“My ma het gesê ons verdien dié vakansie en dat my pa hiervoor sal betaal,” sê Sonja en lê gemaklik terug teen haar verloofde, Hein, se skouer. 

Ek glimlag vir haar, bly om te sien sy lyk so ontspanne. Haar werk en die beplanning van haar troue het my vriendin die laaste tyd op die punte van haar tone gehou.

Oranje, rooi en geel dans voor my oë terwyl die vlamme na die sterre reik en die nag met ’n warm gloed streel.

Ek trek die kombers stywer om my skouers en skuif so na as wat ek kan aan die vuurtjie om my teen die koue aandlug te probeer beskerm.

“Hier,” sê ’n stem langs my, en ek sien hoe ’n stomende beker voor my gesig gehou word. Vraend kyk ek op. Dit is Michael, Hein se vriend.

“Milo,” sê hy toe hy die vraende uitdrukking op my gesig sien. “Dit lyk of jy koud kry, toe maak ek vir jou.”

“Dankie,” sê ek en neem die beker met ’n vriendelike glimlag by hom. 

Die hitte vou om my hande, en ek sien hoe Michael vir my knipoog en op die boomstomp langs my gaan sit. Hy hou sy eie beker vas en blaas liggies daaroor voor hy ’n sluk vat. 

’n Padda begin in die verte kwaak en die vioolspel van krieke breek deur die stilte van die nag. ’n Koue rilling beweeg deur my lyf; wie weet wat daar buite vir ons loer? 

Skielik vlieg ’n uil oor ons koppe en ek sit verskrik regop. My vingers verstyf om die beker en my hart slaan ’n paar keer bollemakiesie. 

Ek glimlag vir haar, bly om te sien sy lyk so ontspanne. Haar werk en die beplanning van haar troue het my vriendin die laaste tyd op die punte van haar tone gehou.

Ek sien hoe die uil in ’n boom sit en na ons kyk met sy geel oë wat in die donkerte skyn.

“Ek het ’n briljante idee!” roep my vriendin opgewek uit. Haar glimlag word breër en ek voel hoe haar oë tergend op my land.

“Dit is net die regte setting dié vir ’n lekker spookstorie.”

“Agge nee,” keer ek, maar dis te laat. Hein glimlag nou ook asof hy elke oomblik geniet. 

“Dit klink goed,” sê hy, maar ek val hom in die rede. “Ons is nie meer op hoërskool nie. Regtigwaar, ons werk al.” My woorde val op dowe ore.

“Niemand is ooit te oud vir spookstories nie,” kap Hein terug en ek voel hoe my ore rooi word. 

“As ons dan regtig soos tieners moet optree, kan ons nie iets anders doen as om spookstories te vertel nie?”

My stem klink desperaat. Ek kyk na Sonja en pleit met my oë. Sy weet ek hou nie van die goed nie; sy weet dat ek, wat al 25 jaar oud is, steeds nie oor my vrees vir spoke kan kom nie. 

Ek sal dit erken; ek is ’n bangbroek. Met spook­stories hardloop my verbeelding altyd met my weg. 

Ek sien hoe Sonja besluit om my in ag te neem en ’n ander voorstel wil maak, maar net toe praat Michael. 

Sy oë is op my, uit­dagend en vol duiwels.

“Moenie vir my sê jy is bang vir spookstories nie.”

“Ek het ’n briljante idee!” roep my vriendin opgewek uit. Haar glimlag word breër en ek voel hoe haar oë tergend op my land. “Dit is net die regte setting dié vir ’n lekker spookstorie.”

Sy woorde hang in die lug en ek hoor hoe hy die lag in sy stem probeer wegsteek. Moeilikheid, fluister ’n stem in my oor; moenie na hom luister nie. 

Maar ’n ander stem dring deur my gedagtes: Wys hom, wys hom jy is dapperder as wat hy dink. En die woorde glip oor my tong met ’n vasberade toon. 

“Natuurlik nie; dink jy ek is vyf? Jy kan jou vreesaanjaendste spookstorie hier vertel en ek sal sonder vrees na elke woord luister.”

Ek draai my kop weg sodat hy nie die leuen op my gesig kan sien nie, maar ek voel hoe my hart vinniger klop en my keel wil-wil toetrek. Jy gaan spyt wees, lag die stem my uit, en ek voel skielik baie dom. Hoekom kan ek nie net my groot mond hou nie?

Nou goed dan,” sê Michael, die opgewondenheid duidelik in sy stem, en ek weet hy gaan nou die vieslikste moontlike storie opmaak, met monsters en ander aaklige dinge daarin. 

“Eendag was daar vier vriende wat gaan kamp het,” begin hy vertel. Alles is skielik vir my te stil, asof die naglewe om ons besluit het om ook na Michael se storie te luister. 

Sonja en Hein sit vooroor gebuig, hul oë op Michael vasgenael met afwagtende uitdrukkings op hul gesig. 

Hulle lyk soos kinders wat aan elke woord hang; nogal komies vir ’n jong verloofde paartjie. 

“Die vriende het die hele dag gery om by hul bestemming uit te kom en teen vroegskemer was hulle almal lus om net rustig om ’n vuurtjie te sit en gesels. Maar namate die tyd verbygegaan het, het dit ál donkerder geword en die vuurtjie ál kleiner.

