Renata sit op die stoep en teug aan ’n glas rooiwyn. Vinnig van die waterkar afgeval, dink sy skuldig. Sy het ’n lys Nuwejaarsvoornemens gehad wat sy op die eerste dag van 2020 (ná die wilde Oujaarsaandpartytjie) opgestel het, maar tot dusver het sy skandelik en pateties gefaal om te bereik wat sy wou.

Met ’n kop wat van te veel vonkelwyn geklop het en ’n lyf wat opgepomp gevoel het van te veel eet oor die feestyd, was haar lewe daardie Nuwejaarsoggend in die droesems. ’n Verloorder, net duskant lewersirrose.

Wat het geword van haar voorneme om ses maande lank alkoholvry te wees? Blykbaar het sy die Oujaarsaandpartytjie soveel geniet dat sy Adriaan in ’n verleentheid ingedans het.

Sy het haar wye romp geswaai en kaalvoet gedans en haar soos ’n danseres van die Moulin Rouge gedra. Wat het haar tog besiel om dit te doen?

“Jy het sowaar op die tafel gedans,” het hy haar in die vroeë oggendure toegesnou toe hy haar by die huis aflaai.

“Ek het my morsdood geskaam vir jou.”

So kwaad, hy het haar nie eens tot siens gesoen nie. Daar en dan het sy besef sy het hom verloor.

Net toe sy haar begin verbeel het dat hul verhouding eindelik mooi op dreef kom.

Dalk is dit goed so? Hy wás darem meer dominerend as haar vorige kêrels. Altyd besig om bevele te gee en voorstelle vir verbetering te maak.

Ongelukkig het sy nog nie weer in die eerste maande van die jaar ’n ander man ontmoet wat so aantreklik en welgesteld soos Adriaan is nie.

Hy was so opvallend in ’n groep, en sy was trots om saam met hom gesien te word.

“You win some; you lose some,” het haar Engelse ma altyd getroos as Renata aan die verloorkant was. “Maak dit jou leuse.”

Hoog boaan daardie lysie Nuwejaarsvoornemens was gewig verloor. Sy het op daardie gewraakte oggend boonop gesien dat sy 5 kg aangesit het.

Geen wonder haar kleregrootte het verander nie.

Alles het begin styf sit en haar rondings het gedy.

Waarom het sy haarself boonop net ná die feesvierings geweeg?

Dis mos moeilikheid soek. Depressie soek.

Ongelukkig kry sy nie daardie ekstra vetjies afgeskud nie. Verloorder.

Haar groot probleem?

Die swaard wat bo haar hoof hang? Die Woordfees kom ál nader. Sy gaan op ’n verhoog sit en iemand gaan met haar praat oor haar verrassend suksesvolle eerste roman.

Sy wil mos mooi lyk. Dan moet sy maer wees. Dis mos veronderstel om ’n hoogtepunt in haar bestaan te wees.

Dalk kry sy dit nooit weer reg om die sukses van die eerste roman te herhaal nie.

Sy weet van mense wat net een boek geskryf het, of wat slegs met een sukses behaal het en daarna het alles op ’n streep geflop.

Skryf is sowaar nie vir sissies nie.

Jy moet vasbyt. Die opvolgroman sukkel.

Toe haar uitgewer sê die tweede een moet beter as die eerste een wees, kry sy ’n ernstige aanval van second book blues, soos ’n bekende skrywer dit gestel het.

En hier sit sy weer met die trooswyn, die bak skyfies, die stres. Haak vas. Die storie wil nie vloei nie.

Dis net so erg soos eksamen probeer skryf as jy nie jou werk ken nie. Waar sal haar inspirasie vandaan kom?

Intussen kan sy darem die triomf van die eerste roman geniet. As sy net gewig kan afskud sodat sy nie soos ’n brulpadda voor in die Boeketent by die Woordfees sit nie.

Daar is slegs een klein sakkie van die Omo-waspoeier op die rak, sien sy van ver af. Al die ander is grotes en veel duurder.

Dis regtig ’n skande dat die supermark nie dadelik dinge aanvul wat uitverkoop nie. ’n Man kom van voor af en kyk na die rak met die wasmiddels.

Hy moet nou net nie daardie laaste sakkie waspoeier voor haar wegraap nie.

Agter haar trollie kry sy spoed en storm op die rak af. Gryp na die waspoeier net toe die man sy hand uitsteek. Renata klop hom met ’n paar sekondes.

Vat die waspoeier vas, maar nie vas genoeg nie. Dit gly uit haar hande en val op die vloer. Bars oop en strooi wit poeier die hele gang vol.

“Ag nee!” Geskok, skaam, kyk sy na die gemors en wens die vloer wil gaap en haar insluk.

Mense kyk nuuskierig, verslae, geamuseerd en spottend na die petalje. Renata se gesig is vuurwarm soos sy bloos.

’n Assistent kom nader met ’n besem en skoppie. “Dis my skuld; ek sal daarvoor betaal,” sê sy.

“Dis nie net jou skuld nie,” sê die man. “Ek het jou laat skrik, toe stamp jy dit af.”

Maar hy grinnik spottend, en sy sien sommer hy dink dis wel haar skuld en probeer net galant wees.

