Dit is stil. Doodstil. Die straatlig voor die winkel flikker aan en af. Sam probeer om nie direk daarna te kyk nie. Hy sien die flikkering uit die hoek van sy oog. Nou moet hy net sy tydsberekening regkry. Toe die lig weer afgaan, beweeg Sam na die volgende boomstam. Hy maak sy lyf so dun moontlik sodat hy nie sigbaar is vanaf die pad nie.

Met die volgende flikker doen hy dieselfde. Sy asem hort in sy keel. Hy is nou naby die ingang na die winkel. Hy sien die rye en rye goedere staan. “So baie goed en ek wil net een blik melk hê,” dink hy met ’n wrang glimlag.

Vandat die inperking begin het en hy nie meer in meneer John se tuin kan werk nie, gaan dit maar beroerd. Hierdie covid-verpesting het almal se lewe kom omkrap. Hy het al selfs vir meneer John via SMS gevra vir ’n paar sent, maar die antwoord was nee. Meneer John is self ook nie seker of hy sy volle salaris gaan kry hierdie maand nie, so, hy kan dit seker ook verstaan.

Veraf hoor hy ’n kind huil. Sy hele binneste krimp ineen. Sy Pogiso huil amper netso. Vir dae al luister hy na haar jammerlike gekla. Die bietjie bokmelk wat hy moes steel van die bokke wat naby sy huis in die veld wei, is op. Hy het die melk gerantsoeneer so goed hy kon. Toe hy vanoggend in Pogiso se betraande oë kyk, was dit net te veel. As hy dan nie anders kan nie, sal hy kos moet steel vir sy kind.

Hy skud sy kop heen en weer, asof hy die gedagte uit sy kop wil skud. As Anna nog geleef het sou sy geweet het wat om te doen. Anna het altyd ’n plan gehad. Hy voel weer die seer van onthou, wat om sy hart klem. Eers het hulle gedink dit is net ’n verkoue. Sy het medisyne by die kliniek gekry, maar haar hoes het net erger en al hoe benouder geword. Sy was so moeg.

Hy het eers ná haar dood besef sy het covid gehad. Sy Anna. Vir ’n sekonde sien hy weer haar oë by hom pleit voordat sy gesterf het. Hy kon haar nie help nie! Hy sou enigiets doen om haar benoudheid weg te neem, maar hy kon nie! 

Ongeduldig vee hy oor sy oë. Hy kan nie bekostig om nou in herinneringe te verval nie. Nou moet hy konsentreer. Hy loer versigtig om hom rond. Niemand. Met die volgende flikkering beweeg hy tot voor die winkelvenster. “Net vining in en uit,” sê hy vir homself. Hy moet uit en weg wees voordat die sekuriteit reageer op die alarm.

Sy ontsnaproete het hy reeds beplan. Al met die donkerste strate langs tot in die veld en dan daarlangs huis toe. Vanaand kan Pogiso met ’n vol magie slaap. Hy voel die ruheid van die baksteen in sy hand. Hy lig sy hand en slaan dit met mening teen die winkelruit. Glasskerwe spat in alle rigtings. Hy stol vir ’n oomblik. Geen geluid nie.

Hy het half verwag dat die alarm sou afgaan die oomblik wat die venster breek. Hy klim oor die glasstukke en hardloop gebukkend die winkel binne. Hy soek die rak met bababenodigdhede. Eensklaps gil die alarm in sy ore. Sy hart slaan bollemakiesie. Hy gryp twee blikke melk en hardloop yskas toe. Hy gryp ’n bottel vars melk. Hy is nou hier, hy kan netsowel vir hom ook iets vir die hongerpyne kry.

Hy koers terug na die gebreekte ruit. Sy stewels knars op die glasstukke as hy deur die ruit uitklim. “Nou moet jy hol Sam, soos nog nooit tevore nie!” por hy homself aan. Hierdie keer hardloop hy regdeur die parkeerterrein, sonder om agter die bome te skuil. Die alarm skreeu steeds die donkerte in. Hy stop in ’n donker agterstraat om asem te skep. Hy hoor nou eers die alarm is stil. Hy slaak ’n sug van verligting. Hy voel hoe kramp sy hande om sy buit en hy laat dit effe ontspan. 

Die sekuriteitsbakkie ry op en af in al die strate rondom die winkel. “Gelukkig was ons naby,” sê die beampte vir sy maat. “Gooi die spotlight bietjie daar,” sê die wag en wys in ’n rigting in. “Daar hardloop hy! Sit hom agterna, die vuilgoed gaan nie vanaand wegkom nie!”

Die bande skreeu onaards toe die bakkie om die hoek agter Sam aanjaag. Sam hardloop so vinnig soos sy twee voete hom kan dra. Die bakkie haal hom in. “Staan of ek skiet!” skreeu die veiligheidswag. Sam se voete kom stadig tot stilstand. Hy kan nie meer nie. Sy keel brand. Hy het nie meer asem in sy longe oor om te hardloop nie.

