Isabella sluk haar tweede sterk koppie koffie traag af terwyl sy by haar kombuisvenster uittuur. 

Die see se blougrys verander elke keer in ’n ander skakering van blou wanneer sy haar oë knip. Eers is dit neonblou, dan turkoois en daarna kobaltblou. 

Sy is seker die mis sal ook nou-nou van die berg se kant oorwaai en die winterdag nog mistroostiger maak.

Die volgende oomblik klop Lang Hans aan haar agterdeur. 

“Goeiemôre, mevrou! Die vis het mooi gebyt vanoggend, mevrou. Die see was maar lekker rof, maar ons het goed gevang.”

Lang Hans se breë haasbekglimlag is beslis ’n opkikker so vroeg in die oggend al boul die sterk visreuk haar amper uit haar pantoffels. 

“Dankie, Lang Hans, dit lyk goed. Gee maar vir my so ’n stukkie snoek, en het jy enige galjoen?” vra sy angstig terwyl sy haar verweerde pienk kamerjas stywer om haar middel bind. 

“Nee, mevrou, die galjoen is maar skaars. Ek het wel lekker steenbras.” 

Sy grawe in haar boonste kombuislaai en haal ’n paar note en ’n fooitjie uit en gee dit vir hom. 

“Dan groet ek maar. Mooi dag. Sien mevrou weer môre.”

Sy is seker die mis sal ook nou-nou van die berg se kant oorwaai en die winterdag nog mistroostiger maak.

Isabella is alte dankbaar vir Lang Hans wat nie die moeite ontsien om byna elke Maandag na haar huis toe te kom en sy vars vis te verkwansel nie. 

Sy is nie altyd lus om winkels toe te gaan en in die praatsieke en nuuskierige dorpsmense van Skulpiesbaai vas te loop nie. 

Die meeste kyk haar gewoonlik met sulke simpatieke oë aan, klik hul tong – en dan kom die eentonige refrein: “Ag shame, Isabella, so jammer om van Billy te hoor.” 

Sy maak haar dan maar gewoonlik vinnig uit die voete.

Nee wat, sy het regtig net nie die krag vir al die geteem en gesanik nie. Haar esel en olieverf by die huis is beter geselskap. 

Hier in haar witgekalkte klein huisie met sy eersteklasuitsig op die see en klein ateljee waar sy heeldag na hartelus tot laatnag kan skilder, voel sy veilig en beskut teen al daardie mantras van medelye. En van vis kan sy gelukkig elke dag leef. Dis immers gesond.

Isabella is diep ingedagte toe die koerantbode die plaaslike koerant, Die Skulpiesbaai Gazette, oor haar heining gooi. 

Sy slof-slof en waag dit ’n paar minute lank op haar voorstoep om die koerant te gaan haal. 

Gelukkig is daar nie nuuskierige oë in die straat nie; net seemeeue wat doelloos in die lug sirkel.

Die plaaslike nuus boei haar nie juis nie. Brandstigting by die plaaslike hotel, plakkers net buite die dorp wat verseg om te trek, ’n skoolkermis wat geld insamel vir die skool se nuwe swembad, winkeleienaars wat kapsie maak teen die verhoogde huurgeld...

Die meeste kyk haar gewoonlik met sulke simpatieke oë aan, klik hul tong – en dan kom die eentonige refrein: “Ag shame, Isabella, so jammer om van Billy te hoor.”

Sy blaai na die blokraaisel en gaan by die eetkamertafel sit gewapen met ’n potlood en haar woordeboek. 

En dan sien sy ’n baie klein advertensie aan die onderkant van die blad raak wat lui: “Gesoek: ’n Lojale metgesel wat van die natuur en lang wandelings langs die see hou. Twee is beter as een, en niemand is gemaak om alleen te wees nie. Ek kan jou lewe beslis opvrolik.” En dan volg ’n telefoonnommer...met geen naam by nie.

Sy dwing haar aandag terug na die blokraaisel. 

Maar die woorde “Twee is beter as een, en niemand is gemaak om alleen te wees nie” maal deur haar kop. 

Dis nou reeds ses maande sedert Billy dood is, maar sy het tog die afgelope tyd geleer om die stilte en alleenheid so op haar eie te hanteer. 

Ja, haar twee bekommerde dogters, Mia en Irma, wat albei in Engeland woon, bel elke Sondagaand. 

