VERVLAKS!” Dit kom nou daarvan as ou vroue begin fietsry. Ek het geweet dit was ’n fout om die kuspaadjie te vat. Die son is nog nie behoorlik op nie, maar ek kry die fiets op sy kop en het net begin band afhaal toe ’n man in drafklere uitasem met ’n hond langs my stop.

“Kan ek help?”

“Ek weet hoe,” sê ek.

“Dis makliker as twee mense dit doen,” sê hy.

Met ’n “Daar’s hy, mooi ry!” hardloop hy verder. Ek roep ’n “Baie dankie, skuld jou ’n bier!” agterna.

Later die oggend stap ek deur my ma se strandhuis. Ons verkoop die huis, meubels en al. Sy is te oud om alleen te kom. My enigste suster woon in Berlyn, en ek kom byna nooit hierheen nie. Eintlik weet ek nie hoekom nie, want ek het altyd tydens skoolvakansies, maar om die een of ander rede dink ek nooit aan die huis nie. Die waarheid is dat ek bang is vir alleen raak, en hier is nie Wi-Fi nie.

Ek dwaal van vertrek tot vertrek en kyk na die foto’s wat my ma in collages in groot rame oral opgehang het. Ons het wel lekker vakansies hier gehad te oordeel na die foto’s. My suster se twee dogters in hul swemvlerkies besig om ’n koek saam met ouma te bak, hulle maal perlemoen saam met oupa, vang vissies met ’n net, kyk bangerig na Kersvader. Ek is ook daar, in my studentedae saam met Johan – ons braai en drink ’n bier.

Elfuur kom die eerste eiendomsagent. Dis ’n botoks-vrou wat my nie ’n kans gee om ’n woord te sê nie.

“Stuur die mandaat; ek sal dit teken,” sê ek later kliphard om net van haar ontslae te raak. Die halfeen-afspraak is halfeen daar, hond en al.

“Middag, Cornie Steyn. My liewe land, het ons mekaar nie al vanoggend raakgeloop nie?”

“Duh,” sou my leerders sê, “obviously.” Ek bied die beloofde bier aan, en hy aanvaar die aanbod met die hond wat ewe tevrede buite die deur wag.

Stadigaan word die prentjie duideliker. Hy het naby Upington geboer, maar sy vrou is ’n jaar gelede oorlede.

“My seun boer nou. Anders as ’n fietsband omruil, is dit beter as een mens dit doen.”

Hy vertel die klein supermarkie op die dorp het met ’n eiendomsagentskap gekom. “Ek probeer nou maar om die reputasie van eiendomsagente te verbeter,” sê hy half verskonend. “Dis goed om hier te woon. Die kleinkinders kom graag by oupa by die see kuier.”

“So jy woon hier?” vra ek.

“Nee, huur vir eers op Steven’s Bay langsaan. Ek kyk maar eers die dinge uit en wag om te sien hoe die oes hierdie jaar lyk.”

Ek is suinig met my inligting en hy is tevrede met die brokkies.

“Nooit getroud nie?”

“Nee, amper, maar my universiteitsliefde het op die end gesê hy is gay. Regte oujongnooi-onderwyseres,” sê ek.

“Heeltemal te mooi en sexy vir daardie kategorie,” antwoord die groenoog-gryskopman.

Ek wonder hoe oud hy is. Hy het ’n atleet se lyf – geen vet nie, maar as hy al kleinkinders het, kan hy nie te jonk wees nie. Sy papierwerk is perfek en hy kom dadelik per e-pos terug soos belowe.

Ek google hom, Cornie Steyn: boer van die jaar, voorsitter van die boerevereniging, wynmaker, gesinsman, in die nuus omdat hy die sluiting van ’n plaasskool bestry en verhoed het. Suzette Steyn, tragies in ’n motorongeluk tussen die plaas en die dorp oorlede.

In die volgende paar maande dink ek gereeld aan die huis en wonder of ek dit nie maar moet hou nie. Dis naby genoeg aan die stad, en ek het vergeet hoe mooi dit daar is. Dalk wil ek langer tye bly as ek afgetree het. Dalk kom Janine tog weer terug Suid-Afrika toe. En wat van die niggies wat nooit in Europa so ’n vakansie sal kan hê nie?

Die mark is in elk geval stil en ’n mens moet maar geduldig wees. Die enigste aanbod, wat deur Mej. Botoks kom, is onderhewig aan ’n ander verkoop, en dit lyk nie of dit gou gaan gebeur nie. Doodse stilte van die ander agente.

Ek werk my halfpad dood in die eerste kwartaal. Ek is die wiskundevakhoof. Dit het sy eie uitdagings, en dit tap jou. Ek is ook baie betrokke by atletiek en is verantwoordelik vir die gr. 10-dans. My program is net te vol, en ek kan nie wag vir die Aprilvakansie nie, al is dit net om verlore slaap in te haal.

Sommer die eerste dag ry ek reguit strandhuis toe. Dis dalk my laaste kans. Ek moet in elk geval begin oppak en uitsorteer. Oor die eerste paar dae Skype ek gereeld met my suster. “Wil jy die kelim hê?”

“Ja, maar ek gaan dit nooit in Berlyn kry nie, verkoop dit maar.”

