Dit het alles begin met die video van die aantreklike tjellis op Facebook. Sy moet erken sy was nogal aangenaam verras met die video wat Facebook spesiaal vir haar uitgekies het.

In die video sit ’n mooie man, kaalvoet en in ’n kortbroek, iewers in ’n Europese agterstraatjie en tjello speel. Sy tone krul behoorlik om terwyl hy hom in die meesleurende melodie verlustig wat hy uit die tjello optower: die wonderskone Wals no. 2 van Sjostakowitsj.

Dis seker hoe ’n mens met ’n musiekinstrument kan liefde maak, het sy gedink en haar rekenaarskerm teësinnig toegemaak. In daardie oomblik, terwyl sy haar so sit en verlustig het aan die totale prentjie, het sy meteens aan Hendrik gedink.

Hendrik wat in die hoërskool blykbaar versot was op haar, al het sy dit toe nie geweet nie. Sy het destyds alewig haar ware gevoelens weggesteek.

Twee jaar lank was hulle bloot vriende, en ná matriek het sy nooit weer van hom gehoor nie. Sy het toevallig eers op hul 10-jaar-reünie uitgevind Hendrik was in der waarheid in daardie tyd smoorverlief op haar.

Danie, een van haar ander goeie vriende, het haar vertel hoe hulle Hendrik altyd aangemoedig het om haar te probeer uitvra. Dit was tog vir hulle duidelik hoe hy oor haar gevoel het.

“Dis vir my genoeg dat Elmien my as haar vriend beskou,” het Hendrik toe glo vir hulle gesê en hulle gevra om hom uit te los.

Terwyl sy ná die geselligheid in die bed lê en wag het dat die slaap kom, het sy vir die eerste keer vurig gewens Hendrik het op skool meer moed gehad. Sy het dadelik van die nuwe seun gehou wat in hul gr. 11-jaar in die skool ingekom het.

Die lang blondekop was stil en skaam en het pouses eenkant gesit terwyl die res van die seuns bal geskop of raakrugby gespeel het. Hy was heeltemal anders. Dit was vir almal vreemd om te hoor dat hy musiek as een van sy vakke het.

Toe Faan Meintjies eendag snedig opmerk: “Watter seun speel nou klavier?” het sy haar bloedig vererg.

“Het jy al ooit gehoor van Rocco de Villiers, Coenie de Villiers, Elton John en Billy Joel?” Die seuns het net meer gelag, en sy het maar die aftog geblaas.

Wanneer Hendrik op kultuuraande of saalopeninge die klavier bespeel het, het sy ademloos geluister. Sy het self klavier gespeel, maar was nie naastenby so talentvol soos hy nie. Byna twee jaar lank het sy die gevoel onderdruk wat hy in haar wakker gemaak het.

Eendag het sy reguit vir hom gesê hy speel besonder mooi, maar dat sy mal is oor die klank van ’n tjello. “ ’n Tjello?” het hy daardie dag verbaas gevra en skouerophalend weggeloop.

Nou dink sy meteens weer aan Hendrik. Daar is iets aan die Kroaat in die Facebookvideo, die een met sy onweerstaanbare glimlag, sy sensuele mond en mooi hande wat haar aan Hendrik laat dink. Wat sou van hom geword het?

Met die tjellis Stjepan Hauser én Hendrik in haar agterkop, maak sy die volgende oggend Google oop. “Cello classes Cape Town,” tik sy in die soekenjin in, en ’n paar resultate duik op. Maar eers moet sy seker ’n tjello kry, dink sy. Sy wil nie graag aan haar neseier van ouma Nettie se boedel raak nie.

Dié bêre sy nou al ’n paar jaar lank vir daardie onvoorsiene krisis wat kan kop uitsteek. Tog is die verleiding enorm. Die manier waarop Hauser sy tjello vashou en die melodieë wat hy daaruit optower, maak dat sy nie een oomblik langer haar droom kan inhou om te leer tjello speel nie.

Terug na Google. Hierdie keer soek sy ’n tweedehandse tjello. Weer is daar meer as een opsie om uit te kies. Hoe kies ’n mens ’n tjello? Waarna moet sy uitkyk?

Dit maak skielik vir haar meer sin om een van die nommers vir lesse te skakel. Sy besluit om geografies te werk te gaan en soek die tjellolesse wat die naaste aan Boston aangebied word.

Sy kry ’n adres in Welgemoed, ’n woonbuurt net aan die ander kant van die N1. Recently got back from England where I played in the Royal Chamber Orchestra. Willing to teach my cello skills to old and young. Henré. Sy is nie seker of Henré ’n man of vrou is nie.

Seker maar ’n ou tannie met ’n bolla, besluit sy toe sy die nommer skakel. Die foon gaan onmiddellik oor in ’n stemboodskap wat formeel in Engels sê dat hy nie nou beskikbaar is nie, want hy’s besig met ’n les.

Maar laat gerus ’n naam en nommer en hy beloof om terug te bel. Die soutie klink nie te sleg nie, dink sy dan. Later die aand lui haar foon en sy sien dit is die nommer wat sy vroeër geskakel het.

In haar beste Engels verduidelik sy toe vir hom wie sy is en wat haar situasie is. Sy wil leer tjello speel, maar besit nie een nie. Nou het sy hierdie advertensie gesien van ’n ou dame wat van haar tjello ontslae wil raak, maar sy weet nie of sy sommer net moet koop nie.

