Elra ry stadig deur die klein dorpie se hoofstraat. Sy is op pad om by haar suster en swaer op hul plaas te kuier. Sy het twee jaar laas verlof geneem en sien uit na die twee weke op die plaas. Dit was ’n baie besige jaar by die koerant en sy verdien ’n blaaskans.

Nog net tien kilometer, dink sy. Sy voel moeg, want sy is al lank op pad. Dan sien sy ’n samedromming van mense op die sypaadjie. Daar staan ’n ambulans en ’n polisievoertuig.

Paramedici is besig om ’n man wat op die sypaadjie sit, te behandel. Genugtig! dink sy. Kyk net hoe lyk die man se gesig! Dit moes ’n lelike ongeluk gewees het.

Net buite die dorp is ’n vulstasie en kafee. Sy hou stil om ’n koeldrank te koop. Wanneer sy by haar kar kom, hou ’n gehawende motor langs haar stil en twee mans met verflenterde klere klim uit. Een het ’n weglêsnor en staar haar aan. Sy ril en klim vinnig by haar kar in terwyl die twee ongure karakters haar dophou.

Sy is weer op pad en ’n paar kilometer verder begin haar motor skielik wild rondswaai. ’n Pap wiel! Agge nee! dink sy. Sy onthou haar pa se woorde: As ’n band bars, moet jy nie hard rem trap nie.

’n Rukkie later staan sy moedeloos na die flenterband en kyk. Haar pa het haar baie dinge geleer, maar nooit hoe om ’n wiel om te ruil nie. Sy maak die kattebak oop en sleep die swaar domkrag en spaarwiel uit.

Sy kyk moedeloos na die gereedskap wat nou langs die kar lê. Sy het nie eens die vaagste idee hoe om die domkrag in posisie te plaas nie.

Sy haal haar selfoon uit en bel haar suster se nommer. Dis stempos wat antwoord. “Magriet, dis ek. Ek staan met ’n pap wiel ’n paar kilometer van julle af. Bel my asseblief, dringend.”

Sy vind dit vreemd dat haar suster se foon nie aangeskakel is nie, maar hoop om spoedig ’n antwoord te kry.

Skielik hou ’n ou, gehawende kar in ’n stofwolk voor haar stil. Twee mans klim uit. Dankie tog. Iemand om my te help, dink sy.

Dan herken sy die twee wat sy ’n paar minute gelede by die vulstasie gesien het. Die een man het ’n groot maag en digte rooi baard. Langs hom loop sy maat met die lang weglêsnor.

Skielik voel sy benoud. Die twee was duidelik in ’n vuisgeveg betrokke, want Rooibaard het ’n blou oog wat byna toegeswel is. Snorre het ’n klomp kneusplekke op sy gesig en ’n stuk hegpleister oor een van sy wenkbroue. Sy bolip is ook dik opgeswel.

“Probleme, Poppie?” vra Rooibaard.

“Ja,” sê sy en wys na die pap wiel. “Kan julle my dalk help, asseblief?”

“Met groot graagte, Skattie,” sê Snorre en sit sy arm om haar lyf.

Sy stamp hom weg. “Nie daardie soort hulp nie!” sê sy verontwaardig.

Dan gryp Rooibaard haar om die lyf en druk haar styf teen hom vas. Sy begin spartel en skop hom op sy maermerrie. “Aitsa! ’n Klein tierwyfie!”

Hulle lag terwyl sy worstel om uit sy greep te kom. Sy gee hom ’n vuishou op sy maag, maar dit maak skynbaar geen indruk op hom nie.

Dan hoor sy die bekende “put-plu, put-plu”-geluid naderkom. Sy herken die kenmerkende gedreun van ’n Harley Davidson-motorfiets. Haar broer het ook een gehad.

Die gedreun het vir ’n oomblik Rooibaard se aandag afgetrek en dit gee haar kans om uit sy greep los te ruk. Sy swaai haar arms wild om die naderende motorfietsryer se aandag te trek.

Die groot motorfiets stop skaars ’n meter van hulle af en ’n groot, atleties geboude man klim af. Die ander twee mans staar hom aan terwyl hy tydsaam die Harley op sy staander stoot. Hy trek sy leerbaadjie uit en sit dit op die motorfiets neer. Dan sien Elra dat hy ’n swart T-hemp aan het met die woorde Ninja Karate Academy voorop.

Wanneer hy sy valhelm afhaal, sien sy dat hy ’n baie aantreklike man is. Dit lyk asof die ander twee mans elkeen ’n elektriese skok kry. “Al weer jy!” gil Snorre en staan ’n paar tree weg.

“Ja, dis weer ek en julle twee skarminkels. Waar is jul vriend met die groot bek? Pleks om die dame in nood te help, molesteer julle haar. Hierdie keer gaan ek julle nekke breek,” sê hy en stap dreigend nader.

“Weg is ons!” skree Rooibaard en die twee hardloop soos vlakhase na hul kar. Die nuwe aankomeling kyk hulle geamuseerd agterna. “ ’n Regte klomp uitvaagsels,” merk hy op. “Hulle soort hoort agter tralies. Maar wag, dat ons nie tyd mors nie,” en hy gryp die domkrag, plaas dit in posisie en begin die kar oplig.