“Wat van die Kersvaderpak; jy gaan binnekort kleinkinders hê?”

“Dan koop ek een, Marlene.”

Ek wonder hoe oud hy is. Hy het ’n atleet se lyf – geen vet nie, maar as hy al klein-kinders het, kan hy nie te jonk wees nie

Ons twee raak heel nostalgies en ek hoor die verlange in haar stem. Dis boonop bitter koud in Berlyn, lente ten spyt. Ek ry baie fiets, veral vroegoggend, maar bly op die sementpaadjies, gaan stap lang ente en sonbrand in die agterplaas waar niemand my kan sien nie.

In die middae slaap ek in die sonnetjie op die bank en saans braai ek in die Weber op die stoep, met my sterreboek langs my. Minder lig hier as in die stad. Dis lekker en ek voel hoe die kwartaal se skoolstres uit my lyf sypel.

Op die derde dag moet ek na die supermarkie vir melk en brood. Ek lag vir myself toe ek my hare kam voor ek in die pad val. Ek stap sommer, dis naby. By die tydskrifrak talm ek en blaai tydsaam deur ’n handwerktydskrif (dalk moet ek tog maar my ma se naaimasjien oorneem). Ek hoop die man in die klein kantoortjie sien my raak, maar toe ek oor die tydskrif loer, is hy op die foon aan die beduie. Ag vrek, is ek nou simpel, dink ek en betaal my paar goedjies. Ek is amper by die huis toe ek iemand agter my hoor roep.

“Was dit jy wat nou net in die winkel was? Ek het nie geweet jy is hier nie. Is jou huis nog te koop, want ek dink ek het dalk ’n koper.”

Ag nee, dink ek. Ek weet nou nie of ek nog die huis wil verkoop nie. Ek het so half gehoop dit gaan nog ’n paar maande duur, my ’n verskoning gee om weer te kom. Dalk weer ’n pap wiel te kry.

Hy val langs my in, neem my pakkies en toe ons by die huis kom, sê Cornie Steyn, voorheen boer, nou supermarkeienaar en eiendomsagent: “Ek sê jou wat, dit lyk my jy het ’n lekker braaiplek hier. Hoekom bring ek nie ’n paar plaastjoppies en wyn en ’n slaaitjie nie, dan praat ons vanaand daaroor. My huurplekkie het nie ’n uitsig nie en die braaiplek rook vreeslik. Ekskuus, ek aanvaar nou ook sommer jy eet lam. Is jy dalk ’n vegetariër? Ons hoef nie tjops te braai nie? Of het jy dalk ander planne?”

Ander planne? “I wish,” soos die kinders sê. “Nou goed, ek maak poeding en ek is mal oor tjops,” sê Marlene de Wit, wat nou haar bes probeer om voor te gee asof sy elke tweede dag so ’n uitnodiging kry. Gelukkig kan sy ’n pryswennerkaaskoek bak.

“Het jy dalk ’n waterbakkie vir Rufus?” Natuurlik, ek het gister nog ons ou liewe Katrien-worshond se bakkie onder die wasbak in die kombuis gesien.

“Vertel my van die geheimsinnige koper,” sê ek later terwyl hy die vuur aanpak. “Is dit iemand wat permanent hier wil woon of wil hy of sy koop vir ’n strandhuis? Kan hulle ooit betaal? Ek hoor daar is maar belaglike aanbiedinge deesdae. Ons is nie desperaat nie.”

“Dis ’n wewenaar wat graag permanent hier wil woon. Die huis het genoeg slaapkamers vir sy kleinkinders en hy meen dat hy maklik nog ’n verdieping kan opsit vir ’n lekker hoofslaapkamer met en suite-badkamer en balkon wat op die see uitkyk. Ek dink hy sal dit kan bekostig.”

“Klink vir my of hy hoop om weer te trou. Hy weet seker nie dat die talent op hierdie dorpie maar skraal is nie. Hy moet hom maar op teleurstelling voorberei.”

“Vreemd genoeg, hy stem nie saam nie. Hy weet dat die hoërskool op Steven’s Bay ’n wiskundeonderwyser soek en hy het glo iemand in die oog wat hy gaan oorreed om aansoek te doen. Die persoon gaan ’n blyplek nodig hê en iemand om haar te help met haar fiets wat blykbaar alewig pap bande kry. Hy meen hy kan daardie diens verskaf.”

Cornie weet alles van die sterre af en van wyn. Ons gesels asof ons mekaar jare reeds ken. Hy is opgewonde oor die moontlikhede vir die huis, en op sy versoek gaan haal ek ’n eksamenvel waarop hy sy planne teken. Ons debatteer al die moontlikhede en stem op die end saam dat die hoofslaapkamer dalk liewer ’n berguitsig moet hê. Oor Suzette en sy plaas praat hy maklik, en voor ek myself kan keer, soos ek gewoonlik doen, vertel ek vir hom die hele storie van Johan.

Toe hy en Rufus teen middernag in die bakkie spring, is ek te wakker om te gaan slaap. Ek sit nog buite by die louwarm Weber en kyk na die sterre. Môreoggend gaan ons fietsry, my ma het ’n koper vir haar huis en ek voel ’n vredigheid oor my kom wat ek in jare nie ervaar het nie. Die sterre is besonder helder vanaand.