“Eindelik het die een vriend besluit om nog hout te gaan kry. Hy het van die droë takke op die grond opgetel, maar het verder en verder van die kampeerplek af weg­beweeg. Eindelik kom hy agter hy kan nie meer die lig van die vuur sien nie en wil terugloop toe ’n tak agter hom breek.

“Maar toe hy terugkyk, is daar niks agter hom nie...”

“Hoe kan hy in die donker sien?” val Sonja hom in die rede. Ek is half dankbaar vir die onderbreking, want die spanning begin reeds vir my te veel word. Michael kyk kwaai na haar.

“Moenie my in die rede val nie; jy neuk die hele storie op.”

Ek draai my kop weg sodat hy nie die leuen op my gesig kan sien nie, maar ek voel hoe my hart vinniger klop en my keel wil-wil toetrek. Jy gaan spyt wees, lag die stem my uit, en ek voel skielik baie dom. Hoekom kan ek nie net my groot mond hou nie?

Sy lig net haar hande op en beduie dat hy moet aangaan. 

“Soos ek gesê het, toe hy agter hom kyk, was daar niks. Sy vriende het bekommerd geraak en na hom geroep, maar hy het nie geantwoord nie.

“Eindelik kom hy daar aan­gestap, maar sonder enige takke. Sy vriende is verlig om hom te sien, maar wonder hoekom hy nie enige hout gebring het nie. Hy lig net sy skouers op en sê die takke is nat.

“Omdat die vuurtjie amper dood was en dit koud is daarsonder, het hulle besluit om maar te gaan slaap. Die een ná die ander het hulle na hul onderskeie tente gegaan.”

Daarna sluit ek my af, hoor net elke nou en dan iets van ’n mensvreter, bene en bloed. Elke senuwee in my liggaam is styf gespan toe hy sy storie eindig. 

Ek kan Michael nie eens in die oë kyk toe hy vir my iets sê van nagmerries nie. Sê net nag vir Hein en Sonja en loop badkamers toe.

Dit was genoeg vir my. Ek weet reeds ek gaan vanaand nie ’n oog kan toemaak nie. Terwyl ek na die badkamers loop om te gaan stort, skrik ek vir elke geluid om my. 

’n Takkie wat hier kraak; iets wat daar in die gras beweeg. Ek stort so vinnig as wat ek kan; is dit nou nie wonderlik dat Michael ook my storttyd opgemors het nie? 

Vies borsel ek my tande, maar ek verbeel my heeltyd ek sien iets agter my in die spieël. Skaars 10 minute later loop ek so vinnig ek kan na die kampeerplek toe.

My hart bons teen my ribbekas. Elke benoude asemteug verskyn soos ’n wit wolk voor my.

Die donkerte strek voor my uit, en net toe besluit my flitslig om te flikker.

“Verdomp,” kom die woord hees deur geklemde kake terwyl ek my flits ’n paar klappe gee. 

Ek vlieg om toe ek voetstappe agter my hoor. Niks. Ek gaan nie langer hier staan nie. Adrenalien skiet deur my liggaam en ek hardloop, my flits­lig lankal vergete. 

Die donkerte strek voor my uit, en net toe besluit my flitslig om te flikker. “Verdomp,” kom die woord hees deur geklemde kake terwyl ek my flits ’n paar klappe gee.

Kom net hier weg! Hoekom is die badkamers so ver van ons kampeerplek af? 

Dit voel of die skadu’s my terughou en dit vir ewig vat voor ek eindelik ons tente sien. Verligting! Jy gaan veilig wees. 

Skielik is daar ’n swart figuur voor my. Ek hardloop daarin vas; my lyf reageer te stadig. Ek voel hoe ’n gil oor my lippe bars, maar dit is hees. 

Niemand sou dit gehoor het nie. My vuiste bal saam en slaan en stamp so hard as wat ek kan. Alles in my bewe. 

Nie vanaand nie, monster of spook of wat ook al jy is. Ek sal veg tot die einde. 

Net voor my vuis weer die monster tref, vou ’n hand om myne. Wag...’n Hand?

Stadig kyk ek op. Deur die trane kan ek ’n mond, neus, oë en hare uitmaak. Alles lyk normaal. Iets klik in my brein. Ken ek nie dié mens nie?

“Voor jy my te pletter slaan, mag ek weet hoekom ek so kwaai gestraf word?”

Die woorde dring deur die wasigheid in my kop en eindelik kan ek ’n naam by die gesig plaas. “Michael?”

Ek wil verbaas voel oor hoe verlig my stem klink, maar toe trek my mondhoeke op in ’n effense glimlag. 

Michael lyk vir ’n oomblik verward. En toe sien ek hoe die duiweltjies in sy oë terugkom. Ek gaan nooit die einde hiervan hoor nie.

“Ek het mos gesê jy moet net na my toe kom as jy nagmerries kry,” sê hy met ’n tergende glimlag en vou sy arms om my. 

’n Oomblik lank laat ek myself toe om deur hom vas­gehou te word en my hart ’n kans te gee om na normaal terug te keer, maar om die een of ander rede bly my hart vinnig klop. En ek het ’n gevoel dit het dié keer niks met spoke te doen nie. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.