Die trein het reeds gefluit toe Wanda by die wa inbars. 

Sy het ’n tweedeklaskaartjie gekoop, al het dit haar net $8 gespaar. Agt dollar is R80; daarmee kan ek twee koppies koffie in Melbourne koop, dink sy terwyl sy haar sitpleknommer soek. 

Vandat die Viljoens in Australië geland het, ry Wanda se gemoed wipplank. 

Hulle is weg omdat dit eenvoudig onmoontlik geword het om in Suid-Afrika te woon, verduidelik sy oor en oor aan die Aussies.

“Daar was doodgewoon nie ’n toekoms vir ons kinders daar nie.” 

Ja, dit is ’n deel van die waarheid, ook dat Sebastian se werkomstandighede onhoudbaar stresvol geword het, maar dit erken sy net af en toe teenoor vreemdes.

“Ons is avontuurlustige mense en glo Australië bied wonderlike geleenthede. En dis so ’n lieflike land. Die hele kuslyn is asemrowend, en dan is daar nog die dorre Outback ook. Ek’s bevrees ons gaan nie genoeg tyd hê vir alles wat ons wil sien nie.” 

Die rede wat sy nie eens teenoor haar beste vriendinne noem nie, is dat sy – dank die Vader – nie meer in dieselfde land, wat nog te sê dieselfde stad, as Die Ander Vrou hoef te woon nie. 

Die man oorkant haar groet vriendelik en lees dan verder aan sy koerant.

Die rede wat sy nie eens teenoor haar beste vriendinne noem nie, is dat sy – dank die Vader – nie meer in dieselfde land, wat nog te sê dieselfde stad, as Die Ander Vrou hoef te woon nie.

Vandag is háár dag, dink Wanda terwyl sy by die treinvenster uitkyk en besef hoe baie die landskap haar aan Darling herinner. Groen en nat, melkbeeswêreld.

Sy gaan Collinsstraat platstap en in restaurantjies inglip vir koffie en koek elke keer wanneer sy lus het. 

Daar’s vandag niemand wat knorrig saamstap en voorgee dat hy die uitstappie geniet nie. G’n kind of kraai wat haar gaan voorsê of skuldig laat voel nie.

Sebastian het gesê sy weet sy kan sy kredietkaart gebruik, enige tyd. 

Hy weet mos hoe sleg dit vir haar is om nie meer ’n salaris te verdien nie. En bowendien, sy salaris is ruim en hy gun haar die dag in die stad.

“Doen nou als wat jy wil. Vergeet van ons, en gaan geniet die dag. Maak ’n draai by die kunsgalerye en koop vir jou iets moois.”

Bas weet natuurlik sy sal nooit – boetiekwinkels is net vir kyk, praat die ewig verantwoordelike Wanda in haar gedagtes terug.

Die laaste paar maande dink sy ál minder aan Die Ander Vrou. Vergeet sal sy nooit kan nie, en vergewe nog minder.

As dit nie was dat dit so lank onder haar neus aangegaan het nie en dat Minette die eerste blatante boodskap op Sebastian se foon gekry het nie, sou sy moontlik teen dié tyd al beter gevoel het. 

Maar hoe verduidelik jy aan ’n agtjarige wat Jy’t my gistraand so happy gemaak, wens ons kan elke nag in mekaar se arms lê. Hoe lank moet ek nog wag? op haar pa se selfoon beteken. 

Berading, beloftes en boetedoening. Ter wille van die kinders. Ses maande lank. 

Sebastian was skynbaar werklik jammer, en op ’n dag het Wanda plegtig, op aanbeveling van die sielkundige, beloof dat sy Die Naam nooit weer sal noem nie. Dit was dit. 

Stukkie vir stukkie het dinge beter gegaan. Die verskuiwing na ’n ander land het hulle op ’n manier nader aan mekaar gebring. Die stukkende paartjie is in ’n woestyn afgelaai en moes nou die ver pad saam aandurf, terug na ’n lewe sonder agterdog en afsku.

Daar was so baie besluite om te neem, reëlings om te tref, mense en dinge om van afskeid te neem. Die Viljoens was besig.

Die laaste paar maande dink sy ál minder aan Die Ander Vrou. Vergeet sal sy nooit kan nie, en vergewe nog minder.

Die trein stop rammelend by Southern Cross-stasie. 

Wanda maak die boonste knoop van haar jas vas en sit haar rooi baret op haar kop. Sy weet nie of sy haar dit verbeel nie, maar sy hoor haarself sorgeloos skree: “Laat waai, Meraai, hier kom ek!” 

Al wat Wanda vandag werklik nodig het, wat sy nie op hul dorp kan kry nie, is ’n paar Indiese speserye vir van haar gunstelinggeregte. En truffels. Ja, wit truffels. Al is dit net een, selfs net ’n halwe – as ’n mens ooit so iets kry.

Sebastian weet nie hiervan nie, maar dit is waarop sy vandag “pa se geld” gaan blaas.

Sommige geheime gaan saam met ’n mens graf toe, en dié gaan een daarvan wees. ’n Truffel. Sy weet sy sal dit by die Queen Victoria-mark kry. 

Terwyl sy haar handsak parmantig swaai, stap Wanda tot by die tremhalte waar sy op die no. 58 wag. 

