Omdat dit haar gewoonte geword het om op ’n presiese tyd wakker te skrik, het sy mettertyd nie meer die nodigheid daarin gesien om die wekker op die kassie langs haar bed te stel nie.

Wat help dit tog, het sy gereken, die parate drafstap van die wysers wat voortmarsjeer om sesuur soggens skril ’n nuwe dag aan te kondig, terwyl sy elke oggend presies om 10 oor drie wawyd wakker geword het.

Regdeur haar swangerskap het sy, in ’n poging tot verset teen 10 oor drie, bewegingloos bly lê, skynbaar gestroop van sintuie ook, want sy kon nie die kontoere van haar man se rug sien, die ritme van sy asemhaling hoor of die warm van sy slaaplyf ruik nie.

Met haar oë vasgenael op die neonskyn van die wekker se gesig, het sy haar aandag op die tiktak, tiktak van die wysers probeer hou, maar 50, 60 en op beter oggende 70 sekondes later het dit vir haar gevoel asof sy pas die nuus verneem het en het sy hygend van verlies uit die bed weggevlug. Die kind het vanself in hierdie ongewenste tydgleuf ingeval en sodra sy wakker skrik gulsig na haar bors begin soek. So het 10 oor drie vir ’n wyle fut verloor.

Maar ook hy het later ongestoord verby hierdie uur en hierdie minuut geslaap, en sy moes weer die skok van 10 oor drie alleen trotseer.

Tog het die asempie langs haar in die groot houtbed later in sy eie kamer verder in die gang af – die blote wete dat haar man se naamgenoot gevoed, geklee, gevorm en geskool moes word – die ongenaakbaarheid van 10 oor drie versag.

Teen die tyd dat sy skoolloopbaan begin het, het sy nie eens meer die wekker opgewen nie. Tog kon sy haar nie sover kry om die potsierlike bruin metaallyfie op twee silwerkleurige beentjies weg te pak nie. Langs die geraamde troufoto van haar en Johan was die nuttelose wekker vir haar ’n nagwaak oor haar in die ure voor 10 oor drie.

‘Ek Kon nie slaap nie, ma. Toe kom wag ek maar hier vir 10 oor drie. Kan ek vir ma gaan koffie maak?” het haar tienerseun een oggend, kruisbeen op die houtvloer langs haar bed, gewag.

Tien oor drie, haar onwaarskynlike bondgenoot. Johantjie word mondig en sy dans tot ver verby 10 oor drie. Hy bring ’n bokkieoog om aan haar voor te stel, en asof sy ’n bekende geliefde is wat bloot lank weggegaan het, gesels hulle 10 oor drie vergete.

Bokkieoog se blindederm bars en sy en Johantjie bid langs haar hospitaalbed tot lank ná 10 oor drie.

Sy glimlag ingenome met haarself toe sy sien dis reeds ’n uur ná 10 oor drie toe sy die koddige bruid- en bruidegomfiguurtjie as laaste versiering bo-op haar seun en Bokkieoog se troukoek neersit.

Johantjie kom haal haar skuins voor drie in die kraamsaal se wagkamer, en terwyl sy haar eerste kleinkind in haar arms optel, sien sy die klok teen die muur: Weer het sy 10 oor drie gefnuik.

Johantjie en Bokkieoog se gesin groei en hou haar besig en vervuld, en sy is dankbaar teenoor 10 oor drie, want die ure voor dagbreek gee haar tyd om ekstra oumagoedjies klaar te kry: konsertklere en verjaardagpartytjiepakke, boeke oortrek en peuselhappies bak, matriekafskeidrokke en blikke vol beskuit vir universiteit.

Woertswarts vlieg die jare, dekades verby.

Toe sy haar weer kom kry, word sy een oggend wakker met die herinnering, so duidelik asof dit die vorige nag se gebeure is, van die eerste 10 oor drie: Iewers deur die nag het haar man haar tot styf teen hom aangetrek, so styf dat sy die klop van sy hart teen haar rug kon voel.

Sy hand het saggies oor haar buik gestreel, heen en weer, stadig, warm, en sy gesig was onder haar lang hare in haar nek genestel. “Ek het jou lief, ek het jou lief, so baie, baie lief, Magriet.” Eers nadat sy asem rustig geword en sy arms om haar lyf verslap het, het sy oorgeleun na die wekker langs hul bed. Dit was presies 10 minute oor drie.

Sy het saggies losgewikkel en blosend vervuld die gang af gehuppel.

Die môreson was reeds geraam in die venster van haar kombuis toe hy, pas uit die stort en mooi, so verskriklik mooi vir haar, met ’n houer vol vars gebakte pasteitjies in die aktetas in sy hand, koppie suikersoet tee in die ander, op die voorstoep uitstap.

