Daar was ’n tyd toe Bernard my beste vriend was. Deesdae is ek nie meer so seker nie. Deesdae is ek nie meer so seker van enige van my ou vriende nie. Is hulle almal jaloers?

Dis vandat ek vir Louise Fortuin gevang het dat al die mense wat vir my vroeër so spesiaal was, my vreemd aankyk. Asof ek ’n siekte het.

Laas nag in die kroeg het ek besluit om Bernard trompop te loop met my vermoedens. “Bernard, het jy iets teen my verhouding met Louise?”

Hy het hiernatoe gekyk en daarnatoe gekyk. Hy het sy keel skoongemaak. Hy het ’n slukkie bier gevat en byna verstik daaraan. Toe kyk hy my skielik reguit in die oë, en sê, in ’n onheilspellende stem: “Ja. Ek het.”

Ek het gesug. Eindelik iemand wat eerlik is met my. Hoekom het dit my nie laat beter voel nie?

“Wat is fout met Louise, Bernard?”

“Sy skryf gedigte,” het Bernard in ’n onheilspellende stem gesê.

“Sy . . . wat? Sy skryf gedigte? Hoekom het jy ’n probleem met vroue wat gedigte skryf?”

“Sy het ’n kat met die naam Katastrofe,” het Bernard gesê, en daar was ’n donker kyk in sy oë. “Ek weet nie van jou nie, Tiaan, maar as ek jy is, bly ek ver weg van ’n meisie wat gedigte skryf en wat haar kat ’n naam soos Katastrofe gee. Al is haar pa ’n miljoenêr.”

Katastrofe.

Dis die woord wat in my kop was toe ek vanoggend in ’n angssweet wakker geskrik het.

Katastrofe. Sê nou maar die kat se naam sê alles? Sê nou maar my trouplanne met Louise Fortuin stuur op ’n katastrofe af?

Ek kan nie kop uittrek nie. Die troudatum is reeds vasgestel. Die gaste is al genooi. Louise het vir haarself ’n peperduur trourok laat maak. Dis amper klaar. Ek moet erken die rok staan my nie aan nie, dis ’n baie ingewikkelde ontwerp met vreeslik baie valletjies en patroontjies, maar hel, sy gaan dit mos net een aand dra; ek hoef nie die res van my lewe daarin vas te kyk nie.

Ek stut myself regop op my elmboog in die bed, en staar na Louise se geraamde foto op die tafeltjie langs my bed.

Sjoe. Louise is beeldskoon, dit besef ek opnuut. Sy is die vangs van die eeu. Vandat ons saam op skool was, hang sy net met die toprugbyspelers uit. Ek het nooit gedink ek het ’n kans nie. 

Ek staar na haar foto. Daardie sielvolle blou oë. Die ernstige mond. Die kapsel wat altyd reg val oor haar voorkop. Die halssnoer van witgoud wat ek vir haar ses maande gelede gekoop het. Op haar aandrang. Ek moes my elektriese kitaar op Gumtree verkwansel om dit te kan bekostig, maar daarvan weet sy niks. Sy’t nooit eens agtergekom ek het nie meer die kitaar nie.

Ek staan op uit die bed, op wankelrige knieë. Ek het ’n droom gehad laas nag. Wat was dit nou weer? Dit was ’n baie mooi droom. Deksels, ek moet dit onthou! Ek het ’n gevoel dis belangrik . . . 

Ek verpoos vir ’n oomblik, skrik toe ek die boek sien wat nog eenkant op die vloer langs my bed lê. Haar gepubliseerde digbundel. Sy het dit self laat publiseer. Verlede week. Dit lê met die titelblad boontoe. ’n Foto van haar kat. En die titel: Katastrofes vir ’n verganklike siel.

Hoekom lê haar digbundel op my vloer? Nou onthou ek. Ek onthou dat sy dit gister vir my present gegee het, en dat ek dit probeer lees het voor ek aan die slaap geraak het, maar dat ek dit toe uit pure moedeloosheid weggeslinger het ná ’n halwe bladsy omdat ek nie ’n woord daarvan verstaan het nie.

O hel. Dit voorspel niks goed nie. Wat as sy my oor haar bundel uitvra? Wat as sy my mening wil weet? Ek is immers ’n liedjieskrywer. Het my eie orkes gehad. Ons het opgebreek toe Bernard sy vinger breek en nie meer kon baskitaar speel nie. Dit was verlede jaar. Voel soos ’n eeu gelede.

Ek tel weer die bundel op, maak dit oop op die eerste bladsy, en lees:

Die vreemdste bitterbessie-gal-gedagtes spoel deur my siel as ek my pyn onthou, die derflike katarsis, van dergelike katastrofes . . . 

Ek gooi weer die boekie op die vloer neer, gryp my kamerjas van die rugkant van my stoel af, trek dit aan, en slof-slof met ’n ontstelde kloppende hart kombuis toe om vir myself koffie te maak.

Halfpad soontoe piep my selfoon. Ek soek daarna, vind dit tot my verbasing in my kamerjapon se sak. Sal nou-nou die boodskap lees. Moet eers ’n sluk koffie in hierdie lyf kry.

Ek skakel die ketel aan. Kry ’n koppie uit my kas, die getjipte een met die foto van Janis Joplin op, en . . . toe onthou ek die droom.

