Haar bynaam op skool was Rocky, genoem na die bokslegende Rocky Marciano.

Die skoolseuns was bang vir haar, want die skool se boelie het eenkeer met haar skoorgesoek en sy rieme lelik styfgeloop.

Nadat sy die groot bullebak op sy plek gesit het, was sy die skool se heldin.

Maar dis nie al wat Christina wil wees nie. Haar reputasie as iemand wat haarself kan verdedig, het haar gepootjie wat die liefde betref.

En op 29 is sy nog ’n enkelloper, al smag sy daarna om in ’n vaste verhouding te wees.

“Christina, jy is ’n mooi meisie,” het haar ma gesê, “maar jy is veels te wild. ’n Regte tomboy. Wend ’n bietjie grimering aan, los die karate en verkoop daardie lawaaierige motorfiets.”

Sy kan dit nie oor haar hart kry om haar Kawasaki te verkoop nie. Sy en oom Sarel het dan so hard gewerk om die motorfiets te restoureer.

Die ding was ’n wrak wat sy by ’n skrootwerf vir ’n appel en ’n ei gekoop het.

Die geduldige oom Sarel is ’n goeie werktuigkundige, en ná maande se harde werk en groot onkoste om onderdele te koop het sy nou feitlik ’n splinternuwe 250 cc-Kawasaki.

Moet sy dit nou verkoop? Nog nooit gesien nie!

Noudat sy haar swart gordel gekry het, kan sy seker die karate los.

Maar dit sal oom Ivan se hart breek as sy dit nou staak, want hy is so trots op sy leerling se prestasies.

Hy het boonop ekstra moeite gedoen om haar meer gevorderde tegnieke in selfverdediging te leer.

Sy was geskok oor die benaming.

“Ballistiese straatbakleiery” het hy dit genoem.

“Oom Ivan, ek wil nie ’n straatbakleier word nie!” het sy uitgeroep. Hy het gelag. Iets wat hy selde doen.

“Of jy nou wil of nie, Christina, as ’n skurk jou op straat aanval, moet jy ook een word om te oorleef. Karate is ’n sport en mense verkeer onder die wanindruk dat dit ’n vorm van selfverdediging is. As ’n klomp straatboewe jou aanval, gaan dit jou niks help nie. Die swart gordel is net die basiese begin. Ek sal jou nou leer wat werklike selfverdediging is. Jy het dit nodig, want jy is klein en lyk weerloos – die soort wat die skarminkels so graag teiken.”

Toe het die gevorderde lesse begin.

“Die kinnebak, kakebeen, solar plexus en die kortrib is die kwesbare plekke. Vergeet van die res van die liggaam,” het Ivan Essakov gesê.

“Spoed en nogmaals spoed is belangrik. Jy het ’n paar blitsige hande en voete. Benut dit ten volle.”

Hy het met wit bordkryt die sogenaamde “kwesbare plekke” op die slaansak geteken en haar aangesê om op hierdie kolle te konsentreer.

Die ander leerlinge in die gimnasium het met groot oë staan en kyk hoe die klein, skraal meisie die slaansak met haar hande en voete karnuffel terwyl Ivan Essakov eenkant staan, kommentaar lewer en instruksies gee.

Dit was harde werk, maar ná ’n dosyn uitputtende oefensessies was Essakov tevrede.

“Jy is nou goed genoeg om alleen op straat te loop,” was sy kommentaar.

“Ek voel net jammer vir enige skurk wat jou probeer aanval.”

Essakov kyk haar ingedagte agterna toe sy wegstap. Hy wonder of sy al ’n kêrel het. Dit lyk nie so nie, want sy kom altyd alleen gimnasium toe.

Hy is ’n kinderlose wewenaar en Christina het vir hom die dogter geword wat hy altyd wou gehad het.

Sy is die beste leerling by die karateskool en hy glimlag toe hy aan die ander instrukteur daar se woorde dink: “ ’n Bliksemstraal op voete,” het hy haar genoem.

Christina is gelukkig in haar werk by die prokureursfirma waar sy as ’n datatikster werk, maar vandag voel sy eensaam.

Twee van haar vriendinne is getroud, een het gister verloof geraak en ’n ander een het ’n vaste kêrel met wie sy gereeld uitgaan. Deesdae sien sy hulle maar bitter min.

Vanaand is sy alleen op pad na die klub, en sy hoop om ’n paar kennisse daar raak te loop. Sy het haar ma se raad gevolg en grimering aangesit.

Sy dra die nuwe denimbaadjie wat sy vandag gekoop het. Eintlik kon sy dit nie bekostig nie, maar sy het dit begeer.

Sy het in die boetiek daarna staan en kyk toe die verkoopsvrou sê: “Dit sal jou perfek pas. Dis ’n Giovanni en is spesiaal net vir jou gemaak.” Toe sy dit aanpas, het sy besluit die vrou is reg en dit gekoop.

“Dra dit en dit sal vir jou geluk bring,” het die vrou gesê. “Jy sal die man van jou drome ontmoet.”

Christina het net geglimlag. Sales talk, het sy gedink. “Ek is ernstig,” het die vrou voortgegaan.

“Jy gaan hom binnekort ontmoet. Hy soek al baie lank na jou.”

Sy parkeer haar motorfiets in ’n parkeerterrein en begin na die klub aanstap.

