Die wekker lui skril en aanhoudend in Pieter se ore. Hy kreun en voel in die halfskemer vir die goedkoop swart radio op die bedkassie. Dit val met ’n gekletter op die vloer, maar hou aan raas. Hoe het dit sy oggendritueel geword? wonder hy, en sit die bedliggie aan.

Wat het geword van die dae toe Susan saam met hom wakker geword het? Of nog beter, daardie eerste paar maande wat hulle koffie en beskuit in die bed geëet het? Dit voel soos ’n ander lewe. Iets wat baie langer gelede gebeur het as die drie jaar wat hulle getroud is. Hy draai om en kyk na die leë spasie langs hom. Susan het vroeg reeds opgestaan, stil-stil in die badkamer aangetrek en werk toe gegaan.

Later die dag in Pieter se oopplankantoor sit sy kollega, Johan, ’n warm, olierige pakkie langs sy rekenaarsleutelbord neer. “Môre is dit jou beurt.” 

Johan kyk met ongeloof na die horlosie in die hoek van sy skerm. Net ná twee die middag. Amper het hy weer verby middagete gewerk. Hy vou die geel papier oop, tel die sagte, warm wegneemburger dankbaar met albei hande op en vat ’n groot hap. Johan sleep-draai sy stoel in die rondte sodat hulle kan gesels terwyl hulle eet. “Nog ’n lunch voor die rekenaar, dit word nou ’n slegte gewoonte,” sê hy tussendeur happe. Pieter sê niks.

“Kyk ’n bietjie hier, dit sal jou aandag aflei.” Johan hou sy selfoonskerm na Pieter se kant. ’n Ooglopend-gedokterde prentjie van ’n jong blonde meisie met ’n babahondjie staar terug. “Granted, die hond is ’n turn off, maar meisies hou nou maar eenmaal van klein keffertjies.” 

“Jy weet ek is getroud, Johan.” 

“Niks fout met kyk nie.”

“Waar kry jy die foto?”

“Dis ’n nuwe Tinder – Soekmy.”

“ ’n Afrikaanse Tinder?”

“Ek reken dit maak dinge makliker in my guns,” antwoord Johan met ’n skewe glimlag. “Hoeveel goeie enkellopende Afrikaanse ouens is daarbuite?”

“Dis nou te sê as jy as ’n goeie ou klassifiseer?” terg Pieter.

“Maak vir jou ook ’n profiel, dan lyk ek sommer nog beter. ’n Bietjie window shopping sal niks doen nie. Enigiets om die ou Pieter weer ’n bietjie terug te kry.”

Pieter frommel die koue geel pakkie op en gooi dit in die asblik skuins onder sy lessenaar. Hy draai terug na die rekenaar en bekyk sy e-posse. Johan staan kopskuddend op en trek sy stoel terug na sy kant van die kantoor. Die middag sleep in stilte verby. 

Vroegaand sit Pieter in sy kar in die oprit en kyk hoe die son se laaste strale die wolke verkleur. Hy is eintlik al ’n halfuur lank by die huis, maar het nog nie kans gesien om alleen in die stil en koue huis in te gaan nie. Sy duim vryf oor sy selfoonskerm. Nuusberigte oor die aanhoudende optogte vir beter dienslewering afgewissel met advertensies vir goedkoop tweedehandse motors.

Hy wonder skielik wat was die storie waarvan Johan gepraat het se naam? Vindmy? Waarsjy? Soekmy! Sonder om werklik te fokus op wat hy doen, kies Pieter om die app af te laai. Gelukkige paartjies wat in die see speel, flits oor sy skerm terwyl suikersoet hysbak-musiek te hard speel. Dis simpel, dink hy, maar in plaas daarvan om dit te vermy, kies hy die aflaai-opsie.

’n Kar trek langs hom in die oprit in. Susan spring uit sonder om hom raak te sien en drafstap na die huis. Vyftien minute later kom sy terug met ’n nuwe uitrusting aan en gewaar hom waar hy steeds in sy kar sit. “Pieter, wat maak jy?”

“Niks.”

“Hoe lank sit jy al so in die kar?”

Hy maak die deur oop en klim uit.

“Ek sien jou later, moet hardloop.” Sy klim in haar kar en trek agteruit, wag ’n oomblik, waai vir hom deur die venster en ry weg. Hy kyk hoe haar kar in die verte wegraak. Dalk is daar iets interessant op televisie, probeer hy homself moed inpraat.

Pieter se selfoonskerm blink helder in die donker. Hy sit die louwarm pizzaskyf terug in die kartonboks langs hom op die bank. Die fliek hou aan speel op die televisie terwyl hy sy selfoon optel. “Dankie dat jy ons app afgelaai het! Kies hier om binne oomblikke jou profiel te finaliseer. Die wêreld lê oop voor jou,” flits dit oor sy skerm. 

Hy kyk om hom. Die donker huis, die televisie wat alleen in die donker probeer aangaan, sy halfklaar pizza. Nuuskierigheid kry die oorhand, hy wikkel homself dieper in die bank in en vat sy selfoon in albei sy hande. ’n Halfuur later het hy ’n basiese profiel en kan hy begin deelneem. Hoewel hulle gevra het vir vyf foto’s, het hy kortpad gevat en net een foto van homself opgelaai, een wat sewe jaar gelede by ’n braai geneem is, en hy staan boonop met sy rug na die fotograaf. 