Die gesprekke is gewoonlik in dieselfde trant: “Is ma oukei? Moet ma nie meer uitkom nie? 

Hoekom begin ma nie skilderklasse gee nie...Dis darem nie goed om so op ma se eie te woon nie. Raak ma nie eensaam nie?” vra Mia gewoonlik. 

Irma is die een wat weer heftiger en bevelerig kan raak. 

“Ma kan nie so alleen bly nie. Ma moet nou regtig ’n plan maak! Gaan werk by ’n geskenkwinkel, dan kan ma sommer ma se skilderye ook daar verkoop.”

Dis nou reeds ses maande sedert Billy dood is, maar sy het tog die afgelope tyd geleer om die stilte en alleenheid so op haar eie te hanteer.

Ai, sy waardeer dit dat haar dogters hulle so oor haar kwel, maar op die ou end is dit haar lewe. En haar rou. 

Sy moet self daardeur kom en vrede maak met die dood – en die werklikheid dat alles in hierdie ou lewe maar tot ’n einde kom.

Haar gedagtes wentel onwillekeurig terug na Billy, en die groot verlange begin soos die mis agter die berg in haar gemoed opkruip. 

Sy en Billy het elke oggend douvoordag langs die see gaan stap. Of ’n mens kan amper sê baljaar pleks van stap. 

Soms het hulle soos uitgelate kinders in die branders gehuppel met die son wat hulle stadig begin piets. 

Tuisgekom, het Billy die koerant vir haar gebring en dan doodstil langs haar kom sit terwyl sy haar eerste koppie koffie geniet het. Dit was so ’n vreedsame kameraadskap. 

Selfs toe sy later ateljee toe verskuif het, was sy altyd van sy teenwoordigheid bewus. 

Ai, die Groot Verlange, soos die digter Eugène Marais geskryf het. Dit wil net nie wyk nie.

Pleks daarvan dat sy voor haar esel gaan sit, is daar skielik ’n ongekende en vreemde drif in haar wat haar na die huistelefoon dwing. 

Wat is daai nommer nou weer? Sy trek die koerant nader en begin skakel. 

Haar gedagtes wentel onwillekeurig terug na Billy, en die groot verlange begin soos die mis agter die berg in haar gemoed opkruip.

’n Skor en heserige manstem antwoord dadelik. “Ag, meneer, ek bel in verband met die advertensie in vandag se koerant,” sê sy stotterend. 

Sy hoor duidelik hoe die man asemhaal. “Ekskuus, wie praat nou?” vra hy. 

“Isabella,” antwoord sy ferm. “Ek bel hier van Skulpiesbaai.” Weer ’n ongemaklike stilte. 

“Nou het jy dan nie ’n van nie, vroumens?” vra die stem. Ongeskik, dink Isabella. Die mansmense van vandag ken nie meer van ouskoolse maniere nie.

“Isabella van Tonder,” antwoord sy en laat die “van Tonder” met ’n dreuning in haar stem soos donderweer klink. 

Laat hierdie man nou net weer een keer on­geskik wees, dan gooi sy die foon in sy oor neer!

“Nou ja, mev. Van Tonder, gee asseblief vir my jou adres, dan kan ons mekaar môre ontmoet.” 

Isabella hap-hap in die lug. Nee wat, sy is glad nie vir besoekers ingerig nie. Haar huisie ruik pure terpentyn en olieverf, en potjies kwaste en verfbuisies staan oral rond.

“Kan ons mekaar nie liewer by Koek & Kuier ontmoet nie?” vra sy. “So tienuur môreoggend?” 

“Maar mevrou, hoe gaan ek weet wie jy is wanneer ek in die koffiekroeg instap?” vra hy. 

Isabella hap-hap in die lug. Nee wat, sy is glad nie vir besoekers ingerig nie. Haar huisie ruik pure terpentyn en olieverf, en potjies kwaste en verfbuisies staan oral rond.

“Ek sal ’n groot strooihoed met rooi blomme dra,” antwoord sy kordaat.

“Maar nou ja, dan sien ons mekaar tienuur,” sê hy. 

Die man is wraggies verwaand, dink sy. Dan huiwer sy. “Ag, ekskuus, meneer, jy weet nou wie ek is, maar ek het nie ’n clue wie jy is nie?” vra sy nuuskierig.

“Mnr. Basie Basson,” stel hy homself formeel voor. 

