Sy was nie ’n kind wat vreeslik drome gedroom het nie. 

Sy het elke dag aanvaar vir wat dit was; die pad was stowwerig en vol klippe skool toe en terug, vaal met min groen en mooi. 

Retha het elke middag by die huis gekom en haar huiswerk gedoen, geleer wanneer sy moes en elke dag die vuil skoolskoene blink gevryf en reggekry vir die volgende skooldag.

Sy het soms oor naweke en skoolvakansies ’n boek nader getrek. 

Sy het haar min gesteur aan die giggelgroepe en was tevrede met haar twee vriendinne wat pouses op die trap onder die wiskundeklas gesit het. 

Sy het nie vlinders in haar maag gekry vir die testosteroonbelaaide rugbyspelers wat gedink het hulle is voorbladmodelle van oefentydskrifte nie.

Haar pa se bederf vir haar en haar ma was om een keer per maand, of dit nou skool of vakansie was, op ’n Saterdag die langpad te vat sonder groot planne. 

Hy het net haar ma gewaarsku om die piekniekmandjie reg te kry, want “môre ry ons”. 

Dan het hulle geweet dit is die dag waarop haar pa sy kop wil skoon kry.

Die vlaktes wat kilometer ná kilometer verby Retha geflits het, was vaal en plat; ander kere het klippe, rotse en koppies hoogte gegee. 

Sy was nie ’n kind wat vreeslik drome gedroom het nie.

Kosmosblomme het in die herfs die landskappe ingekleur, en met ander tye het die sonneblomme kiertsregop die son met hul kop gesoek. 

Al wat nooit van die landskap verander het nie, was die groen langs die kronkelende rivier.

Dit is dié groen wat Retha in ’n droomwêreld ingetrek het – ’n tyd wat ook haar enigste droomtyd was. 

Die bekoring het in die wilgerbome gelê met hul koppe wat altyd oor die water hang, met die misterie in die roering van die takke en fluisterstemme wat die stories in haar kop kom roep het. 

Sy het langs die rivier se rytye ontsnap en gedroom van haar eendag se huis langs wilgerbome.

Sy het nooit gedroom oor hoe die vertrekke van die huis sou lyk nie; ook nie oor die woonkamer, badkamer en tuin nie, nog minder oor met wie sy die huis sou deel. 

Dit was die drome oor die bome, vol misterie, wat haar gedagtes gegroepeer het namate die takke oor die waters beweeg en waar wortels soms uit die aardkors gebars het. 

Vandag, 42 jaar ná daardie skool-droomtyd, stap Retha daagliks met ’n kronkelpaadjie tussen die wilgerbome al langs die rivier se waters wat suidwaarts vloei. 

Soms glimlag sy wanneer haar gedagtes haar terugneem na haar goeie jare saam met haar man wat sy tot drie jaar gelede versorg het, en soms kom daar ’n verlangende skadu oor haar oë wanneer sy aan haar goeie jare saam met haar beste vriend dink saam met wie sy ’n stil maar gelukkige lewe gehad het.

Sy het haar drome van die langpadry met hom gedeel en hom toegelaat om in haar droomwêreld in te kom. 

Sy het ook geglo elke boom het hul eie storie; daar moes redes wees hoekom party groter kromskouers as ander gehad het.

Hy het altyd net geluister, nooit vrae gestel nie; ook nie hoekom sy dit ná soveel jare met hom deel nie. 

Hy het net geluister wanneer sy skaamverleë vertel dat sy ook gedroom het om kwaste op te neem om soos Pierneef wilgerbome te skilder.

Sy het in dieselfde asem dit as laf afgemaak, maar terwyl die jare se seisoene bly verander het, het sy steeds dié drome met hom gedeel en hy het geduldig geluister.

Hul huis, wat toe nooit naby wilgerbome was nie, het net haar en haar man se asem gehad. 

Sy het nooit verder gedroom nie, ook nie gesmag na asempies van kinders nie, en was net dankbaar vir haar lewe saam met haar man.

Haar verbasing het gekom toe sy oorkant die prokureur sit en luister hoe hy die testament hardop lees. 

Die meeste dinge wat hy gelees het, het by haar verby gegaan, maar wat in haar geheue ingekerf was, was toe hy Totius se gedig Die Lied van die Wilg lees en sy hom hoor praat van “herontwaak” en “die wind jou rustloos roer”. 

Retha se man het met sorg dié gedig gekies wat die man nou lees, want terwyl hy siek was, het hy geweet die tyd kom nader dat Retha se drome lewend moet word.

Die klein, knus en veilige huis was aan die oewer aan die rivier op die Vrystaatse dorp Parys, en al wat Retha elke dag kon sien wanneer sy gaan stap het, was wilgerbome – elk met hul eie storie en party boomkopskouers wat laer as die ander hang. 

Vanuit elke venster in haar huis kon sy ook die beweging en roering van die takke sien, en in die aand wanneer sy ver­langend op die waters uitkyk, het sy bly terugdink aan haar man, hoekom hy haar nooit oor die wilgerboomdrome uitgevra het nie en net geluister het.