Danksy Facebook kon hy die ou foto tussen sy studentegroepfoto’s opspoor. Die res het hy met natuurfoto’s volgemaak. Hy blaai deur die deelnemers, lees ’n paar profielbeskrywings. Die meeste volg ’n patroon, maar hier en daar is een wat uitstaan. ’n Bietjie meer humor, ’n bietjie meer uniek. “Join my en my man vir ’n aand van opwinding,” kondig een aan. Wat op aarde!

Die realiteit van wat hy besig is om te doen tref hom en hy gooi die selfoon neer en sit die televisie af. ’n Laagtepunt. Dis al wat dit was. Nuuskierigheid. Hy klim alleen die trap na die hoofslaapkamer en gaan slaap.

Die volgende dag bly Johan se gedagtes terugflits na een van die profiele. Hy het nog altyd ’n sagte plek gehad vir ’n meisie met ’n effense rooi streep in haar hare. Haar gesig is onduidelik, die foto is skuins van agter geneem en sy het beweeg terwyl sy omgekyk het na die kamera, maar iets in die kleur van haar hare, in die lyn van haar skouer, bly aan hom trek. 

Nes hy het sy die ander vier foto’s volgemaak met foto’s van plekke eerder as foto’s van haar. Hy maak ingedagte die app oop en lees weer deur haar beskrywing van haarself. Elanka. Mense-mens. Lief vir die natuur.

“En as jy so vir jouself sit en glimlag?” vra Johan skielik langs hom. Hy laat amper die selfoon val in sy haas om die skerm weg te steek.

“Hoekom lyk jy so skuldig?”

“Dis sommer niks. So, hoe doen jy die Soekmy-ding? Begin die meisies met jou gesels, of maak jy die eerste move?”

Johan kyk deur skrefiesoë vir Pieter.

“Ek wonder net.”

“Uh-huh? Dit hang maar af van die meisie, soms begin hulle ’n gesprek, soms nie. Soms like hulle jou op die app sonder om enigiets meer te doen. ’n Mens bekyk dit maar so.”

Drie weke later sit Johan laatmiddag by sy lessenaar by die werk. Sy rekenaarskerm het lank reeds vanself afgeskakel. “Dink jy ons moet ontmoet?” flits ’n nuwe boodskap van Elanka op sy foon.

Hy voel ’n oomblik van opgewondenheid gevolg deur ligte paniek. Hy blaai terug deur hul boodskappe oor die afgelope drie weke. Ligte geselsies sonder enige werklike substansie, maar tog met soveel meer waarde as wat hy wil erken. 

“Is jy nog daar?”

“Ek is.”

Hy huiwer vir ’n oomblik.“Ja, ek dink ons moet ontmoet”

Die volgende dag sukkel Pieter om op sy werk te konsentreer. Die oggend vat ’n leeftyd om verby te gaan. Vyftien minute voor middagete kan hy dit nie meer uithou nie. Hy spring op. “Ek het ’n paar dinge om te doen, ek bring later vir jou ’n burger terug,” roep hy in Johan se rigting en loop vinnig weg voor Johan kan antwoord.

Hy gaan reguit na die restaurant waar hy en Elanka besluit het om te ontmoet. Hy staan vir ’n oomblik stil. Is dit werklik wie hy geword het? Iemand wat koffie drink saam met vreemdelinge? Tog is vreemdeling nie meer die regte woord nie. Hulle het wel weggebly van enige konkrete inligting rakende werk en familie, maar tog voel dit asof hy Elanka jare reeds ken. 

Hy kyk oor die tafels. ’n Paar groepies mense, maar niemand wat alleen sit nie. Hy is eerste. ’n Beweging vang sy oog. Sy moed val tot onder in sy skoene en ’n ligte paniek spring op in sy maag. Susan staan oorkant die pad en wag vir ’n opening om oor die pad te stap. Hoekom wil sy vandag kom inkopies doen?

Hy gryp die spyskaart en probeer agter dit wegkruip terwyl hy terselfdertyd oor die rand probeer loer. Dis belaglik, hy mag in ’n restaurant wees oor middagete. Elanka is nog nie hier nie. Tegnies is alles nog heeltemal normaal. Hy laat sak die spyskaart en probeer ontspan. Susan drafstap oor die pad en stap tot by die restaurant. Sy maak die deur oop en staan net binne die ingang.

Pieter se selfoon biep. Dit is ’n boodskap van Elanka. “Ek is hier.”

Hier kom moeilikheid! Dalk sal Susan hom nie sien nie. Dalk kan Elanka verby haar stap, by hom kom sit, en Susan besluit om nie te bly nie. Hy stuur terug: “Ek is reeds binne, soek jy nog parkeerplek? Ek het solank ’n tafel gekry.”

“Ek is reeds binne, by die deur.”

Die paniek tref hom soos ’n vuishou in die maag. Die agterkant van sy nek voel yskoud. By die deur?

Susan sit haar selfoon terug in haar handsak en kyk rond. Haar oë vang Pieter sn. Erkenning flits oor haar gesig en verander in ongeloof, gevolg deur beskuldiging. Vir ’n oomblik lyk dit asof sy gaan omdraai en vlug, maar dan stap sy tot by Pieter, trek die stoel uit en vra: “Is hierdie sitplek geneem? Ek vermoed ons het baie om oor te praat.”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? KLIEK HIER vir meer inligting.