“Is jy mal?”

“Ek kan nie leef sonder hom nie, Erich.”

“Die vertoning moet aangaan.” 

Refreine in haar kop. Bloed wat agter haar oë klop. Vader, laat dit ’n beroerte wees. Dood is al uitsondering. Die dood van die akteur. Daarom moet Poppehuis aangaan, want sy is nie dood nie. Sy voel dood, maar dis nie ter sake nie. Nora kry lewe op die verhoog deur haar, Elisabeth.

“Die vertoning moet aangaan.”

Die ongeskrewe kontrak met ’n anonieme gehoor. Hulle betaal om die vertoning te sien. “Ons soek agterente op sitplekke. Vol sitplekke is julle versekering van botter op brood vir die volgende maand of twee.”

Wat het Erich nog gesê? O ja, hulle geselskap gaan Nederland toe met Ibsen se Poppehuis. En sy speel Nora, die hoofrol. Tot netnou was dit ’n voorreg, ’n hartsbegeerte – om Nora vir David te speel. Die beroemde Nora wat meeste aktrises graag in hul loopbaan wil speel.

Haar pa se stem. “ ’n Kontrak is ’n kontrak, my meisiekind.”

So is sy grootgemaak – geen uitkomkans nie, veral nie vir ’n toneelspeler nie. Teater is ’n kontrak. Maar wat van David se kontrak – met Poppehuis, met Nederland, met haar? David, liefling . . . Hoekom jy? Dit was te kort – ons lewe saam. Sou dit ooit lank genoeg wees?

Wat het Erich gesê? “Julle sal nooit ophou praat nie!” Nou het hulle. Want David het onttrek uit die lewe – onvermybaar, ’n motorongeluk. Nog ’n refrein – uit haar sielkundeklas. “Die mens wat in ’n ongeluk sterf het ’n onbewuste begeerte na die dood.”

Nie David nie. Hy het nou die dag nog gesê: “Ek het nou alles – teater en die liefde van my lewe.” 

Wat het daardie joernalis gesê toe hul verhouding die media tref? “Dis ietwat passé, is dit nie? Die ‘groot liefde’. Hoeveel ‘sielsgenote’ in julle bedryf is al ná ’n maand of twee weer geskei?”

David wat haar vashou. “Sy is net sinies – ’n beroepsiekte. Ons weet wat ons het. Ons is van die gelukkiges wat in hierdie lewe ons sielsgenoot ontdek het. Voor jou het mense gesê: ‘Die teater is jou geliefde.’ Ek het daaroor geglimlag as net nog ’n banale opmerking. Maar toe ontmoet ek jou . . . ”

David dood? Dis nie moontlik nie. Sy het die telefoon vaster teen haar oor gedruk. Erich se asemhaling was meteens diep en hard.

“Is jy nog daar?”

“Sover ek weet.”

“Waar is jy?”

“By die huis.”

“Moenie roer nie. Moet nêrens gaan nie. Ek is op pad. Ek ry nou by die polisie.”

Sy voltooi die rympie in haar kop. Moenie verby Begin gaan nie. Gaan direk tronk toe. 

Wat het Erich nog gesê? “Dit was oombliklik. Hy moes uitswaai vir iets, ’n voorwerp of ’n slaggat. Toe bots hy teen die stilstaande vragmotor.”

Sy het gehoop hy ry nie in die donker nie, maar sy het geweet hy sou, want hy was haastig terug, na my haar toe. Sy groetwoorde. “Sien jou oormôre, my liefling.” Nou klink dit onsinnig. Absurd. Dit hoort in die absurde teater, nie in die realiteitsteater van die skepper van Poppehuis nie – Henrik Ibsen, die “groot vernuwer” van die teater uit die destydse diep, donker, uitgerafelde Skandinawiese kusland, Noorweë.

Nog minder hoort dit in haar en David se pophuis in Melville. Tog weet sy van dood. Hulle het haar oupa begrawe toe sy dertien was. Sy het vir die eerste keer sykouse aangehad. Toe is haar tweede oupa ook dood. Albei oumas is dood voor haar geboorte – haar ouma aan moederskant aan ’n kwaal wat sy oorgehou ná die Engelse konsentrasiekamp in Mafeking. Twee jaar terug is haar pa begrawe. Skielike hartaanval. En verlede jaar haar mooi ma. Almal het gesê haar ma het haar dood getreur.

Almal gaan dood – vroeër of later. Jy kan nie eens sê so-en-so wat tagtig is, is nader aan die dood as ’n kind van ses of ’n vrou van veertig nie. Sy is vanjaar veertig – tien jaar jonger as David. “Kom ons trou,” het hy ’n week ná hul ontmoeting gesê.

“Ek wil nie met ’n stuk papier aan jou gebind word nie, David.”

“Kom ons sluit ’n kontrak by ’n prokureur – dis administratief beter.”

Op die ou end het hulle nie so ver gekom nie. Een toneelstuk na die ander – teksontleding, repetisie, toer, nabetragting – liefde, selfs as hulle heftig verskil – liefde die onderbou van elke aksie.Hulle neem Poppehuis volgende jaar Nederland toe. As produksiebestuurder het Erich reeds alles gefinaliseer. Wat nou?

Iemand sal seker die regie oorneem by David. “’n Mens spel dit David, maar ’n mens spreek dit Dawid uit – David Schreiber,” het hy gesê terwyl hy haar hand vashou toe Erich hulle aan mekaar voorstel. David was pas terug uit Nederland waar hy ’n paar jaar lank gespeel en regie gedoen het. Sy was een van ’n groep toneelspelers in Johannesburg wat die partytjie by Erich se huis bygewoon het.

Sy en David het deurnag gesels. Erich het later gaan slaap. “Julle sal nooit ophou praat nie.”

