Hy hou aan haar boarms vas, draai sy kop effens na agter en skree “voertsek!”.

Net die een woord.

En die lede van die Yankeez verlaat sleepvoetend, mompelend die gebou.

Rania was nog nooit so bang nie; tog is dit asof haar sintuie oortyd werk.

In die skemerdonker sien sy alles raak – die stukkende vensters, bottelskerwe op die sementvloer, die sweetdruppels op Antony se voorkop en die arend op sy boarm getatoeëer.

Sy voel die hitte van sy bolyf naby hare en ruik die vuil plasse water om hulle.

“Asseblief,” pleit sy, “my sussie . . . my sussie is alleen by die huis.”

Dis nie nodig om te verduidelik nie.

Almal in Stofland weet van Sarenda. Haar sesjarige sussie. Die stadige enetjie. Lucian se weggooikind. Dis veral nie nodig om aan Antony te verduidelik nie.

Rania se grootste vernedering is vir altyd in haar geheue ingeprent. Dit was kort nadat haar pa weg is.

Rania was al voor pouse duiselig, en die nasomerhitte het die Afrikaansklas bedompiger as gewoonlik gemaak.

Sy was naar van die honger. Sy was vaagweg bewus van die seuns agter in die klas se onderlangse gesprek.

Antony wat praat: “In die ou Distrik Ses het bendes vir orde in die gemeenskap gesorg. My oupa se pa was by die Globe Gang.”

Sy moes flou geword het.

Toe sy bykom, was dit met die onderwyser se bekommerde gesig voor haar oë en die seuns se gekoggel: “Queen Rania het uitgepaas.”

Mnr. Lindley het die klas saaklik stilgemaak, Antony aangesê om saam met haar huis toe te gaan en geld uit sy eie beursie gehaal vir ’n taxi tot in Stofland.

Toe Antony die deur van die huisie oopmaak, was die toneel wat alles verduidelik voor hulle: haar ma op die sementvloer langs haar sussie.

Dronk.

Sarenda se hongerhuil teen daardie tyd net ’n patetiese gekerm.

Die suur reuk van drank gemeng met dié van die kleintjie se doek het seker sy asem weggeslaan.

En toe hy die kombuiskas oopmaak, was dit dolleeg. “Bly hier,” het hy gesê.

Minute later was hy terug. “Dè.” In sy hande was ’n halwe witbrood, ’n blikkie Coke en ’n botteltjie melk. “Gee vir haar die melk en drink jy die Coke. Dit sal vir die flougeid help.”

Twee dae later het hulle die eerste pakkie gekry. Weggesteek agter die drom by die deur, ’n inkopiesak met melkpoeier, brood, twee blikkies vis.

‘In die ou Distrik Ses het bendes vir orde in die gemeenskap gesorg’

My pa is weg, het Rania bly gedink, maar hy weet ons kry swaar. Hy kon my ma se gedrink nie meer vat nie, maar hy sorg nog.

Die pakkies het Rania gedra deur matriek, deur die gesukkel om werk te kry en die lang baklei met die maatskaplike werker om ná haar ma se dood haar sussie by haar te hou.

Toe Sarenda ouer raak, het Rania haar dikwels gevra wie die items gebring het. “Die engel,” was al wat Rania ooit uit haar kon kry. En wanneer sy vra hoe Sarenda weet dit was ’n engel, het sy net gesê dis oor hy vlerke het.

Lucian was altyd lief vir mooi aantrek en blink motors, en Rania het aanvaar haar pa het seker een van die groot swart Amerikaanse motors met ’n arend op die bonnet aangeskaf.

Ná haar ma se dood het sy bly glo hy gaan hulle nog eendag kom haal. Antony is nooit weer terug skool toe nie. Sy klasmaats het gehoor hy werk vir ’n taxibestuurder.

Antony trek Rania tot teen hom en tree terselfdertyd agteruit sodat sy rug die deur toedruk.

Hy praat sag, so naby aan haar dat sy sy asem teen haar oor kan voel. “Wanneer ek sê, wil ek hê jy moet gil.”

Hy stamp ’n paar keer met sy boarm teen die deur. “Nou.” Rania gil. “Harder.”

Weer die warmte teen haar oor. Lank staan hulle so, met haar kop teen sy skouer vasgedruk.

Rania is te bang om asem te haal, en sy asemhaling is hortend. Toe dit ’n hele ruk doodstil buite is, druk hy haar van hom af weg. “Wag hier.”

Antony maak die deur stadig oop, kyk heen en weer en glip toe uit. Rania se knieë swik en sy sak stadig af tot op die vuil vloer.

Wat nou, wonder sy. Moet ek hier sit en wag dat hy terugkom of hulle almal dalk omdraai?

Sy sien Antony nie in die donker terugglip nie. Hy trek haar uit die vervalle gebou.

Die Yankeez het haar vroeër op pad huis toe van die werk af voorgelê en omsingel en toe hier in die ongebruikte winkelstoor ingeboender. “Bly stil en loop agter my aan.”