Ek het gedroom van Janis Joplin. Of iemand soos sy.

Nie dieselfde kleur hare nie – ek kan nie onthou watter kleur hare nie – ook nie dieselfde gesig nie, nie heeltemal nie, maar . . . 

’n Vrou. Met ’n kyk in haar oë. ’n Kyk soos Janis Joplin s’n, reguit en uitdagend en vol humor en lewenslus, soos ’n ou pel, soos iemand wat jy kan vertrou. 

Die soort vrou wat as jy vir haar sê “Kom ons gaan vir ’n jaar oorsee en bly in al die goedkoop backpackers,” sal antwoord: “My rugsak is klaar gepak, want ek het geweet jy gaan dit sê.” Verspot. Nou is ek regtig verspot.

’n Mens kry nie sulke vroue nie. En al kry jy sulke vroue is hul pa’s nie miljoenêrs nie en is hulle nie die vangs van die dorp nie en skryf hulle nie gedigte oor bitterbessie-gal-gedagtes en katte met die naam Katastrofe nie.

Twee minute later, plat op my rusbank, het ek eindelik die krag om Louise se WhatsApp-boodskap te lees.

“Liefste Tiaantjie,” lui die boodskap, “ek hoop jy’t lekker geslaap. Ek het vir jou ’n afspraak gemaak by die ontwerper wat jou pak moet maak. Hy wil jou mate neem. Sal jy hom vanoggend nog laat weet wanneer jy wil kom? Sy nommer is . . .”

Sy het nie ’n besigheidskaartjie of skakel gestuur nie. Ek soek rond met my oë na ’n pen of potlood om dit neer te skryf. 

Verdeksels! Ek sien niks. En ek is nie nou te lus om weer op te staan nie – ’n mens staan nie op as jy gaan sit het met jou eerste koppie koffie van die dag nie.

Ek sê die selnommer wat sy gestuur het hardop. Twee keer. Tik dit in op my selfoon soos ek dit onthou. Save dit onder “Pak”. Maak WhatsApp weer oop, druk die simbool van die vergrootglas, en soek na “Pak”.

’n Nommer verskyn op die skerm. Dis ’n vrou se gesig, maar ek is nog te deur die slaap om mooi na die klein prentjie te kyk.    

Ek tik in: “Ek is vanmiddag beskikbaar om die mate te neem vir my pak. Kan julle vir my ’n pin stuur sodat ek kan sien waar jul kantore is?”

Ek druk send. Sit terug, met my oë toe. Haal diep asem. Vat ’n sluk koffie. My foon piep weer. Ek lees die boodskap.

“Ek dink jy het die verkeerde nommer,” lees ek. “Ek ontwerp nie pakke nie. Jammer.” En ’n geel smiley-gesiggie. 

Sjoe. Sy’s nogal vriendelik vir iemand wat pas ’n boodskap van ’n verkeerde nommer gekry het. Louise is altyd woedend as mense sulke foute met haar maak. 

Ek kyk weer na die foto van die mens van wie ek pas ’n WhatsApp-boodskap gekry het. En weer. En weer.

Dis ’n vrou. Nee, sy lyk nie regtig soos Janis Joplin nie. Maar tog so ’n bietjie. Dalk is sy Janis Joplin se suster? Of dogter?

En skielik onthou ek my droom van laas nag. Hierdie keer in besonderhede.

Ek het gedroom ek het ’n nuwe meisie. ’n Ander lewe. In ’n parallelle heelal. Ons groep was weer aan die toer. Sy het saamgekom. Sy was goeie pelle met Bernard en almal. Sy’t die woorde van al my songs geken.

Hierdie vrou lyk op ’n haar soos die vrou van wie ek laas nag gedroom het. Die onbekende een. Dieselfde laggende oë. Die oë wat wil sê: “Ek het klaar my rugsak gepak.”

Dit kan nie wees nie. Hier sit ek en staar na ’n foto van ’n volslae vreemdeling, en ek kan voel hoe my hele lewe verander, hoe al my illusies van my wegval en al my planne skielik verander. En ek weet ek kan nie met Louise Fortuin trou nie. Ek weet ek wil nie daardie pak laat maak nie. Ek weet ek moes nie my kitaar verkoop het nie.

Ek weet ek moet na my hart luister, want ek weet meteens daar is meer in die lewe as pretensieuse gedigte, ’n kat genaamd Katastrofe, en die res van my lewe saam met ’n ingewikkelde entjie mens wat met niks tevrede is en wat nog nooit na enige van my liedjies geluister het nie en wat gril om een nag in die boendoe in ’n tweemantent te slaap en . . .

Ek maak my oë toe. My hele lewe verander in vyf sekondes.

Toe ek my oë oopmaak, is ek ’n ander mens.

Ek druk my vinger op die simbool van die telefoontjie onder die foto van die onbekende vrou.

Toe sy antwoord, is daar ’n ondeundheid in haar stem.

En toe ek vra: “Hallo, is dit die verkeerde nommer?” is dit asof die son in my hart opkom toe sy met ’n glimlag antwoord, en nuuskierig vra: “Ja, dit is! Hoe kan ek jou help?”

Ek haal diep asem, en vra: “Wat doen jy vanaand?”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.