Steyn sak stadig in die wiegstoel neer en vryf met sy duim en voorvinger oor sy oë. Hy probeer die moeg verdryf wat agter sy ooglede brand. Hy lig sy kop en kyk na die items in die kamer waarin hy sit. Verslae. Hy sal seker van die goed moet begin wegpak. Of wegmoer soos hy nou voel. Skielik is sy ledemate loodswaar. ’n Ysige vuis kry sy ingewande beet en klem ál harder tot sy binnegoed klip word.

Die laatoggendson wat deur die venster stroom, doen niks om sy koue lyf te ontdooi nie. Hy trek die kombersie wat oor die stoel hang oor sy bene en dink terug aan die afgelope nag. Hy voel weer hoe Naomi hom probeer wakker skud.

Haar gesig bo syne in hul bed – haar oë wild: “Iets is fout.” Hy wat deur die newels van slaap die angs in haar stem registreer. Toe haar kreet van pyn. Skielik is hy wawyd wakker en hoendervel slaan oor sy hele lyf uit. Sy oë vang sy vrou s’n vas en ’n oomblik lank is albei gevries. Hulle staan soos pilare vir mekaar en kyk. Verskrik.

Toe begin die ratte in Steyn se kop draai, en hy gaan oor tot aksie. Hy pluk haastig vir hulle sweetpakke uit die kas en trek vinnig aan. Naomi se hande bewe en sy sukkel met haar skoenveters. Hy help. Hy lei haar deur die huis tot by die agterdeur wat aan die motorhuis grens en gryp sy karsleutels. “Kom.”

“Dis seker niks,” probeer hy haar gerusstel terwyl hulle hospitaal toe jaag. Maar in sy binneste sukkel hy om die bewing in sy bors te stil. Dis stikdonker buite en die pad hospitaal toe is verlate. Sy knik, maar kyk hom nie in die oë nie. Die stilte tussen hulle hang swaar, elkeen te bang om hul vrese te verwoord.

Die gebeure by die hospitaal onthou hy in flitse. Hy en Naomi wat ontvangs toe haas – eers is hulle by die verkeerde ontvangstoonbank – eindelik kry hulle die regte een. Sy vrou in ’n jurk op die hospitaalbed, maag ontbloot. Haar effense rilling toe die koue jel haar vel aanraak. Hul oë wat naarstig na ’n flikkering soek.

Enigiets, Vader, asseblief.

Naomi se hand wat syne vasgryp. Hy wat klappertand. Die sonograaf – nie onsimpatiek nie, net klinies, saaklik – uiter die woorde wat hulle nie wou nie. Gedesensitiseer. Emosieloos. Dié is vir haar alledaags. Dit val geoefen uit haar mond en verpletter hom. Die kil, wit mure sak op hom toe. Hy snak na sy asem, ontkennend, desperaat: “Maar dit kan nie wees nie.” Naomi wat saggies huil.

’n Gelaaide stilte hang weer tussen hulle op pad terug huis toe. Hulle vermy mekaar se blik – elkeen onwillig om dit te erken wat pas gebeur het – aan mekaar of hulself.

’n Kar draai voor hom in sonder om sy flikkerlig te gebruik. Hoewel albei motors stadig genoeg ry dat nie een binne gevaar is nie, ontketen dié onverskilligheid ’n ongekende woede in Steyn.

’n Oorreaksie op die oortreding, hy weet, maar hy kan dit nie help nie en brand op die bestuurder los. ’n Warmte stoot in sy bors en sy nek op en sy gesig slaan rooi uit soos hy op die bestuurder skree en vloek. Naomi bly tjoepstil tydens sy tirade, maar die wit van haar kneukels soos sy aan haar sitplek klou, verklap haar ontsteltenis.

By die huis het sy na hul slaapkamer gegaan, en hy het hier in die wiegstoel kom sit met die reuk van ontsmettingsmiddel steeds in sy neus. Die drif van sy uitbarsting is gedemp deur die onskuld en vrolikheid van die speelgoed in die kamer.

Die Kamer. Die een wat hulle ’n week gelede versier en ingerig het. Hoe opgewonde was hulle nie. Al wat hy nou voel, is die verskriklike koue in sy ledemate en ’n leemte in sy bors.

Hy dink aan sy vrou op die hospitaalbed, haar gesig vertrek van die pyn. Skielik skaam Steyn hom vir sy selfsug. Hy gooi die kombers van sy bene af en stap na hul slaapkamer. Hoe kon hy haar alleen los? Die skaamte spoel oor hom.

Hy tref haar op hul bed aan – opgekrul met haar arms om haar knieë. Haar oë is toe, en hy kan ’n klam kol sien aan die kussing waarop haar kop rus. Sy kyk nie op toe Steyn instap nie. Hy gaan klim agter haar rug in en druk haar styf teen hom vas. Steyn voel hoe sy eie trane, warm en nat, by sy wange afstroom. Die damwal gebreek.

Lank lê hulle so. Gebroke. In die weke wat volg, is die huis pynlik stil. ’n Alomteenwoordige, hardnekkige hartseer het tot in elke hoekie van die huis ingesypel.

