Op bl. 4 van Beeld vang die berig my oog. Dis dalk nie meer voorbladnuus nie, maar die brokkies nuus sal bly kom solank as wat die publiek belangstel. Ek lees die opskrif: “Glenn Jackson: Geen antwoorde, meer vrae.”

Langs die opskrif is die foto van mnr. Jackson, met wie die Suid-Afrikaanse publiek teen dié tyd al vertroud is. Ek lees die berig aandagtig, maar daar is werklik min nuwe nuus – net nog ’n minnares wat probeer aanspraak maak op die miljoene wat hy nagelaat het.

Ek skud my kop. Die koerante verwys steeds na hom as ’n sakeman, terwyl almal weet hy was ’n dwelmsmokkelaar – ’n misdadiger, nie ’n sakeman nie; ’n krimineel met ’n dwelmnetwerk wat soos ’n virus versprei en wat weerlose en eensame mense uitsoek en hulle lewe verpletter.

Ek maak die koerant toe en leun terug in my stoel, staar na die kantoordeur. Die dakwaaier draai stadig en laat dit voel asof ’n ligte woestynwind deur die kantoor waai. Ek trek ’n notablaadjie nader, maak vir die soveelste keer ’n aantekening om die stukkende lugverkoeler aan te meld en sit dit bo-op die pak notas langs die telefoon.

Die res van my kantoor is eenvoudig. Die lessenaar is van egte hout, gekoop by ’n tweedehandse winkel in Newlands. Vir kliënte staan daar ’n swart kantoorstoel van Makro voor die lessenaar.

My eie stoel is die enigste meubelstuk waarop ek meer uitgegee het as wat ’n gemiddelde privaat speurder se begroting toelaat. Bo-op die ouerige skootrekenaar lê my skryfblok en die silwer pen wat Reinet vir my gekoop het; ek skryf daarmee, want ek kan nie vinnig genoeg tik nie.

Die rekenaar word amper net vir navorsing en verslae gebruik. Facebook, Twitter, Instagram – dis belaglik hoe maklik dit my werk soms maak. My oë dwaal na die regterhoek van die lessenaar waar die foto van Reinet altyd gestaan het. Dit het ek maar eerder ’n paar jaar gelede weggesit. Met die soort vyande wat ek het, maak dit nie sin om foto’s van geliefdes uit te stal vir die buitewêreld nie.

Haar bruin hare hang oor haar skouers, ’n ligte lipstiffie gee kleur en haar buitengewoon groot oë knip een keer terwyl sy stip na my kyk. Sy stap na my toe terwyl haar kurwes die gehalte van haar rok op die proef stel.

Ek kyk na die toe deur. Haal die blou sakdoek uit my broeksak en vee die sweet van my voorkop af. My nuwe kliënt moes al ’n halfuur gelede hier gewees het. Wat as sy nie opdaag nie? Daar was lanklaas geld in my bankrekening en daar is meer as een skuldeiser wat tande wys.

Ek sal maar moet wag – ek het nie ’n nommer vir haar nie. Ek het net een oproep ontvang en haar nommer het nie op my selfoon vertoon nie, maar dis vir my niks ongewoons nie. Konfidensialiteit en geheimsinnige mense is ’n permanente deel van my lewe.

Sy het aangedring daarop om my vandag te ontmoet en kontant te betaal; wat ook maar net nog ’n manier is om anoniem te bly.

Ek wonder watter sportnuus daar is en draai die koerant om. Wayde van Niekerk het homself gaan staan en beseer. Wat op aarde het hy aangevang? Ek lig my beker koffie en leun terug in my stoel om die berig te lees.

’n Sluk koffie spat uit die bek van die beker op my hemp. My wit hemp. Ek vloek saggies en probeer red met die sakdoek. Werk nie so goed nie; ek sal badkamer toe moet gaan. Ek staan op en stap na die deur toe, maak dit oop.

Kyk na links af in die lang gang. Die ander drie kantore is op Saterdae gesluit. Twee rekenmeesters en een regsgeleerde. Dan ek, nie ’n geleerde van enige aard nie. Privaat speurder.

Voor dit: ’n mismaaksel, dobbelaar, skelm wat met ’n bietjie geluk iewers langs die pad min of meer tot my sinne gekom het.

Ek draai na regs en loop badkamer toe, was my hande en red my hemp so ver ek kan met my sakdoek en ’n klomp water. Dan gaan staan ek onder die masjien wat normaalweg hande droog blaas en probeer die hemp droog kry. Ná ’n minuut se droogblaas is die hemp nog ’n bietjie klam, maar dis goed genoeg en ek stap terug kantoor toe.

Het ek dan nie die kantoordeur toegemaak nie? Ek het gekyk na die ander kantore en toe … Ek is amper seker ek het die deur toegetrek, maar ek kan eenvoudig nie onthou nie. Ek stap versigtig nader.

Ek ruik die parfuum nog voor ek by die deur kom; dis amper onopmerklik, maar vandat ek ophou rook het, kan ek beter ruik as ’n jaghond. Sy staan aan die oorkant, langs die lessenaar, leun teen die muur en staar by die venster uit. Toe ek instap, draai sy gemaklik om. Ek herken haar aan die enkele foto wat ek op Google opgespoor het.