Hy sit die melk op die grond voor hom neer en gooi sy hande in die lug. Die wag kom aangehardloop. So in die hardloop stamp hy vir Sam dat hy vorentoe, op die melk, val. Hy voel hoe klam sy gesig word, van die bottel vars melk wat gebreek het. Vir ’n sekonde sien hy hoe die poeletjie melk golfies maak as sy asem daaroor blaas. Hy maak moeg sy oë toe.

Die wag boei sy hande agter sy rug en ruk hom regop. Hy word agter in ’n vangwa gebondel en die deur klap toe. Sam kom nou eers heeltemal tot sy sinne. Wat nou? Wat gaan hy nou doen? Daar is niemand by Pogiso nie. Hy kan haar nie alleen los die hele nag nie! Sy moet kos kry! Sy gaan nie nog ’n dag sonder kos kan bly nie. Hy ruk verbete aan die boeie.

By die polisiestasie sluit hulle die deur van die vangwa oop en ruk hom uit. “Ja, gedink jy gaan wegkom, nè?” smaal een van die wagte. Voordat hy nog kan dink daaraan om te smeek vir genade, boender hulle hom by die stasie se deur in. Die aanklagkantoor is stil. Niemand anders waag dit om die aandklokreël te verontagsaam nie.

Sam word in die naaste stoel gedruk.“Sersant, hierdie vent het by die winkel in 6de Laan ingebreek. Seker nie gedink daar is ’n alarm nie. Gelukkig was ons naby en kon dadelik reageer.” Die wag kyk minagtend in Sam se rigting.

“Dankie. Ek sal dit nou van hier af neem,” sê die sersant en trek ’n klomp papiere nader. Die sekuriteitswagte stap by die kantoor uit. Sam hoor hoe hulle koggelend lag oor die onnosele dief wat hulle so maklik kon vastrek vanaand. “So, wat is jou storie? Kom ons begin by jou naam” vra die sersant en sit in afwagting met ’n pen in sy hand. Sy oë vraend op Sam gerig.

Sam verskaf die inligting soos die sersant dit vra. Toe hy moet verklaar wat hy gesteel het, begin sy stem bewe. “Ek het melk gesteel, vir my kind. Sy het nie ’n ma nie, ek kyk na haar. Covid het haar ma gevat. Die kind huil heelnag van honger. Ek laat haar partykeer aan ’n lap suig wat ek in water druk, net vir die dors, maar dit help nie vir lank nie. Ek sien hoe sy stadigaan doodgaan.“

"Die vrou wat langsaan bly, pas haar deur die dag op as ek werk, maar sy het ook nie meer melk vir die kind nie. Sy sê sy kan nie meer na die kind kyk wat so aanhou skreeu nie. Ek sorg vir haar met my piece job, maar nou is daar nie werk nie. Die lockdown het dit weggevat. Ek het nie geld om kos te koop nie. Ek het gevra vir hulp, maar niemand kan help nie.” 

Met die laaste sin praat Sam homself in die verdriet in. Verdriet van moedeloosheid, verdriet van honger, verdriet van woede en verdriet van vrees. Vrees dat hy nie vanaand by sy kind gaan kan uitkom nie. Hy laat sak sy kop en maak sy oë toe.

“Sam,” praat die sersant met hom. Sam kyk op, kyk die sersant reguit in sy oë. Die oë lyk amper simpatiek.“Kyk hier.” En die sersant haal ’n foto van sy lessenaar af en gee dit in Sam se bewerige hande. Sam neem die foto verward en kyk af daarna. Die gesiggie van ’n kind van sowat twee jaar oud kyk laggend terug na hom.

“Dit is my kind, Sam. My kind hoef genadiglik nog nooit honger te gaan slaap het nie, maar ek kan jou sê, as daar nie geld is om kos vir haar te koop nie, sal ek ook kos steel.” 

Sam verbeel hom hy hoor ’n krapperigheid in die sersant se stem. Hy neem weer die foto by Sam en kyk vir ’n oomblik daarna.

Toe die ligte van die vangwa op Sam se pondok val, kom mense nuuskierig uit hul huise. Die buurvrou staan met ’n kermende Pogiso in haar arms. Sam klim nie soos hulle verwag by die agterste deur uit nie, maar voor, langs die sersant uit. Hy buk terug in die wa en haal ’n sak, wat boepensvol kos staan, uit.

Hy glimlag van oor tot oor.Hy kyk terug en lig sy hand effens in die rigting van die sersant agter die vangwa se stuurwiel. Die sersant glimlag terug en twee pare oë ontmoet in die halfskemer van die ligte. In albei se oë is daar ’n verstaan. ’n Verstaan van een pa na ’n ander. 

  • Innibos se Storieskryfkompetisie Is jy ’n aspirant- of gevestigde skrywer? Wen prysgeld van R5 000 vir jou kortverhaal. Die wenverhale sal oorweeg word vir publikasie in Huisgenoot. Inligting en die inskrywingsvorm is op www.innibos.co.za beskikbaar of stuur e-pos na skryf@innibos.co.za.
Innibos
Innibos

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier vir meer inligting.