Soos dit hul gewoonte was, het sy op die stoepmuurtjie gaan sit terwyl hy sy tee klaar drink, die koppie vir haar aangee, haar soen, speels aan haar nagrokkie pluk, ’n soen op elke wang, dan op die mond, en daardie oggend, net daardie oggend, het hy op sy hurke afgegaan en haar buik gesoen.

Sy oë was dof toe hy weer voor haar staan, en hy het haar opgetrek tot teenaan hom, haar arms om sy nek gevou, sy hand beskermend op haar effens geswelde buik.

“Jy moenie met my raas nie, Magriet, maar vandag gaan koop ek hierdie kleinding se eerste speelding.”

Sy het gelag en speels sy agterstewe geklap toe hy die trappies afloop, tuinhekkie uit, af in die pad bushalte toe, later die dag glo oorhaastig oor die pad tussen sy kantoor en die winkelsentrum reg voor ’n vinnige motor in.

Weg van haar. Nooit weer arm om lyf, asem in nek, lepellê nie.

Sy draai met moeite om op haar maag en druk haar gesig diep in die kussings in, op soek na die warm geur van haar man wat in die maande ná sy dood haar dikwels onkant laat kreun het.

Net so onkant soos die dringendheid in haar seun en Bokkieoog se stemme gedurende middagete die vorige dag haar geheel en al onkant gevang het.Sinne waarvan sy nou slegs enkele woorde kan herroep: afskaal, wegtrek, oppak, losmaak.

Sy kan nie meer die prys van haar ouderdom ignoreer nie. Die huis is te groot, die buurt is nie meer veilig nie, en in die tuin kom sy deesdae selde.Sy vergeet soms die stoofplaat aan, die voordeur ongesluit, en af en toe ontglip die naam van ’n geliefde gesig haar vir ’n wyle. ’n Ligte briesie waai deur haar slaapkamervenster in, saggies oor die ontblote vel van haar skouers, oor die rugkant van haar nagrok, verder tussen haar skouerblaaie af.

Iewers deur die nag het haar man haar styf teen hom aangetrek.

So sou dit kon, so moes dit gewees het, sy en haar man wat om 10 oor drie saam wonder wie dan die venster al weer oop vergeet het. Sy hand sou dartel oor haar lyf, sy vingers sou voel-voel oor haar nagrok, teen haar ruggraat af. Sy verbeel haar hoe sy hande sou lyk, sou voel op haar ouvrouvel, ná al die jare saam.

Sy asem, sy reuk, hoe sou selfs die wete dat hy hier langs haar slaap, wakker lê, leef . . . haar kon beskut teen afskaal, oppak, wegtrek, losmaak. Sy hoor die wind opstu tussen die bome wat haar man vir haar geplant het en waarvan die takke nou wyd en hoog oor die huis waak.

Die vensterraam kraak toe die wind skielik met krag optel en die laken verder teen haar heupe af waai. Verbeel sy haar die bekende lang vingers en die beminde breë palm op haar rug, en kan dit wees, hierdie warmte wat stadig deur haar lyf kruip, net soos die dae toe haar man in die ure voor 10 oor drie die liefde in haar aangehits het.

Sy herken dit so goed, sy asem op haar vel, op in haar nek, hierdie asem wat in die skulp van haar oor woorde word. “Ek het jou lief, ek het jou lief, so baie, baie lief, Magriet.” Haar hartklop versnel, gaan op galop, die ritme breek, sy steier om orent te beur; tog bly haar arms, bene, willoos lam. Haar oë soek na die wekker op die kassie langs haar bed, maar alles om haar word nag.

Sy word wakker soos een wat lank en goed gerus en diep maar helder gedroom het. Die wind het gaan lê en ’n sagte lig hang oral om haar.

Het sy dan, ná soveel jare, ná 10 oor drie weer kon slaap? Sy sit regop, verbaas oor die gemaklikheid waarmee haar lyf beweeg.

In die spieël oorkant haar bed val die roospienk van haar vol lippe, soos in die dae toe haar man nog hier by haar was, haar eerste op. Oor haar skouers, sien sy nou, tuimel dieselfde donker haarlokke soos in haar jeug, en kan dit wees, hierdie onmiskenbare nágloed van romanse op haar vlekkelose vel?

En hoe is dit dan nou met haar dat, op die kassie langs haar bed, die wekker weer tiktak, tiktak, so kordaat, kort wyser wat punt na drie, lang wyser wat omval op twee en sekondemeneertjie rats op pad na 12.

Sy spring op van die bed en voel haar nagrok stadig oor haar heupe, bene, tot om haar enkels gly, giggel en gryp, maar die sagte sy glip deur haar hande en plons op die houtvloer neer.

Sy skrik nie toe die wekker lui nie, kyk net op en lag verheug, want hier staan hy, so verskriklik mooi, sy arms wyd oop vir haar. Tien oor drie vereffen alle skuld: “Johan, my man,” groet sy.