Die man met die teleskoop loop sit by die tafel waar die manne vir hom wink. Sy hare is kortgeskeer aan die kante en lank en blond bo.

Met sy dubbelborspak kan jy hom deur ’n ring trek. Die Koffiehuis, langs die Groote Kerk, is ’n gewilde uithangplek vir Volksraadslede, en hy het geweet hy sal ’n paar van sy kennisse daar raakloop.

“Dag, Herman, wat wil jy met daai ding kyk?” vra oom Klasie Havenga. By hom is twee ander manne van die Afrikanerparty. Herman het Dirks en Vermaak al ’n paar keer tevore raakgeloop.

“Aag, sommer die sterre.”

“Die meisies se stêre?” vra Vermaak.

“Skei uit,” sê Havenga.

“Het jy gehoor hulle het Robey Leibbrandt vasgetrap?”

“Ja, oom, Die Burger is vol daarvan,” sê Herman.

“Ek sal nie graag in sy skoene wil wees nie. Hulle kla hom van hoogverraad aan,” sê Dirks.

“Sy pa het saam met Smuts in die Boereoorlog geveg,” herinner Herman die ander.

“Maar ek dink nie hy gaan ’n ander keuse hê as om Leibbrandt tereg te stel nie.”

“Praat van die duiwel,” fluister Havenga. ’n Groepie ander Volksraadslede kom in en gaan sit teen die oorkantste muur – eerste minister Jan Smuts self, saam met Jan Hofmeyr, Piet van der Byl en Harry Lawrence.

As hy nou sy pistool by hom gehad het, kon hy die hele spul net hier platgeskiet het.

Hulle is seker die vier belangrikste mense in die land, besef Herman. As hy nou sy pistool by hom gehad het, kon hy die hele spul net daar platgeskiet het.

Die Mannlicher lê ongelukkig by die huis. Dis sy gunsteling – ’n pragstuk wat hy gekoop het toe hy laas in Duitsland was.

“Luister, ek moet loop,” sê hy, meteens omgekrap. “Nee, man, jy kom dan nou net hier aan. Daai klomp sal nie byt nie.”

“Nee, ongelukkig . . . Ek het baie om te doen.”

In Adderleystraat sien hy ’n klompie soldate in gelid loop met die rooi lussies in hul epoulette wat wys hulle is bereid om vir die Engelse teen Hitler te baklei. Herman sluit oop en klim haastig in sy DKW voor hy vir hulle sal moet padgee.

Miskien moet hy begin om die pistool by hom te hou, dink Herman op pad terug huis toe; jy weet nooit wanneer ’n kans hom voordoen nie. Hy ry in Buitengracht op, draai regs in Milnerweg en kruip teen Vlaeberg se helling uit huis toe.

Die DKW’tjie loop lekker op die gelykte, maar sukkel met die bulte. Hy trek by die waenhuis in en pak die trap op huis toe. Die plek is hoog geleë; dis waarom hy dit gekoop het. Uit sy studeerkamervenster het hy ’n manjifieke uitsig op Tafelbaai.

Dis waar hy die teleskoop opstel. Hy mik ondertoe, na die skepe in die baai. Hy bestudeer die een ná die ander en maak aantekenings: naam, vlag, grootte, hoe swaar gelaai elkeen is en die aard van die vrag wanneer daar iets op die dek of aan die hyskrane is wat hy kan uitmaak.

In die weke wat volg, begin hy die skepe so goed ken dat hy party van hulle eien nog voor hy die name lees. Hy hou ’n register van Blue Star, British India en Union Castle se vaartuie. Die talle vlootskepe wat die Kaap aandoen, veral die Royal Navy s’n, verdien spesiale aandag.

Hy vergelyk sy notas met wat in die koerant se skeepsberigte staan. Wanneer hy ’n skip sien waaroor die koerant stilbly, maak hy ’n spesiale aantekening. Die Duitsers sal belangstel in enigiets wat die Geallieerdes geheim probeer hou.

Op verskillende dae en tye, soos die Abwehr-agent in Windhoek hom voorsê, gaan hy badkamer toe.

Dan sluit hy die deur en lig die teëls voor die wasbak op en klim met die leer af in die kelder in. Daar onder het hy ’n groot radiotoestel, met ’n lugdraad wat deur ’n gaatjie in die muur en buite agter ’n afvoerpyp langs boontoe loop, en dan aan die geut se binnerand langs.

Dit gee veral saans goeie seinsterkte. Hy het ’n Enigma-masjien, model G, waarmee hy sy boodskappe kodeer. Meestal ontvang hy net ’n kort boodskap terug om ontvangs van syne te erken.

Partykeer kom daar ’n vraag wat meer probeer uitvis oor iets wat hy die vorige keer gerapporteer het. Sy inligting op sigself is nie noodwendig veelseggend nie, maar hy weet hy is maar een deel van ’n groot masjien.

Die Abwehr versamel inligting van oor die hele wêreld. Net soos in die Enigma-masjien, is daar ratte wat draai en stroombane wat voltooi word, en wat aan die een kant niks beteken nie, vorm aan die ander kant ’n betekenisvolle patroon.

Hy dra daartoe by dat Duitsland ’n duidelike prentjie kan vorm van die vloei van grondstowwe, produkte en militêre magte na en van Brittanje af.

As ’n Suid-Afrikaanse, Australiese, Indiese of Nieu-Seelandse divisie Noord-Afrika toe gaan, weet die Duitsers daarvan lank voor die soldate nog daar aanland.

Een middag lui die telefoon en dis Havenga se man Vermaak. Herman het nie eens geweet die politikus het sy nommer nie.

“Leef jy darem nog?” vra Vermaak. “Ons het jou lank laas gesien. Daar is vanaand ’n vergadering in die Ou Drilsaal. As jy kom, kan ek jou aan ’n paar manne voorstel.”

Die Duitsers sal belangstel in enigiets wat die Geallieerdes geheim probeer hou.

Net die vorige nag het Herman ’n boodskap gekry om op die uitkyk te wees na ’n nuwe Amerikaanse slagskip wat vroeër die maand uit Charleston weg is en niemand weet waarheen nie.

“Ek sal ongelukkig nie kan nie,” sê hy.

“Miskien volgende keer.”

Hy wens hy kan die skepe se bewegings beter verstaan. Hulle kom aan van wie weet waar. Uit die noordooste, Amerika dalk. Of kuslangs van Walvisbaai af. Of van links af om Vlaeberg, iewers uit die ooste.

Hulle bring ’n paar dae in Tafelbaai deur en vertrek dan weer. Hy kan kyk watter kant toe hulle mik, maar as hulle eers oor die horison is, het hy geen idee nie. Dis soos ’n spel wat die skepe speel, ’n drama wat hy deur ’n gleufie dophou terwyl hy probeer raai hoe alles inmekaarsteek, wat alles gebeur waar hy nie sien nie.

Iewers in Australië grawe manne ystererts uit, sit dit op ’n trein en dan op ’n skip en dit gaan Engeland toe, waar fabriekwerkers dit smelt en dinge daarvan maak – gewere en silinderkoppe en lepels. ’n Jeep ry in Boston teen ’n skeepshelling op en weer in Tobroek daarteen af en jaag later onder Duitse geweervuur met vier verskrikte soldate wat klou om lewe en dood.

Die wêreld gaan by hom verby. Sy hare word lank en hy bodder nie meer met uitgaanklere nie. Wanneer inkopies gedoen moet word, stop hy die bediende ’n paar pond in die hand en sê sy moet sorg.

Sy kom een keer per week, maak ’n bietjie skoon en kook kos wat hy twee, drie dae lank kan laat hou. Daarna eet by beskuit, biltong en vrugte.

Toe Vermaak weer bel om hom iewers heen te nooi, drie weke later, sê Herman weer nee. Hy sit die telefoon neer en gaan terug na sy teleskoop toe. Hy tol die aardbol en stop dit lukraak met sy vinger, kyk waar hy gedruk het.

Pistole op hom gerig. Hy staar ’n ruk lank na hulle, probeer verstaan wat aangaan.

Helsingfors. Ander kere is dit Hawai, Java, Montevideo, Sjanghai, Veracruz . . . Hy verbeel hom die skepe wat hy nog anderweek voor sy teleskoop se ronde oog gesien het, ploeg deur die Panamakanaal, beur teen die winde by Kaap Hoorn, klots tussen ysskotse voor Moermansk, vaar voor die Vryheidsbeeld verby.

Hy verbeel hom hy is daar; hy reis saam met hulle. Eendag bel Vermaak weer. “Hier is ’n kêrel wat baie gretig is om jou te sien. Hy sê hy het jou eenkeer by die dieretuin in Berlyn ontmoet, by die kanaries.”

Herman onthou niks van die aard nie en raai dit is as kode bedoel.

Kanaries? Adm. Canaris is hoof van die Abwehr. Vermaak se kennis is dan seker ’n Duitse agent. Herman is nie lus om enigiemand te ontmoet nie; iemand moet immers dophou wat in die baai aangaan.

“Ek kan nie.”

“In elk geval, hy sê jy moet oppas. Hy hoor allerhande dinge. Jy moet dalk liewers ’n rukkie weggaan, iewers ver.”

Herman sit die foon neer en gaan kyk deur sy teleskoop. Onder by die dokke werk die hyskrane. Hy kyk wat hulle laai.

Bale wol by die een, lyk dit. ’n Skaap wat in die Karoo geloop het se wol gaan ’n soldaat se sokkie word in Birma of iewers. Skepe vertrek; elkeen skuif voor ’n skuimstreep uit. Hy wens hy kan saam met hulle gaan, die verre wêreld in vaar.

Die telefoon lui weer, vier keer. Maar daar gaan iets in die baai aan. Op die dokke staan drie rye militêre vragmotors. Hy moet kyk wat hier aangaan. Onder in die straat is ’n beroering; hy kan deure hoor klap. Kan die spul nie stiller wees nie?

Daar lui die foon weer. Twee sleepbote help ’n skip uit die hawe. Iemand klop aan die voordeur. Hy ignoreer dit; hy wil sien wat gebeur. Hulle sal wel agterkom hier is niemand tuis nie, dan sal hulle loop.

Hulle hamer aan die deur. Die foon lui. Daar is ’n geweldige knal by die voordeur en voetstappe dawer in die gang af. Toe hy omkyk van die teleskoop af, staan die kamer vol soldate met rooi lussies op hul skouers.

Militêre polisie. Pistole op hom gerig. Hy staar ’n ruk lank na hulle, probeer verstaan wat aangaan.

Dan vertrek sy gesig en hy begin lag. “Skiet maar,” proes hy. “Skiet maar. Ek is lankal nie meer hier nie.”