’n Ouer foto, seker omtrent vyf jaar gelede geneem in haar matriekjaar. Afgesien van daardie foto, is dit asof die internet skoongeskrop is van die teenwoordigheid van Magda Mynhardt. Ek voel onmiddellik aangetrokke tot haar. Hoekom? Dalk omdat sy so weerloos lyk met haar bleek gelaat?

Sy dra ’n doodgewone geel somerrok, maar sy maak dit alsbehalwe doodgewoon. Haar bruin hare hang oor haar skouers, ’n ligte lipstiffie gee kleur en haar buitengewoon groot oë knip een keer terwyl sy stip na my kyk. Sy stap na my toe terwyl haar kurwes die gehalte van haar rok op die proef stel.

Ten spyte van die fisieke aantrekking, voel dit asof ek te naby aan ’n afgrond staan. As ’n vrou wat so lyk oor jou pad kom, moet jy maar weet moeilikheid is nie ver agter nie.

“Ekskuus tog, die deur was oop. Meneer Scholtz?” Ek knik. Stap nader met my hand uitgestrek. “Dis reg ja, Carel Scholtz. Noem my asseblief Carel.”

Haar hand is dun, vaartbelyn, die pols slank en versier met ’n fyn goue horlosie. Geen ringe nie. “Ek is Magda Mynhardt.” “Welkom.” Ek hou my palm oop in die rigting van die swart kantoorstoeltjie wat voor my lessenaar staan.

“Sit asseblief.” Sy stap tot by die stoel. Rustig, grasieus, met daardie rok wat lyk asof dit deel van haar is, wat opstrek en soos twee arms agter haar nek bymekaarkom. Iets aan haar lyk bekend maar ek kan dit nie plaas nie. “Hoe kan ek help?” vra ek.

“Dis … dis ’n ingewikkelde situasie,” sê sy. Ek knik. Vroue wat so lyk, bevind hulself dikwels in ingewikkelde situasies.

“Ingewikkeld?” vra ek nietemin. “Hoe dan so?” Sy kyk stip na my met gevoude arms.

“Magda … vat jou tyd. Maar ek wil jou tog gerusstel: Enigiets wat jy my hier vertel, is tussen jou en my. Selfs al besluit ek dat ek nie die werk wil hê nie, bly dit streng vertroulik. Jy het my woord.”

Ek het Glenn Jackson uit selfverdediging geskiet, maar in my binneste het ek geweet dis ’n kwessie van tyd voor dit uitkom.

“Die woord van iemand wat ek sopas ontmoet het?”

Sy glimlag. Ek knik. “Jy maak ’n goeie punt, maar in hierdie besigheid is konfidensialiteit nie onderhandelbaar nie. As my reputasie eers daarmee heen is, kan ek maar net sowel toemaak.”

Sy weeg my standpunt met haar oë.

“Nietemin – dis jou besluit,” sê ek en hou duim vas onder die tafel. Sy kyk steeds na my met skrefiesoë, kruis dan haar bene en trek haar asem diep in. Ek herken die lyftaal, hier kom dit nou.

Sy vou haar hande in mekaar, leun effens vorentoe en sê dan saggies: “Ek weet wie Glenn Jackson vermoor het.” VIR ’n oomblik sê ek niks. Stomgeslaan. Sy leun weer terug, hande nog steeds gevou. Kyk aandagtig na my; ek voel haar oë op myne, soekend, vraend. Ek kom tot my sinne.

“Die polisie soek al maande na die moordenaar. Hoe kan jy so seker wees jy weet wie dit is?” vra ek.

“Ek is seker, Carel.”

Ek voel-voel met my hand onder die tafel na die .38 wat onder die blad vasgeplak is met kleefband. Dis so geplaas dat ek net die sneller kan trek.

“Jy maak ’n fout,” sê ek. “Ek weet nie waar jy jou inligting kry nie, maar jy maak ’n fout.”

Sy lag. “Hoe weet jy ek maak ’n fout? Ek het dan nog nie eens vir jou gesê wie dit was nie! Nee, Carel. Ek maak nie ’n fout nie. Ek is baie, baie deeglik. Dis hoekom ek hoof van sekuriteit was vir Glenn Jackson. Jy sien, my pa het nie veel mense vertrou nie, maar hy het geweet hy kan altyd op sy dogter staatmaak.”

Dis haar mond. Dís wat bekend lyk. Sy het haar pa se smal mond. Hoe het ek dit misgekyk? Ek vloek in my gedagtes; wat ’n gemors.

Ek het Glenn Jackson uit selfverdediging geskiet, maar in my binneste het ek geweet dis ’n kwessie van tyd voor dit uitkom. My hand is nou onder die tafel, my vinger op die sneller.

Ek sukkel om te meet wat haar volgende stap gaan wees, maar ek moet besluit – daar’s nie tyd vir dink nie. Ek trek die sneller. Die leë klikgeluid weergalm in my ore en dit voel asof ek alles wat ek ooit gehad het in ’n weddenskap verloor.

Magda glimlag en sê: “Jy moes maar liewer die deur gesluit het, Carel.”

Haar hand verdwyn in haar handsak en sy haal gemaklik ’n 9 mm-Beretta met ’n knaldemper uit. Ek leun terug in my stoel, en terwyl ek probeer uitwerk hoe vinnig ek by die pistool in my middelste laai kan uitkom, kan ek nie help om my te verwonder aan hoe beeldskoon sy is nie.

As ek dan hierdie lewe gaan verlaat met so ’n uitsig, is dit darem nie te erg nie . . .