“Maar nou goed, mnr. Basie Basson,” antwoord sy. “Tot môre.” Hy lui heel formeel af: “Tot môre dan, mev. Van ­Tonder.”

Isabella hoor haar hart skielik in haar borskas klop. 

“Is jy nou laf, Isabella?” praat sy met haarself waar sy voor die spieël gaan staan. 

Flip, wat gaan sy aantrek? Haar klere is so outyds. Of wag, daar’s daardie een lang bont rok wat Mia vir haar op die mark gekoop het. 

Die een met die bloedrooi lelies. Dit sal mos by haar strooihoed met die rooi blomme pas. Of is dit dalk te boheems? Hoekom wil sy haar nou vir die vreemde man optof? 

Sy weet nie eens hoe oud hierdie – wat is sy naam nou weer – Basie-vent is nie. 

Flip, wat gaan sy aantrek? Haar klere is so outyds. Of wag, daar’s daardie een lang bont rok wat Mia vir haar op die mark gekoop het.

Dalk is hy bloedjonk, gelukkig ge­troud en stel hy glad nie in ’n kluisenaar-weduwee belang nie. Sy gaan staan weer voor die spieël. 

Sal sy haar lang donker hare vasbind of laat los hang? Haar dogters sê altyd sy lyk ouer wanneer dit los is, maar sy verkies haar onkonvensionele kunstenaresvoorkoms.

Isabella het skoon ’n hol kol op haar maag toe sy die volgende oggend net voor tienuur in Koek & Kuier instap. 

Haar moed begin haar ampertjies begewe toe ’n lang man met grys slape en ysblou oë voor haar uit­toring en sy hand na haar uitsteek. 

“Jy is seker mev. Isabella van Tonder,” sê hy, en sy stem klink warmer as oor die telefoon. 

“Ja, en jy is...Basie...ag, ek bedoel mnr. Basson,” korrigeer sy haarself. 

“Noem my sommer Basie,” sê hy en trek hoflik ’n stoel vir haar uit. 

Die volgende oomblik gee hy ’n harde wolwefluit, en ’n goudgeel labrador kom aangedraf en vly hom onmiddellik teen haar bobeen. Sy vryf liefderik oor sy kop. 

“En dit is nou?” vra sy. “Kaptein,” antwoord hy. 

“Die beste kameraad in die hele wêreld. Ek het twee weke gelede in die aftreeoord op die dorp ingetrek en ons mag nie honde aanhou nie. My suster, Lenie, het intussen na Kaptein gekyk, maar sy het ’n spul katte, en dit het net nie gewerk nie,” sê hy.

Die volgende oomblik gee hy ’n harde wolwefluit, en ’n goudgeel labrador kom aangedraf en vly hom onmiddellik teen haar bobeen. Sy vryf liefderik oor sy kop.

“Ek dink ek en Kaptein gaan net so goed klaarkom soos ek en Billy,” antwoord sy. 

“Die alleenheid sonder nog ’n asem in die huis het my begin vang.” 

“Ag, dan is ek so bly ek kan help, Isabella. Dit maak my gerus dat ek weet Kaptein kry nou ’n goeie huis. Maar kom ons maak dit ’n proeftydperk. As jy ná ’n week sien julle twee kom nie klaar nie, dan maak ons ’n ander plan.” 

Hy trek die spyskaart nader terwyl sy liefies Kaptein se rug vryf. “Ek is seker ons gaan goeie maats wees,” sê sy. 

“Kaptein het altyd so lekker saam met my langs die see gaan stap. Ek gaan hom beslis mis,” sê hy.

“En mev. Basson gaan hom seker mis?” vra sy nuuskierig.

“Nee,” sê hy en maak keel skoon. “My vrou, Aletta, is al sewe jaar gelede oorlede.”

Isabella se wange kry skielik ’n nuwe blos. “Ek is al agt jaar lank ’n weduwee,” sug sy.

Basie bestudeer die spyskaart: “Wat van ’n koppie tee en wortelkoek?” vra hy. 

Sy antwoord heel verbaas: “Hoe het jy geweet ek is mal oor wortelkoek?”

Hy lag en wink die kelner nader. “Wanneer jy Kaptein mis, is jy baie welkom om te kom kuier of soggens saam met ons langs die see te stap,” sê sy en wonder of sy darem nou nie te voorbarig is nie. 

“Graag, alte graag,” sê hy. En Basie se ysblou oë kry skielik ’n sagte, deernisvolle glans. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.