Hy lei haar teen die muur af in die donker stegies tot hulle naby Rania se huis is. Sy struikel oor ’n leë bottel.

Antony skop dit uit hul pad. “Moer, ek is gatvol vir al die gemors! Hulle moes Stofland eintlik Stinkland genoem het.”

En toe sy nie reageer nie: “Ek wil hê jy moet weet, ek’t nog nooit ’n girl . . . Vanaand was ’n toets om my loyalty vir die gang te wys.”

Rania ruk haar arm los en begin hardloop, struikel-struikel in die donker. Sarenda was die afgelope ruk opstandig oor sy by antie Soes langsaan moet bly terwyl Rania werk. Sy het gekerm oor skool toe gaan.

Sy glip amper elke dag weg en vaar die strate in sodat Rania dikwels saans ná werk eers moes loop en soek en roep.

Antony haal haar in toe sy antie Soes se geroeste hekkie ooppluk. Die ouer vrou kom handewringend uit.

“Sy’s weg, Rania . . . My weer ontglip. Ek het die seuns laat soek, maar niks. Hulle was tot bo by die grootpad.” Rania draai om en hardloop. Op en af in die stofstrate, soekend onder digte bosse en agter elke ou kar.

Sy begin saggies huil toe haar longe brand en sy nie asem kry nie. Sy voel hoe Antony sy arm om haar skouer slaan.

“Gaan jy terug huis toe; dalk is sy daar. Ek sal aanhou soek.”

Dis amper ligdag toe Antony die kleintjie kry. Sy lê opgekrul teen die muur van dieselfde ongebruikte stoor waarheen die Yankeez Rania die vorige aand geneem het.

Daar is traanmerke op haar stowwerige wange en snotstrepe tot teen haar bolip. En bloed.

Antony stap met haar tot by die grootpad, keer ’n motor voor en vra hulle moet hom hospitaal toe neem.

Hy gooi toe duim terug Stofland toe om Rania te gaan haal. In die taxi op pad terug Worcester toe praat hulle min.

Antony se arm is vertroostend agter haar skouers. Hy bly langs haar toe sy eers vorms invul en neem haar hand toe sy toegelaat word om haar sussie te sien.

Sarenda lyk klein en broos onder die wit hospitaalbeddegoed. Maar sy is wakker. Sy steek haar arms na Rania uit, haar oë soekend na Antony.

“Ranie, die engel het my gekry. Toe bring hy my hiernatoe. Ek was bang.”

En met dié begin sy droewig huil.

“Ek het jou gaan soek. Maar toe kom daar mans wat my met klippe gooi en my jaag.”

Rania paai die kind, maar haar gedagtes maal. Die engel?

“Was dit jy wat die hele tyd die pakkies gebring het? Ek het dan gedink dis my pa . . .”

Sy sien dit in sy oë voor sy die woorde hoor.

“Jou pa is in die tronk, Rania. Ek dag jy weet van die drugs, van die mang.”

Rania keer haar rug op hom. Sy wil nie hê hy moet die vernedering op haar gesig lees nie.

“Rania, ná daardie eerste dag by julle huis . . . Ek kon julle nie so los nie. Toe leer ek gou hoe ’n mens maak . . . Jy bly in die winkels naby een van die ryk anties. En as sy vir jou kyk, vra jy of sy nie miskien vir jou ’n brood kan koop nie; jy het ’n vrou en kind by die huis. As sy ja sê vir die brood, dan vra jy ’n blikkie vis of boks melk ook.”

Hy probeer nader staan en weer sy arm om haar sit, maar bedink hom.

“Dan gaan ek maar eers. As Queen Rania my sal verskoon.” En met ’n verspotte buiging in haar rigting draai hy om en loop. Sarenda begin van voor af huil, maar gelukkig kom ’n verpleër net toe in die kamer in met die nuus dat Rania haar huis toe kan neem.

Die volgende paar dae doen sy alles outomaties. Troos. Hou Sarenda snags styf vas om die nagmerries weg te hou.

Staan op, maak aan die kant, maak kos. En deur dit alles, knaend in haar agterkop die wete: Dit was toe die hele tyd Antony. En toe een aand, ’n week later, hoor sy klippies teen die sinkmuur.

“Rania, ek kom groet; ek gaan weg.”

Antony staan koponderstebo buite. Hy skop-skop na die klippe teen die huis.

“Ek wou altyd lid wees van ’n gang. Soos Robin Hood van die rykes steel en vir die armes gee. Maar ná jou sussie . . . Ek wil nie van so iets deel wees nie.”

Hy vat haar aan haar boarms vas.

“Ek het ’n antie in Gauteng. Sy het gesê ek kan daar gaan woon en werk soek. Hulle sal skole hê vir kinders soos jou sussie. Sodra ek alles ge-organise het, kom ek jou haal. Vir julle.”

Hy vervolg onseker: “As dit reg is met jou.”

Rania sit haar arms om Sarenda se engel. “Dis reg met my. Met my én my sussie.” En selfs in die donker sien sy die bly-word op sy gesig. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe