Ek sien die groot stuk papier teen die muur dadelik raak, want die eerste woord, geskryf in dik merkpenhoofletters, is “Neville”.

My naam was Neville voor ek op straat beland het.

Deesdae is ek Shorty.

Want Groot Neville, wat al lank voor my in dié einste strate rondgehang het, vertel hy is die Neville van die strate.

Ek mind nie. Groot Neville is eintlik goed vir my.

Dis veiliger om aan sy kant te wees as alleen.

Neville Pa is jammer! Ek het gehoor jy is deesdae in hierdie omgewing.

As jy my kan vergewe, sal ek jou graag terug wil hê.

Ek sal Saterdag die 25ste om 11:00 by Abraham’s Café and Take-Aways op die hoek van 2de Straat en Jansenstraat vir jou wag.

Hoop jy is daar! Dadda Kan dit my Dadda wees wat hierdie poster met sy eie hande geskryf het?

Ek meen, ek is nie die enigste Neville hier rond nie.

Useless, sleg ding. Jy is onnosel; dis hoekom jy so agter is op skool . . .” eggo Pa se woorde van destyds in my kop.

Dis seker ’n ander Neville se pa wat hom soek.

En weet jy wat? Ek is bly dis nie my pa nie. Ek meen, kan jy my regtig blameer dat ek nie meer tyd vir pa’s het nie? My dadda het my ma gelos toe ek vier was.

Toe vat sy weer man omdat sy dit nie kon bekostig om op haar eie aan die lewe te bly nie. Die nuwe man was lief vir die bottel. Hy het my geslaan.

Vir Ma ook.

Partykere was ek ’n week lank nie in die skool nie, want hulle wou nie hê die juffrou moes my bruises sien nie.

Ek het toe begin agterraak. Nou is die man in die tronk.

Hy het my ma doodgemaak toe sy hom wou los.

Met ’n pa en stiefpa soos myne sou jy ook soos ek gewees het. My pelle vertel my hulle het sulke papiere op ’n hele paar plekke opgeplak gesien.

“Ek het gesien hoe die man ’n poster in 4de Straat opplak,” vertel Ivan my.

Dit kan waar wees, maar dalk ook nie. Ivan se kop is nie altyd lekker nie, van die gom wat hy snuif.

“Hoe het hy gelyk?” het ek gevra en gemaak of ek nie regtig omgee nie.

“Hoe het wie gelyk?” wou Ivan toe weet.

“Die man wat die posters opplak, Ivan.”

“Hy was bruin.”

Omtrent almal van ons is. Dis ’n coloured neigbourhood hierdie.

“Wat nog, Ivan?” “Donker hare.” Die meeste van ons het donker hare.

“Was hy kort, lank, vet maer, oud, jonk?” “Nie regtig lank of kort nie.”

My pa is nie regtig lank of kort nie, maar dis ook waar van die meeste pa’s.

Ná my ma se dood het die welsyn my gestuur om by my pa te gaan bly. Ek was 11. Hy wou my nie regtig daar hê nie.

Hy het baiekeer gesê hoe onnosel en useless ek is, oor ek al twee jaar ouer as my klasmaats was.

Toe loop ek weg, en nou sit ek waar ek vandag sit.

Ek vertel nie hierdie soort goed dat jy vir my moet jammer wees nie, hoor!

Ek haat trane. Niemand mag ooit vertel dat hulle Shorty sien huil het nie.

My ma het gesê mans is robbies. Dalk is sy reg.

Ek is besig om ’n man te word – my lyf is lankal nie meer Shorty nie, al is dit nog my naam.

Wat maak ’n mens as jy mans haat oor hulle nie omgee nie, maar jy word self ’n man wat steel net om vir jouself te sorg?

As ek op 11 meer van ’n man was, sou ek kon keer dat die boyfriend my ma lem? Ek wil nie alles word wat ek haat nie.

Dis hoekom ek nie van plan is om Saterdag die 25ste om 11:00 by Abraham’s Café and Take-Aways op die hoek van 2de en Jansen te wees nie.

Daar is geen kans dis my pa nie.

Ek gee nie om wie se pa daai posters met sy eie hande skryf en opplak nie, oukei?

’n Paar dae later stap ek verby een van die posters. ’n Man met Jeep-labels op sy klere staar daarna.

“Seun,” vra hy my, “weet jy waar is die hoek van 2de Straat en Jansen?”

“Dis nog drie strate boontoe, dan draai Oom links, en as Oom dan nog ’n straat aanry, sal Oom ’n groot oranje bord sien teen ’n wit muur: Abraham’s Café and Take-Aways.”

“Dankie. Jy sien hierdie advertensie?”

Hy wys na die handgeskrewe plakkaat wat ek al amper stukkend gekyk het.

“Daar is nog Nevilles hier rond – ek is nie die enigste een nie, maar ek hoop dis my pa wat my soek.”

Ek sien daar is trane in sy oë. Hy gee my R10 sommer oor ek vir hom rigting beduie het, en ry weg in sy Toyota Fortuner.

Ek dink: “Really? ’n Grootmens wat met ’n Toyota Fortuner ry en seker nooit honger gaan slaap nie – kan hy ook so honger wees vir ’n regte dadda?

Ek dink in elk geval nie dit sal sy pa wees nie. As hy nie weet waar Abraham’s is nie, is hy nie regtig van hier rond nie.

Saterdag die 25ste breek aan. Ek stap om 10:15 al in Abraham’s Café and Take-Aways in.

“Voetsek!” skel Abraham van waar hy agter die toonbank staan toe hy my sien.

“As jy niks wil koop nie, uit! Jou soort steel net!”

Ek gaan wag buite. Op pad uit stamp ek amper teen Groot Neville wat op pad in is.

Ek vra nie wat hy daar soek nie. Hy hoop en wens vir dieselfde ding as ek.

Miskien bid hy selfs daarvoor; ek sal nie weet nie. Dis net dat minstens een van ons nie gaan kry wat ons soek nie.

’n Rukkie later kom Groot Neville ook uit.

Ek dink die ou agter die toonbank het vir hom dieselfde gesê as vir my.

Miskien net ’n bietjie meer bedagsaam; ’n mens is versigtig as jy met Groot Neville praat.

Hy tik met sy voet en kraak sy kneukels. Dit lyk nie of hy my wil raaksien nie.

My gr. 4-Afrikaansjuffrou het eendag vir ons ’n stuk voorgelees vir ’n begripstoets oor wat mense doen wat nervous is.

Om jou voete te tik, jou kneukels te kraak en oogkontak te vermy was drie van daai goed.

Ek dink Groot Neville ís nervous.

Ek staan maar ’n entjie van hom af. Ek herinner hom nie eens daaraan dat my naam ook eens op ’n tyd Neville was nie. Ek sien deur die kafee se venster die horlosie agter Abraham teen die muur.

‘As jy niks wil koop nie, uit! Jou soort steel net!’

Die horlosie wys 12 minute voor 11 toe daar ’n Toyota Fortuner stop.

Die man vir wie ek nou die dag rigting beduie het, klim uit. Hy loop by Abraham’s Café in en word nie weggejaag nie.

Dis later drie minute oor 11 en ek het nog niemand gesien wat soos iemand se langverlore pa lyk nie.

Toe klim nog ’n man uit ’n kar, hierdie keer ’n ou kar wat meer lyk of dit in ons neighbourhood hoort. Ek kyk, en my mond gaan oop.

Ek staar en hy begin nader hardloop met oop arms.

“Neville!” skreeu hy. “Pa is só jammer!”

Ek is in sy arms. Ek word vasgedruk soos ek laas as klein laaitie vasgedruk is. Hy praat verder, maar ek hoor amper niks nie, net dat hy jammer is. En dat hy my vra om weer by hom te kom bly. Dit voel soos die happy-ste ending ooit.

Van daardie dag af is ek weer Neville, nie Shorty nie. Ek het ’n dak oor my kop – ek bly by my dadda.

My matras en beddegoed is warm. Ek hoef nie te steel om te eet nie.

My pa vertel my dat hy my begin soek het toe hy ’n Ander Pa ontmoet het – ’n Hemelpa wat hom vergewe het vir alles wat hy verkeerd gedoen het.

Voor die Hemelpa hom verander het, het hy gevoel hy was onnosel en useless omdat hy sy gesin weggegooi het.

Noudat hy nie meer onnosel en useless voel nie, wil my pa ook nie meer enige ander mens so label nie, veral nie sy seun nie.

Hy wil reg leef. Hy wil liefhê. Hy wil ’n werk hou. Hy wil by sy seun begin. En dis waar; hy hét verander.

Ek probeer deesdae beter verstaan hoe ’n Hemelpa ’n mens kan vergewe vir hoe jy ander mense sleg behandel het.

Eendag as ek dit reg verstaan, sal ek seker ook wil bid. My pa sê bid is om met die Hemelpa te praat.

Dis nie die eerste plek waar ek dit hoor nie.

My gr. 3-juffrou het dit ook vertel die twee jaar wat ek in gr. 3 was.

Ek is bly my pa het ’n dadda daar bo gekry, want ek sien hoe lekker dit is om ’n dadda te hê wat sorg en omgee.

Soos ek sê, my storie het ’n happy ending.

Maar my storie het ook 13 unhappy endings.

Ek het nog net ’n paar keer weer met Groot Neville gepraat vandat ek ’n pa teruggekry het, maar Groot Neville vertel my hy het daardie dag getel – daar was 14 Nevilles.

En net één dadda.