Die stad voel vir haar besonder besig. Amper soos toe hulle vir die Australiese Ope hier was. Maar dié dag was daar selfs spesiale trems wat die derduisende mense na die stadions vervoer het. Ai, dit was sowaar ’n fantastiese dag.

Sy was verstom toe Sebastian sê die tennis is ’n goeie idee – dit het immers ’n sak vol geld gekos, en hulle moes toe nog min of meer met Suid-Afrikaanse rande oorleef. 

Maar nee, het hy volgehou, hy weet hoe graag sy vir Roger wil sien speel, en dalk is die ou man volgende jaar nie meer met ons nie. Gaan, gaan ons gaan. 

Die skuif na Australië het Sebastian goed gedoen. Hy lyk weer gelukkig wanneer hy saans van die werk af kom en kla nie juis oor hy dikwels vergaderings in Melbourne moet bywoon nie.

Sy kollegas, met hul ontspanne siening van werk, was wel iets om aan gewoond te raak, maar deesdae praat hy sélf van afskaal na ’n vierdagwerkweek sodra hul finansies dit toelaat. 

As sy net ’n werk kan losslaan. Al is dit ietsie kleins. Vir in ’n winkel loop staan en werk sien sy darem nie kans nie. Maar miskien in die biblioteek of as ’n ontvangsdame iewers?

Miskien moet sy kinders begin oppas. Net iets waarmee sy ook ’n paar dollars kan verdien. Dat sy nie vir alles in Sebastian se oë hoef te kyk nie.

Dit is deel van haar wipplankryery – net sodra dit emosioneel begin goed gaan en dit voel of sy die rouproses oor Suid-Afrika onder beheer het, moet sy weer geld vra, en dit breek haar. Elke keer. Te lank was sy onafhanklik.

Dit is ’n bitter beker dié, maar sy weet goed dat die lewe uit keuses bestaan, en niemand het haar in dié keuse ingeboelie nie – hulle het saam besluit op ’n toekoms in ’n ander land.

Sommige geheime gaan saam met ’n mens graf toe, en dié gaan een daarvan wees.

“Geluk is ’n wilsbesluit, Wanda,” hoor sy Sebastian se mantra.

“Dit bring jou nêrens om te tob oor als wat ons agtergelaat het nie. Ons is nou hier.” In Bourkestraat klim sy af. 

Vandag is die dag dat sy in die Chanelboetiek ingaan – sy’t nie verniet haar Sondagbeste aangetrek nie. Regop met die rug, lyk of jy duur klere gewoond is, Wanda. 

Kamma selfversekerd streel Wanda oor die klere aan die hangers se weelderige teksture. Sy slaan omtrent agteroor toe sy die prys sien van ’n doodgewone dagrokkie.                                                                                                                                         

Kan dit werklik $2 129 wees – R21 290? Dis tog seker nie moontlik nie, maar sy glip nietemin die tabberd oor haar kop en draai om en om voor die spieël in die aantrekkamer. 

Sy sien haarself in ’n deftige hotel instap vir middagete saam met ’n ewe deftige vriendin.

“Hoe pas die rokkie?” wil die winkelassistent weet. “Soos ’n flippen handskoen, maar die prys is belaglik,” wil Wanda sê, maar volstaan by: “Ek sal eers ’n bietjie hieroor nadink.” 

Ondanks die onsuksesvolle Chanelkopie loop Wanda steeds op wolke. Dis haar dag. Voor sy weer die trem haal, gaan sy eers ’n koppie koffie geniet. En ’n lamington. ’n Lamington per dag laat die dokter wag, hoor sy Minette sê. Wanda glimlag.

Ja, dit gaan goed met die kinders ook hier in die vreemde. Terwyl sy wag op haar koffie, hoor sy skielik Afrikaanse stemme by ’n tafel agter haar. 

Wanda is glad nie inkennig wanneer sy haar taal hoor nie. Sy knoop gewoonlik spontaan ’n geselsie aan en ruil telefoonnommers uit. 

Sy draai om in haar stoel en sien die vrou se agterkop. Die tienerseun wat oorkant haar sit, staar verveeld na sy selfoon. “Ons drink nou koffie, James. Jy ken die reël.” 

Ons het ook maar almal dieselfde probleme, dink Wanda toe sy opstaan om kennis te maak.

Sy vat liggies aan die vrou se skouer. Die vrou draai om. En verstar. Wanda voel hoe die bloed uit haar gesig verdwyn en in haar ore begin hamer, doef, doef, doef . . . asof aan ’n swaar houtdeur. Harder en harder. Sy’s hier. Sy’s hier in Melbourne. 

Sy’s sowaar as wragtig ook in Melbourne. Nie een van die vroue uiter ’n woord nie – Wanda, wat in ’n Michelangelo-oomblik ’n versteende arm na Die Ander Vrou uitsteek, en Die Ander Vrou, wat stokkerig terugdeins.

Is ’n oomblik en ’n ewigheid ewe lank? Wanda storm die kafee uit. Met wat voel soos drie treë staan sy voor die Chanel-winkelassistent. “Ek sal die rokkie neem, dankie.”

“Kry vir jou, Sebastian Viljoen. Van hier af gaan jy betaal. Vir alles. Wag tot ons in die hof staan en die verdeling moet plaasvind. Jy gaan wens jy is nooit gebore nie.”