Sarie is moeg. Pootuit. Sy gaan sit in haar koffieplek, bestel koffie en wortelkoek en leun terug in die sagte stoel.

“Halleluja, Sarie, ’n bietjie normaliteit, soos ’n normale vrou in die mall,” praat sy met haarself.

Sy betrag die mense en wonder of hulle ook met ’n kruis deur die lewe loop.

Ma het mos altyd gesê: “Elke huis het sy kruis, elke hart sy smart en elke kas sy geraamte.” En dan bid pa Sondae bo van die kansel af vir die huise se kruise, die harte se smarte en die spoke in die kaste.

En dan sit sy daar onder ma se blad en luister na pa, gelukkig en tevrede dat die kruise en smarte en spoke nie by hulle kom intrek het nie.

Maar die kruise het gekom, baie gouer as wat sy gedink het, tot binne-in die slaapkamer van die huis wat Daan vir hulle teen die heuwel laat bou het. En saam met die kruise, die smarte en die spoke.

Die koffie kom. Sy voeg versoeter by en druk die vurkie deur die wortelkoek, nat en neuterig soos sy daarvan hou.

Sarie hou haar oë op die vroue wat verbyloop. Tuisteskeppers sonder glimlagte en nie so jonk soos die gesigte geverf is nie, die lippies in reguit lyne en die voorkoppe gefrons soos mense wat sukkel om van migraine ontslae te raak.

Party se trollie is vol kruideniersware, ander loop met ’n baba in die arms of kleuters wat vir roomys skree.

Almal is haastig, want die kinders moet in die bed kom, die kos moet op die stoof en als moet reg, want manlief is op pad terug van die werk af.

Manlief het ’n moeilike dag agter die rug en hou van sy rus en vrede wanneer hy by die huis kom. Manlief werk soos ’n slaaf om die pot wat sy vrou op die stoof sit aan die kook te hou.

Manlief is nie so gelukkig om heeldag by die huis te sit en vir die kinders stokkielekkers te gee wanneer hulle skree nie.

Sy wens sy kan dit uitbasuin: “Maak gou, mevrou, jou man is op pad, die kinders moet skoon, die kinders moet eet en manlief is lus vir sy gunstelinggereg: braaiboud saam met aartappels en groenboontjies.

Maar nie gebliktes nie, my vrou, lekker nes ma dit maak, jy weet mos, ma het jou nog laas gewys.

“En mevrou, wanneer jy met die kinders klaar is en die potte is op die stoof en die boud in die oond, dan moet jy vir jou mooimaak, want manlief moenie sy lus vir jou verloor nie; groen blare daarbuite is volop.

En mevrou, wanneer jy klaar geëet het en jy die kinders in die bed gesit het, moet jy gaan bad, want jy moet lekker ruik wanneer manlief by jou op die bed kom lê.

“Al wat jy kan doen, mevrou, is vasbyt, want die getye is teen jou – laagwater, hoogwater én springgety.

Die Bybel sê ook die man is die hoof van die huis, en die regering klou vas aan ’n paternalistiese kultuur waar die man as die vrou se meerdere gesien word; tweedeklasburgers, objekte van genot.

“Lees die koerant, mevrou, kyk hoeveel vroue daagliks geminag word en dit sonder die onopgetekende gevalle van dit wat in die hutte en die heuwels van ons land gebeur.”

Sy neem die laaste happie wortelkoek en stoot haar bordjie terug, want sy moet huis toe gaan. Die hoof van die huis wil hoenderpastei hê.

Daan sê daar is beter maniere om te dood as om aan ’n batteryhoender te verstik

“Lekker hoenderpastei vanaand, Sarie. Lekker fyn uitgepluisde hoenderpastei met ’n skilferkors wat nie vetmaak nie, ’n boepens is mos nie vir my nie. Jy is self ook besig om ’n bietjie te stoel,” was sy afskeidswoorde die oggend.

“Ja, Daan, met ’n kors sonder stysel. Ons moenie stoel nie,” het sy beloof. “En lekker uitgepluis nes jy daarvan hou.”

Toe Sarie by die huis kom, sit sy die hoendertjie op die stoof en gaan sit en wag op die stoep in die plataanboom se skadu dat die hoendertjie lekker sag kook sodat sy hom lekker fyn kan uitpluis.

Daan sê dis lewensbelangrik om die hoendertjie lekker uit te pluis, want een van sy sekretaresses het amper in haar chicken mayo verstik toe die kafee nie die hoendertjie ordentlik uitgepluis het nie.

Daan sê daar is beter maniere om te dood as om aan ’n batteryhoendertjie te verstik wat nie lekker uitgepluis is nie.

Toe die hoendertjie goed uitgepluis is, rol sy die skilferkors op sy dunste uit, want hoe dunner, hoe minder kalorieë, is wat Daan dink.

Daarna gooi sy die uitgepluisde hoendertjie in die oondbak saam met geblikte sampioene pleks van vars ingevoerdes uit die Duitse Swartwoud, want dis te duur en Daan het dit buitendien nog nooit agtergekom nie.