“Toemaar, Juffrou hoef nie te betaal nie, want dit was ’n ongeluk,” sê die assistent vriendelik.

Renata kyk verlig na hom.

“Dankie.”

Dié mense word ook mooi geleer van customer care. Sy neem een van die groot, duur pakke waspoeier. Die man neem ook een, glimlag vir haar, draai om en loop.

Sy kyk hom agterna. Hy sou net so ’n vangs soos Adriaan kon wees . . .

By die slaaie en groentes wik en weeg sy. Geen vetterige kos, stysel of koolhidrate vir haar nie. Net groen, geel en rooi vars goed.

Die probleem is net, dis nie vullend nie en sy raak tog so honger.

Wilskrag ontbreek. ’n Hand steek uit na die botterslaai, maar trek terug.

“Miskien wil jý liewer daardie pakkie hê?” Sy kyk vies om. Neffens haar staan die man en grinnik.

“Nee, jy kan dit kry, dankie,” blaf sy. Hy neem die pakkie slaai en loop.

Renata gaan kyk na die hoendervleis.

Witvleis is gesonder en net reg vir verslankers. Sy neem ’n pakkie ontvelde borsies.

“Jy sal genoeg geurmiddels moet gebruik en dit dalk in iets vetterigs moet braai, anders is dit droog en smaakloos.”

Sy kyk oor haar skouer. Dis wragtig weer hý wat staan en grinnik.

“Ek is op ’n dieet,” probeer sy hooghartig en afjakkerig klink.

“Jy is nie dalk besig om my te volg nie, is jy?”

Hy lyk oordrewe geskok. Sy wenkbroue skiet die hoogte in en sy mondhoeke trek af.

“Jy sal jou wat verbeel, Juffrou.”

Hy draai om en loop. Renata voel nou éérs ’n gek.

Blykbaar het sy hom afgeskud, want sy sien hom nie weer nie. Waarom het sy hom tog met aggressie afgeskrik?

Skoon op haar senuwees sit sy in die gemakstoel op die verhoog, voor die see gesigte in die Boeketent.

Die adrenalien pomp, maar sy is bang sy raak iets simpels kwyt. Mense gaan mos verwag sy moet slim en intellektueel klink.

Dalk vra die bekende joernalis wat hulle gekry het om die onderhoud met haar te voer haar vas.

Dié vrou is vir seker nie op haar mond geval nie en sy skryf uitstekend.

“Vandag is ek bevoorreg om met ’n belowende debuutskrywer te gesels,” open sy die gesprek.

“Renata de Bruin het met dié eerste roman reeds haar merk gemaak . . .”

Gelukkig verloop die gesprek goed. Daarna moet ’n verligte Renata by ’n tafel sit en boeke teken.

“Ek het jou amper nie herken nie, jy het so maer geword.”

Vervaard kyk sy op.

Voor haar staan die man van die supermark, en hy grinnik. Sy wil-wil haar vererg vir sy geterg; sy is nog net so mollig soos toe.

Sy maak haar mond oop om hom iets toe te snou, maar hy sit sy boek voor haar neer. “Teken, asseblief.”

“Jou naam?”

“Dirk van Zyl, maar jy kan net jou naam teken; dis genoeg.”

Sy is momenteel van woorde beroof. Kyk hom verstom aan.

“Jy . . . dis jý wat daardie resensie in Die Burger geskryf het.”

Die stuk in die koerant was vleiend, maar ook skerp krities. Sy het dae lank daaroor gewroeg.

“Ja.”

Sy maak die voorblad oop. Waar sy moet teken, is iets geskryf.

Het jy onlangs gewig verloor? Ja/Nee

Mag ek jou beter leer ken? Ja/Nee

Renata kan nie help om te lag nie.

By nommer een antwoord sy eerlik nee. By die ander vraag, ja.

Die man is vermetel, maar ook interessant en beslis iets vir die oog.

Sy teken haar naam. Hy neem die boek by haar.

“Ek kry jou eenuur by Decameron in Pleinstraat.” Hy baan sy weg deur die mense en sy teken weer boeke, maar haar wange is blosend.

Geskok, skaam, kyk sy na die gemors en wens die vloer wil gaap en haar insluk

Die uitgewer se skakelbeampte wag by haar tot die mense wegbeweeg en Renata nie meer boeke hoef te teken nie.

“Ken jy vir Dirk van Zyl?” vra sy. “Nee, eintlik het ek hom pas ontmoet. Hy . . . e . . . het ’n onthutsende resensie van my boek geskryf.”

Die skakelbeampte lag. “Ja, hy is krities, maar eerlik. Weet jy wie hy regtig is?”

Renata skud haar kop.

“Die bekende krimiskrywer met die skuilnaam Dirk Edelaar. Sy resensies skryf hy onder sy eie naam, Dirk van Zyl.”

Renata lees eintlik net Engelse misdaadfiksie, hoewel sy darem weet wie sommige van die Afrikaanses is.

“Ek sal van sy boeke moet lees.”

“Ek sou so dink as jy hom gaan leer ken. Nou is ek groen van jaloesie, hoor, want ek is een van sy grootste bewonderaars.”

Renata kry lekker. Vandag is sy ’n wenner. You lose some; you win some.