Sy glimlag toe sy aan die vrou in die boetiek se woorde dink. Sy wonder hoe hierdie man van haar drome veronderstel is om te lyk.

Dan hoor sy ’n geluid van iemand wat agter haar kreun. Sy steek vas, draai om en staar verbaas na twee mans met leerbaadjies wat besig is om ’n groot man in ’n netjiese pak klere te beroof.

Een hou die man van agter af vas terwyl sy maat in sy sakke rondvroetel. Sy word oombliklik smoorkwaad.

“Stop dit!” skree sy en stap nader. “Verstaan jy nie Afrikaans nie? Ek het gesê stop dit!”

Die een met die poniestert wat die slagoffer se sakke deursoek, stop en kyk verbaas na haar. “Luister, ou girlie, maak liewer dat jy wegkom voor jy seerkry. Toe, skoert nou!”

Die slagoffer het intussen plat op die grond gaan sit terwyl bloed oor sy wang vloei. Hy kyk verstom na die meisie wat intussen nader gekom het.

Wat probeer sy doen? wonder hy. Hulle gaan haar vermorsel.

Die man met die poniestert kom dreigend na haar toe aangestap. Hy gee ’n wilde swaaihou na haar wat sy gemaklik ontwyk.

Dan gebeur iets wat hom die res van sy lewe nagmerries gaan gee.

Haar volgende beweging is so vinnig dat die oog dit nie kan volg nie. Haar lyf swaai teen ’n hoek van 90 grade en sy tref hom met ’n dubbelhandvuishou op die kortrib.

Hy val met ’n gebrul op sy knieë, hou sy ribbes vas en krul van die pyn.

Sy stap na die tweede aanvaller. “Nou is dit jou beurt, maatjie,” sis sy.

“Ek het iets spesiaal net vir jou.”

Die dreigement alleen is te veel vir die gesette man en hy hardloop met ’n spoed weg. Hy het ’n paar elementêre lesse in karate gehad, en hy herken ’n swart gordel wanneer hy een sien.

Vir hom beteken dit net een ding: moeilikheid! Poniestert sit plat op die grond met geslote oë terwyl hy sy seer ribbes vryf.

Hy verstaan nie mooi wat hom getref het nie, want hy het niks sien kom nie. Hy prewel iets oor ’n bose gees wat vanaand hier ronddwaal. Sy stap na die man in die pak klere wat haar net stilweg sit en aanstaar.

‘Luister, ou girlie, maak dat jy wegkom voor jy seerkry’

“Is jy oukei, Meneer?” Sy steek haar hand uit en help hom om op te staan. “Die skurke wou my beroof,” stamel hy. “Toe begin hulle my skop en slaan.”

Sy haal ’n sneesdoekie uit en begin die bloed van sy gesig afvee. “Alles reg. Ontspan nou; die gevaar is verby,” probeer sy hom gerusstel. Hy wys na Poniestert.

“Ons moet seker die polisie bel, en die paramedici.”

“Nee. Ek is nie vanaand lus vir die polisie en ’n klomp verklarings nie. Hy het ook nie die paramedici se hulp nodig nie, want hy verkeer nie in gevaar nie. Hy ly net ’n bietjie aan skok.”

Sy vat hom aan die arm.

“Wat ons twee nou nodig het, is ’n stywe dop. Die klub is net om die draai. Kom ons gaan.”

“In watter karateskool is jy opgelei?” vra hy terwyl hulle aanstap.

“Aikido?” Sy lag. “Nee, my karate-instrukteur noem dit ballistiese straatbakleiery.”

Toe hulle in die klub op hul bestellings sit en wag, steek hy sy hand uit.

“Pieter Strauss is die naam. Dankie vir dit wat jy vanaand gedoen het. Ek is jou baie dank verskuldig.”

“Ag, dit was niks. Christina Wassermann. Aangename kennis,” antwoord sy en skud blad. ’n Baie aantreklike man, dink sy. Maar hoekom lyk hy so bekend? Hy kyk haar verbaas aan. “Rocky!” sê hy.

“Is dit jy? Wat ’n verrassing! Met die kort hare het ek jou glad nie herken nie. Dis mos jy wat destyds daardie Vos-vent op skool so ’n loesing gegee het.”

Sy lag.

“Ja, dit was ek. Nou onthou ek. Jou bynaam op skool was Archimedes, die wetenskap-genius in ons klas. Ek het jou ook nie herken nie, Pieter. Ná 11 jaar het ons almal baie verander. Ek het destyds gehoor jy het medies gaan studeer.”

“Dis reg. Ek is nou ’n ortopediese chirurg en praktiseer in die stad.”

“Is jy getroud?” vra sy. “Nee. En jy?”

“Helaas nee, ook nog ongetroud. Ek wag nog vir die regte man om op te daag.”

Hy druk haar hand en glimlag.

“Weet jy hoe verlief ek op jou was? Ná matriek het ek probeer om jou op te soek, maar julle het weggetrek. Die bure kon my ook nie jul nuwe adres gee nie. Ek het verlede jaar spesiaal ons matriekklas se reünie bygewoon met die hoop om jou daar te sien, maar jy het nie opgedaag nie.

Ek is bly ons het mekaar hier raakgeloop. Ek het baie lank na jou gesoek.”

Hm, dalk was die verkoopsvrou reg oor dié denimbaadjie, dink sy en glimlag.