Elra gaan sit verlig op haar hurke en kyk hoe hy die wiel omruil. Hy doen dit vinnig met selfvertroue asof hy dit elke dag doen.

“Dit lyk asof jy daardie twee karakters ken,” sê sy. “Hulle het duidelik ’n heilige vrees vir jou.”

“Ja, ons het al ontmoet. Toe was daar drie van hulle. Ek wonder wat van die ander een geword het.”

Sy wys na die motorfiets. “Vind jy nie daardie groot gevaarte met sy 1450 cc-enjin moeilik om te hanteer nie?”

Hy kyk verbaas na haar. “Dit klink asof jy baie van motorfietse weet,” sê hy.“Nie rêrig nie. My boetie is ’n motorfietsfanatikus en het ’n Harley gehad, maar gekla dat dit te groot en swaar is om te hanteer. Hy het dit toe verkoop en vir hom ’n BMW 650 aangeskaf wat natuurlik baie ligter is.”

“Dit was ’n goeie keuse,” merk hy op. “Ek oorweeg dit om eendag dieselfde te doen. Wanneer ek dit kan bekostig.”

Toe hy klaar is, sit hy die gereedskap terug in die kattebak. Hulle gesels ’n rukkie. Sy naam is Chris Rabie en hy is ’n landmeter van Pretoria wat tans opmetings vir ’n myngroep daar naby doen. Hulle vind ook uit dat hulle hul studies dieselfde jaar by die universiteit voltooi het. Sy in joernalistiek en hy in landmeetkunde.

Sy vra hom weer van waar hy die twee niksnutte ken wat haar lastig geval het, maar hy wil duidelik nie daaroor te praat nie. Hy kies sy woorde versigtig, want hy weet nie of sy ’n vaste kêrel het nie.

“Wanneer ons mekaar eendag weer in Pretoria raakloop, sal ek jou die hele storie vertel.”

Sy reageer egter nie daarop nie en hy voel teleurgesteld. Dan is daar tog ’n man in haar lewe, dink hy.

Hulle neem afskeid. “Voorspoedige reis, Elra,” sê hy en stap na sy motorfiets. “Chris, ek weet nie hoe om jou te bedank nie. Baie, baie dankie.”

“Groot plesier,” antwoord hy met ’n breë glimlag. Hy sit sy valhelm op en skakel die motorfiets aan. Hy gee haar ’n militêre saluut en trek met ’n groot vaart weg.

Sy sit nog en kyk hoe die motorfiets oor die horison verdwyn toe haar selfoon lui. Dis haar suster. “Elra, presies waar is jy nou? Ben sal dadelik ry om jou te help.”

“Dankie, Magriet. Dit sal nie nodig wees nie. ’n Aantreklike en sjarmante jong man het nou net die wiel vir my omgeruil. Ek is nou weer op pad.”

“Aantreklike, sjarmante jong man?” vra Magriet. “Jou ridder op die wit perd?”

Elra lag, want haar suster terg haar altyd omdat sy op 29 nog nie getroud is nie.

“Nee, ’n ridder op ’n Harley. Maar wanneer ek jou oor ’n kwartier sien, sal ek jou al die interessante dinge vertel wat vandag gebeur het.”

Sy kyk na die visitekaartjie wat uit sy sak geval het toe hy aan haar kar gewerk het. Chris Rabie, Landmeter staan op die kaartjie.

Daar is ook ’n adres in Pretoria en ’n selnommer. ’n Polisievoertuig stop langs haar en twee polisiemanne klim uit. Sy herken hulle as die twee wat sy vroeër by die ongelukstoneel in die dorp gesien het.

Skielik is baie dinge vir haar duidelik. Daardie man op die sypaadjie met sy bebloede gesig was nie in ’n ongeluk betrokke nie. Hy is die derde skarminkel waarvan Chris Rabie gepraat het.

Hy en die twee karakters met hul flentergesigte wat haar lastig geval het was in dieselfde bakleiery betrokke. Hulle het met die verkeerde persoon skoor gesoek, dink sy, terwyl sy die venster afdraai.

Toe Chris Rabie by sy kamer instap, begin sy selfoon bliep. Hy haal die foon uit en begin die boodskap lees:Hello Chris, dankie vir die hulp vandag.

Net nadat jy weg is, het die polisie daar opgedaag. Hulle soek na ’n man wat met ’n motorfiets rondry. Hulle ken nie sy naam of die motorfiets se registrasienommer nie, maar volgens hulle is hy ’n karate expert wat onskuldige mense opfoeter.

Een van sy slagoffers het glo vandag in die hospitaal beland. Ek het vir hulle gesê dat ek nie so ’n man ken of gesien het nie. Hulle is toe haastig daar weg terug dorp toe.

Oor twee weke is ek weer terug in Pretoria. Bel my asseblief, want ek wil jou graag vir ete nooi. Ek wil daardie storie hoor wat jy belowe het. Mooi bly en wees versigtig! Groete, Elra Coetzee.

Hy glimlag terwyl hy haar nommer skakel.