Die son het nog nie oor Kappadosië opgekom nie en die oggendluggie byt geniepsig.

Elmien Smuts staan saam met ’n klompie ander toeriste in ’n halfmaan om ’n vormlose hoop materiaal en toekyk hoe dit tot ’n reuseballon opgeblaas word. 

Eers vul ’n enorme waaier die ballonsak met koel lug tot dit gedeeltelik vorm aanneem, waarna ’n propaan­brander warm lug daarin blaas. 

Kort voor lank staan die ballon regop en kan hulle in die gondel klim.

Nadat die groepie met die noodprosedures vertroud gemaak is, laat die grondbemanning die ballon los. 

Die operateur vuur ’n vlam in die bek van die ballon op en hulle styg ál hoër. Die oranje vlam gloei dramaties in die halfdonkerte.

Toe sy oor die rand van die mandjie loer, voel Elmien die eerste keer in jare sorgeloos. Die aarde val weg onder haar en die horison verbreed na alle kante toe. 

Die son maak sy verskyning en die rotsformasies gloei soos geelkoper. Dosyne ander ballonne om hulle vat ook vlam in ’n reënboog van kleure. 

Hul ballon dryf oor die beroemde feë­skoorstene, rotssuile wat honderd of meer meter hoog soos omgekeerde roomyshorinkies regop langs mekaar staan. 

Ver onder hulle is dorpe – huise, grot­kerke, kloosters – wat in die sagte vulkaniese rots uitgekap is. 

Toe sy oor die rand van die mandjie loer, voel Elmien die eerste keer in jare sorgeloos. Die aarde val weg onder haar en die horison verbreed na alle kante toe.

Die vlieënier stuur die ballon oor die dorpie Göreme waar honderde hotelkamers in die klip uitgekap is. 

Baldadige hotelgaste wat vroeg op is om die dag se skouspel van ballonne gade te slaan waai met hul arms toe die ballon laag oor hulle verbyvlieg. Elmien voel soos Alice in Wonderland, asof sy met oop oë droom. 

Sy weet nou dat dit die regte ding was om hierheen te kom. Sy kon nie vir altyd soos ’n afgeblaasde ballon op ’n hoop bly lê het nie. 

Ná die ongeluk en Braam se dood byna drie jaar gelede het sy haar beroep as argitek prysgegee om haar twee dogters, albei toe nog op universiteit, emosioneel te ondersteun. 

Haar eie vlam wat eens so hoog gebrand het, het tot net ’n flikker gekwyn. 

Vir so lank was haar hartseer ’n innerlike saboteur wat haar op die mees onverwagte oomblikke – met die lek van ’n vlam in die kaggel of die eerste note van ’n liedjie – in rou gedompel het so intens soos die dag toe die telefoonoproep haar fondament onder haar uitgeruk het. 

Maar vandag, hier, ’n paar honderd meter in die lug met die wind in haar hare, voel sy nader aan Braam as langs sy graf of in hul huis waar sy haar om elke hoek en draai in sy afwesigheid vasloop. 

Die volgende oggend vlieg Elmien na Istanbul vir die res van haar vakansie. 

Toe ’n taxi haar voor haar gastehuis aflaai, is daar nie minder nie as vier katte wat voor die ingang lê. 

’n Vyfde het plek ingeneem op ’n swaai wat aan ’n boomtak vir die buurt se katte opgehang is. Dié, onthou Elmien, is ’n stad met meer as 2 miljoen katte.

Vir so lank was haar hartseer ’n innerlike saboteur wat haar op die mees onverwagte oomblikke – met die lek van ’n vlam in die kaggel of die eerste note van ’n liedjie – in rou gedompel het so intens soos die dag toe die telefoonoproep haar fondament onder haar uitgeruk het.

Sy maak vir haar Turkse koffie en gaan sit daarmee in die son, tussen die katte. 

Op die ingewing van die oomblik besluit sy om die volgende dag ’n argitektuurtoer te onderneem. 

Sy kry een op die internet en kort voor lank is die reëlings vir ’n privaat toer getref.