Hy klink heel vriendelik. Sê toe vir haar hy sal haar aanraai om ’n bietjie te wag voor sy ’n tjello koop. Miskien moet sy eers vir ’n les of twee kom.

As sy daarvan hou, is sy baie welkom om smiddae in sy ander ateljee te sit en oefen terwyl hy klas gee. Daar is ’n oefentjello wat hy vir sy leerders beskikbaar stel.

“It’s not difficult to learn to play a cello, but remember that it requires devoted daily practice and a skilled teacher to help you learn to play,” kom dit van die man aan die ander kant van die snelweg.

Hy sê toe vir haar hy sal haar later die aand laat weet wanneer hy ’n opening beskikbaar het.

Die aand laat piep haar selfoon. “Will Tuesday afternoons at five suit you?” kom die vraag in Engels. Sy stuur bloot ’n duimpie en vergeet vir eers van die tjellolesse. Hauser se video’s op Facebook is die beste inspirasie vir enigeen wat wil leer om die instrument te bemeester.

Sy het eers op hul 10-jaar-reünie uit-gevind Hendrik was smoorverlief op haar.

Tog wonder sy of sy nie dalk oorhaastig was om lesse te wil neem nie. Sy het jare laas aan ’n klavier geraak. Ná haar ouers se dood is hul hele huis opgepak en op ’n veiling verkoop, klavier en al.

Pa Jacques se skuldeisers het tougestaan om elke sent in die boedel op te raap. Gelukkig het sy toe net begin werk en was haar B.Com.-graad reeds in haar sak.

Dié nag droom sy van Hauser wat iewers langs ’n Europese rivier sit en tjello speel. Meteens kom ’n blonde jong man nader. Sjarmant en aantreklik.

Hy sê iets in Hauser se oor, en dié oorhandig dan sy strykstok aan hom en druk die tjello in sy hande. Meteens word die mooiste tjelloklanke deur Hendrik opgetower.

Sy vergeet vir ’n oomblik van die arme Kroaat wat langlip staan en luister hoe Hendrik die tjello bespeel, mooier as wat enigeen kan. Sy skrik vervaard regop. Wat ’n vreemde droom. Hoekom sou sy nou weer, ná al die jare, van haar matriekmaat droom? Waar sou hy in die wêreld wees?

Hy het tog nie tjello gespeel nie? Sy is destyds Potchefstroom toe en die meeste van haar klasmaats het in Pretoria agtergebly.

Sy het hom eenkeer probeer bel, maar daar was ’n boodskap dat die nommer nie meer bestaan nie. Dit was die einde van Hendrik Naudé.

Sy het nooit weer van hom gehoor nie. Die res van die week sleep traag verby. Sy is meteens haastig om by die tjelloman uit te kom. Gaan sy ooit ’n klank uit die groot musiekinstrument kry?

Gaan hy haar eerder afraai om enigsins te probeer om haar droom na te jaag om die tjello te bemeester? Eindelik is dit Dinsdag.

Teen dié tyd het sy net mooi 200 Hauser-video’s gekyk, by sy bewonderaarsklub op Facebook aangesluit en gesien hoe vroue wêreldwyd elke dag oor hom swymel, liefdesverklarings doen in elke taal wat by Babel gepraat is, en sommer net koekoes raak.

Sy moet toegee, hy is beslis ’n beeld van ’n man, maar sy sal nooit so naïef wees om ’n liefdesverklaring aan ’n man te stuur wat sy nog nooit in lewende lywe gesien het nie. En dit boonop op ’n openbare platform! Sy kon nie eens daardie tyd vir Hendrik van haar ware gevoelens vertel nie.

Presies vyf voor vyf stop sy in Welgemoed by die Engelsman se adres. Sy druk die klokkie by die hek in die muur, wag ’n minuut of twee voor dit stadig oopgaan.

Dan val haar mond oop. Voor haar, in lewende lywe, staan Hendrik Naudé. Sy hare steeds net so blond soos dit op skool was, nou net veel langer. Sy oë net so blou en sy hande net so slank en mooi.

“Elmien! Ek het geweet dis jy,” sê hy laggend, en sy oë lag saam. “Toe jy my nou die aand bel en ek jou stem hoor, het ek dadelik geweet dis jy.”

Sy bly verbaas staan, meteens sonder woorde. Twaalf jaar het opeens weggeval en sy loop weer saam met Hendrik Naudé na die musiekklas by die hoërskool met ’n hart wat opgewonde bons. “Henré? Jy’s ’n tjellospeler?” is al wat sy stotterend uitkry.

“Probeer jy nou vir enige Engelsman leer om Hendrik uit te spreek. Boonop het jy mos daardie tyd gesê enige tjellis sal jou knieë lam maak,” is al wat hy sê terwyl hy die hek vir haar oophou.

Sy stap vorentoe na waar die deur van die musiekkamer wawyd oop staan. In die hoek, op ’n stut, staan die mooi, glansende tjello vir hulle en wag. Hauser, speel jy maar lekker op jou eie tjello.

Hendrik sal my mooi leer, dink sy toe hy haar saggies aan die arm vat en in die kamer in lei. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.