Die klein, knus en veilige huis was aan die oewer aan die rivier op die Vrystaatse dorp Parys, en al wat Retha elke dag kon sien wanneer sy gaan stap het, was wilgerbome – elk met hul eie storie en party boomkopskouers wat laer as die ander hang.

Ses maande ná haar aankoms in die eens vreemde wêreld kon sy met haar stap elke dag langs die wilgerbome mense makliker groet, soms kort geselsies aanknoop, draaie gaan loop tot by die omgedraaide “y” van Parys, soos die dorpenaars hul klein Eiffeltoring spot.

Soms het sy in die antiek­winkeltjies ingeloer, maar sy het altyd verby die kuns­galerye gestap.

Sy het nooit in gegaan nie, net deur die venster na die skilderye gestaar.

Retha het mettertyd gereelder in die bi­blioteek ingegaan en gekyk wat sy alles kan opspoor en nalees oor wilgerbome, soekend na die rede dat die pragtige bome haar so bekoor.

Sy het gelees van die betekenis van die bome in baie godsdienste, van betekenisse rondom Paasfees tot in China, waar geeste deur wilgertakke verdryf word, en in Japan, waar wilgerbome met spoke verbind word. 

Sy kon nooit die simboliek van die donker kant van die bome verstaan nie, al het dit in so baie boeke opgeduik as donker en boosagtige heks­gedrogte.

Selfs waar sy in die middel van die aand na die roering van die takke staar wanneer slaap haar ontwyk, het sy verwonderd gekyk hoe die takke saam met die wind beweeg, met geen teken van hardkoppigheid om teen sterker winde te baklei nie. 

Sy het ook gelees van die bome se medisinale waarde, hoe houtskool van die takke gemaak word, mandjies van die takke gevleg word en dat dit die nasionale boom van ’n land is.

Ook dat die wilgerboom vergeleke met ander bome nie oud word nie – as dit ’n goeie, sterk boom is, sal 30 jaar ’n goeie leeftyd wees.

Dit was vandag presies drie jaar gelede dat Retha die nuwe hoofstuk in haar lewe ingestap het. 

Sy kon nooit die simboliek van die donker kant van die bome verstaan nie, al het dit in so baie boeke opgeduik as donker en boosagtige heks­gedrogte.

Sy het op die kouerige winterdag lank al langs die bome by die rivier gedrentel. 

Toe sy by die huis kom, wat sy later Die Lied van die Wilg gedoop het, wag die prokureur met die ronde brilletjie wat vir haar die testament met sy sagte stem gelees het by die hekkie.

“Middag, mnr. Botha,” groet sy. “Jammer, ek het jou nie verwag nie. Het ek geweet jy kom, sou ek nie vandag so lank gaan stap het nie.”

Met die innooi maak hy met dieselfde sagte stem verskoning: Hy wou haar nie onkant betrap het nie, maar die plan was dat sy besoek ’n verrassing moes wees. 

Hy gaan nie inkom nie; hy is net hier om ’n houer by haar af te lewer, waarna hy haar graag wil los om in haar alleenheid die mooi toegedraaide houer oop te maak.

Retha staar na die groterige houer, verwonderd oor wat op haar wag. 

Sy groet die prokureur toe hy dit van die hand wys om iets te drink, haastig om self by die huis te kom. 

Sy maak seker die veiligheidshek is gesluit en sluit die deur. 

Daar moes redes wees hoekom party groter kromskouers as ander het

Sy skakel die lig aan omdat daglig vinnig van skemer na pikdonker verander en gaan sit op die rusbank, in verwondering oor die houer en die inhoud.

Met groot verbasing en effens onverwagte skok oor die vreemde aflewering maak sy die een lint ná die ander los en skeur die papier versigtig los. 

Daar lê ’n koevert bo die verpakking van kwaste in alle groottes, verf in alle kleure en in klein tot groter botteltjies, poeierverf, olieverf, pastelle, houtskool, potlode, ’n uitveër, tekenvelle, sketsboeke, drie verfborde en ’n opvoubare esel.

Retha se hande bewe liggies, amper te bang om die koevert oop te skeur. 

Dit is asof sy weet wat daarin staan, haar naam geskryf in die bekende handskrif. 

Sy skeur die koevert oop, ruik aan die papier asof sy ’n bekendheid kan raaksnuif, trek die vel papier uit en begin lees.

Liefste Retha,

Vandag is dit presies drie jaar vandat ek jou in vlees vir eers gegroet het. 

Ek het gedink ek gee jou drie jaar om heel te word ná die hartseer van my laaste asem. 

Ek kon altyd in verwondering na jou drome luister. 

Tydens my siekte het ek myself as die wilgerboom begin sien wat nou reg aan die voorkant van jou kamervenster beweeg.

Dit is nou tyd dat jy jou droom laat leef en seker maak die Retha-Pierneef skiet wortel. 

Hier is ook die telefoonnommer van ’n interessante dog sagte kunstenaarsvrou wat jou hiermee gaan help. 

Ja, sy is met sorg gekies – sy verstaan jou reeds en sal nie veel vrae stel nie. 

Jy hoef niks te verduidelik nie; jy moet net gaan.

Onthou, ek is die roering in die boom waarna jy elke aand kyk. So is en sal ek altyd by jou wees, my lief.

Met liefde,

Jou man.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.