Dit is nie haar eerste besoek aan Istanbul nie – sy is vertroud met die museums, moskees en paleise van die stad. 

As argitekte het sy en Braam die rooskleurige Hagia Sophia, die Blou Moskee en die fabelagtige Topkapi-paleis destyds van hoek tot kant bekyk. 

Sy besluit dus om vandag gewoon haar neus deur die stad te volg en te sien wat die dag oplewer. 

Die geur van Turkse koffie, appeltee en granaatsap ontmoet haar op die plein in Sultanahmet. 

Sy koop ’n gebraaide mielie op ’n stokkie waarmee sy eet-eet deur die Groot Basaar drentel. 

By die markstalletjies ruik sy behaaglik aan die kraakvars groente en vrugte wat lyk of dit pas gepluk is. 

Sy voel aan die tekstuur van nuwe leer, en by die Egiptiese mark koop sy eksotiese speserye. 

Maar vandag, hier, ’n paar honderd meter in die lug met die wind in haar hare, voel sy nader aan Braam as langs sy graf of in hul huis waar sy haar om elke hoek en draai in sy afwesigheid vasloop.

Die reuk van swaar Oosterse muskaatparfuums hang bedwelmend in die lug.

Die antieke patrone wat oral te sien is – in die tapyte, die teëls, die breekware – laat haar aan Braam dink. 

Die geometriese ontwerpe en kombinasies van herhaalde vierkante en sirkels wat oorvleuel en met mekaar verweef word om ingewikkelde en komplekse patrone te vorm, het hom so gefassineer. 

Sy onthou hoe hy met sy vingers oor die tekstuur van ’n tapyt of stuk lap kon streel. 

Vir hom was Turkye die kleur van edelgesteentes en juwele, van goud en silwer, smarag, robyn, heuninggeel, turkoois en pruimpers. 

Vandag maak hierdie herinnerings nie seer nie. Sy is dankbaar dat sy hulle het om te kan vertroetel.

’n Aantreklike jong Turk met die naam Aslan laai haar die volgende oggend op vir hul dag lange staptoer. 

Aslan is ’n student in argitektuur wat sakgeld verdien as toergids. Hoewel hy aanvanklik vir haar te jonk vir die taak lyk, verras hy haar gou met sy kennis van die stad se ikoniese geboue, oud en nuut. 

In Ümraniye word haar asem weggeslaan deur die uitdagende, moderne argitektuur van die Yesilvadi-moskee. 

“Die idee om ’n gedeelte van die moskee op ’n poel water te plaas,” vertel Aslan, “was om die eenheid van God te simboliseer. Die betonkoepel word in die water weerspieël om so ’n verenigde sfeer te skep.”

Die geometriese ontwerpe en kombinasies van herhaalde vierkante en sirkels wat oorvleuel en met mekaar verweef word om ingewikkelde en komplekse patrone te vorm, het hom so gefassineer.

Braam het altyd gesê dat argitektuur kuns is, en ruimte die medium.

Moeg maar gelukkig ry hulle ná ’n lang dag op hul voete terug na die gastehuis. 

Hulle praat oor hul families, hul toekomsplanne en eindelik ook oor Braam. Met insig wat sy jeug oortref, gee hy haar raad: “Ons moet almal eendag sterf, maar elke ander dag moet ons leef.”

Aslan rem en stop skielik toe ’n kat oor die pad hardloop en onder die voertuig beland. Hulle albei spring bekommerd uit. 

Die jong katjie wat hulle langs die voorwiel vind, is gekneus en verward, maar makeer gelukkig niks meer nie. 

“Ons kan hom nie net hier los nie,” sê Elmien toe die bang lyfie saggies teen haar bors druk. 

“Beslis nie,” beaam Aslan en verraai daarmee dat hy ’n Turk in murg en been is. 

“Hou hom vir eers by jou. Ons kan hom môre veearts toe neem en dan besluit wat ons met hom gaan maak.” 

Toe Aslan haar aflaai, neem sy ’n foto van die katjie in sy arms. 

“Ek dink ons moet hom na my noem,” sê hy. “Aslan beteken mos leeu.”