Die deur van Die Kamer is toegetrek. Hy en Naomi gee voor asof dit nie bestaan nie.

Hy is op ’n dag in dié tyd besig om buite die gras te sny toe ’n idee in sy kop vorm kry. Hy hou meteens op met die taak en kyk oor die tuin uit. Nee, sê hy vir homself. Dis nie nou ’n goeie tyd nie – maar tog, die idee aan ’n sagte, warm lyfie. Nee, herhaal hy. Hy kan dit nie doen sonder om dit met sy vrou te bespreek nie.

Maar hy’s seker daarvan sy gaan nee sê, en hoe meer hy daaraan dink, hoe meer is hy daarvan oortuig dat dit net die ding is wat hulle nou nodig het om die spanning wat swaar in die huis hang te verlig en die verdriet te verdryf. Voor hy homself daaruit kan praat, los hy die snyer, gryp sy motorsleutels by die agterdeur, spring in sy kar en snel weg.

“Waarmee kan ek help, Meneer?” vra ’n vriendelike jong vrou agter die toonbank by die Dierebeskermingsvereniging. “Um, ek het eintlik net op die ingewing van die oomblik besluit om hierheen te ry. Jy sien, ek en my vrou . . .”

’n Branderigheid kom sit agter sy oë. Jy kan nie nou hier staan en grens nie, raas hy met homself. Jy gaan dit die een of ander tyd hardop moet sê. Hy haal diep asem. “Ek en my vrou verwerk ’n verlies. Sy sal seker nie gelukkig wees nie, ek het nie die idee met haar bespreek nie, maar ek het gedink ’n hondjie in die huis kan ons dalk laat beter voel,” kom die woorde soos ’n stortvloed. Hy vryf oor sy oë.

Die vrou kyk simpatiek na hom. “Wel, kom ons gaan kyk daar agter – jy hoef nie nou tot ’n aanneming te verbind nie – dalk wil jy sommer net met een van die hondjies speel en ’n bietjie aandag gee. Ons waardeer enige hulp.”

“Dankie, um” – hy kyk na haar naamplaatjie – “Elmarie.” “Almal noem my sommer Ellie, Meneer” sê sy oor haar skouer en lei hom na die hokke.

Hy weet dis ’n onbesonne ding. ’n Hond kan nie wat hulle verloor het sommer net vervang nie. En hy weet Naomi gaan seker briesend wees dat hy so ’n groot besluit so roekeloos en boonop op sy eie geneem het. Maar die idee aan ’n warm asempie in die huis is in dié stadium net te aanloklik.

Die opgewondenheid van die stertswaaiende figure wat hulle by die hokke inwag, laat hom die eerste keer in weke glimlag. Hy speel ’n ruk lank met die groter honde wat al om sy voete maal toe ’n jonger, astranter hondjie na hom toe aangehol kom en tussen al die grotes summier Steyn se aandag vir haarself opeis.

Ellie lag. “Daai enetjie is lekker laf, maar die personeel hier spot sy hou haar maar net so vir die aandag. Sy’s eintlik ’n ou siel; baie wys vir so ’n klein dingetjie.”

Met haar spitsoortjies en intelligente ysblou oë wat hom half vraend aankyk, kan hy dit nogal insien. Hy vryf haar dik, warm pels, wit en houtskoolgrys, terwyl die hondjie hom liggies byt – nog die skerp tandjies van ’n babahondjie. Hy ruik haar warm melkasem toe hy haar optel en vertroetel.

Ellie hou hulle dop en merk op: “Jy weet, ons sien dit so baie.”

“Hm?” vra Steyn en lag toe die hondjie aan sy baard begin kou.

“Honde kies eintlik hul eienaar en nie andersom nie. Hulle het ’n instink by wie hulle sal aard. En wie hulle nodig het.”

Steyn kyk die hondjie in haar ysblou oë en sy binnegoed vermurwe.

Toe hy met die bondeltjie in sy arms by die huis opdaag, was Naomi se reaksie soos hy gevrees het. Sy het albei een kyk gegee en kamer toe geloop met oë wat van woede gloei. “Ek het gedink ons kan haar Ellie noem!” het Steyn verskonend agternageroep.

Maar die brakkie het haar nie deur dié kil ontvangs laat onderkry nie. Verbete het sy aangehou om haar nuwe ouers te trakteer. Steyn kon sweer sy maak seker sy’s ekstra verspot wanneer sy vrou in die omtrek is, tot Naomi ’n paar dae later nie meer die lawwigheid en die effek daarvan kan ontken nie. Met ’n luide gelag het sy eindelik voor Ellie se sjarme geswig.

’n Jaar later staan die gesin weer in die kamer. Die laatoggendson stroom by die venster in en verlig die baba wat knus onder haar kombers lê. Steyn en Naomi staan hand om die lyf. Hulle kyk na mekaar en dan na hul gesin se jongste toevoeging wat sagte geluidjies in die bababedjie maak.

Langs hom staan Ellie ook en kyk, ewe geïnteresseerd en waaksaam. Met elke kreun en sug spits haar ore. Hulle lag. Dan rus Steyn sy hand op hul hond se kop en sê: “Jy het ons weer aanmekaar kom sit.” Naomi knik.