Toe lui die voordeurklokkie. Dit voel vir haar of sy skaars die foon neergesit het. Sy wil voordeur toe hardloop, maar sy struikel, want haar regterbeen slaap. Sy sukkel met die een swaar been deur toe, sluit oop.

Sy kyk na Erich deur die veiligheidshek – sy gesig blougrys. Hoekom is hy nie eerder dood nie? Produksiebestuurders is makliker om te vervang. Erich soen haar in die verbygaan skrams op die wang terwyl sy weer die hek sluit. “Hoe’t jy gehoor van die ongeluk?”

“Sy dagboek was op die sitplek langs hom oop met die produksiehuis se nommer. Die polisie het die nommer gebel en Sophia het my gebel.”

“Toe bel jy my.”

“Ja.”

“Wat doen ek nou?”

Erich antwoord nie.

“Het jy jou pistool by jou?”

“Ja. Eenmaal ’n soldaat altyd ’n soldaat.”

“’n Mens skiet selfs ’n dier wat ly.”

“En?”

“Jy’s tog deur die bliksemse Bosoorlog! Jy’t baie mense geskiet.”

“Julle open môreaand. Jy speel Nora! Wat van die ander spelers? Jou kontrak? Wat dink jy sou David dink? Jy weet tog hoe hy voel, gevoel het oor teater.”

“Erich, ons is kollegas en vriende. Sê my: Hoe moet ek leef sonder hom?”

“Jy sal verbaas wees waarsonder ’n mens kan leef.”

“Ag ja. Ek weet jy was in ’n tronk in Angola en, en, maar . . .”

“G’n ‘maar’ nie. ’n Mens gaan aan.”

“Hoe?”

“Elkeen op sy eie manier. Ek weet net môre is openingsaand, oor ’n halfuur is dit kleedrepetisie; vanaand nog een.”

“Waar’s hy?”

“In die lykshuis. Dis ’n geweldige kopstamp gewees, maar hy’s nie geskend nie – net breindood.”

“David wil, wou veras word. Hy het dit nou die dag uit die bloute gesê – dalk ’n voorgevoel.”

“Het hy ook vir jou gesê wat met sy as gedoen moet word?”

“Ja, dit moet in ’n kliphouer op sy grootouers se graf neergesit word – op die familieplaas.”

“Jy moet dit vir sy ouers sê.”

“Wil jy dit nie maar doen nie Erich?”

“Wat?”

“Jou pistool se sneller trek.”

“Nee!”

“Hoekom nie?”

“Dis moord! Buitendien is dit lafhartig. En Nora is nie ’n lafaard nie. Ibsen se Nora stap een aand met ’n enkele tas die onbekende in – sonder geld, sonder ’n heenkome.”

“Ek is nie Nora nie.”

“David het so gedink. Hy’t vir my gesê jou persoonlikheid is Nora. Jy is sag tot jou bloed begin rebelleer teen menslike reëls – jy wou nie eens trou nie.”

“Dis iets anders.”

“Nee, dit is nie. Vryheid beteken eensaamheid. Dit maak nie die lewe makliker nie.”

“Ek is net ’n aktrise wat ’n rol speel – in ’n drama wat ’n groot bydrae gemaak het om vroue te ‘bevry’. Al het Ibsen en sy eie vrou in onmin geleef.”

“David het ná julle ontmoeting vir my gesê: ‘Sy’s my alter ego, Erich. Sy wil soos ek, ook vry wees, vry om te rebelleer. Sy sou kaalvoet oor die Drakensberg geloop het’.”

“Ek kan nie sonder hom aangaan nie, Erich. Dis te seer.”

“Jy kan. Al is dit seer. Die vertoning moet aangaan.”

“Ek wil langs David in die lykshuis gaan lê.”

“Jy sal net koud kry en die pyn sal jou nog steeds verteer. David is weg – vir altyd – in menslike terme.”

“Hoe moet ek aangaan sonder David?”

“Een tree op ’n slag.”

“Hoe? Ek wil sy arms om my voel. Sy mond teen myne. Skink vir my ’n dop, Erich!”

“Nee, jy’t ’n kleedrepetisie.”

“Te hel met die repetisie!”

“Lafaard!”

“Te hel met jou ook!”

“Dis kontrakbreuk! Met David! Wil jy daarmee saamleef?”

“Sê dan vir my hoe?”

“Praat elke dag Nora se woorde. Jy weet tog ’n akteur kan nooit genoeg repeteer aan ’n ingewikkelde rol nie. Hoe beter jy die karakter ken, hoe beter dra jy dit oor aan die gehoor. Gaan toon David Schreiber se nalatenskap aan Nederland.”

Nalatenskap. David se boesemvriend Erich se opdrag aan haar om David se werk te gaan tentoonstel – sy, Elisabeth, as Nora, David se gevolmagtigde. Bedags sal sy maak soos Erich voorstel – Nora se woorde praat, speel. ’n Speletjie, iets soos Monopoly. Gooi die woorde soos dobbelstene, tel jou kaartjie op en skuif aan na die volgende blokkie.

Bedags in die tronk. Saans op vrye voet op die verhoog. Die opwenpop Nora wat die indruk skep van vlees en bloed. Teatergehore weet dis nie die werklikheid nie – dit lyk maar net so. Solank almal saamspeel, kan almal bly glo. Solank sy Nora speel, behoort sy te oorleef. Om te kan speel moet sy bly leef.

Die lewe is ook ’n spel – in haar geval ’n poppespel. En daar is ’n kontrak. Sy het nie ’n keuse nie. Sy moet bly leef. Al is ons nie toegeseël teen pyn, teen al die bitter lig . . . 

Uit “Ballade van die drinker in sy kroeg” deur N.P. Van Wyk Louw. 
  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.