Hulle praat oor hul families, hul toekomsplanne en eindelik ook oor Braam. Met insig wat sy jeug oortref, gee hy haar raad: “Ons moet almal eendag sterf, maar elke ander dag moet ons leef.”

“Dis die perfekte naam,” lag Elmien. “Laat my weet hoe laat jy my môre kom oplaai.”

Later die aand, toe Aslan met ’n vol pensie opgekrul langs haar lê, stuur Elmien die foto van die twee Aslans vir haar dogters. 

“Julle,” teks sy, “ontmoet Aslan. Dit was liefde met die eerste oogopslag.”

Emma antwoord byna oombliklik: “Ma? Hy kan nie ouer as ek wees nie!”

Die misverstand laat Elmien glimlag. Sy wikkel met haar wysvinger teen die kussinkies van die kat se poot en dié begin dadelik daarmee speel. Aslan se spelerigheid is aansteeklik. 

“Maar hy het die mooiste groen oë,” koggel Elmien. 

’n Lang stilte volg voor Emma antwoord. “Pa sal in sy graf omdraai.”

Elmien se gemoed skiet vol. Dit is tyd dat haar kinders dit ook hoor. “Ons moet almal eendag sterf,” teks sy, “maar elke ander dag moet ons leef.” 

Voor sy behoorlik daaroor besin, voeg sy by: “Ek dink ek sal hom saam met my terugneem huis toe.”

Dié keer antwoord Kristie. “Dit is so verregaande dat ek weier om kommentaar te lewer. Nag, Ma.”

Die misverstand laat Elmien glimlag. Sy wikkel met haar wysvinger teen die kussinkies van die kat se poot en dié begin dadelik daarmee speel. Aslan se spelerigheid is aansteeklik.

Laat hulle dink wat hulle wil, besluit Elmien en rol Aslan op sy rug om sy pensie te vryf.

Die straatligte skyn sag op die kamervloer toe Elmien die volgende oggend wakker word. Die oop venster laat ’n briesie van die Bosporus in. 

Seemeeue roep en daar is ’n gefladder van vlerke. Aslan lê teen haar nek, maar toe sy hom begin streel, is hy wawyd wakker en weer lus vir speel. 

Elmien gooi hom toe met die laken en probeer hom kielie terwyl hy haar hand met sy naels deur die laken bykom.

’n Teksboodskap onderbreek die pret. Dis van Emma. “Is Ma vanoggend Ma-self?” wil sy weet.

“Meer as in ’n lang tyd,” antwoord Elmien. “Ek het nou so lekker met Aslan onder die laken gespeel.”

“Ons dink dis tyd dat Ma huis toe kom,” antwoord Emma ontsteld. 

Siestog, dink Elmien, die kind is regtig bekommerd. Maar sy is nog nie gereed om die kat uit die mou te laat nie. 

Sy voel effens skuldig, maar ’n welkome lig­hartigheid het van haar besit geneem.

“Ek moet eers Aslan se dokumente uitsorteer sodat hy kan saamkom,” antwoord sy en troos haarself dat sy nog geen leuen vertel het nie.

Seemeeue roep en daar is ’n gefladder van vlerke. Aslan lê teen haar nek, maar toe sy hom begin streel, is hy wawyd wakker en weer lus vir speel.

Later die oggend verduidelik die veearts die prosedures wat gevolg moet word om ’n kat van Turkye na Suid-Afrika uit te voer. 

Sy onderneem om met die proses behulpsaam te wees en op haar kontakte se knoppies te druk om dit te bespoedig.

“Kom kuier vir ons in Suid-Afrika,” nooi Elmien toe sy ’n paar dae later van die tweebeen-Aslan afskeid neem. “Jy en Emma sal goed oor die weg kom.”

Toe Elmien haar kinders die volgende dag op die lughawe met Aslan in sy draagbare reishokkie tegemoetstap, weet sy hulle het hulself teen hierdie ontmoeting gestaal. Sy sien die verwarring, die besef en dan die verligting op hul gesigte toe sy nader stap. 

Wag, dink sy, tot ek hulle vertel dat ek weer gaan praktiseer. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.