

’n Oomblik lank sing Snotkop nie meer van sy Mustang op Margate se strand nie. Ek en Lena wou regtig net so graag ’n bietjie die see gaan sien.

DAG 3

Almal drink wyn, maar dit het al vir my begin voel soos huiswerk en iets wat ek regtig nie meer wil doen nie.

Ek het ten minste Lena se geselskap, en ek vertel haar hoe ek al te veel wyn gedrink het vir iemand wat regtig nie baie van wyn hou nie.

Dis te koud in die koelte en dis te warm in die son, en ek weet regtig nie hoe om oor die situasie te voel nie.

Lena trek nog heelpad my siel so ’n bietjie uit oor Jacques, en ek spot maar nou al saam, want ons al twee weet.

“Pizza en bier. Ons uber sommer soontoe,” sê sy, lag dan soos sy altyd lag, en ek is skielik regtig dankbaar vir Lena en hierdie klein vakansie.

“Ons sien hom weer vanaand; hou op om so hartseer te lyk.”

Ek gee haar net ’n halwe vuil kyk, want soos sy aangaan, wil ek môre al met die man trou, en eintlik is hy regtig vir my net ’n cool mens.

Ons praat oor hoe ons ’n WhatsApp-groep gaan begin en net totaal beste vriende gaan wees sonder om hom regtig ’n kans te gee om self te besluit hoe hy daaroor voel.

Die dag is verby en ons is op pad na sy koshuis toe om te groet voor ons terugry na ’n plek wat eintlik sy huis ook is.

Hy het nou net gaan draf, en ek verbeel my ewe skielik ek hou ook van draf – amper soos ek myself heelnaweek probeer oortuig het ek hou eintlik van wyn.

Die groet is hartseer, amper soos wanneer ’n goeie fliek moet eindig, maar ek troos myself daaraan dat daar ’n opvolg gaan wees soos met alle goeie flieks wat doodeenvoudig nog nie kan klaar wees nie.

Ons ry weg, en hy bly agter saam met ’n klein stukkie van my hart. Dink ek.

Ek kyk vir Lena en vertel haar dat hy iemand is wie se baadjie ek sal wil hou wanneer ek hom leen en hoe ek my tjips met hom sal deel wanneer ek regtig self lus was daarvoor en hoe ek sal leer bier drink, net sodat ons kan gaan bier drink en gesels oor hoe ons albei eintlik van draf hou, op ’n Saterdagaand.

Ek vertel haar hy is iemand oor wie ek sal skryf.

Sy naam is nie Jacques nie en ek noem haar sommer Lena, want hierdie naweek voel vir my soos iets wat uit ’n scene van Ballade vir ’n Enkeling moet kom.