Sy meng die uitgepluisde hoendertjie en die sampioene lekker deurmekaar en druk die verbryselde deeg mooi plat bo-oor die versplinterde hoendertjie.

Toe bestryk sy die konkoksie met twee geklitste eiers pleks van dinamiet en druk die hoendertjie in die oond. Sy wens die hoendertjie skiet haar saam met die stoof dwarsdeur die kombuisdak die bloute in.

“Happiness is orbiting the earth in an electric oven, covered in chicken pieces and tinned mushrooms,” praat sy Engels met haarself.

Sy gaan weer op die stoep tussen die jasmynranke sit en wag. Wag dat die lewe verbygaan en vir ’n hoenderpastei wat moet gaar; wag vir manlief wat met sy fronsgesig by die deur gaan inkom.

Die hoenderpastei was lekker, maar bloot omdat sy honger was.

Daan het heerlik geëet en nes Jack Nicholson in One Flew over the Cuckoo’s Nest gegrynslag terwyl hy komplimente uitdeel oor die heerlike vars sampioene uit die Swartwoud en die skilferkors sonder kalorieë asof Gordon Ramsay dit gemaak het. Maar sy weet.

Dis maar net deel van sy primitiewe voorspel – sy kinderagtige strategie om haar op sy woorde voor te berei. “Die werk maak my op. Sal weer moet kantoor toe.”

Maar sy weet. Die vrou se naam is Tess. Sy het self die naam gesien. Tess. En die foto’tjie. Met haar eie oë op sy selfoon.

’n Mooi vrou met lang, blonde hare en groot oorbelle, ringvormig, die een geel en die ander rooi.

En toe konfronteer sy hom. En toe spat haar lewe uiteen. Sy harde stem toe hy haar met die sel betrap.

“Met jou is ek klaar!” Toe kom die finale, diepste hou: “Met jou is ek klaar, met jou en jou barre lyf!” Van daardie dag het hy nog nie weer ’n voet in haar kamer gesit nie en dis nou al drie maande dat sy daarmee saamleef.

Die liefde van haar lewe in die arms van ’n blondekopvrou met groot oorbelle. En nou kruip die man agter sy kantoor weg. Maar laat hy gaan.

Sy dag sal kom. Ma het altyd gesê: “Wat jy saai, sal jy maai.” Toe Daan se kar straataf verdwyn, spring sy onder die stort en vryf die skuim van die stortjel liefderyk oor haar maag.

’n Effense glimlaggie versprei oor haar gelaat. Daan is reg. Sy is besig om te stoel, maar nie van skilferkors nie. En die hoendertjie het ook niks daarmee te make nie.

Die lewetjie in haar buik is daarvoor verantwoordelik. Haar en Daan se lewetjie. Die lewetjie waarna hulle so gesmag het. Toe sy klaar is, gaan lê sy op haar bed.

Die huis is doodstil. Weg is die voorafgaande maande se gelag en gekuier. Die heerlike samesyn van twee mense wat net die dood moes skei.

Sy trek die geur van haar laventel in haar neus op om van Daan se reuk weg te kom.

Toe Daan se sleutel net voor middernag in die voordeur knars, lê sy nog oopoog in die donkerte en dink aan die dag van môre en haar besoek aan die ginekoloog wat haar al soveel jare bystaan.

Sy moet seker maak alles is reg. Dis haar kind en niks moet verkeerd loop nie.

Ontbyt was weer soos die afgelope tyd. Grafstil. Met net “sout” en “tamatiesous” wat so af en toe die stilstuipe verbreek. Toe Daan die deur agter hom toetrek, sit sy die skottelgoed in die opwasbak en hardloop die trap op kamer toe.

Sy trek een van haar ligte katoenrokkies aan, steeds nommerpas ná soveel jare, die soom val tot op haar knieë en sy stryk die kreukels met haar hande uit.

Sy gaan sit voor die spieël en probeer die kringe om haar oë met maskara verdoesel. Nadat sy haar lippe rooi gemaak het, staan sy op, beskou haarself in die spieël en knik. Sy trek haar motor uit die garage, ry in die hoofstraat af en parkeer voor die mediese sentrum.

Die ginekoloog sal bly wees. Daarvan is sy doodseker. Eindelik swanger! Sy hoor al die lofsange, maar weet nie hoe sy dit sal hanteer nie.

Voor die spreekkamerdeur huiwer sy so effens, maar draai die deurknop en loop binne. Sy sien die vrou voor die toonbank in gesprek met die ontvangsdame.

Haar blonde hare val oor haar skouers weg en maak ’n horisontale lyn, skerp in kontras met die swart van haar mini. Sy dra oorbelle. Ringvormige oorbelle. ’n Gele en ’n rooie.

Die ontvangsdame se helder stem sny deur haar siel. “Baie geluk, mevrou, ek hoop die kleinding bring vir julle net geluk!”